Share

Polio: Ent alle kinders in

In Januarie vanjaar het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) hoopvol aangekondig dat polio binne 'n jaar heeltemal uitgewis kan word.

'n Boikot teen die inentingsveldtog in Nigerië is egter besig om die poging om polio tot die geskiedenisboeke te beperk, te kortwiek. Dit het pas tot nuwe poliogevalle in Botswana en agt ander Afrika-lande wat lank poliovry was, gelei. Is Suid-Afrika volgende? Dit is moontlik as almal nie teen polio ingeënt is nie.

Vals gerugte deur Nigeriese Moslemleiers dat polio-entstowwe hormone en die MI-virus bevat wat mense onvrugbaar en dood kan maak, het tot 'n boikot teen polio-immunisering gelei. Die gevolg is 30 nuwe poliogevalle die afgelope 12 weke in die provinsies Kano en Zamfara in Nigerië.

Polio versprei na agt lande
Die siekte het nou van Nigerië na Benin, Bukina Faso, Kameroen, die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Tsjad, Ghana, die Ivoorkus en Togo - agt lande wat voorheen vry van polio was - versprei. Meer as 'n dosyn kinders is die afgelope week in Burkina Faso, Ghana, Niger en Togo weens polio verlam. Nood-inentingsveldtogte word binne die volgende paar dae en weke in die lande beplan in 'n poging om kinders van verlamming en dood te red.

Op 15 April 2004, het 'n verdere terugslag Afrika getref: Polio is by 'n sewejarige seun van Botswana gediagnoseer. Dit is die eerste geval in Botswana sedert die WGO Botswana in 1991 polio vry verklaar het.

Dit is nou duidelik: Polio, wat danksy 16 jaar lange doeltreffende polio-immuniseringsprogramme tot die uitwissing van polio in alle lande buiten sewe gelei het, bedreig opnuut 15 miljoen kinders in Afrika.

Die gesondheidsministers van dié sewe lande - Afganistan, Egipte, Indië, Niger, Nigerië, Pakistan en Somalië - het in Januarie vanjaar saam met die WGO en die Global Polio Eradication Initiative aangekondig dat hulle binne die volgende jaar meer as 250 miljoen mense teen polio gaan inent in 'n poging om die verlammingsiekte teen die eerste kwartaal van 2005 van die aardbol te vee. Min het hulle geweet dat Afrika op die randjie van 'n nuwe polio-uitbreking staan en dat hul pogings deur vals gerugte en boikotte deur 'n groepie mense in 'n enkele land in duie kan stort.

Entstof nie besmet
Laboratoriumtoetse in Londen, asook onafhanklike toetse in Suid-Afrika, Indië en Indonesië, het bo alle twyfel bewys dat die polio-entstof nie met hormone of die MI-virus besmet is nie. Ook nie met kankerwekkende stowwe of enige ander gevaarlike stowwe wat, volgens Shari-Moslem-leiers in Nigerië, deur die Westerse wêreld in die entstowwe geplaas is om Moslems uit te wis nie.

Nigerië hou reeds jare die grootste enkele bedreiging in vir enige polio-uitwissingsprogram. In sommige streke van Nigerië is slegs 16% van alle kinders teen polio ingeënt. Sowat die helfte van die meer as 520 poliogevalle wat verlede jaar in die wêreld aangemeld is, is in Nigerië. Sowat 49% is in Indië en Pakistan en slegs 1% van die gevalle is in die ander vier lande.

Polio in Suid-Afrika?
Suid-Afrika Die uitbreking van polio in Nigerië hou ook 'n bedreiging vir kinders in Suid-Afrika in. Danksy doeltreffende en omvattende polio-immuniseringsveldtogte is Suid-Afrika sedert 2000 poliovry. Maar 'n skamele ses jaar gelede is 104 nuwe gevalle hier gediagnoseer. Opgestapelde yster- en leerstutte in die pakkamers van klein hospitale tussen die groen Transkeise heuwels is nog die stille getuienis van die stremmende uitwerking van dié siekte.

Teoreties verg dit die besoek van 'n enkele geïnfekteerde emigrant of besoeker uit Nigerië (of Indië, Pakistan of van die ander vier lande waar polio endemies voorkom) aan Suid-Afrika om die virus aan 'n ongeïmmuniseerde Suid-Afrikaner oor te dra. Die virus word deur regstreekse kontak oorgedra en is hoogs aansteeklik.

Sowat 5% tot 10%van diegene wat die virus opdoen, word siek, kan verlam word of sterf. 'n Enkele geval is al wat nodig is vir die herverskyning van polio in Suid-Afrika. Dit is presies wat in 1992 in Nederland gebeur het toe polio daar uitgebreek het, en wat tans in agt lande in Afrika aan die gebeur is.

Dit is dus van groot belang dat geen ouer moet nalaat om sy kind ten volle teen polio (en ander siektes) te laat inent nie, al lyk die bedreiging klein en ver, maan navorsers. Hulle beskou 'n verslapping in immuniseringsprogramme as een van die grootste redes vir die heruitbreking van polio in Afrika en van kinkhoes sedert die 1980's in Amerika en Australië.

Soos in die geval van Nigerië lei vals gerugte en vrese van ouers vir ernstige newe-effekte dikwels tot 'n sorgwekkende afname in die immuniseringskoers.

Baie ouers onkundig oor immunisering
Tot 25% van alle Amerikaanse ouers glo dat vaksiene teen masels, pampoentjies en polio newe-effekte soos outisme, suikersiekte, epilepsie en immuniteitsonderdrukking kan veroorsaak. 'n Onlangse opname onder 1 000 Amerikaanse ouers het getoon 80% van hulle het geen benul watter vaksiene hul kinders veronderstel is om te kry nie. Indien siektes soos masels, witseerkeel en kinkhoes vandag in Amerika uitbreek, sal duisende kinders in dié Eerstewêreldland sterf.

Minstens 20% van alle tweejariges is volgens die US Centres for Disease Control and Prevention (CDC) glad nie geï mmuniseer nie. Die CDC is besorg oor die tendens. Hulle plaas die blaam vir die her verskyn ing van kinkhoes onder tieners en volwassenes vierkant op die skouers van die kinders se ouers wat nagelaat het of geweier het om die kinders te laat inent.

(mhudson@health24.co.za, April 2004)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE