Share

Stadige seks

Die vinnigste manier om jou sekslewe weer woema te gee, is om halt te roep. Op die tantriese manier.
Deur JONTI SEARLL

Dis nou maar eenmaal hoe ons lewe lyk: vinnig, haastig, elektronies en onmiddellik. Daar's doelwitte wat nagejaag moet word, teikens wat gehaal moet word – en nou dadelik is nooit gou genoeg nie.

Dis dus geen wonder ons soek voortdurend onmiddellike bevrediging nie. Ons weet nie meer hoe om te wag of die reis na ons einddoel te vertraag nie. As gevolg daarvan loop ons die einste einddoel soms heeltemal mis.

Een van die slagoffers van ons doelgerigte bestaan is seks. Ons "gryp die kans" of "kry dit agter die rug" – met as doelwit 'n orgasme, hopelik darem vir albei partye. Dis dalk nie eens 'n baie emosionele of intieme ervaring nie. Dis meestal nie veel meer as fisieke verligting nie. Maar ten minste kan ons dit afmerk as nog 'n doel wat bereik is.

Hoe besiger en meer gestres jou lewe word, hoe minder tyd het jy vir seks. Die gevolg? Seks word nóg vrotter. Vinnig. En hoe minder bevredigend dit word, hoe laer op jou lysie van doendinge beland dit.

Daar is 'n manier om dié snelle agteruitgang van jou sekslewe stop te sit. Dit maak deel uit van die wêreldwye Stadige Beweging, waar na die laagste rat oorgeskakel word. Net soos Stadige Kos, waar die ou mense se kookmetodes weer ingespan word, het seks sy eie "Stadige Beweging": tantra. Dit kan ons nie kwaad doen om te kyk hoekom dit al duisende jare lank werk nie.

Tantra en liefde

Kitskos is vinnig en gerieflik. Dit maak jou maag vol. Dis al. Maar 'n goeie maaltyd is op soveel vlakke meer bevredigend. Dit smaak lekker, dit voed jou liggaam en stimuleer jou sintuie. Dit verg beplanning en voorbereiding. Waar 'n doelgerigte benadering tot seks soos kitskos is, is tantra 'n ware fynproewerservaring.

Dit het in Indië, Tibet en Nepal ontstaan en is gebaseer op 'n antieke begrip dat erotiese energie verbind is met elke aspek van die lewe. Daar is vele mites en wanbegrippe oor tantra. Mense sê dinge soos "jy raak nie eens aan mekaar nie", " 'n mens kry nie orgasmes nie" of "dis sulke vreemde posisies dat jy 'n paramedikus nodig het om los te kom".

Maar die oorspronklike doel van tantra is om die toppunt van eenheid te bereik – met jouself en jou maat – en 'n gevoel van vervuldheid van die liggaam, verstand en siel te ervaar.

Bowenal gaan tantra oor liefde maak. Dit beteken om iets deur die ervaring te skep. So sal daar dus aan die einde van die ervaring meer liefde wees as toe julle begin het.

So werk dit

Volgens tantriese beginsels is daar 'n paar praktiese vereistes vir die bereiking van 'n hoogtepunt-ervaring. In die eerste plek moet dit beplan word. Dit beteken julle albei sê wat jul behoeftes en begeertes is en julle bespreek vooraf wat julle in 'n veilige omgewing gaan doen.

Mense se eerste reaksie hierop is dat seks veronderstel is om spontaan te wees. Maar in vandag se stresbelaaide wêreld gaan jy dalk lank wag as jy wil hê iets moet spontaan gebeur.

'n Paartjie het my onlangs kom spreek. Hulle is lief vir mekaar en goeie vriende, maar hul sekslewe was tot niet. Een van die eerste dinge wat ek vir hulle gesê het, is dat praat en beplan belangrik is. Dis 'n groot les.

Binne weke het dinge begin verander. Hulle het besef dat nie een van hulle weet wat die ander regtig wil hê nie. Deur net hardop te sê wat hulle begeer, was hulle reeds op die regte pad.

Hulle het gepraat en gepraat. Vir die eerste keer in die tien jaar van hul huwelik het hulle hulself begin oopmaak en mekaar begin verken. So het hulle agtergekom dat hul behoeftes verander, soms daagliks. Hulle het ook besef seksuele bevrediging is diep verbind aan intimiteit. En hoe meer jy jou maat vervul, hoe meer vervuld word jy.

Die idee is dus om voor te berei vir spesiale tyd saam deur te sê wat jy wil hê en wat jy gaan doen – met totale eerlikheid en sonder om veroordelend te wees. So eenvoudig is dit. Dis die resep vir 'n ongelooflike maaltyd.

Stadig oor die klippe

Hoe vinniger jy verstaan dat seks nie gaan oor 'n doel soos 'n orgasme wat jy so vinnig moontlik moet bereik nie, hoe vinniger kan jy die pret begin geniet.

Die aantal tantriese ervarings wat 'n mens kan hê is eindeloos. Hier is net een oefening wat jou kan help om die stadige benadering te verstaan.

Heel eerste skep jy 'n spesiale ruimte vir jul ervaring: kerse, sagte musiek, miskien 'n glas wyn en sjokolade. Beplan dit en doen moeite, want so maak julle gereed vir iets anders as die gewone.

Kyk 'n paar oomblikke lank in jou maat se oë. Dis waar intimiteit begin. Wanneer 'n mens in mekaar se oë kyk, sien jy die ander een se weerloosheid, vrees en opgewondenheid. Jy sien ook hul liefde. Haal 'n paar keer diep asem en laat ontspan jou lyf.

Gaan sit in die tipiese tantra-posisie, yab-yum: Die man sit kruisbeen en sy maat sit op sy skoot met haar bene om hom.

Ná penetrasie maak sy stadige bewegings, net genoeg om gestimuleer te voel. Maar onthou, dit gaan nie nou oor 'n orgasme nie. Die doel is om bewus te wees van wat jy ervaar. Ná 'n rukkie (dit kan 'n paar minute of langer wees) hou julle op beweeg. Haal ’n paar keer diep asem. Haal in pas met jou maat asem. Voel die heerlike sensasie wat in jou lyf opgebou het.

Begin dan weer stadig beweeg. Probeer om selfs die kleinste sensasie te voel. Kyk in mekaar se oë. Sien die liefde raak.

Herhaal die beweging en hou dan drie of vier keer op, selfs meer kere as julle wil. Nou het julle 'n keuse. Die eerste is om julle oor te gee aan 'n orgasme. Dit sal tien teen een baie intens en hewig wees omdat julle so baie energie opgebou het. Of julle kan 'n paar minute lank diep asemhaal en dan teen mekaar lê vir solank as wat julle wil. Daar is altyd nog tyd of 'n ander keer om die "doel" te behaal.

Hoe ook al, julle sal oorspoel wees van liefde en wonderlike sensasies. Daarby het julle die seksuele ervaring geskei van haastige doelwitbereiking. Julle sal verbaas wees oor die intimiteit, die verbondenheid en hoeveel dieper jul genot is.

Welkom in die stadige wêreld. Dis ’n baie spesiale plek.

Jonti Searll is 'n Johannesburgse sensualis wat les gee in sensuele en erotiese massering. Hy het ook 'n tantriese program ontwikkel met 'n stel oefeninge en ervarings vir paartjies. Stuur 'n e-pos aan Jonti by jontisearll@mweb.co.za as jy nog inligting wil hê.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.) - Somer 2009/2010

What is Tantra and Tantric Sex?

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE