|
Die oefenplan is daarop gemik om jou fikser te maak (dit is die kardio-oefeninge) en om jou spiere te laat werk (die weerstandsoefeninge) sodat jy vet kan verbrand en soepeler en gesonder kan lyk en voel. Jy kan tussen 6 tot 12 kg met die eet- en oefenprogram verloor. Hoe meer gereeld jy oefen, hoe makliker en meer vetmassa sal jy verloor.
Die program werk: radio persoonlikheid Niekie van den Bergh het 9kg vet in net 8 weke verloor en pas weer in sy troupak.
Jy kan uit vyf oefenprogramme kies en dit werk só: -
As jy kans sien om twee keer per week te oefen, is Oefenplan 1 vir jou,
- As jy drie keer per week kan oefen, is Oefenplan 2 vir jou,
- As jy vier keer per week kan oefen, is Oefenplan 3 vir jou,
- As jy vyf keer per week kan oefen, is Oefenplan 4 vir jou,
- As jy baie gemotiveerd is en kans sien om ses keer per week te oefen, is Oefenplan 5 vir jou.
Kies die opsie wat realisties is vir jou en wat jy 12 weke lank kan volhou. Onthou dat hoe meer jy oefen, hoe beter die resultate wat jy sal kry.
Die programme werk só:
Al die programme behels kardio-oefeninge en spier-oefeninge, en die beginsels vir beide is dieselfde vir al die programme.
Die kardio-oefeninge werk só:
- Jy gaan stadig begin, en geleidelik die intensiteit van die oefening vermeerder – nie net van week tot week nie, maar ook stapsgewys met elke sessie. Jy gaan dus in elke sessie stadig begin, en al harder stap, draf, roei, fietsry of trapklim. Jy sal elke sessie maklik kan volg.
- Vir jou kardio-sessie kan jy letterlik enige oefening in die gimnasium of in die buitelug kies wat jou hartklop gaan versnel en jou gaan laat sweet. Jy kan fietsry, stap, draf (binne of buite), roei, trap klim, die skimasjien gebruik, of trapklimmasjien inspan.
- Jy kan elke keer dieselfde kardio-oefening doen of met elke sessie 'n ander kardio-oefening doen.
- Jy kan nie per sessie jou kardio-oefening verander of onderbreek nie.
- Al jou kardiosessies duur 20 minute (as jy maagoefeninge bydoen) of 30 minute.
|
 |