Share

Die gesonde sperm dieet

Die welsyn van jou sperm is miskien nie iets waaraan jy tot dusver baie aandag gegee het nie, maar as jy beplan om binne die afsienbare toekoms pa te word, is dit miskien wys om te doen wat jy kan om te verseker dat jy ’n goeie voorraad gesonde genetiese ammunisie het.

Daar is ’n aantal behandelingsopsies beskikbaar om die gesondheid van jou sperm en jou algemene vrugbaarheid te verbeter, insluitende mediese vrugbaarheidsmiddels, chirurgie en geassisteerde voortplantingstegnologie. Maar voor jy dít probeer, is daar baie eenvoudiger dinge wat jy kan doen om jou voortplantingselle die beste kans te gee om hulle werk te doen, soos om oor te skakel na kossoorte wat jou sperm ’n hupstoot gee, en dinge te vermy wat sleg is vir spermgesondheid.

Kos vir gesonde sperm

Vir ’n goeie voorraad gelukkige en lewenskragtige spermselle, sluit die volgende by ’n gebalanseerde dieet in:

Vitamiene

’n Vitamien A  tekort word gekoppel aan lui sperm en verlaagde vrugbaarheid. Eet baie rooi soetrissies, hawermout, wortels, gedroogde appelkose, patats, spinasie en broccoli vir ’n vitamien A-hupstoot.

Vitamnien C  kom ruimskoots in aarbeie, aspersies en vrugte voor, en geel groentesoorte het ’n positiewe uitwerking op die lewensvatbaarheid en beweeglikheid van spermselle.

Vitamiene C, E en B12 is ook uitstekende antioksidante wat kan help om spermproduksie en -beweeglikheid aan te wakker deur skadelike vrye radikale te beveg. 

’n Goeie multivitamien-aanvulling kan help as jy voel jy kry nie genoeg sperm-ondersteunende vitamiene in jou gewone dieet nie.

Minerale

Onvoldoende sink kan ’n verlaagde spermtelling veroorsaak. Natuurlike bronne van hierdie mineraal sluit in eiers, kalkoen, oesters, seekos, pampoensade, beesvleis, hawermout, lamsvleis, joghurt, neute en gort.

Selenium is waarskynlik ook goed vir spermbeweeglikheid en -gesondheid. Jy kry dit in paraneute (Brazil nuts), rooivleis, maaskaas, pluimvee en eiers. 

Vetsure

Studies het getoon dat vrugbare mans se sperm neig om groter hoeveelhede poli-onversadigde vette, spesifiek Omega-3 en Omega-6 vetsure, as dié van onvrugbare mans te bevat. Dit kom voor in okkerneute en vissoorte soos ansjovis, sardyne en salm.

Foliensuur

Party mans wat dieetaanvullings met foliensuur saam met sink neem, het ’n toename in hul spermtelling van tot 70% ondervind, en navorsing dui aan dat mans met lae foliensuurvlakke neig om meer spermselle met chromosoom (genetiese) abnormaliteite te vervaardig. Hou jou vlakke hoog deur groen blaargroente, volgraankos, avokadopere, boontjies en vrugte te eet. 

Likopeen

Daar is bevind dat likopeen, ’n helderrooi karotenoïed wat in tamaties, tamatiesous, wortels, waatlemoene en papaja voorkom, spermtellings verhoog.

Water

Deur gedurende die dag genoeg water te drink, vermy jy ontwatering, een van die hooffaktore wat aan ’n lae semen-volume gekoppel word.

Voedsel wat jy moet vermy

Vrugte en groente met insekdoders

Chemiese insekdoders word vrylik op baie voedselplante gespuit en reste daarvan word dikwels op die groente en vrugte wat jy in die winkel koop, aangetref. Dit is bekend dat hierdie stowwe sleg is vir spermgesondheid en -vrugbaarheid. Was altyd jou vars kos deeglik af voordat jy dit eet, of, nog beter, koop organies. 

Blikkieskos

Bisphenol-A (BPA) is ’n chemiese stof wat in party soorte plastiek gebruik word. Dit versteur menslike hormone en word aan swakker spermgesondheid gekoppel, en baie navorsers glo dat ons hoofsaaklik deur middel van voedselverpakking daaraan blootgestel word. Die binnekant van baie voedsel- en koeldrankblikkies word met ’n laag hars wat BPA bevat, bedek en daar is baie hoë vlakke daarvan in geblikte kosse met ’n hoë suurinhoud, soos sekere vrugte en tamatiesous. Koop liewer vars kos en kos in glashouers.

Alkohol

Oormatige alkoholgebruik kan spermselle beskadig. Beperk dus jou alkoholinname as jy jou vrugbaarheid wil verhoog.

Versadigde vette

Navorsing dui aan dat ’n dieet met baie versadigde en mono-onversadigde vette, wat byvoorbeeld in spek, verwerkte vleissoorte, worsies, ham en botter gevind word, tot swak spermgesondheid kan lei.

Spermselle se Moses

Daar is ’n hele aantal ander alledaagse dinge en gewoontes wat ’n bedreiging vir jou spermselle inhou:

Dwelms

Daar is ’n groot aantal dwelms (medisinale- én rekreatiewe middels) wat bekend is daarvoor dat hulle sleg is vir spermselle. Dit sluit in opiate, steroïdes en sitotoksiese middels wat in kankerbehandeling gebruik word.

Rook

Daar is bewyse dat rokers se vrugbaarheid laer is as dié van nie-rokers.

Plastiek

Seksspeelgoed wat van viniel gemaak is, is potensiële bronne van ftalate, chemikalieë wat plastiek sagter maak, en onder andere aan onvrugbaarheid gekoppel word. Viniel stortgordyne en gegeurde skoonmaakmiddels, sjampoes en sepe bevat ook ftalate. 

Gereelde warm baddens

Daar is bewyse dat warm baddens spermtelling verlaag. Stort liewer.

Klerasie

Stywe onderbroeke, veral van sintetiese materiaal, word aan onvrugbaarheid gekoppel. Dra liewer los “bokseronderbroeke” van katoen.

(Andrew Luyt, Health24, Maart 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE