Share

Sekswenke vir suwwe ouers

Partykeer moet jy opnuut daaraan herinner word dat jy meer as net 'n sokkerma of 'n raakvatpa is. Jy is ook 'n seksuele wese in 'n verhouding vol passie wat net wag om vlam te vat. Hou só die vure van hartstog aan die brand...

Deur JONTI SEARLL

Wanneer jy die dag 'n ouer word, beteken dit nie jy moet jou sekslewe saam met die baba se badwater uitgooi nie. Dis een van die belangrikste boodskappe wat ek gereeld vir paartjies gee wat vir berading kom. Hoekom? Omdat dit 'n kwessie is wat aanmekaar opduik. "Ek voel net nie meer sexy nie – veral nie wanneer ek met babakos besmeer is nie." "Ek mis regtig daardie bevrydende net-ons-gevoel." "Ons het eenvoudig net nie meer tyd vir seks nie – en wanneer daar wel tyd is, wil ons net slaap!"

Vir elk van hierdie klagtes het ek dieselfde antwoord: Wanneer jy ’n ouer word, hoef jy nie op te hou om 'n minnaar te wees nie. Dis so eenvoudig. En so belangrik.

Want die seksuele droogte wat mense dikwels na ouerskap beleef, kan jou verhouding baie skade berokken. Dit kan ook die intieme band verwoes waaraan julle so hard gewerk het. En wanneer jou behoeftes nie by die huis vervul word nie, kan een van twee dinge gebeur: Of jy soek dit elders, of jy skakel eenvoudig seksueel af. En nie een van die twee sal die situasie help of jul verhouding verbeter nie.

Daar is wel ander moontlikhede vir ouers wat hul sukkelende sekslewe 'n nuwe lewe wil gee. Lees gerus, jy sal nie spyt wees nie . . .

1. Skep speeltyd vir ouers

'n Bevredigende verhouding verg moeite, tyd en energie – dis soos 'n stokperdjie of 'n suksesvolle beroep. Maar wanneer dit by seksuele bevrediging kom, moet jy nie harder werk nie, jy moet harder speel. Die enkele grootste probleem met seks in langtermynverhoudings is verveling. En die beste oplossing hiervoor is om te speel as julle bed toe gaan.

Gee jouself vrye teuels – kyk maar hoe speel kinders. Eksperimenteer en ontdek nuwe dinge. En maak seker dat jy dit geniet. Seks moenie harde werk wees nie. Dit moet prettig en soms stout wees. En seks moet nooit net nog 'n taak wees wat jy in jou besige program moet inpas nie. Beskou dit eerder as private tyd vir jou en jou maat waarin julle kan ontspan en mekaar kan geniet.

Dit is die eerste stap. Deur bloot anders oor seks te begin dink sal jy jou minder daaroor kwel en meer tyd daarvoor begin maak.

2. Maak 'n afspraak

Die grootste klagte van ouers wat uitgehonger is vir seks is dat daar net nie genoeg tyd is daarvoor nie. Tussen al die werk, kinders, ryklubs, inkopies, kos- en skoonmaakwerk en skooltake deur is jul albei doodmoeg teen die tyd dat julle bed toe gaan. Julle sal miskien nog kans sien vir ’n vinnige liefkosing, maar dis omtrent al.

Maar goeie seks – eintlik enige seks – gebeur nie sommer vanself nie. Jy moet tyd maak daarvoor. Jou beste plan is om een aand per week met mekaar 'n afspraak te maak, soos Barack en Michelle Obama doen. Dis die aand wanneer jy sorg dat julle geen verpligtinge het nie en dat daar iemand is om na die kinders te kyk of dat hulle vroeg-vroeg gaan slaap.

En dan spéél jy. Verlei mekaar. Komaan – julle het dit al voorheen gedoen. En al was dit jare gelede, is dit nou jul kans om weer die opwinding en romanse van vroeër aan te wakker. Speel met verskillende rolle en kostuums. Vervul al jul geheime fantasieë en begeertes. Oorweeg erotiese lees- en kykstof, want dit kan baie sexy wees. Praat oor die dinge wat jul passie 'n nuwe polsslag sal gee. En julle kan so wild, vreemd of waaghalsig wees as wat julle wil; onthou net die wagwoorde: speel en pret.

3. Fokus op die proses

Op lang termyn is sensualiteit net so belangrik – indien nie belangriker nie – as seks. Verander dus jou denkpatroon en fokus op die reis en nie op die eindbestemming nie. Seks gaan nie net oor ’n orgasme of penetrasie nie. Bemeester die kuns van sensuele massering. Ontdek mekaar se liggaam en vind nuwe maniere om jou maat te stimuleer. Kyk toe terwyl jou maat hom- of haarself bevredig. Of jy kan altyd maak asof jy nie weet jou maat is daar nie terwyl jy in ’n borrelbad lê en jouself stadig en sensueel bevredig terwyl die kerslig en stoom oor jou lyf speel . . . Of jy jou hande of jou mond gebruik, nuwe posisies of seksspeelgoed inspan, onthou dat seks grootliks oor tegniek gaan. Pak dit tydsaam aan tot jy al die sekskunsies op jou vingerpunte ken. Daar is so baie inligting beskikbaar – van boeke tot die internet – of besoek 'n sensualis.

4. Maak 'n plan

Aanvanklik kla baie paartjies dat beplanning die spontaneïteit uit seks haal. Dit is dalk so. Maar aan die ander kant, wat bring dit jou in die sak om te wag vir 'n spontane oomblik? Net mooi niks. Moet dus nie net lang, vurige afsprake beplan nie, skep ook geleenthede vir kits-intimiteit. Glo my, jy sal opgewonde begin raak by die blote gedagte aan wat aan die kom is.

Onthou dat seks nie net ’n kat is wat in die donker geknyp moet word nie. Het julle dalk albei ’n tydjie oop elfuur in die oggend? Ontmoet mekaar dan by die huis, of selfs in ’n hotel vir blitsseks – en loop die res van die dag met 'n glimlag op jou gesig rond. Jy sal stout en vry voel – en heeltemal vergeet dat jy 'n verantwoordelike ouer is. Die eerste keer sal dit dalk vreemd wees, maar hoe meer jy dit doen, hoe meer sal jy dit wil doen.

5. Skep afwagting

Om die lyflike vure aan die brand te hou, moet jy sexy voel. Vir die meeste mans is dit maklik – 'n bietjie stimulasie is dikwels al wat hulle nodig het om aan die gang te kom. Maar vroue is anders. Hulle kan dikwels nie die passiekrane binne sekondes oopdraai nie – wel, soms kan dit gebeur, maar gewoonlik het 'n vrou meer tyd nodig.

Dis belangrik dat mans hierop ag slaan. Om sexy te voel het dikwels niks te doen met hoe sy lyk nie, maar het alles te make met hoe sy oor haarself en oor jou voel. Onthou, 'n vrou het nodig om te weet dat jy haar liefhet, dat jy haar begeer – uit die diepte van jou hart. Dan eers is haar lyf joune.

Begin dus met die liefdesproses lank voordat jy fisiek raak. As julle 'n seks-middagsessie beplan, vertel haar al in die oggend hoe baie jy daarna uitsien. Stuur dan vir haar 'n stoute SMS of e-pos later die dag: Vertel haar dat jy aan haar dink, vertel haar wat jy beplan om later die middag als met haar aan te vang en hoe baie jy daarna uitsien.

Wat jou as vrou betref: Jy kan daardie oggend gerus 'n bietjie meer tyd aan jouself bestee. Ontspan in 'n bad of stort, bederf jouself met sensuele lyfroom en glip sexy onderklere aan. Gebruik jou tyd om soos 'n vrou te voel – nie net 'n ma of eggenoot nie, maar 'n seksuele vrou wat op pad is om haar minnaar te ontmoet.

6. Vat verveling vas

Dit kos verbeelding en toewyding om te voorkom dat jy verveeld raak in die bed, selfs al het julle gereeld seks.

Die rede is dat indien jy elke keer dieselfde ding doen (en veral as jy dit meer gereeld begin doen) dit beslis sy glans sal verloor. Gelukkig is daar letterlik eindelose moontlikhede. Maar dan moet jy aanhou om al hierdie moontlikhede te ondersoek en 'n stomende sekslewe sonder einde jou mikpunt maak.

As jy verstaan dat 'n opwindende, vervullende en gereelde sekslewe heerlike voordele inhou, kan jy dit makliker deel van jou lewe maak. Eerstens sal jou verhouding blom. Tweedens sal jou liggaam en verstand ook die voordele daarvan pluk. Jy sal beter slaap. Meer energie hê. Meer lag. Jy sal meer ontspanne wees. En jy sal meer liefde kry en gee. Kortom – jy sal 'n beter minnaar wees. Maar jy sal ook 'n baie beter ouer wees.

Jonti Searll is 'n sensualis van Johannesburg wat onderrig gee in sensuele en erotiese massering.Vir meer inligting oor lesse en DVD's, stuur 'n e-pos na jontisearll@mweb.co.za.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE