Share

Die dokter in jou koskas

Eet die regte kos op die regte tyd, en jy gaan beter voel en gesonder wees
Deur Mari Hudson, uit PlusMinus Eetplan, feite nagegaan deur dieetkundige

Moegheid. Depressie. Osteoporose. PMS. Migraine. Ja, ‘n mens kán hierdie probleme met medisyne beter dokter, maar met deesdae se terugkeer na alles wat natuurliker is, het ons gaan kyk of ’n mens jou nie dalk gesonder kan eet ook nie.

Dit beteken glad nie dat jy jou voorgeskrewe osteoporosepille of depressiemiddels moet weggooi nie. Maar as jy sekere kosse eet en ander vermy, is dit dalk net moontlik dat jy jou potensiële gesondheidsprobleem in die kiem kan smoor. Met die regte dieet kan jy dalk keer dat die simptome vererger, of dalk jou toestand – saam met die gebruik van jou medisyne – genees.

Doen dit só:

1. DIE PROBLEEM: Doen jy genoeg om osteoporose te voorkom?

EET SO GENESEND

  • Drink 3 – 4 glase melk (vetvry as jy nie gewig wil aansit nie) per dag.
  • Eet minstens 2 keer per week geblikte vis met sagte grate soos salm en sardyne, broccoli of amandels, of neem andersins daagliks kalsium- en vitamien D-aanvullings.
  • Dit is ook belangrik dat jy minstens 2 uur per week stap, draf of met gewigte oefen.
  • Bring minstens 30 minute per dag in die buitelug deur sodat jou liggaam voldoende vitamien D vervaardig.

VERMY DIÉ KOSSE

 Beperk die hoeveelheid koffie en alkohol wat jy per dag drink.

2. DIE PROBLEEM: Voel jy sommer in die middel van die dag moeg?

EET SO GENESEND

  • Eet gereelde, kleiner maaltye.
  • Eet eerder lae GI-kosse as verfynde koolhidrate.
  • Eet eerder volgraan- en hawersemelpap, veselryke (bran) pap, bone, lensies, ertjies, stampmielies, stampkoring, patats, groenmielies, bruinrys en vrugte soos appels, bessies, mango’s en sitrusvrugte.

VERMY DIÉ KOSSE

 Suiker, soetgoed, lekkers, sjokolade en ander kosse wat jou insulienvlak vinnig, maar kortstondig verhoog.

3. DIE PROBLEEM: Ly jy aan depressie?

EET SO GENESEND

  • Eet gereelde, kleiner maaltye.
  • Eet kos wat ryk is aan omega-3-vetsure, soos sardyne, haring, ansjovis, snoek, tuna, forel, skelvis, makriel, salm, kreef, garnale, okkerneute en omega-3-verrykte eiers en melk. Dit help nie net om hartsiektes en beroerte te voorkom nie, maar het binne dertig dae van gereelde gebruik ’n positiewe uitwerking op die gemoed.
  • Eet gereelde maaltye, drink genoeg water en ander vloeistowwe en eet tussenin versnaperings met ’n hoë veselinhoud soos vrugte, groente, en ook laevet-jogurt en -maaskaas om die kringloop te verbreek wat jou skielik lus maak om enigiets te eet.
  • Eet kos met ’n kalmerende uitwerking of kos wat jou slapeloosheid sal verminder, indien nodig.

 VERMY DIÉ KOSSE

 Alkohol.

4. DIE PROBLEEM: Is jy een van 8 miljoen slapelose Suid-Afrikaners?

EET SO GENESEND

Eet kosse ryk aan triptofaan, want dit help om die slaaphormoon melatonien te produseer. Goeie bronne van triptofaan is beesvleis, kaas, vis, melk, eiers en sonneblomen sesamsaad.

VERMY DIÉ KOSSE

  • Vermy spek, suiker, ham en tamaties en enige vetterige en soet kosse voor slaaptyd, asook koffie ná 16:00.
  • Alkohol kan ook moontlik slapeloosheid vererger en/of die slaapsiklus verbreek.

5. DIE PROBLEEM: Ly jy aan Candidiase? (’n algemene swaminfeksie by vroue)

EET SO GENESEND

  • Volg ’n gesonde en gebalanseerde eetplan.
  • Eet baie vars vrugte en groente, veselryke kos, bruinrys, vars vis, hoender, olyfolie en hawermoutpap, en drink baie water.
  • Eet Bulgaarse jogurt of ander jogurt met probiotika.

VERMY DIÉ KOSSE

Sommige navorsers reken dit kan help om suiker, verfynde stysels en kos wat deur ’n gistingsproses gaan, bv. kaas, vir ’n rukkie te vermy.

6. DIE PROBLEEM: Ervaar jy kwaai simptome van PMS?
’n Allemintige 80 persent van vroue ly aan PMS, en 10 persent van hulle het hewige simptome.

EET SO GENESEND

  • Moenie ’n ete oorslaan of langer as drie uur wag voor jy iets eet nie.
  • Eet proteïene met jou middag- en aandete.
  • Drink elke dag tien glase vloeistof waarvan minstens vier water moet wees.
  • Sorg dat jy minstens vyf porsies vrugte en groente per dag eet, veral groen blaargroente.
  • Sorg dat jy voldoende magnesium, yster, sink, chroom, omega-3-vetsure en vitamiene A, B, C en E inneem. Drink ’n aanvuller indien nodig.
  • Eet minstens twee keer vis terwyl jy premenstrueel is.
  • Verhoog jou inname van komplekse koolhidrate (lae-GIkosse).

 VERMY DIÉ KOSSE

  • Vermy alkohol en kafeïen (in koffie, tee, koladrankies) en sjokolade.
  • Vermy groot hoeveelhede verfynde suiker in lekkers, koekies en koek.
  • Neem so min verfynde koolhidrate en vetterige kos moontlik in.
  • Gooi so min sout moontlik oor jou kos.

7. DIE PROBLEEM: Wil jy jou weerstand teen siektes verhoog?

EET SO GENESEND

Verhoog jou immuniteit deur die volgende te eet:

  • kos ryk aan vitamien C (alle sitrusvrugte, papaja, aarbeie, koejawels, kool, broccoli, soetrissies)
  • kos ryk aan betakaroteen (pampoen, patat, botterskorsie, broccoli, spinasie, geelperske)
  • kos ryk aan omega-3-vette (olierige vis en omega- 3-verrykte kos)
  • kos ryk aan sink (vis, skulpvis – veral oesters, vleis, hoender, eiers, kaas, melk, grondboontjiebotter en onverwerkte koring en graankosse)
  • kosse met probiotika soos Lactobacilli (jogurt en ander produkte wat Lactobacilli- en Bifidobacteriakulture bevat)
  • En as jy verkoue kry of siek word, kan kosse wat vitamien C bevat, help om die siekte te beveg.

VERMY DIÉ KOSSE

Vetterige kos en te veel alkohol.

8. DIE PROBLEEM: Ly jy aan stres?

EET SO GENESEND

  • Drink kruietee en ander kalmerende drankies om jou stres te verminder: kamille-, suurlemoen-, laventel- en valeriaanse kruietee met ’n teelepel heuning daarin.
    Maar maak seker dat die meeste van jou koolhidrate ’n lae GI het vir volgehoue energie. Pasta, bruinrys, droëbone en patats is goeie voorbeelde.
  • Hou ’n voorraad wortels, selderystokkies, springmielies sonder botter en ryskoekies met Marmite byderhand.
  • Eet gereelde maaltye en eet tussenin versnaperings met ’n hoë veselinhoud, vrugte, groente, laevetjogurt en maaskaas om die kringloop te verbreek wat jou skielik lus maak om enigiets te eet.
  • Eet kos wat jou kalmeer en ’n aangename mondgevoel of smaak gee, of kos waaraan jy mooi herinneringe heg. Eet vis wat hoog is in omega-3-vetsure.

VERMY DIÉ KOSSE

  • Moenie maaltye oorslaan nie.
  • Vermy hoë GI-koolhidrate soos verfynde stysel, witrys en wit- en bruinbrood, tensy jou energievlak so laag is dat jy onmiddellik ’n bietjie energie nodig het.
  • Gebruik alkohol matig.
  • Vermy rook.

9. DIE PROBLEEM: Kry die menopouse jou onder?

EET SO GENESEND

  • Sluit sojabone in jou dieet in. Dit bevat lae-GI-koolhidrate en proteïene, en help moontlik vir sommiges om warm gloede en ander simptome van menopouse te verlig. Dit help moontlik ook om die risiko vir hartsiektes te verminder.
  • Eet gereelde maaltye en konsentreer op lae-GI-kosse om skielike kosluste, wat gemoedskommelings kan vererger, in bedwang te hou.
  • Drink kalmerende drankies soos kamille-tee en eet triptofaanryke kalmerende kosse soos melk, vleis, vis en kaas indien jou gemoed gou omgekrap en deurmekaar raak. 

VERMY DIÉ KOSSE

 Vermy koffie en alkohol, kerrie en ander sterk gegeurde kosse wat jou warm gloede kan vererger.

10. DIE PROBLEEM: Ly jy aan migraine?

EET SO GENESEND

  • Hou dagboek van jou migraine en die kosse wat jy vooraf geëet het sodat jy patrone kan uitken.
  • Volg ’n gebalanseerde eetplan wat vyf vrugte en groente per dag insluit en eet liefs vyf tot ses kleiner maaltye pleks van twee of drie groot etes per dag.
  • Eet vrugte, groente, patats, hawermoutpap of ander kos wat meer volgehoue energie verskaf.
  • Sorg dat jy saans minstens sewe tot agt uur slaap, en oefen minstens twee uur per week.
  • Drink baie water om jou van ’n migraine te help herstel. Vermy kos wat baie koud is soos roomys.

VERMY DIÉ KOSSE

Sjokolade, kaas en melkprodukte, sitrusvrugte, alkoholiese drankies, vetterige en gebraaide kosse, uie, tee en koffie, vleis – veral vark – en seekos.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE