Share

Raad vir louwarm liefdeslus

Daar is tye tussen die lakens wanneer jy jou regmaak vir vonke, vuurwerke en rooiwarm liefdeslus. Moenie so seker wees nie. Pleks van die kragtige ontploffings wat jy verwag, kan alles net sagkens in duie stort.

Dit gebeur veral op daardie eerste kere. Die eerste keer met ’n nuwe maat. Die eerste keer na ’n lang tyd van afwagting of onthouding. Die eerste keer se  opmaak ná ’n rusie. Die eerste stout naweek weg van die kinders in ’n lang ruk.

Alles is daar. Die voorspelbare ligte fladdering vooraf. Dalk selfs musiek, kerse en vonkelwyn. Maar dit beteken nog nie Eros gaan sy opwagting maak en bolmakiesie slaan oor die landskap van die liefde nie. Pleks daarvan dat hy julle na die toppunt van ekstase meevoer, dompel die klein karnallie julle in die diepste vertwyfeling.

Dis sulke tye dat die gewoel tussen die lakens te gou stil raak en julle jul skouers stug van mekaar wegdraai. Gelukkig kan jy in die donker maklik maak asof jy slaap terwyl jou gemoed vervaard antwoorde soek: Is ek nie meet begeerlik nie? Het die vonk finaal uit ons verhouding verdwyn? Gaan dinge nou vir altyd so flou wees? Is daar . . . iemand anders?

Onrealistiese verwagtinge, sê twee seks terapeute met wie HG-Pols gepraat het, is nie lekker bedmaats nie. Veral nie as dit kom by seks vir 'n spesiale geleentheid nie.

Die hoogste verwagtinge
Maak nie saak of dit jou huweliksnag is, of 'n romantiese naweek wat weer die koue vuur moet stook nie. As jy te veel verwag, sal jy jou waarskynlik met te min moet troos.

Dit beteken darem nou ook nie jy mag nie verwagtings hê nie, sê Jonti Searll, wat hom Suid-Afrika se voorste leermeester oor seksualiteit en sensualiteit noem. Trouens, se hy, jy moet die heel hoogste verwagtinge van jou sekslewe hê. Maar om daardie hoogtes te bereik, kos begrip en strategie – nie net 'n datum in jou dagboek nie.

Die bekende seksterapeut dr. Elna Mclntosh stem saam. Sy is op vyftig pas getroud en vertel dat sy en haar man op hul huweliksnag eenvoudig gaan inkruip het. Hul troudag het immers reeds om vieruur daardie oggend begin en daarna net al doller geraak. “Dit was soos om die Comrades te hardloop,” sê Elna. En wie is in staat (of lus) om vuurpyle aan te steek aan die einde van ’n maraton?

Gelukkig vir die bruidegom was sy bruid ’n kundige oor bedsake wat weet daar is tye wanneer hoë verwagtinge eenvoudig onvanpas is.

Seks is nie net ’n kraantjie wat jy oopdraai nie. En wanneer jy voel nou móét dit die verbluffendste vertoning ooit wees, sal onsekerheid en onkunde juis spontane oorgawe aan bande lê.

Geheime kunsies
Plesierige, orgasmiese seks is iets wat jy moet aanleer en oefen, sê die seksghoeroes. Dit kom nie sommer vanself nie. En wees nou maar eerlik: Ouers en onderwysers het dit nie ten doel om kundige minnaars te kweek nie. Hulle wil eerder keer dat daar hoegenaamd met seks geëksperimenteer word!

G’n wonder nie dat ’n bruid wat tevore skaars die moed gehad  het vir oop gesprekke oor die kuns van verleiding dit op haar huweliksnag  onmoontlik vind om haar inhibisies soos ’n oorbodige nagrokkie eenkant te gooi. En dat sy glad nie oor al die geheime kunsies beskik wat die poorte na plesier vir haar en haar geliefde gaan ontsluit nie.  

Die huweliksnag is egter nie die enigste tyd dat belofte, begeerte en bevrediging mekaar ontglip nie.

Daar is ook in die huwelik tye dat ’n blye weersiens nie altyd tot ander soorte blydskap lei nie. Elna vertel dat sy en haar man mekaar net elke twee weke sien. Hy woon op Kuruman, sy in Johannesburg. Wanneer hy na ure op die pad by haar by die huis instap, is dit vir hulle eerder tyd om te gesels, lekker te eet en  vroeg te gaan slaap. Môreoggend is ’n ander storie . . .

'n Glimlag en parfuum
Spesiale-geleentheide-seks kan ook nie in een stoute naweek die krake in ’n verhouding toepleister nie. Maande of selfs jare se onmin en wrewel kan nie sommer onder die matras weggesteek word net omdat julle tussen ’n hotel se lakens ingeskuif het en jy vanaand net ’n glimlag en parfuum dra nie.

As daar fout is met die verhouding, sê Elna, moet julle die geld spaar, tuisbly, die TV afskakel en 'n slag regtig met mekaar praat.

Vir volmaakte seks moet jou beplanning ook volmaak wees. Dit gaan nie net oor waar en wanneer nie, maar veral hóé – en dis glad nie so onromanties soos dit klink nie.

Spontane, onbeplande seks kan heerlik wees, maar tydens beplanning kry verwagting se verleideliker suster – afwagting – ook ’n beurt. Hoe fyner die beplanning, hoe groter en lekkerder die afwagting. Seks sonder afwagting is sommer net seks, skryf die seksterapeut dr. Belisa Vranich op  www.huffingtonpost.com. En wat jy in gedagte het, is baie meer as dit.

Verwagting is ’n eensame en koue katel – en waarskynlik die rede hoekom jy agterna so alleen voel as dinge platval. Jy’t jou geheime begeertes alles vir jouself gehou en verwag jou maat moes raai wat dit is. Op die ou end is julle albei bekaf en bedroë.

Leer die passies
Beplanning en afwagting, aan die ander kant, is gedeelde plesier. Seks is nes dans: lekkerder as twee dit saam doen. En as julle teen dieselfde tempo die fynste draaie wil vat en die tango volmaak tot volvoering wil bring, moet julle saam die passies aanleer.

As jy weet daar kom 'n spesiale aand, dag of naweek, kry jou kop betyds reg. Dis nou die tyd om dit wat jy in gedagte het, met jou maat te deel – en nie te verwag hy moet jou soos 'n braille-dokument in die donker lees nie.

Dit verg moed, sê Jonti Searll oor die soort kommunikasie wat vir goeie seks noodsaaklik is. Jy moet bereid wees om ’n baie intieme gesprek met jou maat te voer, en waarskynlik goed te sê wat jou ma se ore sal laat tuit. (Moet verkieslik glad nie aan jou ma dink nie.) Haal diep asem en vertrou jou maat. Skakel die lig af as dit sal help. Stuur 'n SMS in die donker as dit moet. Of berei mekaar vroeër al voor met SMS'e wat of subtiel stout of liederlik voorbarig is.

As julle mekaar met jul diepste gevoelens vertrou, kan juile saam reis na die pieke van Tantriese seks (die teenoorgestelde van die oë-toeknyp-soort) waar die plesier juis groter is omdat dit bewustelik en doelbewus gedeel word.

Wedersydse vertroue is noodsaaklik vir ’n goeie sekslewe. Mans onderskat ongelukkig dikwels hoe belangrik emosionele veiligheid vir vroue is, sê Jonty. Tyd, praat en aanraking is ewe belangrik.

Wees maar geduldig
Seks is ongelukkig vir baie mense ’n vreemde taal, en vir baie vroue is die vagina ’n vreemde land en die penis ’n soort koorspen waarmee liefde gemeet word, sê Elna.

Sy moedig haar pasiënte aan om die vreemde land te verken, en dikwels saam te reis oor die res van die 2 m² vel wat die liggaam bedek. En wees maar geduldig met die koorspen. Al sê onlangse opnames van kondoomvervaardigers wát, sukkel meer as die helfte van mans oor vyftig met ereksieprobleme.

Volgens Elna is daar net twee soorte oorsake daarvoor: Dis of 'n mediese probleem (dus dokter toe met julle) óf hy het ’n kwetsende vrou wat nom so gereeld verkleineer dat die koorspen haar dit nie kan vergewe nie – selfs al steek sy by geleentheid ’n kers op en trek eina-pajamas aan.

'n Romantiese naweek wat eintlik maar net ’n skietstilstand is, gaan dan beslis nie aan verwagtinge voldoen nie. Vee dus onder die mat van jul verhouding voor julle die kinders by ouma aflaai en plek in die gastehuis bespreek, is albei terapeute se raad.

As jy eers die moed gehad en die moeite gedoen net wat spesiale-geleentheid-seks laat slaag, kanselleer sommer die gastehuis en oortref jou verwagtinge tuis. Want plesier wat fyn beplan is deur twee dapper mense wat mekaar vertrou, is sommer op sigself 'n spesiale geleentheid.

Mediese passieblussers
As dinge tydens daardie spesiale oomblikke in die katel skeefloop, kan dit ’n emosionele oorsaak hê, maar dit kan ook ’n baie algemene mediese probleem wees wat reggestel kan word.

Emosionele en gemoedsdinge soos stres, swak selfbeeld en depressie is gewoontemisdadigers wat eerste verdink moet word.

So ook siektes wat jou moeg kan laat voel. Bekende drangblussers is chroniese siektes soos diabetes, hoë bloeddruk, hartsiektes, MIV en kanker. Dan praat ons nie eens van die slag dat jy griep of verkoue het en die koors, keelseer, gehoes en toe sinusse beslis nie die ideale omgewing vir seks skep nie.

Vrese om 'n siekte aan te steek of dinge wat 'n mens afskrik, soos seksueel oordraagbare siektes en vaginale infeksies, is ander oorsake van koue liefde.

Die drie dinge waarmee mans sukkel maar waaroor hulle nie graag praat nie, is premature ejakulasie (’n probleem onder bale mans), erektiele disfunksie (by die helfte van alle mans ouer as vyftig) en prostaatontsteking by ouer mans.

Vetsug kan jou aan drie fronte kelder. Dit kan seks fisiek ongemaklik maak, jou libido verlaag en jou selfbeeld knou.

Swangerskap behels meer as net die dra van 'n baba in die baarmoeder. Hormoonskommelings en fisieke  ongemak maak sommige swanger vroue ongeneë vir seks en selfs vir toenadering.

As seks pynlik vir die vrou is, kan jy verwag dat sy sal wegskram, selfs al is die oomblik en omgewing hoe romanties. Vaginismus, ’n toestand waar die nodige spiere so toeknyp dat seks onmoontlik is en elke probeerslag pynlik, kom by een uit eike sestien vroue voor.

Gaan dokter toe as: Jy enige mediese simptome soos pyn ervaar, of as ’n lae libido nie met romanse en aandag ná ’n paar maande wil regkom nie. Maar wees realisties. As jy ’n traumatiese tyd deurmaak, is dit normaal om ’n lae libido te hê. Maak ’n plan om probleme in jou verhoudiing uit te stryk, sê die seksterapeut Elna McIntosh.

Die goue riglyn is om dokter toe te gaan wanneer jy bekommerd is. Dit help selde om die internet te raadpleeg of selfhelpboeke te begin lees.

Besoek www.health24.com vir nog inligting.

 

Deur Elizabeth Brandt

 
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE