Die beginsels van die PlusMinus eetplan is eenvoudig:
Jy hoef geen kos te weeg of kalorieë te tel nie
Jy begin deur gewoon te eet soos die vorige week (jou "ou" eetpatroon) en dan telkens twee veranderings per week – naamlik 'n kossoort of –groep wat jy toevoeg tot jou bestaande eetplan (die plus) en 'n kossoort wat jy wegneem (die minus) – aan te bring.
Advertisement
Juis omdat dit so eenvoudig is, kan jy meer fokus op jou oefenplan en word jou dieet nie 'n obsessie nie.
Die plusse en minusse van elke week word oorgedra na die volgende week en word deel van jou nuwe eetpatroon.
Alle kosgroepe op die minus-lys, kom op jou Sondag-lys. Dit beteken jy kan ná die week waarin jy dit moes uitskakel, een keer per week een porsie daarvan eet, en verkieslik op 'n Sondag. Ons beveel inderwaarheid aan dat Sondag jou "vry" dag moet word, waarin jy wel daardie roomys of pizza of watookal eet waarvoor jy so lus het, om jou liggaam te oortuig dat jy nie in die woestyn is nie.
'n Porsie is rofweg so groot soos jou vuis of jou handpalm (groente, vrugte, rys, aartappel, pasta, ens), of wat jy in jou handpalm kan hou (soos neute), of 'n vuurhoutjiedosie (vir kaas en vleis) of 'n teelepel (olie en botter). Kyk na die artikel: Hoe groot is 'n porsie?
Hier is jou PlusMinus eetplan
Week 1:
Eet alles wat jy gewoonlik eet. Minus: Sny alle koek, koekies, poedings, terte, sjokolade, lekkergoed, muffins en botterbroodjies, alle gebak en roomys uit vir hierdie week. Onthou, na week 1 kan jy weer een porsie per week van hierdie lekkernye eet. Jy kan die porsie op 'n Sondag eet, of enige ander dag, solank dit net een porsie per week is.
Die rede vir die koek- en soetgoed-minus:Koek en gebak bevat baie vette, en veral versadigde vette, wat nie net vetmaak nie, maar glad niks goeds vir jou risiko vir hartsiektes en suikersiekte voorspel nie. Voorts is daar baie transvetsure in veral winkelkoekies en ander winkelgebak. Transvetsure word verbind met 'n verhoogde risiko vir kanker. Deur hierdie kosse tot een porsie per week te beperk, gaan jou nie net help om minder vet in te neem, jou hart en liggaamselle gesond te hou nie. Ons sal weldra deur die program vir jou 'n resep of twee gee oor hoe mens selfs "gesonder" koek kan bak.
Plus: Eet ontbyt en spasieer jou maaltye in 3 spesifieke etes en 3 versnaperings per dag. Jy móét vóór 9 vm. ontbyt eet, en dit moet iets van die volgende insluit: vetvrye of laevet jogurt, vrugte/vrugtesap, muesli of 'n semelryke ontbytgraan of pap soos hawermout. Voorts mag daar nie meer as drie ure verbygaan sonder dat jy ietsie eet nie. Mik daarna om ses keer per dag iets te eet, naamlik drie etes per dag en drie versnaperings: 'n mid-oggend, mid-middag en aand-versnapering. Jy mag ook nie 45 minute vóór en ná oefening eet nie, maar jy moet wel binne 'n uur ná oefening iets eet wat 'n bietjie proteïne en koolhidrate bevat.
Die rede: Ons kry jou metabolisme lekker aan die gang om vet vinniger te verbrand.
Week 2 Minus: Sny alle kosse met 'n deeg of kors om, uit. Alle pasteie, pasteitjies (of dit nou spinasie en feta vulsel bevat of nie, en of dit gesond klink of nie), en alle kos wat in olie of vet gebak is dus taboe. Geen KFC hoender, diepgebraaide aartappels, uie of kalamari nie, en geen slaptjips nie. Dit is nie die kalamari of hoender of uie wat taboe is nie, maar die manier waarop dit gaargemaak is, naamlik in olie of vet gebraai. Indien jy jou hoender ens oor kole of in die oond gaarmaak, is dit nie op die minus-lys nie. Na week 2 kan jy weer een porsie per week van hierdie dinge eet. Jy kan die porsie op 'n Sondag eet, of enige ander dag, solank dit net een porsiie per week is.
Die rede vir die deeg-minus: Deeg en diepbraai-oliedisse bevat werklik baie vet. En vet maak vet en vet verhoog jou risiko vir hartsiektes en ook vir suikersiekte. Olie wat oor en oor verhit word, bevat baie transvetsuurverbindings. Transvetsure word verbind met 'n verhoogde risiko vir kanker. Deur hierdie kosse tot een porsie per week te beperk, gaan jou nie net help om minder vet in te neem, jou hart en liggaamselle gesond te hou nie.
Plus: Eet minstens 2 porsies vrugte per dag eet. Indien jy reeds meer as twee porsies vrugte per dag eet, moenie dit verminder nie. Vrugte wat jou energievlakke die langste hoog gaan hou, is alle sagte vrugte (appels, pere, perskes, pruime, appelkose) en veral sitrusvrugte. Eet jou twee vrugte enige tyd deur die dag. Ons beveel aan dat jy dit mid-oggend en mid-middag as klein versnapering tussen jou drie maaltye eet. Wissel die vars vrugte af deur nou en dan 'n vrugte 'smoothie' te maak.
Die rede vir die vrugte-plus: Vrugte is ryk aan vesel, vitamiene en minerale, maar bevat geen of bitter min vet. Dit is dus voordelig vir ons gesondheid, en is nie vetmakers soos vetbevattende kosse nie. Die gemiddelde Suid-Afrikaner eet heeltemal te min vrugte vir ons gesondheid. Dit is noodsaaklik dat ons die eet van vrugte op 'n daaglikse basis deel van ons lewenstyl maak.
Week 3 Minus: Vermy alle kos wat in olie gebak word – dit sluit oliegebakte vis en skyfies in, diepgebraaide calamari, en vleis of groente in olie gebak.
Gevaarlike kankerwekkende transvetsure word gevind in alle olies wat warm gemaak is, asook kosse wat in diepvet gebraai is. Dus, geen KFC hoender of McDonalds burgers nie. Indien jy jou hoender of rooivleis oor die kole of in die oond gaarmaak, is dit nie op die minus-lys nie. As jy met olie móét kosmaak, gebruik niks meer as drie teelepels olyf- of canola-olie per dag nie.
Plus: Eet drie tot vyf porsies groente per dag. Alle groente is aanvaarbaar. Die helfte van jou middagete-bord en aandete-bord behoort groente te wees. Eet jou groente rou of gaar, maar net nie in olie of vet gaargemaak nie. Voeg minstens twee porsies groente elke dag by jou eetplan. Enige groente is vir die begin aanvaarbaar. Ertjies, boontjies, wortels, skorsies, pampoen of patats. Indien jy reeds meer as twee porsies groente per dag eet, doen so voort en moenie dit verminder nie. Dis die beste om dit vars te koop. Eet dit rou of gaar - moet dit net nie in olie of vet braai nie. Maak slaaie, eet vars tamaties, groen pepers. En wat van sampioene, groenpepers, aspersies, artisjokke en allerlei ander heerlike groente. Dit hoef nie vervelig te wees nie. Eet jou twee porsies saam met jou hoofmaal of verdeel dit tussen twee van jou drie maaltye.
Die rede vir die groente-plus: Groente is ryk aan vesel, vitamiene en minerale, maar bevat geen of bitter min vet. Dit is dus voordelig vir ons gesondheid, en is nie vetmakers soos vetbevattende kosse nie. Die gemiddelde Suid-Afrikaner eet heeltemal te min groente vir ons gesondheid. Dit is noodsaaklik dat ons die eet van groente op 'n daaglikse basis deel van ons lewenstyl maak.
Week 4
Hierdie week se veranderings het alles met suiwelprodukte te doen, en wel met die omskakeling van volroomprodukte na vetvrye (afgeroomde) produkte of laevetprodukte.
Minus. Skakel alle VOLROOM suiwelprodukte uit. Nie meer volroommelk. volroomjogurt, -kaas of maaskaas nie.
Plus. Maak seker dat jy twee tot drie porsies suiwelprodukte per week inneem, maar wel net vetvrye/afgeroomde produkte of laevet of 2%-vet produkte.
Die rede: Suiwelprodukte is 'n uitstekende bron van kalsium. 'n Baie groot persentasie van mans, vroue en kinders kry nie voldoende hoeveelhede kalsium in nie. 'n Mens benodig kalsium wat gelykstaande is aan sowat 750 ml melk per dag. Deur 3 glase volroommelk met afgeroomde melk te vervang, kan jy jou vetinname van 30g per dag tot 1.8 g verminder. Tieners wat dus melk uitskakel omdat hulle bang is hulle word vet, kan die vrees besweer deur afgeroomde en vetvrye suiwelprodukte te neem. Kalsium en oefening is die belangrikste teenvoeters teen osteoporose. Inderwaarheid kan elke geval van osteoporose voorkom te word - indien 'n mens van kinderdae af genoeg kalsium innneem en oefening doen. Maar die gemiddelde Suid-Afrikaner neem nie naastenby genoeg kalsium in nie. Moet dus asseblief nie suiwelprodukte uitskakel nie; slaan net oor na vetvrye en laevetprodukte om jou vetinname te beperk sonder om jou kalsium-inname te beperk.
Week 5
Hier is die veranderings wat jy in week 5 aanbring:
Minus: Beperk jou rooivleis tot drie keer porsies per week, en wel maer rooivleis. Beperk jou eiers tot 3–4 per week, beveel die Hartstigting van Suider-Afrika aan, en posjeer of kook dit. Eiers wat in olie of botter gebak is, is al van week 3 af uit.
Die rede: Rooivleis soos bees-, kalfs-, skaap- en lamsvleis bevat heelwat versteekte diervette, die ongesondste van die vette wat jy inneem. Maar die beperking is nie soseer om jou proteien-inname te beperk nie, maar om plek te maak vir meer ander proteienprodukte wat gesonder vette bevat soos vis en hoender. ‘n Mens behoort sowat 150–180 g proteienkosse soos vleis/vis/hoender/eiers per dag te eet. Laevet kase en maaskaas tel ook as proteienkosse. Maar baie Suid-Afrikaners eet 90–120 g vleis (60–80% van jou aanbevole daaglikse inname) in ‘n enkele maaltyd. Dit is dus noodsaaklik om met die vleis effe briek aan te draai. Let op dat eiergeel baie cholesterol bevat en moet dus nie jou stapelvoedsel word nie. Dit is andersins gesond en moet ook nie uit die dieet verwyder word nie.
Plus:Eet minstens twee keer per week vis - veral sardyne, tuna, forel, geelstert, makriel, of salm, en minstens, en twee keer per week hoender. Jy kan selfs sewe keer per week vis eet, en meer as twee keer per week hoender.
Die rede: Vis, en veral olierige vis met vleis wat nie wit is nie, bevat baie goeie proteiene, en die vet wat in dié vis teenwoordig is, is goeie omega-3-vette.
Presies hoeveel vleis, vis, of hoender moet ek eet?
Juis omdat Suid-Afrikaners geneig is om 90–120 g vleis of vis in een maaltyd te eet, verg dit hier ‘n effense kopskuif om die porsies vir proteiene deel van jou lewenswyse te maak. Want ‘n enkele porsie proteiene word as 30 g (vuurhoutjiedosie-grootte of die grootte van ‘n 1/3 van jou handpalm, of ‘n gholfbal) rooivleis of hoender beskou, en ‘n porsies vis is 40–50 g. En wie eet nou ‘n stukkie vleis of hoender so groot soos twee klein paartiefrikkadelle op ‘n keer?
Maar vleis is nie al kossoort ryk aan proteiene nie, en die 30 g porsie-model – om dit vir myself makliker te maak, dink ek letterlik aan ‘n gholfbal as ‘n porsie – laat meer ruimte om verskillende proteiene te kombineer.
Nou hoeveel van dié gholfbaltipe porsies proteiene is die aanbevole hoeveelheid per dag? Vroue wat onaktief is en tieners, behoort 5 porsies proteiene per dag te eet. Mans, sowel as vroue wat aktief is (meer as twee ure per week oefen), behoort ses porsies proteiene per dag te eet.
Dit is baie belangrik dat jy van die regte proteiene eet, en dit op die regte manier gaarmaak, anders gaan jy te veel vet inneem.
Stel jou 5 of 6 porsies saam uit: porsies maer rooivleis (bees, wildsvleis, volstruis, maar wees versigtig vir skaapvleis, want dit bevat baie vet), porsies hoenderborsie (die witvleis is die beste en beslis sonder die vel gaargemaak), porsies vis (veral tuna, makriel of sardyne), maer ham, eier, laevet kaas soos Mozzarella of Lichten Blanc en laevet maaskaas.
Week 6
Vandeesweek se veranderings het alles te doen met koolhidrate, wat alle stysel- en suikerkosse soos pasta, rys, brood, en ook suiker insluit. In kort is dit: alles wat fyn en verfyn is, is uit en alles wat grof en onverfyn en veselryk is, is in. Hoe rower en grower, hoe beter.
Minus: Skakel om van koolhidrate wat jou kits- maar kortstondige energie gee, na koolhidrate wat jou langer versadig gaan laat voel, en jou energievlakke langer hoog gaan hou. Vermy alle verfynde koolhidrate en stysels (bv. witbrood, wit rys en pasta wat nie van durumkoring berei is nie). As dit nie volgraan is nie, is dit taboe.
Die rede: Jy het wel alle soetgoed soos koek, koekies en tjokolade in week 2 van die eetplan uitgeskakel, maar jy eet steeds wit brood, wit rys en ander kosse wat jou insulienvlakke vinnig die hoogte in kan laat skiet en as kosse met ‘n hoe GI-waarde beskou word. Hierdie is ‘n verder stap om jou skielike insulienpieke deur jou dag te verminder, en opvolgende skielike kosluste te verminder.
Plus: Alle vroue wat minder as vier keer per week oefen, moet minstens 5 porsies koolhidrate met 'n lae glikemiese indeks (GI) per dag eet. Alle mans, en vroue wat vyf of ses dae per week oefen, behoort ses porsies koolhidrate in te neem. Kies uit volgraan en semelryke ontbytgraankosse, semelbrosbrood, volgraan bruin- of rogbrood, gort, rog, koring, hawermout, hawersemels, laevet-suiwel of lae-GI vrugte in soos sultanas, rosyntjiebrood, bone, lensies, sojabone, stampkoring, heel groenmielies, pasta en noedels gemaak van durumkoring, patats, langkorrel-, bruin- of wilde rys.
Die porsies is makliker as dié vir proteiene: 1 porsie koolhidraat is 1 sny volgraanbrood, of ‘n ½ koppie bruin rys, of ‘n ½ koppie pasta, of 2 Pro Vitas, of ‘n halwe koppie hawermout pap, of ‘n klein aartappel, of ‘n klein patat of ‘n ½ koppie peulgroente.
Maak seker dat jy ‘n volgraan-, lae GI-koolhidraat by elk van jou drie hoofmaaltye insluit.
Die rede: Ons verskuif na lae-GI kosse om te verseker dat jy deur die dag voldoende energie kry wat jou tot jou volgende ete kan dra. Voorts maak ons seker dat jy voldoende koolhidrate inkry, maar nie te veel nie.
Week 7 Minus: Beperk jou gebruik van olies en vette tot 15 g (3 teelepels) per dag. Vermy alle diervette, klapper (soos in Cremora koffieverrromer), palmpit-olie en harde blokmargarien.
Wees versigtig vir die volgende kosse omdat dit baie versteekte vette bevat: beesfilet, bees-kruisskyf, maalvleis, wors, varkworsies, varkvleis, skaapvleis, hoender met vel, diepgebraaide kosse, geprosesseerde vleis soos poloni, weense worsies, salami, spek, volroom en mediumvet-kase (as jy 'n vuurhoutjiedosiegrootte Emmenthaler kaas ge:eet het, het jy jou maksimum hoeveelheid vet vir die dag in!).
Ander kosse met baie vette in, is beskuit, botterbroodjies, cappucino met room, croissants, fyngebak, geblikte sop, klein koekies, mayonnaise, muffins, pasteie, patees en smere, roomsouse, slaaisouse, soutbeskuitjies, toffies, tjokolade, roomys, nougat, quiches, soutterte. (1 sny quiche het 30g vet - netsoveel as 'n roomys op 'n stokkie of 'n vleispastei).
Die rede: Die gemiddelde Suid-Afrikaner eet dubbel tot vier keer te veel vet as wat sy liggaam benodig om te funksioneer. Alle oortollige vet word in jou liggaam se vetstore geberg (om jou organe, jou heupe, jou maag, jou nek, die waaie van jou rug en al die plekke waar jy nie ekstra vetrolle wil h>e nie!). Oorgewig lei tot al meer gevalle van tipe 2 diabetes onder volwassenes en kinders. Voorts speel veral oortollige diervette ‘n rol om jou bloedvetvlakke (wat jou cholesterolvlakke insluit) te verhoog, en daarmee jou risiko vir hartsiektes en beroerte. Waar ons reeds in Week 3 en 4 van die PlusMinus eetplan aan ons vet-inname begin skaaf het deur kosse met deeg, en kos wat in olie gebak is, uit te skakel, is dit nou nodig om die presiese hoeveelhede vette en olies wat ons ineem, vas te pen. Tweedens wil ons in Week 8 doodseker maak dat wanneer ons vette en olies gebruik, dit wel die gesonder vette en olies is.
Plus: Maak seker dat die 15 g vet/olie wat jy per dag gebruik, die gesonder olies/vette is wat meer omega-3-vetsure of mono-onversadigde vette bevat. Gebruik dus eerder flassaadolie (lynsaadolie), kanola- of olyfolie. Omega-3-vetsure kom ook veral in sardyne, salm, forel, galjoen, geelstert (een van die redes waarom ons in Week 6 aanbeveel dat jy meer van hierdie spesifieke proteiene inneem), en lynsaadolie voor. Amandels, grondbone, avokado's en olywe is goeie voorbeele van vette ryk aan mono-onversadigde vetsure.
Die rede: Ons het wel vet in ons dieet nodig, maar in klein hoeveelhede. Drie porsies vet (wat gelyk is aan 15 g botter, of 6 teelepels sagte margarine, of 3 teelepels olyf-, kanola- sonneblom-, druiwepit-, of lynsaadolie, of 1/8 van ‘n avokadopeer) is voldoende, maar ons neem maklik drie tot vyf keer dié hoeveelheid daagliks in. Vir hartgesondheid is dit van groot belang dat ons liefs van die gesonder vette (omega-3 vetsure en mono-onversagdigde vette) inneem, as ongesonder dierlike vette en transvette. Dit is ook van groot belang dat – hoewel jy jou totale vetinname moet beperk – jy tog vette moet inneem, omdat vitamiene A,D, E en K vetoplosbare vitamiene is, en jy tekort aan hierdie vitamiene kan ontwikkel as jy nou heeltemal te min van hierdie vette inneem.
Week 8
Minus: Eet neute, maar moenie meer as ‘n handvol per week, eet nie. Veral amandels, pekanneute, makadamiese neute, kasjoeneute, pistachioneute en okkerneute, en ook grondbone en groondboontjiebotter bevat die regte vette, maar oppas, te veel sal steeds vet maak.
Die rede: Neute bevat goeie vette en is ryk aan minerale. Amandels, haselneute en grondbone bevat hoofsaaklik mono-onversadigde vette, en sesame sade, sonneblomsade, okkerneute en brasiliaanse neute veral goeie poli-onversadidgde vette en minerale bevat. Brasiliaanse neute veral is ryk aan selenium. Maar neute bestaan steeds 80–90% uit vet (grondbone en kasjoeneute het van die laagste vet-inhoud van neute en dis steeds onderskeidelik 74% en 76%).
Juis omdat neute so baie vet bevat, is ‘n porsie neute (wat as ‘n porsie vet tel) maar bitter klein: 1 porsie neute = 1 porsie vet = 2 E neute = 2 E sade = 2 E grondboontjiebotter. Eet maksimum 3–4 porsies neute en sade per week.
.
Plus : Maak seker dat jy minstens 3–4 keer per week peulgroente (groen bone, gebakte en droe bone, bone in tamatiesous, soja en lensies) eet, en wel as deel van jou koolhidraat-porsies van die week. Leer jou groente beter ken sodat jy weet watter groente – soos aartappel, en patats – as ‘n koolhidraat tel. Eet meer van jou “vry” groente. Maak seker dat jy jou groenteporsies opmaak uit veral aspersies, kool, seldery, tamatie, artitjokke, spinasie, sampioene, uie, komkommer, groenpeper en brokkoli.
Die rede: Dit is tyd om hierdie “outydse” kos te herontdek. Daar was beslis ‘n goeie rede waarom blikkies “baked beans” destyds deel was van die weermagoutjies se kospakke. Dit verskaf volgehoue en langdurige energie en is gevul met ander voedingstowwe. Maak seker dat jy 4 keer per week 'n porsie peulgroente eet. As jy weet watter groente baie koolhidrate bevat, kan jy jou eetplan verfyn sodat jy nie te veel koolhidrate inneem nie. Dit is ‘n aangename gedagte om te weet dat mens, selfs as jy gewig wil verloor, soveel “vry” groente kan eet as jy wil.
Deel jou groente só in:
Jy moet liefs 3–5 porsies groente per dag eet. Sommige groente, soos peulgroente, aartappels en patats tel eerder as koolhidrate omdat hulle groot hoeveelhede koolhidrate bevat. Ander groente bevat weer so min kaloriee dat jy baie meer daarvan kan eet sonder dat jy gewig sal aansit.
1.Groente wat as ‘n koolhidraatporsie tel:
Peulgroente soos droe of gebakte botter- of enige and ronde bone en lensies, waar een porsie 15 g koolhidrate, 2 g protein en byna geen vet bevat nie. Dit is so ryk aan vesel en is inderwaarheid ‘n goeie lae-GI koolhidraat, met bykomende voedingstowwe. Neem minstens 3–4 porsies peulgroente as deel van jou 42 weeklikse koolhidraatporsies.
1 porsie peulgroente-koolhidrate
= ½ koppie (50 g) (kindervuis-grootte) gebakte bone
= ½ koppie (50 g) gekookte peulgroente
= 1 koppie boontjie-, ertjie- of lensiesop
= ½ k sojabone
Sommige groentesoorte bevat netsoveel koolhidrate en verskaf dieselfde hoeveelheid energie as ‘n porsie pasta of rys. Dié groente bevat sowat 15 g koolhidrate en sowat 2 g proteiene soos alle ander styselkosse – dit is dieselfde voedingswaarde as een porsie koolhidrate en kan as ‘n koolhidraat gereken word.
1 porsie van die styselryke groente-koolhidrate
= ½ koppie (100 g) (kindervuisgrootte) aartappels
= ½ k mielies
= ½ k patats
2.Groente wat tel as groente, maar ook bydra tot jou koolhidraatporsie.
Baie groentesoorts is matig-styselryke groente, en kan tel as die helfte van jou 3–5 groenteporsies per dag of 21–35 groenteporsies per week. Een porsie van hierdie groentesoorte sowat 7 g koolhidrate, 2 g proteiene en geen vet nie; dit is eintlik ‘n halwe koolhidraatporsie. Dit is die rede waarom dié groente nie ál jou groenteporsies moet uitmaak nie.
Een porsie van matig-styselryke groente
= ½ koppie (100 g) beet
= ½ k wortels
= ½ k uie
= ½ k pampoen
= ½ k botterskorsie
= ½ k ertjies
3. Jou vry groente waarvan jy soveel ak eet as wat jy kan.
Hierdie groente bevat so min koolhidrate, proteiene en vet dat jy dit as “vry” kos kan beskou.
= 1 k (200 g) aspersie
= 1 k groen bone
= 1 k Brusselse spruite
= 1 k blomkool
= 1 k kool
= 1 k seldery
= 1 k komkommers
= 1 k eiervrug
= 1 k blaarslaai
= 1 k sampioene
= 1 k brokkoli
= 1 k soetrissies
= 1k radyse
= 1 k suurkool
= 1 k sauerkraut
= 1 k murgpampoen
= 1 k groenbone
= 1 k tamaties.
Tamaties – ook tamatiesous, of gekookte tamaties - het so baie gesondheidsvoordele dat dit sover moontlik sommer elke dag in jou eetplan ingesluit word. (lees op blxxx oor tamaties as superkos.)
Vloeistof Minus : Moenie meer as 4 koppies koffie of ander drankies hoog in kaffeien per dag drink nie, en nie koffie ná 4 nm nie. Ook nie meer as 1 - 2 glasies wyn per dag te drink nie, en verkieslik moet jy dit beperk tot slegs een keer per week. Vervang jou koffie met kaffeienvrye koffie of tee waar moontlik.
Die rede: Koffie en alholkol is geneig om jou te ontwater. Koffie hou jou wakker as jy jou laaste koppie koffie na 4 nm drink. Een glasie wyn bevat xxx caloriee – netsoveel soos ‘n volle koolhidraat-porsie. Tee (groen en swart tee), en wyn bevat, soos alle plantvoedsels, die sterk bioflavonied-antioksidante, wat die werking van gevaarlike en moontlik kankerwekkende vry radikale kan teenwerk. Ook wyn bevat bioflavonoiede.
Plus: Drink water as jy dors is. Coke Lite en ander kunsmatig versoete koeldranke is ook goed, maar water is die heel beste.
Die rede: Hoewel die algemene nosie dat jy agt glase water moet drink, nie op absolute wetenskaplike beginsels gegrond is nie, moedig wetenskaplikes en voedingkundiges mense steeds aan om minstens ‘n 1–2 liter vloeistof per dag te drink, en water is die beste.
Bookmark with:
What are social bookmarks?