Share

Mypale

Is jou kleinding in die vinnige baan as dit kom by loop en praat? Of is jy dalk bang hy spring te stadig weg? Vind uit watter ontwikkelingsmylpale kinders in hul tweede lewensjaar bereik en hoe jy jou rakkertjie kan aanmoedig
Deur die Health24-span

13 tot 18 Maande

Liggaam

Woelwater
Watter plesier – hierdie liggaampie kan allerhande dinge doen. En die kleinding besef dit nou. Hy kan reeds sonder hulp sit, staan en loop, al is dit aan die begin met uitgestrekte arms en voete wyd uitmekaar om die swaar koppie te balanseer.

Op vyftien maande kan hy trappe klim en weer daarteen afgly, en op agttien maande loop hy al met sy voete minder ver van mekaar – maar nog nie normaal nie, want sy kop is steeds te swaar vir sy lyf. Hy kan al self op ’n stoel klouter.

Hy hou daarvan om dinge te stoot, te trek en te gooi. Hy sal byvoorbeeld die toilet gaan spoel of deure toemaak.

Hy is ook dol daaroor om aan dinge te vat, te vroetel en om knoppies te druk en draai.

Hoe ouers kan help
Maak doodseker alle medisyne, vitamiene, huishoudelike stowwe, skoonmaakmiddels, verf en gifstowwe is buite jou kind se bereik en agter slot en grendel, want hy weet nou al hoe om allerlei kas- en kabinetdeure oop en toe te maak en proppe af te draai.

Hou ’n boks met weggooigoed wat pret is om aan te vat, byvoorbeeld sokkies, ’n eierdosie, ’n margarienhouer en sneespapier om op te frommel. Sorg dat daar niks is waaraan ’n kind kan verstik nie.

Drama drama
Die karnallie is tot allerhande streke in staat, maar die hartjie is nog baie klein. Hy het baie troos nodig as hy bang of angstig voel, en kan klouerig aan Ma of Pa wees. Op dié ouderdom word hy baie ontsteld as hy van sy ouers weggevat word. Hy trippel van ongeduld om opgetel te word en dan moet jy saam met hom boekies lees of speletjies speel. (Een geluk: Solank Ma of Pa naby is, sal hy wel alleen op die vloer met sy speelgoed sit en speel.)

Hy sal jou begin beproef en dit is nou tyd dat jy sekere grense stel en daarby hou. Op agttien maande het hy nog geen beheer oor sy emosies nie en raak hy befoeterd as hy nie dadelik sy sin kry nie. Omdat hy van ’n gehoor se aandag en applous hou, sal hy ook stoutighede aanvang en jou slaan om aandag te kry.

Hoe ouers kan help
As jou kind angstig voel wanneer jy nie by hom is nie, kan jy vir hom ’n trooskombersie of ’n geliefde speelding gee om hom meer geborge te laat voel.

Gebruik positiewe versterking om jou kind te dissiplineer. Prys goeie gedrag en stuur sy energie in ’n ander rigting as hy moeilik raak.

Van brabbel tot bekkig
Jou baba se eerste “woorde” sal jy ongelukkig nie verstaan nie. Dis in brabbeltaal, maar dis ’n begin. Sy sal klanke oor en oor sê en soms onophoudelik brabbel, asof sy ’n hele gesprek wil voer. En dan eensklaps is die eerste woord daar: iets eenvoudigs soos “mamma” of “pappa”. Soms is dit ook net gedeeltes van woorde, soos “geddy” vir “spaghetti”.

Hier teen agttien maande het jou baba ’n woordeskat van tussen agt en twintig woorde – genoeg om jou rond te stuur. Dit is meestal naamwoorde soos “hond”, “hoed” en “broek”, al kan die uitspraak soms nog ’n bietjie lol.

Hoe kan ouers help? Help om jou kind se woordeskat te vergroot deur uit te brei op wat hy sê. As hy “hond” sê, antwoord: “Ja, die hondjie is swart en wollerig.”

Op ongeveer twee jaar begin jou kind twee woorde in ’n sin saamsnoer – gewoonlik ’n naamwoord en ’n werkwoord, byvoorbeeld “Pappa werk”. By dié nuuskierige agie is “wat’s dit?” ’n sin wat jy meermale sal hoor. Sy gesels geesdriftig met haarself en ander, en praat lang stories op haar speeltelefoon. Sy neurie en probeer sing, en luister na kort kinderrympies en -liedjies.

Jou kind het nou ’n woordeskat van sowat 150 tot 300 woorde en kan die meeste medeklinkers goed uitspreek. Sy het ook ’n beter begrip van voorwerpe en kan vir spesifieke kosse vra en begin dieregeluide namaak.

Hoe kan ouers help? Ná agttien maande ontplof babas se taalontwikkeling en hulle leer vinnig nuwe woorde by. Gesels soveel moontlik met jou kind.

19 tot 24 maande

Liggaam: Ontdekkingsreisiger
Hansie slim, berg wil klim . . . Jou kleinding is op ’n groot ontdekkingsreis en wil alles oopmaak, bevoel en beklouter – en klim in alles wat oopmaak.

Kaste, laaie en bokse word oopgemaak en uitgepak. Nimmereindigend. Die kleinding klim nou sonder hulp by trappe op en af, hardloop (al lol die stop- en draaislag nog) en loop agteruit.

Dis selfs al vir haar moontlik om te buk om ’n speelding op te tel sonder om kop eerste grond toe te tuimel. Tipies van ’n ontdekkingsreisiger is sy sprakeloos geboei deur al die nuwe dinge wat sy sien en sal sy lank stil op die vloer sit en blokkies bou.

Groot wêreld, hier kom ek! Verwag dat sy op twee jaar al kan driewiel ry en sommer vinnig tussen neus en oë kan verdwyn.

Hoe ouers kan help
Maak doodseker daar is nie ou, ongebruikte yskaste of vrieskaste in jou huis of agterplaas wat kan toeklap en jou kind se dood kan kos as sy op een van haar ontdekkingsreise daarin klim nie.

Emosies: Diva
Oupatroon word nou vinnig selfstandig en wil haar oral laat geld. Verwag maar dat “nee!” ál meer deel van haar woordeskat word. So ook “my” en “myne”. En omdat sy baie besitlik is oor wat “myne” is, gaan sy glad nie lus wees om haar speelgoed met ander te deel nie.

Die wêreld draai immers om haar. Sy wil haar sin hê, en nóú. Anders doen sy die diva-ding en skop en skree, slaan en slaat neer.

Sy kry woede-uitbarstings as dinge nie verloop soos sy dit wil hê nie, maar so stadigaan begin sy darem besef dat die gevoel van woede, angs en frustrasie verbygaan sonder dat dit nodig is om te skop en te skree.

Juffrou Diva lyk maar net asof sy so selfstandig is. Sy het nog heeltyd jou volle aandag nodig. Al die kordaatheid en nuwe prikkels is opwindend, maar ook oorweldigend, en sy gaan kortkort haar koppie in jou skoot kom druk vir ’n bietjie aandag en vertroeteling. En sommer baie skaam raak as daar vreemdelinge in die geselskap is.

Sy kan nog nie regtig al die ingewikkelde reëls van menswees onthou nie; moet haar nie straf as sy party van hulle ’n bietjie vergeet nie.

Hoe ouers kan help
Jou kind is verskeur tussen onafhanklikheid en twyfel: enersyds wil sy haar wil afdwing, maar andersyds is sy bang en onseker. Gun haar die kans om haar wil te laat geld en om die selfvertroue te ontwikkel om haarself te ontdek.

Spotlight on development of SA kids

Your brain’s secret life

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE