advertisement
Updated 25 August 2016

Herken kindermishandeling so

'n Mens hoor of lees gereeld daarvan. Dokters probeer die wonde en letsels aan die liggaam lap en heg, en sielkundiges probeer die emosionele littekens genees.

0

'n Baba met sigaretbrandmerke op sy arms, maag en rug, 'n sesjarige meisie op wie 'n noodhisterektomie uitgevoer moet word omdat haar verkragter haar só erg verrinneweer het, of 'n tienerselfmoord ná jare van seksuele misbruik deur 'n oom, pa of die bure se seun.

Wat is kindermishandeling?
Kindermishandeling word deur Childline gedefinieer as enige interaksie (of die gebrek daaraan) tussen 'n kind en sy of haar ouers of versorgers wat tot fisieke of ontwikkelingskade van die kind kan lei en waarvan die skade nie per ongeluk berokken is nie. Kindermishandeling sluit emosionele mishandeling en verwaarlosing, fisieke mishandeling, fisieke verwaarlosing en seksuele misbruik in.

Vroeë ingryping en hulp kan die kind liggaamlike en emosionele skade spaar, en selfs 'n lewe red. Dit is inderwaarheid nie net moontlik om -deur bedag te wees op tipiese letsels en gedragspatrone - 'n misbruikte kind uit te ken nie, maar selfs om 'n hoë-risiko situasie te voorspel.

Sommige kinders is bloot deur die omstandighede van hul ouers, hul gesin en omgewingsfaktore meer weerloos en vatbaar vir misbruik, sê Rana Escher, woordvoerder van Women Against Child Abuse, aan die vooraand van Kinderbeskermingsweek (24 tot 30 Mei).

Dié faktore, saam met die kind se eie persoonlikheid, gedrag en ouderdom, kan die kind se risiko vir misbruik verhoog.

  • Ouerlike faktore
    Dit is bekend dat talle ouers wat hul kinders mishandel, self as kinders fisiek, seksueel of emosioneel mishandel is. Veral in die geval van pedofiele is daar sterk bewyse dat hulle as kinders mishandel is.
  • Tipiese karaktertrekke van ouers wat hul kinders mishandel, sluit in: 'n swak selfbeeld, lae intelligensiepeil, wantroue, vyandelikheid en eensaamheid. Dié ouers kan ook aan depressie of angssteurnisse ly. Baie van die ouers wantrou ander mense.

    Dit blyk ook dat alkohol- en dwelmmisbruik 'n ál groter rol speel by ouers wat hul kinders mishandel. Volgens die kinderbeskermingseenheid in Kaapstad lei dwelmmisbruik onder veral ouers wat self as kinders misbruik is, tot 'n groot aantal "ernstig disfunksionele" gesinne waar mishandeling van kinders gedy.

    Studies het ook getoon dat ouers met 'n gebrek aan kennis oor kinderontwikkeling dikwels onrealistiese en onmoontlike verwagtings van hul kind koester, en dat sulke ouers dikwels hul frustrasies in die vorm van mishandeling op die kind uithaal.

    Omstandighede soos onbeplande swangerskappe, siekte en die onvermoë om empaties en gevoelvol teenoor kinders op te tree, kan die kans op kindermishandeling verhoog.

  • Familie- en gesinsfaktore
    Huwelikskonflik, 'n pa wat 'n ma fisiek of emosioneel aanrand en kleineer, werkloosheid, finansiële probleme en sosiale afsondering of eensaamheid, lei nie op sigself tot kindermishandeling nie. Indien hierdie situasies egter in 'n gesin teenwoordig is, kan die kans op kindermishandeling wel hoër wees.

    Dit blyk dat gesinne waar kindermishandeling plaasvind, meestal op tipiese maniere op mekaar se gedrag reageer: hulle praat en deel min met mekaar; reageer min of glad nie op 'n gesinslid of buitestaander se positiewe gedrag , maar reageer oormatig sterk op enige negatiewe gedrag.

    Ouers wat hul kinders mishandel, is oor die algemeen nie juis versorgend nie. Ook is dié ouers se metodes om hul kinders te tug ondoeltreffend en uiters wisselvallig sodat die kind elke dag 'n ander stel reëls moet nakom om straf vry te spring.

    Suid-Afrikaanse navorsingstudies deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) toon dat mense wat kinders mishandel nie 'n homogene groep is nie. Die navorsing toon egter 'n sorgwekkende tendens: die meeste kindermolesteerders woon in dieselfde huis of buurt as die kinders, en baie is tieners of jong mense.

  • Omgewingsfaktore
    Die voorkoms van kindermishandeling is hoër in sommige kulture as ander, en meer aanvaarbaar in sommige groepe as ander.

    Stres weens armoede - veral tydens ekonomiese resessies en weens hoë werkloosheidskoerse - hou wel verband met 'n groter risiko vir kindermishandeling.

    Gesinne waar gesinsgeweld en kindermishandeling waargeneem word, word dikwels deur die bure en gemeenskap geïsoleer. Die gesin neem gevolglik ál minder aan gemeenskapsaktiwiteite deel en maak ál minder gebruik van gesondheids- en maatskaplike hulpbronne.

  • Kinder-faktore
    Die kind se ouderdom en liggaamlike, geestelike, emosionele en sosiale ontwikkeling kan 'n groot rol speel in die kind se vatbaarheid vir mishandeling.

    Jonger kinders is, bloot omdat hulle kleiner gebou is en emosioneel minder ontwikkel en waaksaam is, maklike teikens vir aanranding.

    Vir 'n ouer wat sukkel om empatie jeens 'n kind te voel en sukkel om sy eie emosies te beheer, kan 'n huilende en skreeuende kind die laaste strooi wees.

    Kinders wat as "anders" beskou word, soos gestremde kinders, asook kinders wat sosiaal geïsoleerd is, is aan die grootste risiko vir misbruik blootgestel. Kinders wat nie 'n goeie of nabye verhouding met hul ouers of gesinslede het nie, en min of geen vriende het , is meer vatbaar vir die aandag van 'n molesteerder in ruil vir seks.

  • Wees bedag
    Hoewel die bogenoemde faktore "voorspellers" van mishandeling kan wees, mishandel nie alle gesinne met dié eienskappe hul kinders nie. Die waarskuwingstekens kan gebruik word om die weerloosste kinders uit te ken en die onderliggende risikofaktore te probeer oplos voordat kindermishandeling voorkom.

Nuttige kontaknommer: Childline se tolvrye noodlyn 0 08000 55555 of 0 021 461 1114 . (mhudson@health24.co.za. en ipauw@health24.co.za, Mei 2004)

 
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.