Share

In die kol

Jou kind is skielik oortrek van rooi kolle. Pols ondersoek die twaalf kinderuitslagsiektes wat met koors gepaard gaan.

Babamasels (roseola)

Babamasels (roseola infantum) is ’n algemene nie-ernstige virusinfeksie wat tussen die ouderdom van ses en 24 maande voorkom. Die tipiese verloop is skielike koors (39 – 40 grade C), prikkelbaarheid en miskien selfs koorsstuipe. Die koors bly drie dae lank hoog.

’n Ligte, gespikkelde pienk uitslag verskyn dan op die lyf en nek; die koors verdwyn en dit gaan beter met jou kind. Die uitslag verdwyn ná een tot vier dae.

Daar kan swelling om die oë wees en ’n mens kan klein limfkliere aan die agterkant van die kop voel. Die virus wat roseola veroorsaak, is baie wydversprei. Teen die tyd dat ons volwassenheid bereik, is die meeste van ons reeds besmet en selfs draers van die virus.

Die suigeling word gewoonlik deur ’n ouer besmet wanneer immuniteit wat van die ma verkry is op ses maande verdwyn. Party suigelinge kry glad nie die uitslag nie – slegs koors of verkoue-simptome.

Moenie antibiotika gee nie. Dit sal nie help nie. Parasetamol (½ –1 teelepel) sal jou kind beter laat voel en miskien koorsstuipe voorkom. Jou kind se eetlus word nie juis aangetas nie en jy kan steeds borsvoed.

Roseola is byna altyd ’n skadelose siekte. Dit kan strawwer wees onder kinders met chroniese siektes of ’n lae siekte-weerstand.

Masels (rubeola)

Masels, ’n virussiekte, kom selde voor onder kinders jonger as nege maande. Jonger kinders word deur die ma se teenliggaampies beskerm, mits sy self as kind masels gehad het of daarteen ingeënt is.

Die simptome is skielike koors, prikkelbaarheid, ’n loopneus, rooi oë wat traan en ’n hoes wat oor ’n tydperk van drie dae al hoe erger raak.

Jong kinders kan ernstige diarree ontwikkel. Later verskyn daar ’n groot aantal klein wit kolletjies op ’n rooi basis aan die binnekant van die wange.

Ná ’n koors van drie of vier dae ontstaan daar ’n kollerige rooi uitslag. Die uitslag verskyn eers op die nek en gesig, versprei dan en word oor ’n tydperk van twee tot drie dae geleidelik erger tot dit die grootste deel van die liggaam bedek.

Dan eers bedaar die koors en klaar die uitslag op. Soos dit opklaar, kan die vel donkerder raak en eff ens afdop. Gee parasetamol om die koors te laat daal, asook baie vloeistof.

Antibiotika is nie nodig nie, behalwe in die geval van komplikasies soos oorinfeksie of longontsteking. Ongeveer vyf dae ná die uitslag verskyn het, is die kind nie meer aansteeklik nie.

Die meeste kinders herstel volkome binne ongeveer tien dae. Babas, kinders wat aan wanvoeding ly en dié met chroniese siektes of onderdrukte immuniteit kan ver skeie komplikasies kry – ernstige maag-en-derm-ontsteking, kroep, longontsteking of selfs tuberkulose.

’n Seldsame komplikasie is breinontsteking (enkefalitis). Masels kan heeltemal deur inentings op nege en agttien maande oud verhoed word.

Duitse masels (rubella)

Duitse masels kom meestal onder skoolgaande kinders voor. By jonger kinders kan die siekte ongemerk verbygaan.

Koors is nie ’n prominente simptoom nie; die uitslag kan net skielik daar wees, of ná twee dae van sleg voel en ’n seer keel sy verskyning maak.

Klein, plat pienk kolletjies verskyn eers op die gesig en versprei dan vinnig na die lyf en ledemate. Die kolle smelt saam en vorm teen die volgende dag ’n rooi area, wat gewoonlik teen die derde dag reeds iets van die verlede is.

Die limfkliere agter die kop en aan die bokant van die nek is vergroot en gevoelig. Andersins is daar nie fout nie. Party kinders, veral tieners, het las van pyn in hul gewrigte.

Die siekte is meestal nie ernstig nie en geen spesifi eke behandeling is nodig nie. Die ergste gevaar is gedurende vroeë swangerskap wanneer die fetus ernstig deur die rubella- virus aangetas kan word.

Dit is die hoofrede vir roetine-immunisering met ’n driedubbele MMRvaksien teen masels, pampoentjies en Duitse masels. Seldsame komplikasies is infl ammasie van die brein asook bloeding.

Besoek ’n dokter as jou kind maklik kneusplekke kry of as daar rooi kolle op sy vel verskyn.

Erythema infectiosum (‘klap-op-die-wang-siekte’)

Hierdie virusinfeksie is meestal glad nie ernstig nie. Daar is ’n ligte koors, gevolg deur ’n uitslag.

Dit kom meestal onder skoolgaande kinders voor, maar dikwels is daar geen simptome nie. Die eerste teken is byna altyd baie rooi wange met ’n effense bleekheid om die mond.

Dan verskyn daar ’n kollerige, rooi, eff ens jeukerige uitslag op die liggaam en ledemate. Dit verdwyn oor ’n tydperk van een tot drie weke, maar bly nog ’n ruk op die ledemate.

Dit lyk soos ’n kantpatroon wat kan kom en gaan, afhangend van temperatuurveranderinge soos skielike koue weer of ná ’n warm bad.

Partykeer is die aanvanklike koors ernstiger, met hoofpyn of gewrigpyn wat voor die uitslag sy verskyning maak. Die virus versprei deur speekseldruppeltjies wat uitgeasem word.

Gewoonlik word geen behandeling vereis nie. Isolasie is nie nodig nie, aangesien dit nie meer aansteeklik is wanneer die uitslag sigbaar word nie. Die virus val ook die selle aan wat rooibloedselle vervaardig.

Dit het geen nadelige invloed op kinders wat andersins gesond is nie. Kinders met chroniese bloedtoestande of kanker kan ernstige bloedarmoede ontwikkel.

Gewrigspyne kom soms by ouer kinders en volwassenes voor. Die siekte staan ook bekend as “vyfde siekte”.

Skarlakenkoors
Skarlakenkoors word deur sekere vorms van die streptokokkus-bakterie veroorsaak. Dit kom gewoonlik onder kinders jonger as vier jaar voor.

Die kind kla gewoonlik skielik oor ’n seer keel, hoofpyn en maagpyn en het ‘n hoë koors.

’n Uitslag verskyn ná twee tot drie dae, eers in die armholtes en lieste en dan oor die liggaam en ledemate.

Die velvoue is ’n donkerder rooi. Die wange is rooi en daar is bleekheid om die mond. Die tong is eers met ’n wit lagie bedek en word later aarbeirooi.

Die kliere in die nek is gevoelig en vergroot.

Sonder behandeling verminder die koors ná ongeveer tien dae. Die gesig, lyf en veral die hande en voete dop liggies af. ’n Antibiotikum is noodsaaklik om die besmetting uit te wis, en die eerste keuse is steeds penisillien – per inspuiting, mondeliks, en in ernstige gevalle binneaars.

’n Kind wat allergies vir penisillien is, moet eritromisien ontvang. Parasetamol verlig die keelseer en verminder die koors.

Skarlakenkoors kan ’n gevaarlike siekte wees, al word dit deesdae as minder ernstig beskou. Moontlike komplikasies sluit in mangel-abses, sinusitis en oorinfeksie, nierontsteking en rumatiekkoors.

Die kind moet van ander kinders weggehou word tot die uitslag verdwyn.

’n Seer keel gevolg deur ’n uitslag en ’n tong wat eers wit en dan aarbeirooi is, is kenmerkend van skarlakenkoors.

Het jy geweet? ’n Kind met skarlakenkoors kan rumatiekkoors ontwikkel

Klierkoors (aansteeklike mononukleose)

Dit kom gewoonlik onder ouer kinders voor – selde onder kinders jonger as tien. ’n Ernstige keelinfeksie met koors is die algemeenste simptoom.

In die meeste gevalle behels dit die algemene vergroting van limfkliere in die nek, armholtes en lieste. Ander moontlike simptome is swelling om die oë, maagpyn (te wyte aan vergroting van die milt en lewer) en geelsug in enkele gevalle.

Sowat 10 persent kry ’n kollerige rooi uitslag. Kinders wat met die antibiotikum ampisillien of een van sy variante behandel is, kry ’n uitgebreide algemene uitslag.

Die oorsaak is die Epstein-Barr-virus. Hierdie virus veroorsaak slegs nie-ernstige, ongespesifi seerde siektes onder jonger kinders – of glad geen simptome nie.

Daar is geen spesifieke behandeling nie en veral antibiotika moet nie gegee word nie. Ampisillien moet dus nooit aan ’n kind met ’n seer keel gegee word nie, ingeval die kind dalk klierkoors het.

Hoewel meestal nie-ernstig en selfbeperkend, is dit ’n onvoorspelbare siekte met ’n aantal moontlike komplikasies.

Raadpleeg ’n dokter indien dié toestand vermoed word.

Geswelde kliere in die nek, oksels en lieste, seer keel en koors is die belangrikste eerste tekens van klierkoors.

Kawasaki-siekte

Dit is ’n seldsame, maar gevaarlike siekte wat meestal onder kinders tussen een en agt jaar oud voorkom.

Die koors styg skielik en die kind voel siek. Ná twee dae se koors is die oë rooi en die mond, lippe, tong en keel seer. Die nekkliere is dikwels vergroot.

’n Algemene uitslag verskyn (dikwels in die luier-area) en dit kan verskeie vorms aanneem. Opgeswelde rooi hande en voete is kenmerkend.

Die kind is ernstig siek en kan verskeie ander simptome hê: diarree en vomering, maagpyn, hoofpyn of ’n stywe nek.

Die koors bly sonder behandeling vir vyf tot tien dae hoog en daal dan weer.

Die oorsaak is nog steeds onbekend, maar daar word aanvaar dat dit ontsteking van die haarbloedvate veroorsaak wat na groter bloedvate, veral binne die hart, kan lei.

Gelukkig is daar spesifi eke behandeling wat komplikasies kan voorkom en herstel kan bespoedig. Hospitaalopname is noodsaaklik. Om dié rede behoort ouers bewus te wees van hierdie siekte en ’n dokter te ontbied in die geval van enige koorssiekte met dié simptome.

Die hoofkomplikasie is infl ammasie van die klein bloedvate wat na die kroonslagare kan versprei. Simptome van hartsiekte kan eers maande of jare later hul verskyning maak.

As jou kind siek is en sy voete en hande swel en rooi word, gaan dadelik dokter toe.

Meningokokkus-infeksie

Dié gevaarlike siekte kan op enige ouderdom toeslaan.

Die infeksie kan net in die bloedsomloop teenwoordig wees, of dit kan vinnig tot breinvliesontsteking (meningitis) lei.

As laasgenoemde gebeur, is die simptome koors, hoofpyn, vomering, ‘n stywe nek, dikwels stuiptrekkings en verwardheid. In die geval van eersgenoemde is die prentjie minder duidelik – koors, braking, vinnige asemhaling en polsslag en spierpyne.

’n Uitslag begin met ’n paar verspreide rooi kolle enige plek op die liggaam wat vinnig groot en donkerpers word en soos kneusplekke lyk.

Dis net met dié uitslag dat die rooi kolle op die vel nie wit word as jy daarop druk nie. In die ergste gevalle tree skok vinnig in – met koue arms en bene, ’n swak polsslag en verspreide kneusplekke. Bloeding van die inwendige organe kan voorkom. Die kind kan binne drie tot vier uur sterf.

Die oorsaak is ’n bakterie wat meningokokkus of neisseria genoem word, wat in die keel teenwoordig is en net in sekere gevalle infeksie veroorsaak.

Party families het vanweë sekere immuniteitsgebreke ’n verlaagde weerstand teen hierdie bakterie. Hospitaalopname is noodsaaklik in alle gevalle.

As jou kind koorsig is, hoofpyn en ’n stywe nek het en dan ‘n uitslag kry wat eers soos rooi speldprikke en later soos kneusings lyk, moet jy dokter toe jaag.

Waterpokkies (varicella)

Waterpokkies is ’n algemene siekte. Dit kan op enige ouderdom toeslaan, maar is veral ernstig by pasgebore babas en dikwels ook by volwassenes.

Dié siekte begin met koors en ongemak, en die erns en tydsduur van simptome neem toe by ouer kinders en volwassenes.

In baie gevalle is die eerste simptoom ’n jeukerige uitslag in die vorm van ’n reeks kolle wat begin uitstaan en binne ’n paar uur klein, ronde blasies vorm.

Kolle verskyn dan op die gesig, kopvel, bolyf en ledemate. Ná drie tot vier dae raak die blase vol etter en vorm dan rowe wat uitdroog.

Hierdie kolle kan ook in die mond, om die oë of op die geslagsorgane ontwikkel. Die graad kan wissel van ’n paar kolle tot ’n ernstige uitslag wat die hele liggaam bedek.

Kolle in verskillende stadiums van ontwikkeling is tipies teenwoordig (rooi kolle, blase en blase vol etter) en daar is byna altyd ’n paar kolle op die kopvel. Die rowe val ná sewe tot veertien dae af.

Die kolle raak maklik besmet as daar aan hulle gekrap word. Die virus is baie aansteeklik en word oorgedra deur speekseldruppeltjies, die hande en voorwerpe waaraan geraak is.

Die eerste tekens van besmetting verskyn eers meer as twee weke ná kontak, dus is waterpokkies moeilik om uit te roei wanneer dit in ’n skool of hospitaalsaal uitbreek.

Geen behandeling word in nie-ernstige gevalle vereis nie en dit is nie nodig om in die bed te bly nie. Kalamynmelk verlig die gejeuk en droog die blase uit.

Vermy aspirien. Behandel besmette kolle met ’n ontsmetmiddeloplossing en, indien ernstig, ’n antibiotikum.

Daar kan in uitsonderlike gevalle komplikasies soos longontsteking en breinvliesontsteking intree.

Waterpokkies begin met kolle wat ontwikkel tot blasies, wat later vol etter word.

Gordelroos (herpes zoster)

Gordelroos is meestal ’n probleem by ouer mense, maar kom tog dikwels onder kinders voor, veral wanneer hul weerstand teen besmetting laag is.

’n Groep kolle verskyn meteens aan die een kant van die kop of lyf en word dan blase van verskillende groottes wat kan bars en rou plekke laat wat besmet kan raak.

By volwassenes en soms by kinders word die uitslag dikwels deur pyn voorafgegaan.

Die pyn kan voortduur lank nadat die uitslag reeds verdwyn het. Gordelroos kom meestal op die lyf voor, maar is ernstiger indien dit in die oog-area of oor voorkom.

Die oorsaak is dieselfde virus wat waterpokkies veroorsaak, en wat in ’n senuwee sluimer van iemand wat maande of jare tevore waterpokkies gehad het. Die virus beweeg deur ’n senuwee en besmet daardie senuwee se velgebied. Gordelroos kan ook kinders aansteek en waterpokkies veroorsaak.

Die siekte is gewoonlik nie ernstig by kinders nie en parasetamol verlig die pyn. Die helingsproses is stadig en daar kan ’n wit litteken agterbly.

Skade aan die kornea en gesigsverlamming is moontlike komplikasies, maar kom selde voor.

’n Groep kolle verskyn skielik aan die een kant van die liggaam of kop en word dan blase.

Koorsblare (herpes simpleks)

Kinders se eerste kennismaking met die “koorsblaarvirus” kan ’n irriterende akute infeksie van die mond veroorsaak.

Dit begin met koors en baie gou verskyn daar pynlike sere oral in die mondholte – in die keel, aan die binnekant van die wange of op die tong.

Die seertjies is eintlik klein blasies wat vinnig bars en ’n rou plekkie agterlaat. Die tandvliese word terselfdertyd rooi en opgeswel. Die koors en infeksie kan ’n week of langer duur, en gedurende daardie tyd voel die kind siek en prikkelbaar.

Omdat dit seer is om te eet kan voeding daaronder ly. Dis veral kommerwekkend in die geval van kinders wat reeds aan wanvoeding of ander siektes ly.

Blase en ander sere kan ook aan die buitekant van die lippe, aan die vingers (as dit baie gesuig word) en selfs op ander plekke verskyn.

Ná die besmetting bly die virus vir die res van jou lewe in ’n senuwee in die kop teenwoordig.

