Share

Seks in die Digitale Era

Het dit in ons moderne wêreld van virtuele sosiale netwerke, selfoon-boodskappe en aanlyn "geselskamers", nie vinniger en makliker geword om 'n gepaste lewensmaat te vind, 'n verhouding te begin en om, wel... 'n los gelukkie op te tel nie? Dit wil voorkom of die antwoord op hierdie vraag 'n definitiewe "ja" is.

Daar is seker omtrent 'n halfmiljoen aanlyn afspraak-webwerwe in die kuberruimte – en party het beslis 'n beter reputasie as ander – wat spesialiseer in alle vorms en groottes, smake, lewenstyle en voorliefdes, godsdienstige agtergronde, seksuele neigings en politieke oortuigings. Om die liefde van jou lewe of 'n gewillige metgesel vir 'n oornag gelukkie te vind, was nog nooit so maklik nie.

En dit is nie net die afspraak-webwerwe wat in hierdie doel slaag nie. Sosiale netwerk-webwerwe soos Facebook en Twitter, sowel as SMS-boodskappe van selfone het die nuwe, kreatiewe instrumente van keuse vir moderne kuber-verslaafdes met amoreuse drange geword. 'n Onlangse peiling van 1,200 mans en vroue deur die internasionale tydskrifte Shape en Men's Fitness het ’n aantal interessante statistieke onthul:

  • Vier uit vyf vroue en drie uit vyf mans glo dat teks-boodskappe, Facebook en ander virtuele sosiale netwerk-hulpmiddels vinniger tot seks lei.
  • 65% van die deelnemers het aangedui dat hulle reeds deur middel van 'n teks-boodskap uitgevra is en 49% met behulp van 'n Facebook-boodskap.
  • 70% van vroue en 63% van mans gebruik Google om potensiële maats uit te sif.  

Aanvanklike toenadering en kennismaking word dikwels met behulp van sosiale netwerk-platforms soos Facebook uitgevoer, maar die meeste verhoudings word oor die algemeen deur middel van selfoon-teksboodskappe verder gevoer. Manlike deelnemers dui aan dat hulle 39% meer gereeld teksboodskappe stuur as om telefoonoproepe te maak, terwyl die syfer by vroue 150% is.

Die oorweldigende meerderheid vroue, meer as 80%, sê dat sosiale netwerke of selfoon-boodskappe hulle nader aan mans laat voel as tradisionele aangesig-tot-aangesig afsprake. Volgens Amerikaanse kliniese sielkundige, Dr. Belisa Vranich, skep virtuele sosiale netwerke "antisipasie" en maak kommunikasie "meer opwindend". Sy verduidelik dat "mense oor die algemeen meer seksueel is wanneer hulle teks as in die werklike lewe".

Vir heteroseksuele mans is die goeie ding dat daar op sosiale netwerk-webwerwe ’n "ooraanbod" van vroue is – as so iets ooit moontlik kan wees. 'n Blits-peiling van 19 gewilde webwerwe, insluitende LinkedIn, Facebook, Twitter en MySpace  het getoon dat daar 84% meer vroulike as manlike gebruikers is. En dan is daar die ekstra bonus van veilige seks, ten minste tot daar 'n ontmoeting "in die vlees" plaasvind. Teksboodskappe en aanlyn-intimiteit versprei geen seksueel-oordraagbare siektes nie, alhoewel daar wél 'n potensiële gesondheidsrisiko bestaan – van toetsbord-beserings en duim-verstuitings tot rugpyn en ander ergonomiese aandoenings.

Moderne tegnologiese vooruitgang het dit selfs makliker gemaak om 'n verhouding te beëindig. Daar is geen meer morsige, uitgerekte "snot en trane" sages wanneer die verhouding skipbreuk gely het nie. Net 'n skoon breuk. Deur middel van 'n SMS. Ongeveer 43% van die vroue en 27% van die mans wat aan die Shape en Men's Fitness peiling deelgeneem het, sê dat hulle al sonder seremonie deur ’n teksboodskap afgesê is.

(Andrew Luyt, Health24, April 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE