Is jou kleinding in die vinnige baan as dit kom by loop
en praat? Of is jy dalk bang hy spring te stadig weg? Vind
uit watter ontwikkelingsmylpale kinders in hul tweede
lewensjaar bereik en hoe jy jou rakkertjie kan aanmoedig
Deur die Health24-span
13 tot 18
Maande
Liggaam
Woelwater
Watter plesier – hierdie liggaampie kan allerhande
dinge doen. En die kleinding besef
dit nou. Hy kan reeds sonder hulp sit, staan
en loop, al is dit aan die begin met uitgestrekte
arms en voete wyd uitmekaar om die
swaar koppie te balanseer.
Op vyftien maande kan hy trappe klim
en weer daarteen afgly, en op agttien
maande loop hy al met sy voete minder
ver van mekaar – maar nog nie normaal
nie, want sy kop is steeds te swaar vir
sy lyf. Hy kan al self op ’n stoel
klouter.
Hy hou daarvan om dinge te
stoot, te trek en te gooi. Hy sal byvoorbeeld
die toilet gaan spoel of
deure toemaak.
Hy is ook dol daaroor om aan
dinge te vat, te vroetel en om
knoppies te druk en draai.
Hoe ouers kan help
Maak doodseker alle medisyne, vitamiene,
huishoudelike stowwe, skoonmaakmiddels,
verf en gifstowwe
is buite jou kind se bereik en agter slot
en grendel, want hy weet nou al hoe
om allerlei kas- en kabinetdeure oop
en toe te maak en proppe af te
draai.
Hou ’n boks met weggooigoed
wat pret is om aan te
vat, byvoorbeeld sokkies,
’n eierdosie, ’n margarienhouer
en sneespapier
om op te frommel.
Sorg dat daar niks is
waaraan ’n kind kan
verstik nie.
Drama drama
Die karnallie is tot allerhande streke in
staat, maar die hartjie is nog baie klein. Hy
het baie troos nodig as hy bang of angstig
voel, en kan klouerig aan Ma of Pa wees.
Op dié ouderdom word hy baie ontsteld as
hy van sy ouers weggevat word.
Hy trippel van ongeduld om opgetel te
word en dan moet jy saam met hom
boekies lees of speletjies speel. (Een
geluk: Solank Ma of Pa naby is, sal
hy wel alleen op die vloer met sy
speelgoed sit en speel.)
Hy sal jou begin beproef en dit
is nou tyd dat jy sekere grense
stel en daarby hou.
Op agttien maande het hy nog
geen beheer oor sy emosies nie
en raak hy befoeterd as hy nie
dadelik sy sin kry nie. Omdat
hy van ’n gehoor se aandag en
applous hou, sal hy ook stoutighede
aanvang en jou slaan om
aandag te kry.
Hoe ouers kan help
As jou kind angstig voel wanneer jy
nie by hom is nie, kan jy vir
hom ’n trooskombersie of
’n geliefde speelding gee
om hom meer geborge
te laat voel.
Gebruik positiewe
versterking om jou
kind te dissiplineer.
Prys goeie gedrag
en stuur sy energie
in ’n ander
rigting as hy
moeilik raak.
Van brabbel tot bekkig
Jou baba se eerste “woorde” sal jy ongelukkig nie verstaan
nie. Dis in brabbeltaal, maar dis ’n begin. Sy sal
klanke oor en oor sê en soms onophoudelik brabbel,
asof sy ’n hele gesprek wil voer.
En dan eensklaps is die eerste woord daar: iets eenvoudigs
soos “mamma” of “pappa”. Soms is dit ook net gedeeltes
van woorde, soos “geddy” vir “spaghetti”.
Hier teen agttien maande het jou baba ’n woordeskat
van tussen agt en twintig woorde – genoeg om jou rond te stuur.
Dit is meestal naamwoorde soos “hond”, “hoed” en “broek”,
al kan die uitspraak soms nog ’n bietjie lol.
Hoe kan ouers help? Help om jou kind se woordeskat
te vergroot deur uit te brei op wat hy sê. As hy “hond” sê,
antwoord: “Ja, die hondjie is swart en wollerig.”
Op ongeveer twee jaar begin jou kind twee woorde in
’n sin saamsnoer – gewoonlik ’n naamwoord en ’n werkwoord,
byvoorbeeld “Pappa werk”. By dié nuuskierige
agie is “wat’s dit?” ’n sin wat jy meermale sal hoor.
Sy gesels geesdriftig met haarself en ander, en praat lang
stories op haar speeltelefoon. Sy neurie en probeer sing, en
luister na kort kinderrympies en -liedjies.
Jou kind het nou ’n woordeskat van sowat 150 tot 300
woorde en kan die meeste medeklinkers goed uitspreek. Sy
het ook ’n beter begrip van voorwerpe en kan vir spesifieke
kosse vra en begin dieregeluide namaak.
Hoe kan ouers help? Ná agttien maande ontplof babas
se taalontwikkeling en hulle leer vinnig nuwe woorde
by. Gesels soveel moontlik met jou kind.
19 tot 24 maande
Liggaam: Ontdekkingsreisiger
Hansie slim, berg wil klim . . . Jou
kleinding is op ’n groot ontdekkingsreis
en wil alles oopmaak, bevoel en
beklouter – en klim in alles wat
oopmaak.
Kaste, laaie en bokse word
oopgemaak en uitgepak.
Nimmereindigend.
Die kleinding klim nou
sonder hulp by trappe
op en af, hardloop (al
lol die stop- en draaislag
nog) en loop
agteruit.
Dis selfs al
vir haar moontlik
om te buk om ’n
speelding op te tel
sonder om kop eerste
grond toe te tuimel.
Tipies van ’n ontdekkingsreisiger
is sy sprakeloos geboei deur
al die nuwe dinge wat sy sien en
sal sy lank stil op die vloer sit en
blokkies bou.
Groot wêreld, hier kom
ek! Verwag dat sy op twee
jaar al kan driewiel ry en sommer
vinnig tussen neus en oë
kan verdwyn.
Hoe ouers kan help
Maak doodseker daar is nie
ou, ongebruikte yskaste of
vrieskaste in jou huis of
agterplaas wat kan toeklap
en jou kind se dood
kan kos as sy op een van
haar ontdekkingsreise
daarin klim nie.
Emosies: Diva
Oupatroon word nou vinnig selfstandig en
wil haar oral laat geld. Verwag maar dat “nee!”
ál meer deel van haar woordeskat word. So ook
“my” en “myne”. En omdat sy baie besitlik is
oor wat “myne” is, gaan sy glad nie lus wees om
haar speelgoed met ander te deel nie.
Die
wêreld draai immers om haar. Sy wil haar sin
hê, en nóú. Anders doen sy die diva-ding en
skop en skree, slaan en slaat neer.
Sy kry woede-uitbarstings as dinge nie verloop
soos sy dit wil hê nie, maar so stadigaan
begin sy darem besef dat die gevoel van woede,
angs en frustrasie verbygaan sonder dat dit nodig
is om te skop en te skree.
Juffrou Diva lyk
maar net asof sy so selfstandig is. Sy het nog
heeltyd jou volle aandag nodig. Al die kordaatheid
en nuwe prikkels is opwindend,
maar ook oorweldigend, en sy gaan kortkort
haar koppie in jou skoot kom druk
vir ’n bietjie aandag en vertroeteling.
En sommer baie skaam raak as daar
vreemdelinge in die geselskap is.
Sy kan nog nie regtig al die
ingewikkelde reëls van menswees
onthou nie; moet haar
nie straf as sy party van
hulle ’n bietjie vergeet nie.
Hoe ouers kan help
Jou kind is verskeur tussen
onafhanklikheid en twyfel:
enersyds wil sy haar wil
afdwing, maar andersyds
is sy bang en onseker.
Gun haar die kans om
haar wil te laat geld en
om die selfvertroue te
ontwikkel om haarself
te ontdek.
Spotlight on development of SA kids
Your brain’s secret life