Share

Vroue se seksdrif gedeeltelik verbeelding

Ongeveer 'n derde van vroue wat 'n plasebo vir die behandeling van 'n lae seksdrif ontvang het, het berig dat hulle 'n verbetering in hulle sekslewe ondervind het. Navorsers meen dat hierdie bevinding 'n bewys is van die sterk en effens misterieuse liggaam-gees verbinding, wat by seksdrif en begeerte betrokke is.

Nadat middels soos Viagra en Cialis in die laat 1990's 'n ommeswaai in die behandeling van manlike seksuele disfunksie teweeg gebring het, was daar 'n hele aantal kliniese proefnemings op vroue met die hoop dat hierdie middels dieselfde sou doen om vroue se soms teleurstellende belangstelling in seks op te kikker.

Beter orgasmes ook

Hierdie middels was egter 'n mislukking by vroue. Onlangs het navorsers egter teruggegaan en opnuut die ou data oor Cialis bestudeer en bevind dat 35% van die vroue wat die plasebo ontvang het nie net 'n beduidende verbetering in die sielkundige aspekte van seks soos seksdrif ondervind het nie, maar dat baie van hulle volgens die studie ook verbeterings in die sielkundige aspekte van seks soos beter lubrikasie, meer orgasmes of makliker behaalbare orgasmes ondervind het.     

"By party vroue het elke aspek van seks verbeter," meen die samesteller van die studie, Andrea Bradford, 'n postdoktorale akademikus by die Baylor College of Medicine in Houston.

Die studie is in die Journal of Sexual Medicine gepubliseer.

Die studie

In die oorspronklike studie het 50 vroue van 35 tot 55 jaar met vroulike seksuele stimuleringsafwyking vir 12 weke óf Cialis óf 'n plasebo ontvang. Die vroue, waarvan die meeste getroud was, is gevra om ten minste drie keer per maand seks te hê. "Baie van hulle het hierdie minimum vereiste ver oortref," sê Bradford.

Die vroue moes ook 'n dagboek hou van hoe gereeld hulle seks gehad het en hoe bevredigend dit was.

Bradford vermoed dat die verbeterings aan verskeie aspekte van die studie toe te skryf is – die hoop dat die pil sou werk, in samewerking met die gesprekke met professionele mense oor seks, die fokus op seks en die pogings om beter seks te hê.

"Ek vermoed dat die blote feit dat hulle aandag gegee het aan hulle sekslewe vir party van hierdie vroue baie terapeuties was," meen Bradford.

Met die verloop van tyd het die gereeldheid van die vroue se seksuele omgang afgeneem, maar hulle het berig dat hulle sekslewe in die geheel verbeter het. "Dit was kwaliteit teenoor kwantiteit," sê sy.

Wanneer seks nie meer bevredigend is nie, neig vroue om dit te vermy, meen Aline Zolbrod, 'n kliniese sielkundige en seksterapeut. As 'n mens nie eers meer wil probeer nie, is daar min hoop dat seks ooit sal verbeter.

'Gee dit net 'n kans'

"Ek is mal oor hierdie studie," sê Zolbrod. Dit laat dít wat ons wil hê ons pasiënte moet doen, gebeur, dit wil sê om weer te begin om seks te hê. In plaas daarvan om in die bed te klim en mismoedig te dink: 'Dit gaan tog nooit werk nie,' sê hulle, 'Kom ons kyk wat gebeur.' Met daardie houding, en seks bykans een keer per week, is dit nét wat party vroue nodig het."

Die ouderdom tussen 35 en 55 kan moeilik wees vir vroue wat met loopbane, familieverantwoordelikhede en algemene bekommernisse te kampe het. Zollbrod meen dat dit baie min tyd oorlaat vir enige erotiese gedagtes.

Die vroue, selfs dié wat nie aan seksuele disfunksie ly nie, kan moontlik baat vind by hierdie studie, voeg sy by.

"Probeer dit net. Koester die hoop dat goeie dinge gaan gebeur. Moenie seks vermy nie. Doen dit met positiewe verwagtings. En kommunikeer 'n bietjie oor wat jou laat goed voel in jou liggaam," sê Zolbrod. "Miskien moet ons almal aan 'n navorsingstudie deelneem. Dit mag dalk net help."

(Kopiereg © 2010 HealthDay. Alle regte voorbehou.) 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE