Share

Jou sperm is oeroud!

Dit word regtig nie as ’n belediging bedoel nie, en voor jy uitrafel en uit pure ontsteltenis op en af begin spring, laat ek jou gerusstel dat daar (waarskynlik) niks met jou spermselle verkeerd is nie.  

As jy ’n gesonde man is, vervaardig jou testikels hierdie klein "goggatjies" teen ’n asemrowende spoed: 40 miljoen tot 1.2 biljoen spermselle per ejakulasie! Waarna ek verwys wanneer ek sê jou (en my) sperm is oeroud, is die fassinerende feit dat wetenskaplikes onlangs vasgestel het dat sperm, as ’n biologiese entiteit, 600 miljoen jaar oud is.

Navorsers by Chicago se Northwestern University in die VSA het vasgestel dat ’n geen wat Boule genoem word, en wat vir spermproduksie verantwoordelik is, in ’n wye reeks diere teenwoordig is - insluitende die mens én die primitiefste en mees prehistoriese diere.

Volgens Eugene Xu, een van die wetenskaplikes wat by die studie betrokke is, is "hierdie die eerste duidelike bewyse wat daarop dui dat ons vermoë om sperm te produseer baie oud is, en waarskynlik sy oorsprong tydens die begin van die dierlike evolusie, ongeveer 600 miljoen jaar gelede, gehad het". Xu en sy medenavorsers het die Boule-geen van ’n vrugtevlieg, ’n seekastaiing, ’n hoenderhaan, ’n reenboogforel, ’n muis en ’n mens vergelyk, en hulle "bevindings dui aan dat alle diere-spermselproduksie waarskynlik van een algemene prototipe afkomstig is". 

Die Boule-geen is die enigste geen wie se bestaan uitsluitlik op spermproduksie gefokus is. Alhoewel daar ander gene by die proses betrokke is, het almal van hulle ander addisionele funksies, soos hormoonregulasie.

Vorige studies het getoon dat baie van die proteïne wat in sperm teenwoordig is (die transportmedium vir spermselle) en wat verskeie rolle in voorplanting speel, baie vinnig evolueer, maar dat die Boule-geen vir miljoene jare reeds bykans onveranderd gebly het, waarskynlik vanweë sy lewensbelangrike biologiese funksie.   

Hierdie nuwe navorsingsbevindings deur Xu en sy kollegas is nie net van akademiese waarde nie. Die bevindings het verskeie potensiële aanwendings in die alledaagse lewe:

  • dit mag wetenskaplikes help om ’n beter begrip van manlike onvrugbaarheid te ontwikkel en hoe om dit te behandel;  
  • dit mag nuwe moontlikhede in die soeke na ’n effektiewe manlike voorbehoedmiddel skep. (Toe die Boule-geen in ’n muis onaktief gemaak is, het die dier geen spermselle geproduseer nie, maar was in alle ander opsigte gesond.); en  
  • dit mag nuwe moontlikhede vir die ontwikkeling van plaagdoders en medisyne teen parasiete en kiemdraers ontsluit deur hulle reproduksie te help beheer. 

(Andrew Luyt, Health24, Oktober 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE