1. Maak meer van goeie goggas
Gee jou gesondheid 'n hupstoot met 'n probiotika-aanvulling, maar maak net seker jy koop nie 'n produk wat nie genoeg van hierdie "goeie" bakterieë bevat nie. Weens swak regulasie is daar talle produkte op die mark wat vals aansprake maak.
Advertisement
Gaan oor tot aksie:
Vra jou apteker of dokter om 'n goeie produk aan te beveel; let veral op na bakterie-stamme wat goed-gedokumenteerde voordele inhou, soos die Lactobacillus- en Bifidobacterium-groepe; moenie 'n produk kies wat net vae stellings oor AB-kulture of "goeie" bakterieë maak nie; maak seker dat die produk die regte hoeveelheid bakterieë bevat: ten minste 100 miljoen kolonie-vormende eenhede per dosis; let op na die vervaldatum van die produk wanneer jy dit koop; en lees die etiket om te sien of daar nie spesiale bergingsvoorwaardes is nie.
2. Verhoed 'n oliekrisis tuis
Om kos in diepvet te braai, word nie aanbeveel nie. Hierdie gaarmaakmetode is net eenvoudig té ongesond. Maar die meeste mense braai tog nog van tyd tot tyd kos op die stoof, al is dit net in 'n pan. Dis belangrik om versigtig te wees wanneer jy met olie werk, veral wanneer dieselfde olie meer as een keer gebruik word. Olie kan chemiese veranderinge ondergaan, wat moontlik skadelike stowwe kan vrystel.
Gaan oor tot aksie:
Gebruik hierdie riglyne, saamgestel deur FACS: hou by 'n braaitemperatuur van 180 grade Celsius of minder; gebruik vlekvryestaal braaitoerusting (en nie yster, koper of gegalvaniseerde potte en panne nie); verkoel olie so gou as moontlik ná gebruik; stoor gebruikte olie in 'n donker plek, in glas- of vlekvryestaal-houers; filtreer olie ná elke sessie om van enige vreemde materiale ontslae te raak; probeer om sover moontlik alle tekens van ou olie (veral taai, bruin oorblyfsels) van die oppervlakte van braaitoerusting te verwyder.
3. Teenvoeters vir oggendsiekte:
Oggendsiekte is nie noodwendig elke swanger vrou se voorland nie. Maar vir die byna 65% van vroue wat wel tydens die eerste trimester van swangerskap daaraan ly, kan dit 'n ernstige effek op lewenskwaliteit hê.
Gaan oor tot aksie:
Maak 'n afspraak by jou dokter indien jou lewe erg ontwrig word deur oggendsiekte en jy sukkel om te eet of drink; probeer om so goed as moontlik te eet onder die omstandighede; drink heelwat water, veral as jy vloeistof deur braking verloor; eet kleiner maaltye, maar eet meer gereeld (hoë suurvlakke in 'n leë maag en lae bloedsuikervlakke weens onvoldoende kosinname kan opsigself tot naarheid lei); vra jou maat om soggens vóór jy uit die bed klim vir jou 'n droë beskuitjie of roosterbrood te bring.
Bookmark with:
What are social bookmarks?