Share

Wat is 'n cougar?

Die geval van ene Manda Reyneke, wat daarvan aangekla word dat sy probeer het om die jong rugbyspeler Deon Helberg te laat vermoor, was hierdie week groot nuus.

Daar word beweer dat Reyneke (47) 'n seksuele verhouding met die 21-jarige provinsiale rugbyspeler gehad het, en  koerantopskrifte verwys herhaaldelik na haar as 'n "cougar". 

Wat beteken dit?

Volgens about.com is 'n cougar 'n "ouer vrou wat hoofsaaklik tot heelwat jonger mans aangetrokke is en seks met hulle het."

'n Algemeen aanvaarde definisie is: 'n vrou van oor die 40 wat haar visier op baie jong mans rig, en dat tien jaar of meer blykbaar die minimum ouderdomsverskil tussen die twee is.

Dit is algemeen dat cougars op mans wat byna jonk genoeg is om hulle seuns te wees, jag maak. Party vroue stel meer in 'n seksuele verowering as in 'n verhouding belang en geniet moontlik die feit dat mans wat op hul seksuele kruin is, hulle fisies aantreklik vind.

About.com voeg by: " 'n Cougar mag getroud of ongetroud wees en kan selfs hulle dogters se kêrels probeer afvry," 'n element wat in hierdie geval beslis die nuuswêreld laat gons het.

Vlugtige navorsing dui daarop dat die term moontlik die eerste keer op 'n Kanadese webwerf met die naam Cougardate.com verskyn het.

Die verskynsel is egter glad nie nuut nie. 'n Voorbeeld uit die geskiedenis is Koningin Elisabeth I. Sy het bekendgestaan as die Maagdelike Koningin omdat sy nooit getrou het nie, maar het egter blykbaar 'n voorkeur vir jong howelinge gehad. Een van hierdie howelinge was Robert Devereux, die Graaf van Essex. Alhoewel dit nie bewys kan word dat hulle ooit seksuele omgang gehad het nie, was die ouderdomsverskil tussen hulle meer as 30 jaar.

Wat steek daaragter?

Daar is verskeie faktore wat tot die moderne cougar-verskynsel bydra:

  • Die feit dat mense gesondheidsbewus is, lei tot 'n langer lewe, hoër fiksheidsvlakke en 'n mooier liggaam.
  • 'n Hoë egskeidingsyfer lei teen wil en dank tot 'n groter aantal loslopers onder vroue oor die ouderdom van 45.
  • Vir baie vroue is seks beter in hul veertigs. Of die rede nou geduld, aanvaarding van hulle liggame of ondervinding is, seks is iets wat hulle geniet.
  • Groter onafhanklikheid vir vroue, finansieel en sosiaal, het meer selfvertroue en 'n groter keuse meegebring.

In 'n sekere mate het vroue egter met dubbele standaarde te kampe.

'n Middeljarige man kan sonder kritiek met sy loslappie van iets in die twintig rondflankeer, terwyl die situasie as onvanpas en selfs 'n bietjie smerig beskou word wanneer 'n vrou dieselfde probeer doen. Maar bekende en suksesvolle verhoudings soos dié van Halle Berry en Gabriel Aubry (ouderdomsverskil 10 jaar), Demi Moore en Ashton Kucher (15 jaar), en Goldie Hawn en Kurt Russell (7 jaar),  doen baie om die konsep aanvaarbaar te maak.

Wat kry hy daaruit?

Om vinnig op te som:

  • ouer vroue is seksueel meer ervare
  • hulle is oor die algemeen finansieel meer selfstandig
  • hulle stabiliteit en die ondersteuning wat hulle bied, kan vir jonger mans baie aantreklik wees.

Die negatiewe aspekte is maar baie dieselfde as in enige ander verhoudings – as die verhouding te ernstig raak, kan spoke uit die verlede, soos ekse van altwee kante, die verhouding versuur. Wat 'n mens ook nie buite rekening moet laat nie, is die feit dat 'n ouderdomsverskil van 15 jaar gangbaar mag wees wanneer sy 45 en hy 30 is, maar wanneer sy 70 en hy maar net 55 is, lyk dinge dalk ietwat minder rooskleurig.

Wat kry sy daaruit?

Vir die vroue van oor die 45 kan so 'n verhouding 'n nuwe uitkyk op die lewe meebring, asook seksuele bevrediging met al die gesondheidsvoordele wat daarby betrokke is, onafhanklikheid én die enorme hupstoot wat die wete dat ons aantreklik is, vir ons gee.

Dr. Elna Macintosh sê die volgende oor vroue in hul oorgangsjare: "Die persoon met wie jy seks het, speel 'n groot rol, asook hoe jy oor jou liggaam voel." En Marlene Wasserman, 'n seksuoloog wat ook as Dr. Eve bekend is, sê: "Na 40 word 'n vrou eers regtig sterk. Dit is omdat ouer vroue nie meer soveel omgee oor wat ander mense van hulle dink nie. Baie vroue besluit dat nou die tyd is om seks te geniet en dat die tyd ryp is om beheer oor hulle seksualiteit te neem. Hulle is waaghalsiger, avontuurlustiger en vra meer van die lewe."

Moontlike slaggate vir vroue is:

  • Om misbruik te word deur roofsugtige jong mans wat liewer onderhou wil word as om hulle eie geld te verdien.
  • Blootstelling aan seksueel-oordraagbare siektes deur jong hingste wat al te veel sonder beskerming rondgekuier het.
  • Die onsekerheid en twyfel verbonde aan die risiko dat hy een of ander tyd 'n vrou nader aan sy eie ouderdom mag kies.

'n Mens moet egter besef dat die poging-tot-moord saak, wat op die oomblik in die media aandag geniet, nie soseer oor die cougar-verskynsel gaan as oor iets wat op die oog af na 'n diep disfunksionele familie lyk nie. Daar is geen ooreenkoms tussen 'n onafhanklike enkel-vrou wat kies om 'n verhouding met 'n jonger man te hê en 'n smerige situasie waar familieverraad en moordlus hoogty vier nie.

Lees verder:

Hoe om veiliger seks aanloklik te maak

Die ouer volwasse vrou

- (Joanne Hart, Health24, November 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE