Share

Yebo, Pappa!

So Ma is Afrikaans en Pa is Engels. Of Pa is Engels en Ma is Zoeloe of Duits. En daarom is Ouma en Oupa ook Zoeloe of Duits. En hulle wil met hul kleinkind kan gesels. Hoe besluit 'n mens in watter taal jou kind moet grootword? En wat is die praktiese benadering tot die aanleer van 'n tweede taal? Hier is raad.
Deur KIM VAN REIZIG

Sy is in 'n Afrikaanssprekende huis gebore en het die eerste paar jaar van haar lewe niks anders as haar moedertaal gepraat nie. Maar toe Paulette van Heerden vier was, het haar ma besluit een dag per week praat hulle Engels. Sy het geglo dit sou groter wêrelde vir hulle oopmaak.

Teen die tyd dat Paulette skool toe is, kon sy haar heel goed in Engels uitdruk en toe sy jare later vir haar werk Amerika en Engeland toe moes gaan, was sy baie dankbaar vir die "Engelse dae" van haar kleintyd.

Toe sy en haar destydse man na die oorwegend Engelse Scarborough verhuis het, het sy besluit om dieselfde te doen vir die nou volledig tweetalige Nina (15) en Claire (10).

"Toe hulle nog babas was, het ek met hulle Afrikaans gepraat en vir hulle al die liedjies gesing wat na aan my hart is," onthou Paulette. "Maar ek het ook moeite gedoen om Engels te praat en te sing, byvoorbeeld liedjies uit The Wizard of Oz."

Toe hulle moes begin skoolgaan, het die twee maklik by hul Engelse omgewing aangepas. Tuis het Paulette daarop aangedring dat hulle Afrikaans praat.

"Ek wou hê hulle moes in voeling bly met hul wortels." Maar dis nie speletjies om kinders tweetalig groot te maak nie.

"Hulle het dikwels hul tale gemeng in dieselfde sin, veral wanneer hulle oor abstrakte of tegniese dinge gepraat het," vertel Paulette. "Dit het my Afrikaanse familie baie vies gemaak!"

In hul eerste jaar of twee op skool het die meisies gesukkel met Engelse grammatika en klankleer en Paulette moes aan die onderwysers verduidelik dat hulle uit 'n Afrikaanse huis kom. "Maar nou blink hulle uit in al hul klasse," sê sy. "Ek is verbaas oor hoe maklik hulle van die een taal na die ander oorskakel wanneer hulle met verskillende maats praat."

Kultuurverskeidenheid

Rudo Chasakara (27) is 'n tipiese produk van Suid-Afrika se ryk kultuurverskeidenheid. Haar pa praat Tswana, haar ma Xhosa en sy het grootgeword in die oorwegend Afrikaanse gemeenskap van Kimberley. Hoewel albei ouers vlot Afrikaans en Engels gepraat het, was Engels die taal wat in haar grootwordjare hoofsaaklik tuis gepraat is.

"Ek dink my ouers het my voorberei op die mededingende werkomgewing deur die internasionale taal te praat," sê sy. "Ek dink ook dit het vir hulle 'n gaping oorbrug omdat hulle verskillende tale gepraat het."

Hoewel Rudo in 'n Tswana-kleuterskool was, was die res van haar skoolloopbaan in Engels. "Ek het nooit formele onderrig in Tswana en Xhosa gehad nie," vertel sy, "maar ek het dit tog aangeleer uit my ouers en vriende se gesprekke. Ek kan steeds in dié twee tale kommunikeer."

In haar matriekjaar is die gesin Johannesburg toe en het Engels haar eerste taal geword. "Ek weet baie mense sal dit as 'n voordeel beskou, maar soms laat voel dit my ek is nie regtig 'n Afrikavrou nie. Ek is spyt dat ek 'n Europese taal beter praat as enige van die tale van ons vasteland. Ek wens dit is sterker vasgelê toe ek 'n kind was."

Duidelik moet daar 'n balans wees as 'n kind tweetalig of veeltalig grootgemaak word – en as jy hierin slaag, is daar besliste ontwikkelingsvoordele vir jou kind. Hier is maniere waarop jy dit kan doen.

Die beste tyd om te begin

Jou kind kan van geboorte af aan 'n tweede taal blootgestel word, sê Gill Naeser, 'n spesialis in kinderontwikkeling. "Daar is twee prosesse in taalontwikkeling. Die eerste begin by geboorte en word ontvangstaal genoem; dis wanneer 'n kind woorde hoor en begin verstaan. Jy kan in dié stadium al meer as een taal met hom praat sodat hy gewoond raak aan die klanke en die woorde met voorwerpe kan begin verbind.

"Die tweede proses is uitdrukkingstaal; dis wanneer 'n kind begin praat. In hierdie stadium begin hy hom in al twee tale uitdruk."

Sielkundig gesproke is die beste tyd waarin 'n kind 'n tweede taal moet aanleer tussen geboorte en ses- tot agtjarige ouderdom, sê dr. Ronald van Toorn, 'n Kaapstadse neuroloog. In dié jare is die brein op sy soepelste en daarop ingestel om inligting te absorbeer en gebruik.

"Hierdie tydperk kan strek tot in puberteit en selfs later," sê Ronald. "Maar met kinders se breinontwikkeling in gedagte is die beste plan om 'n tweede taal voor skool of in die vroeë skooljare aan te leer."

Daar is egter nie 'n presiese tyd waarop blootstelling aan 'n tweede taal moet begin nie.

Sommige kenners meen 'n kind moet een taal eers deeglik onder die knie hê voor hy aan 'n tweede blootgestel word, sê Gaontebale Nodoba, dosent in taalwetenskap aan die eenheid vir professionele kommunikasie by die Universiteit van Kaapstad. Dr. Don Roos, 'n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, stem saam. "Dis beter dat die kind die eerste drie of vier jaar net sy moedertaal  leer, selfs al word ander tale in die huis gepraat," sê hy.

"Om verwarring te voorkom moet hy een taal eers goed leer ken."

Ouers is dalk trots op hul tweetalige voorskoolse kinders, maar die werklikheid is dat as hulle nie een van die tale ordentlik magtig is nie, kan hulle sukkel wanneer hulle begin skoolgaan. "Hulle kan mettertyd aanpas, maar in die begin kan dit hulle terughou," sê Don.

In die meeste gevalle sal 'n tweetalige kind egter op dieselfde tyd as 'n eentalige kind begin babbel en sy eerste woorde en sinne sê. Albei kan gewoonlik op agttien maande sowat 50 woorde sê, hoewel die tweetalige kind die 50 woorde tussen die twee tale verdeel – wat hom aanvanklik benadeel.

Maar op lang termyn het hierdie aanvanklike agterstand 'n onbeduidende uitwerking op die kind se algemene leervermoë, sê prof. Fred Genesee, 'n kenner van tweedetaalverwerwing aan Kanada se McGill-Universiteit.

Balanseer tweetaligheid so

'n Kind kan tweetaligheid informeel aanleer soos in interaksie met familie en maats, of in 'n formele leeromgewing soos die klaskamer, sê prof. Elizabeth Pretorius, direkteur van die eenheid vir akademiese geletterdheidsnavorsing van Unisa se departement linguistiek.

Kinders wat 'n tweede taal informeel aanleer sal dit in alledaagse gesprekke kan gebruik. Dié soort taalvaardigheid word basiese interpersoonlike kommunikasievaardighede (BIKV) genoem.

"Kinders kan in 'n kort tyd – een tot drie jaar – 'n taamlik hoë BIKV-vlak bereik," sê Elizabeth.

Tog voel sy dis beter dat 'n tweede taal in 'n formele situasie aangeleer word. Kinders moet leer om in die tweede taal te lees en skryf en moeiliker take te doen soos wiskunde en sosiale studie. Dit lei tot kognitiewe akademiese taalvaardigheid (KATV).

"Dit kos vyf tot sewe jaar om KATV op te bou in 'n tweede taal, mits die kind in 'n goeie skool is waar gehalte-onderrig plaasvind en waar klem geplaas word op lees en skryf in die tweede taal," sê sy.

Beteken dit jy moet jou kind na 'n Engelse skool stuur selfs as Engels nie jou huistaal is nie? En wat is die beste – laerskoolonderrig in jou kind se moedertaal en die res in Engels?

Veral ouers wat verskillende tale praat, moet uitsluitsel kry oor dié vrae, soos Carien en Ian White van Humansdorp. Carien het Afrikaans grootgeword en Ian is 'n Skot wat net Engels praat. Toe hul kinders gebore is, het elke ouer in sy of haar taal met hulle gepraat. Sonia (nou 13) en Dean (nou 11) was dus tweetalig voor hulle skool toe is.

Van graad 0 tot 3 was hulle in 'n Engelse skool, maar toe hulle Humansdorp toe verhuis het, is hulle ingeskryf in die Afrikaanse klas van 'n dubbelmediumskool.

"Sonia het floreer, maar Dean se werk het agteruitgegaan," vertel Carien. Sy onderwysers het gesê hy "dink in Engels". Die oplossing: Sonia het in die Afrikaanse klas gebly, maar Dean is oorgeskuif na die Engelse klas.

Nou vaar albei goed en Carien beskou haar kinders se tweetaligheid as 'n seën omdat hulle met albei kante van die familie kan kommunikeer.

As nie-Engelse kinders 'n Engelse skool bywoon, moet ouers steeds tuis hul moedertaal praat, sê Elizabeth.

"Dit help die kind om in voeling te bly met sy eie taal en kultuur. Ouers kan Engels praat as hulle hand bysit met huiswerk, maar ander interaksie moet in die kind se moedertaal plaasvind."

Baie ouers wil hê hul kinders moet Engels kan praat omdat dit so 'n wêreldtaal is. Maar dis nie ideaal om die kind van die begin af in Engels te laat skoolgaan nie, waarsku Elizabeth.

"Dit benadeel die kind op 'n verstandelike vlak en kan kultureel en emosioneel traumaties wees. Dis ideaal as die kind 'n Engelse kleuterskool bywoon en die tweede taal in 'n informele omgewing deur interaksie met maatjies, rympies en speletjies leer," sê sy.

Maar tweetaligheid moet beplan word om te pas by elke kind se individuele ontwikkelingsbehoeftes, voeg sy by.

As ouers die voordele en uitdagings kan balanseer, berei hulle hul kinders voor vir 'n verrykende pad vorentoe.

Lees meer:

Leer jou kind so 'n tweede taal

Die voordele van tweetaligheid

Wanneer eentaligheid beter is

So het Wilma van der Bijl dit gedoen

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE