advertisement
09 January 2008

'n Kyk deur ander oe

Beskou die wereld deur die oe van iemand met gloukoom, katarak of ander oogprobleme.

0

Normale 20/20-sig
Hoe lyk die beelde?
Alles is mooi skerp in fokus. Daar is geen dowwe buitelyne wanneer jy na voorwerpe naby jou of in die verte kyk nie.
Waarom?
Die oog se lens buig die ligstrale presies reg om op die retina agter in die oogbol te val. Die oog is soos ’n digitale kamera op outo-fokus, net nog gesofistikeerder. Die oogspiere, kornea en lens pas voortdurend aan om die ligstrale van die prentjie waarna jy kyk presies op jou retina te laat val.

Al ooit gewonder hoe die wêreld lyk deur die oë van iemand met gloukoom, ’n katarak of ’n ander oogprobleem? Dié foto’s sal jou insig gee

Bysiendheid
Hoe lyk die beelde?
Naby-voorwerpe is duidelik en in fokus, maar alles wat ver is, lyk vaag en wasig.

Waarom? Soms is die kornea gekrom, of die oogbol is te lank (byna soos ’n bal wat van bo en onder platgedruk word) en dan word ligstrale gebuig om op ’n punt voor die retina te fokus pleks van op die retina. Sommige bysiende mense sukkel selfs om voorwerpe reg voor hul gesig duidelik te sien.

Hoeveel mense ly daaraan? Dis baie algemeen: Een uit drie mense is bysiende.

Hoe kan dit reggestel word? Met ’n bril of kontaklense. Laserchirurgie kan help dat mense met ’n lae graad van bysiendheid nie meer ’n bril nodig het nie, terwyl dié met erge bysiendheid agterna minder afhanklik van ’n bril of kontaklense kan word. Die chirurgie is eers moontlik nadat bysiendheid gestabiliseer het, gewoonlik ná die ouderdom van agttien.

SIEN JY SPIKKELS? Spikkels is kolletjies wat oor jou gesigsveld dryf. Die oorsaak is klein deeltjies in die deursigtige jellie-agtige vog in jou oogbal. Hulle is meestal skadeloos, maar spreek jou dokter binne 24 uur as dit meteens vermeerder, as jy ’n skielike vlaag van ligfl itse sien óf as hulle skielik lyk soos ’n gordyn oor jou gesigsveld. Dit kan ’n retinale skeur of loslating wees, ’n ernstige probleem.

Oumens-oë (presbiopie)

Hoe lyk die beelde? Naby voorwerpe soos die letters in ’n tydskrif is uit fokus en lyk soos die beelde van versiendheid (regs). ’n Mens moet ’n boek verder van jou oë af weghou om te kan lees. Wanneer jy opkyk, is dit vir ’n rukkie moeilik om op voorwerpe in die verte te fokus.

Waarom? Ná veertig word die lens weens ouderdom al strammer en minder elasties.

Hoeveel mense ly daaraan? Byna alle mense het later in hul lewe ’n leesbril nodig. Mense wat ouer as veertig is, vind dit al moeiliker om te lees of goed te sien wanneer hulle moeg is. Die verswakking van die oë kan voortduur tot jy ’n ent in die sestig is, waarna dit stabiliseer.

Hoe kan dit reggestel word? Met ’n leesbril. Jy kan een by jou apteek koop, maar laat ’n oogkundige jou oë toets om seker te maak daar skort nie ook iets anders nie.

In die meeste gevalle word mense met oogprobleme gebore en in ander gevalle speel veroudering ’n rol. Oogbeserings kan ook tot blindheid lei. Dis ’n mite dat om by swak lig te lees of te na aan die TV-stel te sit, oogprobleme kan veroorsaak of vererger. Om voortdurend op ’n rekenaarskerm te kyk, kan jou oë moeg maak.

Versiendheid
Hoe lyk die beelde? Versiendheid is die teenoorgestelde van bysiendheid: Alles wat ver is, lyk duidelik en in fokus, maar naby voorwerpe is wasig en vaag. In erge gevalle kan sowel naby as ver voorwerpe uit fokus wees.

As die oogbol te kort is (byna soos ’n bal wat van voor en agter platgedruk word), fokus ligstrale agter die retina pleks van direk daarop.

Hoeveel mense ly daaraan? Ongeveer 10 miljoen mense in Suid-Afrika. Die toestand word dikwels gediagnoseer nog voor ’n kind skool toe gaan. Kinders wat met ’n graad van versiendheid gebore word, se oë kan makliker moeg voel en hulle kan hoofpyn kry as hulle baie lees. Versiendheid kan skeelheid veroorsaak.

Hoe kan dit reggestel word? Met ’n bril of kontaklense. Laserchirurgie kan in sekere gevalle help.

161 miljoen mense
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het 161 miljoen mense op die planeet in 2002 aan die een of ander sigprobleem gely.

Astigmatisme
Hoe lyk die beelde?
Alles, ver en naby, lyk eff ens uit fokus. Dis moeilik om fyn detail helder te sien. Gewoonlik lyk een helfte meer uit fokus as die ander kant. Soms lyk dit asof vertikale lyne oorleun, soos die toring van Pisa.

Waarom? Lig fokus op meer as een punt op die retina omdat die vorm van die kornea oneweredig is. Party mense word so gebore. Pleks van rond soos ’n sokkerbal, is die kornea eff ens ovaal soos ’n rugbybal.

Hoeveel mense ly daaraan? Ongeveer drie uit tien mense het ’n graad van astigmatisme. Die meeste kom dit nie eens agter nie. Die oë word egter gou moeg en ’n mens kan hoofpyn kry. Iemand wat bysiende of versiende is, het dikwels ook astigmatisme. Dit verbeter of verswak nie veel met die tyd nie.

Hoe kan dit reggestel word? Met ’n bril of kontaklense. Laserchirurgie kan lae grade van astigmatisme herstel.

Gloukoom
Hoe lyk die beelde?
Beelde in die middel van jou gesigsveld is helder en in fokus, maar alles rondom dié middelste deel is uit fokus. Soms is daar gekleurde stralekranse rondom skerp ligte. Die agteruitgang bekruip ’n mens soos ’n dief in die nag – dit steel jou sig geleidelik, sonder dat jy dit agterkom. Die buitesirkel wat uit fokus is, word al groter en die klein middelste deel wat in fokus is, word al kleiner. Uiteindelik bly net tonnelvisie oor, wat op blindheid kan uitloop. Die oog sukkel ook om van lig na donker aan te pas.

Waarom? ’n Oormaat vloeistof ontstaan meestal om genetiese redes binne-in die oogbol en veroorsaak ’n abnormaal hoë drukking in die oogbol. Dié drukking beskadig die oogsenuwee aan die agterkant van die oog.

Hoeveel mense ly daaraan? Omtrent 5 persent van alle Suid-Afrikaners. Die voorkoms onder swart mense is vyf keer hoër as in ander bevolkingsgroepe. Die risiko van gloukoom vermeerder met ouderdom. Diabete, mense met ’n hoë bloeddruk en dié met ou oogbeserings het ’n groter kans om die siekte op te doen. Dis ook meer algemeen onder bysiende mense. Dis belangrik om gloukoom vroeg te diagnoseer omdat skade aan die oogsenuwee, sou dit gebeur, nie reggestel kan word nie. Mense wat ouer as vyftig is, ’n familiegeskiedenis van gloukoom het, aan ernstige bysiendheid ly of al ’n kwaai hou teen die oog gehad het, moet liefs een keer per jaar ’n oogarts besoek.

Hoe kan dit reggestel word? Oogdruppels word voorgeskryf om die drukking te verlaag. Die pasiënt moet die druppels daagliks vir die res van sy lewe gebruik. Soms word chirurgie ingespan indien die druppels nie die druk voldoende verlaag nie.

Let wel: Mense wat skielike hewige pyn kry in ’n oog wat rooi word, moet dringend ’n dokter gaan spreek, veral as dié toestand saamgaan met ’n wasige beeld en naarheid. Dit kan dui op ’n akute en gevaarlike vorm van gloukoom wat permanente gesigsverlies kan veroorsaak.

Dís ’n noodgeval!

  • ’n Skraap, sny of iets wat in die oog steek

  • ’n Pynlike en rooi oog, met of sonder naarheid

  • Skielike verlies van sig

Makulêre degenerasie Hoe lyk die beelde? Die lyer sien skadukolle of grys areas in die middel van die gesigsveld. Dit maak dit moeiliker om te lees en lateraan om gesigte te herken. Reguit lyne soos deurkosyne en telefoonpale begin verwronge lyk en voorwerpe lyk kleiner en verder weg as wat hulle regtig is. Die lyer kan steeds beelde aan die buiterand van die gesigsveld duidelik sien. Die toestand begin gewoonlik in die een oog, maar versprei dan na die ander oog.

Waarom? Die makula is die deel van die retina wat verantwoordelik is vir skerp, sentrale visie wat nodig is vir lees, fyn kyk en motor bestuur. As die makula beskadig word, gewoonlik as gevolg van ouderdom by sekere mense, verloor hulle dié sentrale visie.

Dit kan skielik gebeur en binne weke drasties verswak. Mense ouer as sestig jaar, wit mense, dié met ’n familiegeskiedenis van die siekte en rokers loop die grootste risiko om dit op te doen. Een van die vorms wat jong mense tref en gewoonlik opgespoor word in die kleuterstadium of sodra die kind skool toe gaan, het ’n sterk genetiese faktor.

Hoeveel mense ly daaraan? Byna 1,6 miljoen Suid-Afrikaners. Makulêre degenerasie is die grootste oorsaak van blindheid by mense ouer as sestig. Die getalle sal volgens internasionale kenners oor die volgende 25 jaar verdriedubbel. Dit kom ook al meer onder jong mense voor.

Hoe kan dit reggestel word? Skade wat plaasgevind het, kan nie herstel word nie. In vroeë gevalle kan laserchirurgie help om gesigsverlies te vertraag. Ophou rook, kos wat baie luteïen en antioksidante bevat (soos blaarryke donkergroen groente) en sinkaanvullers kan die siekte vertraag. Laserchirurgie help soms, en direkte inspuitings in die oog hou baie belofte in

Werk jy ure lank voor die rekenaar?
Gee jou oë elke 15 minute rus deur in die verte te kyk

Katarak
Hoe lyk die beelde?
Stadig maar seker word jou sig al wasiger. Dis soos om deur ’n baie vuil kameralens te kyk. Kleure word dowwer en dit word moeiliker om tussen kleure en donker en ligte dele te onderskei. Nagbestuur word ook moeiliker omdat ’n stralekrans rondom die kopligte van aankomende verkeer verskyn. Sommige mense het ook dubbelvisie. Mense met ’n katarak vind dat hulle stelselmatig meer lig nodig het om te kan lees, en ook ’n sterker leesbril.

Waarom? Die lens-proteïene is normaalweg helder, maar wanneer hulle saamklont, word hulle ondeursigtig en die lens word troebel. ’n Katarak kan binne ’n paar weke aansienlik vererger terwyl ander weer lank onveranderd kan bly.

Omtrent driekwart van alle katarakte is die gevolg van veroudering. Die res ontwikkel weens diabetes, genetiese faktore of ’n oogbesering. As ’n vrou tydens swangerskap Duitse masels opdoen, kan die baba met katarakte gebore word.

Hoeveel mense ly daaraan? Ongeveer 900 000 Suid-Afrikaners. Katarakte kom taamlik algemeen by mense ouer as sestig voor.

Hoe kan dit reggestel word? Chirurgie is die enigste doeltreff ende behandeling. Die bewolkte lens word verwyder en ’n nuwe plastieklens word ingeplant.

Die verwydering van ’n katarak bly maar ’n persoonlike besluit. Sommige mense leef heel gelukkig saam met ’n katarak en ’n ingekorte sig, terwyl ander dit baie ontwrigtend vind. As lewensgehalte ingeboet word, soos waar jy nie meer kan bestuur nie, is dit gewoonlik tyd om die katarak te verwyder.

Retinitis pigmentosa
Hoe lyk die beelde?
Nagblindheid, wat erger en erger word, en verskeie donker kolle is vroeë tekens. Eers jare, of selfs dekades, later word tonnelvisie ook ervaar. Die middel van die gesigsveld bly aanvanklik onaangetas, maar verdwyn ook mettertyd.

Waarom? Die fotoreseptor-selle in die retina sterf geleidelik.

Hoeveel mense ly daaraan? Sowat 17 000 Suid-Afrikaners. Retinitis pigmentosa is ’n oorerfl ike siekte en mense met ’n familiegeskiedenis daarvan loop ’n groot risiko om dit te ontwikkel.

Hoe kan dit reggestel word? Daar bestaan nog geen behandeling hiervoor nie.

Retina Suid-Afrika doen tans baanbrekersnavorsing oor die gene wat retinale degenerasie in Suid-Afrikaanse families veroorsaak. Die doel van die navorsing is om die oorsake, moontlike behandelings en geneesmiddels vas te stel vir oogsiektes soos makulêre degenerasie, bysiendheid, retinitis pigmentosa, diabetiese retinopatie en ander oogsiektes wat met die retina verband hou.
Gaan na www.rpsa.co.za vir nog inligting oor die jongste navorsing.

Het jy geweet?
Mans is tien keer meer geneig om kleurblind te wees.

Diabetiese retinopatie
Hoe lyk die beelde? Daar is dikwels geen vroeë waarskuwingstekens nie. Met verloop van tyd word die lyer nagblind. Beelde raak uit fokus en ’n donker kol ontwikkel in die middel van die gesigsveld, met drifsels of spinnerakke wat oënskynlik in die sigveld dryf.

Diabetiese retinopatie kan tot ernstige verlies van sig en tot blindheid lei as dit nie vroeg genoeg behandel word nie. Dis daarom noodsaaklik dat diabete jaarliks ’n oogarts besoek.

Waarom? Dit word veroorsaak deur abnormale veranderings in die bloedvate van die retina.

Hoeveel mense ly daaraan? Byna alle pasiënte met tipe 1-diabetes en 70 persent met tipe 2-diabetes sal dit ontwikkel. Tot 21 persent van alle tipe 2-diabete het reeds ’n mate van oogskade opgedoen teen die tyd dat diabetes by hulle gediagnoseer word.

Hoe kan dit reggestel word? Laserterapie, ooginspuitings en selfs die vervanging van die oogvog word ingespan. Die beste behandeling is egter voorkoming en goeie diabetiese beheer is dus noodsaaklik.

Laat toets jou kind se oë op hierdie ouderdomme
1:of sodra hy begin praat as jy vermoed dat daar probleme is.

6:Laat doen dit sommer saam met skoolgereedheidstoetse.

12:’n Deeglike oogtoets is nodig voor hy hoërskool toe gaan.

Die storie het oorsproklik in die eerste uitgawe van Pols tydskrif verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer inligting in die wêreld van gesondheid

Klik hier om te sien hoe die wereld deur die oe van iemand met 'n oogprobleem lyk
 
advertisement

Get a quote

advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Add your comment
Comment 0 characters remaining

Live healthier

Be vitamin-smart »

A-Z of vitamins What is vitamin C? Ask the expert

Why we need vitamin D

Even in a country with an abundance of sunlight you might have a vitamin D deficiency. Here's why.

Beat acne »

Stars with scars Acne tips Skincare

Myths about acne

Through the ages, there have been many myths about acne. We list the myths and give you the facts.