Dit kan deur enige infeksie soos ’n verkoue geaktiveer word en veroorsaak blasies op die lippe. Baie mense is draers van die herpes simpleks-virus, wat uit twee tipes bestaan.

Tipe 1 is verantwoordelik vir die meeste mondinfeksies by kinders. Tipe 2 veroorsaak blase op die geslagsdele van tieners en volwassenes en is partykeer seksueel oordraagbaar.

Parasetamol drie keer per dag beheer die pyn en koors. Dit is belangrik dat voeding volgehou word en dat klein, gereelde, neutrale, melk-gebaseerde maaltye gegee word.

Daar is doeltreff ende teen-herpes-middels beskikbaar wat veral aan kinders met chroniese siektes of in moeilike gevalle gegee word.

Talle vorms kan baie ernstige algemene infeksies by pasgebore babas veroorsaak. Vroue met genitale herpes het dus spesiale sorg nodig.

Herpes simpleks kan ernstige breinontsteking veroorsaak.

Kinders met chroniese ekseem kan ’n baie ernstige uitslag ontwikkel indien hulle met herpes simpleks besmet word.

Het jy geweet? Die virus bly vir die res van die persoon se lewe in ’n senuwee in die kop teenwoordig. ’n Verkoue kan dit aktiveer.

Hand-voet-mond-siekte

Hierdie virussiekte kom meestal in die somermaande voor, dikwels in die vorm van uitbrake.

Daar is min koors en die eerste teken kan ’n onwilligheid wees om te eet. ’n Paar klein seertjies verskyn op die tong of op ander plekke in die mond.

Kort daarna verskyn daar pêrelagtige blase op die handpalms en voetsole, asook aan die buitekant van die hande en voete. Alles genees binne ongeveer ’n week.

Dit is ’n ligte infeksie en vereis geen behandeling nie.

Hoewel baie uitslagbesmettings nie ernstig is nie, is dit ’n goeie plan om ’n dokter te ontbied wanneer ’n kind ’n uitslag ontwikkel.

Behandeling vir koorsige kinders

Koors is die liggaam se manier om teen ’n bakterie of virus te veg, maar in sekere gevalle is koors nie kinderspeletjies nie.

Om net ’n kind se koors te meet, sê jou nie altyd hoe siek hy is nie. Griep en verkoue kan ’n kind se koors maklik tot 39 grade C laat styg sonder dat hy besonder siek is, terwyl ’n uiters gevaarlike infeksiesiekte ’n kind – veral ’n baba – se koors skaars merkbaar kan laat styg of selfs laat daal.

Kinders wat koorsig is, haal gewoonlik vinniger asem en hul hartjies klop ook vinniger. As ’n kind koors het, maar nog lus is vir speel, normaal eet en drink en vir jou glimlag, moet jy hom dophou, maar hoef jy nie dokter toe te jaag nie.

J y moet wel by ’n dokter uitkom as . . .

  • jou baba jonger as drie maande se koors meer as 38 grade C is;

  • jou ouer kind se koors hoër as 40 grade C is;

  • jou ouer kind se koors tussen 38 grade C en 40 grade C is, maar hy wil nie eet of drink nie, het aanmekaar diarree of is naar, toon tekens van ontwatering of het ’n paar nagte agtereen rukkies lank koors.Ook as sy koors nie binne 72 uur daal as jy hom afspons en met kinder-parasetamol of ibuprofeen behandel nie;

  • jou kind jonger as twee jaar se koors nie met bogenoemde behandeling binne 24 uur daal nie.

911 Jaag na jou dokter as jou kind koorsig is en . . .

  • ure aaneen troosteloos huil en baie prikkelbaar is

  • baie lusteloos is en sukkel om wakker te word;

  • ’n uitslag het wat soos kneusings lyk;

  • sukkel om asem te haal;

  • vooroor leun en kwyl;

  • ’n tipe epileptiese of stuipe-aanval kry;

  • sy lippe, tong en naels blou is;

  • sy nek styf en sy kop baie seer is;

  • sy lyf pap is en hy sukkel om te beweeg;

  • die fontanel op sy kop na buite bult.

What causes skin disease?

Die storie het oorspronklik in die eerste uitgawe van Pols tydskrif verskyn. Koop die nuutste uitgawe op 'n winkelrak naby jou vir meer fassinerende stories in die wêreld van gesondheid.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE