Toe ons haar bel en vra of sy aan ons program wil deelneem, het sy nie een oomblik gehuiwer nie.
Alta Joubert, die gewilde Suid-Afrikaanse sangeres is teen mid-Augustus reeds 7 maande swanger. Dit is minder as agt weke voor die geboorte van haar eersteling, wat tien teen een Annabelle gaan heet. Sy voel baie beter as aan die begin van haar swangerskap.
Advertisement
Alta borrel behoorlik. Haar pensie staan met 'n punt, maar sy lyk blakend gesond. Dis 'n ander Alta as die een wat ek vyf weke gelede die eerste keer in Sarie se kantore ontmoet het.
Eens bedruk, nou goed
"Ek voel fantasties. Vandat ek weer begin oefen het, het my gemoedstoestand soos handomkeer verander."
Suid-Afrikaanse sangeres Alta Joubert het die afgelope 3 maande 'n kilogram vet afgeskud terwyl haar babatjie – 'n dogtertjie – wat in Oktober haar opwagting moet maak, mooi groei.
Haar aanvanklike bedrukheid toe sy aan die begin van haar swangerskap vinnig gewig opgetel het, naar gevoel, en sommer net dik en ongemaklik gevoel het, het plek gemaak vir 'n opgewekte gemoedstoetstand.
Alta het aan die begin twee keer per week spieroefeninge gedoen en twee keer per week gestap, moes haar program onderbreek vir optredes in Gauteng, en oefen nou ses keer per week (drie keer spiere en drie keer stap). Haar oefeninge is ligter omdat sy swanger is, en veral maag- en ander oefeninge wat op haar maag kan druk, is taboe.
Sy het by Weigh Less aangesluit (opsie 3) en voel nooit honger nie.
Alta se statistieke voor die uitdaging
Gewig: 77.5kg op 4 maande swangerskap
Lengte: 1.67 m
Vetmassa: 22.65 kg
Spiermassa: 26.89 kg
Alta se statistieke 4 weke later
Gewig: 77.5 kg op 7 maande swangerskap
Lengte: 1.67 m
Vetmassa: 21.89 kg (verloor byna 1 kg vet)
Spiermassa: 26.89 kg
Haar wenke
Moenie ophou met oefening as jy swanger is nie. Ek het drie maande lank naar en sleg gevoel en nie gehou van hoe my borste groter word en hoe ek voel nie. Ek weet baie vroue hou daarvan, maar ek het nie. Ek het skoon depressief begin voel. Vandat ek oefen, voel ek weer positief oor myself. Ek het baie energie en voel lekker.
Begin net oefen, al voel jy nie lus nie. As mens moet wag om lus te voel, gaan mens moontlik nooit begin nie. Doen dit net.
Luister na jou liggaam. Ek sê dadelik aan my biokinetikus indien 'n oefening my ongemaklik laat voel, of op my maag druk. Hy pas my program heeltyd aan soos my swangerskap vorder. Met slegs agt weke voordat Annabelle gebore word, raak ek nogal groot, maar ek sal graag wil oefen so lank ek kan, al word die sessies minder.
Gee aandag aan wat en hoe jy eet. Ek volg Weigh-Less se eetplan en is nooit honger of moeg nie.
Bookmark with:
What are social bookmarks?