Mariëtta Kruger is alombekend. Eers was daar haar Monitordae, en later die gewilde "Mariëtta praat pront-uit" op TV. Nou is sy steeds vroegoggend 'n bekende op die kassie, en haar stem op radio dra die stempel van 'n ware "pro".
Mariëtta het haar terugkeer tot TV en radio gemaak na haar terugkeer van die platteland na die stad.
Sy het gevoel sy kan - soos die meeste vrouens maar voel - doen met 'n paar minder kilogramme. Na mooipraat het sy ingewillig om die oefen- en eetprogram te volg as proefkonyn vir die Sarie/Health24 Uitdaging.
Advertisement
40 is die nuwe 30
"Veertig is die nuwe dertig, en ek wil vir altyd veertig bly - liggaamlik en in my kop," het Mariëtta ons gou reggehelp.
Sy was ook glad nie te gewillig om haar mates en gewig uit te basuin nie, maar erken dat sy glad nie sal omgee om 14 kg ligter te weeg nie. Al wat ons bekend mag maak, is haar lengte. Sy is 1.63m lank. As ons die res uitblaker, sal ons dalk liggies vermoor word.
Sy het ook net ingestem om die program te volg, indien Magdaleen Kruger, grootbaas van RSG, sou instem om dit saam met haar te doen as "buddy" en as ekstra aanmoediging. Magdaleen Kruger weer, het net ingestem om as "buddy" op te tree, indien ons niks oor haar skryf nie, en sy slegs agter die skerms is. Sjoe. Maar so het ons die ding op dreef gekry, met Mariëtta as proefkonyn en Magdaleen stilweg as die oefenende Skim.
Die foto's
Eers was daar die voor-af foto. Mariëtta was net glad nie lus vir die wit judo-agtige pakkie nie, maar die foto's is geneem. Sy het sommer hard-op agterna beduie dat ons haar soos 'n tuin-dwerg laat lyk het. Vir die twee fotosessie vier weke later moes die stileerders goed ronddraf nadat hulle weer tuindwergkleertjies aangedra het. Nie weer nie, het sy haar voet dwars neergesit. Watwou tuindwerg: Kyk gerus hoe "sexy" lyk Mariëtta na slegs vier weke se oefening.
Week 1
Sy het lank uitgestel om met week 1 te begin, maar later MOES sy begin, anders sou ons allerlei spertye mis. Die eerste week het Mariëtta so effe gesluk-sluk toe sy op die trapmeul moes klim, en die gewigte in haar hande gedruk is, het ek betroubaar verneem. Maar sy het deurgedruk.
Week 2
Week 2 het dinge effe beter gegaan. Al wat begin lol het, was dat mens net twee glasies wyn per week toegelaat is. Ons het later vasgestel dat die meeste proefkonyne (ook die skim-proefkonyne) maar met die innames effe gekroek het.
Week 3
Dit het so nou en dan gelol om al die sessies in te pas. En die derde week was vir haar, soos vir baie mense, nie maklik nie. Mariëtta moes fyn beplan om haar draaie te kry, maar kon meestal daarin slaag. Sy het meestal by die eetplan gehou.
Week 4
Na die moeilke week 3, het dinge so effe makliker in week 4 verloop. Maar Mariëtta moes steeds mooi beplan om haar oefensessies in te pas. En toe word sy siek. En mis 'n hele week van oefening. En nog 'n week. Maar sy is nou weer terug op die program. En as sy weer kan terugkom op die program, het geen leser 'n verskoning nie.
Die tweede metings
Na vier weke is die tweede metings geneem. En Mariëtta kon glimlag. Sy het 'n volle 5 kg gewig afgeskud. Sy dra reeds 'n hele rokgrootte kleiner, en voel baie meer energiek. "Ek het baie meer woema." Dis die moeite werd om tyd te maak vir die oefening.
Bookmark with:
What are social bookmarks?