Share

Bottelvoeding bederf tande

Ons het seker al almal ons kind toegelaat om met ‘n bottel aan die slaap te raak. Alhoewel bottels dikwels ‘n kalmerende uitwerking op kinders het, kan dit baie nadelig vir tande wees en bottelvoedingsindroom veroorsaak, skryf Dr Ilona Visser, estetiese tandarts van eduDENT in privaat praktyk.

Bottelvoedingsindroom (ook genoem Bababottelvoedingkaries of Bababottelkaries) word gekenmerk deur verrotting van die boonste vier primêre (baba) tande. Die rede hiervoor is dat die baba of kleuter, wat reeds tande het, met 'n bottel melk, vrugtesap of suikerbevattende vloeistof (bv. tee met suiker) gaan slaap, of aan die slaap raak tydens borsvoeding.

Dit is moeilik om te glo dat melk en vrugtesap wat so gesond is vir kinders skadelik kan wees vir tande. Die probleem is dat suur deur plaakbakterieë geproduseer word wanneer daar suiker (in hierdie geval afkomstig van die sap of versoete tee) ingeneem word. Tydens slaap verminder die speekselvloei en frekwensie van sluk, en die vloeistof in die bottel dam op rondom die tande. Die plaakbakterieë op die tande het dan meer as genoeg tyd om die suur te produseer wat die tande sal ontkalk, en sodoende ontstaan karies (tand gaatjies). Die melk word ook suur in die mond, en dra verder by tot die vorming van karies.

Terwyl jou baba drink, word die vloeistof deur die voortande gesuig (die agterste en onderste tande word deur die tong beskerm). Omdat dit meestal net die boonste vier tande is wat aan die poel vloeistof blootgestel word, is dit juis hierdie vier tande is wat die ergste aangetas word. In erge gevalle kan die oogtande en boonste kiestande ook aangetas word.

Behandeling van Bottelvoedingsindroom
Behandeling sal meestal onder narkose moet plaasvind. Dit behels die herstel van die primêre tand met o.a. bindingstegnieke. Indien die karies nie vroegtydig opgespoor en herstel word nie, vererger dit stelselmatig totdat die hele primêre tand aangetas word, en verwyder moet word.

In enkele gevalle kan die aanwending van hoë konsentrasies fluoried die verspreiding van die karies beperk. Hierdie aanwendings kan in die spreekkamer of tuis plaasvind. Dié hoë konsentrasie fluoried is nie kommersieël beskikbaar nie, maar word wel deur tandartse voorsien.

Vermy bottelvoedingsindroom soos volg

  • Laat die baba eers klaar drink voor jy haar/hom neerlê. Indien die baba op 'n bottel aandring wanneer sy/hy gaan slaap, sorg dat dit net skoon water bevat.
  • Moenie suiker by die vloeistof voeg nie.
  • Vermy suurbevattende vloeistowwe soos vrugtesap. Indien jou baba reeds vrugtesap in die bottel drink wanneer hy/sy gaan slaap, probeer dit stelselmatig verdun tot net skoon water in die bottel is.
  • Probeer so gou moontlik die bottel wegneem.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE