Normale 20/20-sig
Hoe lyk die beelde?
Alles is mooi skerp in fokus. Daar is geen dowwe
buitelyne wanneer jy na voorwerpe naby jou of in die verte kyk nie.
Waarom?
Die oog se lens buig die ligstrale presies reg om op die
retina agter in die oogbol te val. Die oog is soos ’n digitale kamera op
outo-fokus, net nog gesofistikeerder. Die oogspiere, kornea en lens pas voortdurend
aan om die ligstrale van die prentjie waarna jy kyk presies op jou retina te laat val.
Al ooit gewonder hoe die wêreld lyk deur die oë
van iemand met gloukoom, ’n katarak of ’n ander
oogprobleem? Dié foto’s sal jou insig gee
Bysiendheid
Hoe lyk die beelde? Naby-voorwerpe is
duidelik en in fokus, maar alles wat ver is, lyk
vaag en wasig.
Waarom? Soms is die kornea gekrom, of
die oogbol is te lank (byna soos ’n bal wat van
bo en onder platgedruk word) en dan word
ligstrale gebuig om op ’n punt voor die retina
te fokus pleks van op die retina. Sommige
bysiende mense sukkel selfs om voorwerpe
reg voor hul gesig duidelik te sien.
Hoeveel mense ly daaraan? Dis baie
algemeen: Een uit drie mense is bysiende.
Hoe kan dit reggestel word? Met ’n
bril of kontaklense. Laserchirurgie kan help dat
mense met ’n lae graad van bysiendheid nie
meer ’n bril nodig het nie, terwyl dié met erge
bysiendheid agterna minder afhanklik van ’n
bril of kontaklense kan word. Die chirurgie is
eers moontlik nadat bysiendheid gestabiliseer
het, gewoonlik ná die ouderdom van agttien.
SIEN JY SPIKKELS? Spikkels is kolletjies wat oor jou gesigsveld dryf. Die oorsaak
is klein deeltjies in die deursigtige jellie-agtige vog in jou oogbal. Hulle is meestal
skadeloos, maar spreek jou dokter binne 24 uur as dit meteens vermeerder, as jy ’n
skielike vlaag van ligfl itse sien óf as hulle skielik lyk soos ’n gordyn oor jou gesigsveld.
Dit kan ’n retinale skeur of loslating wees, ’n ernstige probleem.
Oumens-oë (presbiopie)
Hoe lyk die beelde? Naby
voorwerpe soos die letters in ’n
tydskrif is uit fokus en lyk soos die
beelde van versiendheid (regs).
’n Mens moet ’n boek verder van
jou oë af weghou om te kan lees.
Wanneer jy opkyk, is dit vir ’n rukkie
moeilik om op voorwerpe in
die verte te fokus.
Waarom? Ná veertig word die
lens weens ouderdom al strammer
en minder elasties.
Hoeveel mense ly daaraan?
Byna alle mense het later in
hul lewe ’n leesbril nodig. Mense
wat ouer as veertig is, vind dit
al moeiliker om te lees of goed
te sien wanneer hulle moeg is.
Die verswakking van die oë kan
voortduur tot jy ’n ent in die sestig
is, waarna dit stabiliseer.
Hoe kan dit reggestel
word? Met ’n leesbril. Jy kan een
by jou apteek koop, maar laat ’n
oogkundige jou oë toets om seker
te maak daar skort nie ook iets
anders nie.
In die meeste
gevalle word mense
met oogprobleme gebore
en in ander gevalle speel veroudering
’n rol. Oogbeserings kan
ook tot blindheid lei. Dis ’n mite
dat om by swak lig te lees of te na
aan die TV-stel te sit, oogprobleme
kan veroorsaak of vererger. Om
voortdurend op ’n rekenaarskerm
te kyk, kan jou oë
moeg maak.
Versiendheid
Hoe lyk die beelde? Versiendheid is die
teenoorgestelde van bysiendheid: Alles wat
ver is, lyk duidelik en in fokus, maar naby voorwerpe
is wasig en vaag. In erge gevalle kan
sowel naby as ver voorwerpe uit fokus wees.
As die oogbol te kort is (byna
soos ’n bal wat van voor en agter platgedruk
word), fokus ligstrale agter die retina pleks van
direk daarop.
Hoeveel mense ly daaraan? Ongeveer
10 miljoen mense in Suid-Afrika. Die toestand
word dikwels gediagnoseer nog voor ’n kind
skool toe gaan. Kinders wat met ’n graad van
versiendheid gebore word, se oë kan makliker
moeg voel en hulle kan hoofpyn kry as
hulle baie lees. Versiendheid kan skeelheid
veroorsaak.
Hoe kan dit reggestel word? Met ’n bril
of kontaklense. Laserchirurgie kan in sekere
gevalle help.
161 miljoen mense
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie
het 161 miljoen mense op die
planeet in 2002 aan die een of ander
sigprobleem gely.
Astigmatisme
Hoe lyk die beelde? Alles, ver en naby, lyk
eff ens uit fokus. Dis moeilik om fyn detail helder
te sien. Gewoonlik lyk een helfte meer uit fokus
as die ander kant. Soms lyk dit asof vertikale
lyne oorleun, soos die toring van Pisa.
Waarom? Lig fokus op meer as een punt op
die retina omdat die vorm van die kornea oneweredig
is. Party mense word so gebore. Pleks
van rond soos ’n sokkerbal, is die kornea eff ens
ovaal soos ’n rugbybal.
Hoeveel mense ly daaraan? Ongeveer
drie uit tien mense het ’n graad van astigmatisme.
Die meeste kom dit nie eens agter nie.
Die oë word egter gou moeg en ’n mens kan
hoofpyn kry. Iemand wat bysiende of versiende
is, het dikwels ook astigmatisme. Dit verbeter of
verswak nie veel met die tyd nie.
Hoe kan dit reggestel word? Met ’n bril
of kontaklense. Laserchirurgie kan lae grade van
astigmatisme herstel.
Gloukoom
Hoe lyk die beelde? Beelde in die middel
van jou gesigsveld is helder en in fokus, maar
alles rondom dié middelste deel is uit fokus.
Soms is daar gekleurde stralekranse rondom
skerp ligte. Die agteruitgang bekruip ’n mens
soos ’n dief in die nag – dit steel jou sig geleidelik,
sonder dat jy dit agterkom. Die buitesirkel
wat uit fokus is, word al groter en die klein
middelste deel wat in fokus is, word al kleiner.
Uiteindelik bly net tonnelvisie oor, wat op blindheid
kan uitloop. Die oog sukkel ook om van lig
na donker aan te pas.
Waarom? ’n Oormaat vloeistof ontstaan
meestal om genetiese redes binne-in die
oogbol en veroorsaak ’n abnormaal hoë drukking
in die oogbol. Dié drukking beskadig die
oogsenuwee aan die agterkant van die oog.
Hoeveel mense ly daaraan? Omtrent
5 persent van alle Suid-Afrikaners. Die voorkoms
onder swart mense is vyf keer hoër as in
ander bevolkingsgroepe.
Die risiko van gloukoom vermeerder met
ouderdom. Diabete, mense met ’n hoë bloeddruk
en dié met ou oogbeserings het ’n groter
kans om die siekte op te doen. Dis ook meer
algemeen onder bysiende mense.
Dis belangrik om gloukoom vroeg te diagnoseer
omdat skade aan die oogsenuwee, sou
dit gebeur, nie reggestel kan word nie. Mense
wat ouer as vyftig is, ’n familiegeskiedenis van
gloukoom het, aan ernstige bysiendheid ly of al
’n kwaai hou teen die oog gehad het, moet liefs
een keer per jaar ’n oogarts besoek.
Hoe kan dit reggestel word? Oogdruppels
word voorgeskryf om die drukking te
verlaag. Die pasiënt moet die druppels daagliks
vir die res van sy lewe gebruik. Soms word
chirurgie ingespan indien die druppels nie die
druk voldoende verlaag nie.
Let wel: Mense wat skielike hewige pyn
kry in ’n oog wat rooi word, moet dringend
’n dokter gaan spreek, veral as dié toestand
saamgaan met ’n wasige beeld en naarheid.
Dit kan dui op ’n akute en gevaarlike vorm
van gloukoom wat permanente gesigsverlies
kan veroorsaak.
Dís ’n noodgeval!
- ’n Skraap, sny of iets wat in
die oog steek
- ’n Pynlike en rooi oog,
met of sonder naarheid
- Skielike verlies van sig
Makulêre degenerasie
Hoe lyk die beelde? Die lyer sien skadukolle
of grys areas in die middel van die
gesigsveld. Dit maak dit moeiliker om te lees
en lateraan om gesigte te herken. Reguit lyne
soos deurkosyne en telefoonpale begin verwronge
lyk en voorwerpe lyk kleiner en verder
weg as wat hulle regtig is. Die lyer kan steeds
beelde aan die buiterand van die gesigsveld
duidelik sien. Die toestand begin gewoonlik
in die een oog, maar versprei dan na die
ander oog.
Waarom? Die makula is die deel van die
retina wat verantwoordelik is vir skerp,
sentrale visie wat nodig is vir lees, fyn kyk en
motor bestuur. As die makula beskadig word,
gewoonlik as gevolg van ouderdom by sekere
mense, verloor hulle dié sentrale visie.
Dit kan
skielik gebeur en binne weke drasties verswak.
Mense ouer as sestig jaar, wit mense, dié
met ’n familiegeskiedenis van die siekte en
rokers loop die grootste risiko om dit op te
doen. Een van die vorms wat jong mense tref
en gewoonlik opgespoor word in die kleuterstadium
of sodra die kind skool toe gaan, het
’n sterk genetiese faktor.
Hoeveel mense ly daaraan? Byna
1,6 miljoen Suid-Afrikaners. Makulêre degenerasie
is die grootste oorsaak van blindheid
by mense ouer as sestig. Die getalle sal volgens
internasionale kenners oor die volgende
25 jaar verdriedubbel. Dit kom ook al meer
onder jong mense voor.
Hoe kan dit reggestel word? Skade
wat plaasgevind het, kan nie herstel word
nie. In vroeë gevalle kan laserchirurgie help
om gesigsverlies te vertraag. Ophou rook, kos
wat baie luteïen en antioksidante bevat (soos
blaarryke donkergroen groente) en sinkaanvullers
kan die siekte vertraag. Laserchirurgie
help soms, en direkte inspuitings in die
oog hou baie belofte in
Werk jy ure lank voor die rekenaar?
Gee jou oë elke 15 minute rus deur in die verte te kyk
Katarak
Hoe lyk die beelde? Stadig maar seker
word jou sig al wasiger. Dis soos om deur
’n baie vuil kameralens te kyk. Kleure word
dowwer en dit word moeiliker om tussen
kleure en donker en ligte dele te onderskei.
Nagbestuur word ook moeiliker omdat ’n
stralekrans rondom die kopligte van aankomende
verkeer verskyn. Sommige mense het
ook dubbelvisie.
Mense met ’n katarak vind dat hulle stelselmatig
meer lig nodig het om te kan lees, en
ook ’n sterker leesbril.
Waarom? Die lens-proteïene is normaalweg
helder, maar wanneer hulle saamklont, word
hulle ondeursigtig en die lens word troebel.
’n Katarak kan binne ’n paar weke aansienlik
vererger terwyl ander weer lank onveranderd
kan bly.
Omtrent driekwart van alle katarakte is die
gevolg van veroudering. Die res ontwikkel
weens diabetes, genetiese faktore of ’n oogbesering.
As ’n vrou tydens swangerskap
Duitse masels opdoen, kan die baba met
katarakte gebore word.
Hoeveel mense ly daaraan? Ongeveer
900 000 Suid-Afrikaners. Katarakte kom taamlik
algemeen by mense ouer as sestig voor.
Hoe kan dit reggestel word? Chirurgie
is die enigste doeltreff ende behandeling. Die
bewolkte lens word verwyder en ’n nuwe
plastieklens word ingeplant.
Die verwydering van ’n katarak bly maar ’n
persoonlike besluit. Sommige mense leef heel
gelukkig saam met ’n katarak en ’n ingekorte
sig, terwyl ander dit baie ontwrigtend vind. As
lewensgehalte ingeboet word, soos waar jy
nie meer kan bestuur nie, is dit gewoonlik tyd
om die katarak te verwyder.
Retinitis pigmentosa
Hoe lyk die beelde? Nagblindheid, wat
erger en erger word, en verskeie donker kolle
is vroeë tekens. Eers jare, of selfs dekades, later
word tonnelvisie ook ervaar. Die middel van
die gesigsveld bly aanvanklik onaangetas, maar
verdwyn ook mettertyd.
Waarom? Die fotoreseptor-selle in die retina
sterf geleidelik.
Hoeveel mense ly daaraan? Sowat
17 000 Suid-Afrikaners. Retinitis pigmentosa
is ’n oorerfl ike siekte en mense met ’n familiegeskiedenis
daarvan loop ’n groot risiko om
dit te ontwikkel.
Hoe kan dit reggestel word?
Daar bestaan nog geen behandeling
hiervoor nie.
Retina Suid-Afrika doen tans baanbrekersnavorsing oor die gene wat retinale
degenerasie in Suid-Afrikaanse families veroorsaak. Die doel van die navorsing
is om die oorsake, moontlike behandelings en geneesmiddels vas te stel vir
oogsiektes soos makulêre degenerasie, bysiendheid, retinitis pigmentosa, diabetiese
retinopatie en ander oogsiektes wat met die retina verband hou.
Gaan na www.rpsa.co.za vir nog inligting oor die jongste navorsing.
Het jy geweet?
Mans is tien
keer meer geneig
om kleurblind te
wees.
Diabetiese retinopatie
Hoe lyk die beelde? Daar is dikwels
geen vroeë waarskuwingstekens nie. Met
verloop van tyd word die lyer nagblind. Beelde
raak uit fokus en ’n donker kol ontwikkel
in die middel van die gesigsveld, met
drifsels of spinnerakke wat oënskynlik in
die sigveld dryf.
Diabetiese retinopatie kan tot ernstige
verlies van sig en tot blindheid lei as dit
nie vroeg genoeg behandel word nie. Dis
daarom noodsaaklik dat diabete jaarliks
’n oogarts besoek.
Waarom? Dit word veroorsaak deur abnormale
veranderings in die bloedvate van
die retina.
Hoeveel mense ly daaraan? Byna alle
pasiënte met tipe 1-diabetes en 70 persent
met tipe 2-diabetes sal dit ontwikkel. Tot
21 persent van alle tipe 2-diabete het reeds
’n mate van oogskade opgedoen teen die
tyd dat diabetes by hulle gediagnoseer word.
Hoe kan dit reggestel word? Laserterapie,
ooginspuitings en selfs die vervanging
van die oogvog word ingespan. Die
beste behandeling is egter voorkoming en
goeie diabetiese beheer is dus noodsaaklik.
Laat toets jou kind se oë op hierdie ouderdomme
1:of sodra hy begin praat
as jy vermoed dat daar
probleme is.
6:Laat doen dit sommer
saam met skoolgereedheidstoetse.
12:’n Deeglike
oogtoets is nodig
voor hy hoërskool
toe gaan.
Die storie het oorsproklik in die eerste uitgawe van Pols tydskrif verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer inligting in die wêreld van gesondheid
Klik hier om te sien hoe die wereld deur die oe van iemand met 'n oogprobleem lyk