Share

Refleksologie – 'n alternatiewe behandeling wat werk

accreditation
Jou brein en rugmurg – jy sal bly wees om dit te hoor – lê uitgestrek onder jou groottoon, jou dunderm opgekrul onder jou voetkussing en jou oor knus ingeskulp in die knak van jou kleintoontjie...

Daar’s geen twyfel dat dit heerlik is wanneer iemand met jou voete en tone werskaf nie, maar is dit nie nog beter as die druk en vryf van jou voetsole ook tot genesing en pynverligting lei nie?

En dis presies wat refleksoloë sê hulle kan bereik deur op die regte punte op jou voetsole te druk en die energiebane (meridiane, noem hulle dit) tussen die voet en die kranklike organe tot aksie aan te spoor.

Die reflekspunte op jou voete is 'n soort padkaart vir die res van jou liggaam, sê hulle. As ’n mens mooi na ’n kaart van die voete kyk, sal jy sien dat daar op die voetsole 'n kleim afgesteek is vir elkeen van die belangrike organe. Dis dan ook waarom massering van jou groottoon jou hoofpyn  sal laat verdwyn en die vryf van die punte van jou tone sinusprobleme verlig. (Nee, jammer om jou teleur te stel, jou tone is toe nie verbind met die orgaan wat jy vermoed nie. Die “knoppie” daar voor lê mooi netjies onder jou hakke...)

Streel daardie pyne weg

Dis darem ook nie sommer enigeen wat jou voetsole vir kitsgenesing kan knie en kielie nie. Refleksoloë word opgelei om spesiale druk- en masseertegnieke op die reflekspunte toe te pas om dit vir die liggaam makliker te maak om homself te genees.

Omdat aanraking die eerste "taal” tussen ouers en babas is, is refleksologie ook 'n veilige manier om met sagte aanraking op die regte punte die kleintjies se pyne weg te streel of pynlike toestande te voorkom. Dink maar aan aandoenings soos koliek, tande kry, asma, mangelontsteking en ekseem, en wees bly daar’s vir elkeen van hulle ’n reflekspunt.

Stres by kinders en volwassenes kan so maklik handuit ruk en siektes vererger waaraan jy reeds ly en nuwes laat ontstaan. Daar word dan nou al selfs beweer dat tot 80 persent van al die hedendaagse siektes met stres verband hou. Hier kan 'n mens dink aan al die ou kalante soos asma, velsiektes, maag- en dermprobleme en allerlei allergieë. Refleksoloë  sê hulle kry dit met hul benadering reg om die liggaam te laat ontspan en alie stelsels weer in ewewig te kry. Mense slaap dus beter, voel minder moeg en opvlieënd en word nie so deur hoofpyn geteister nie. Om stres te verlig, kan die holte onder die bal van die voet gemasseer word. Daardie holte verteenwoordig die sonnevleg, die plek op die kroon van die maag waar die senuwees bymekaarkom.

Meer endorfiene

In die geval van depressie is dit noodsaaklik om die chemiese of hormoon-wanbalans te herstel deur 'n egalige energievloei deur die liggaam te verseker. Massering van die sonneflegrefleks onder die voetboog en van die groottone (wat met die brein verbind is) kan hiervoor help.

Het jy geweet dat jy pyn kan verlig deur jou liggaam aan te spoor om meer endorfiene, jou eie handgemaakte pynstillers en opkikkers, af te skei? Dis besonder goeie nous vir almal wat geteister word deur chroniese rugpyn (veral laerugpyn), hoofpyn (veral migraine en spanningshoofpyn) en baie ander soorte pyn. Reken daarop dat jou rugpyn verlig kan word deur die massering van die spinale of rugstringrefleks wat aan die binnekant van die voet geleë is. Kankerpasiënte se pyn kan ook deur refleksologie beheer word.

Enige mens, maak nie saak hoe siek of gesond nie, voel beter ná die aanraking van iemand wat luister en empatie betoon. Refleksologie word geleer om hierdie vaardighede te ontwikkel en die blote emosionele ontlading help al om die angs en depressie van ernstig siek mense te verlig.   

Refleksoloë kan talle navorsingsbevindings aanhaal om te bewys dat refleksologie as aanvullende en alternatiewe behandeling werk – maar baie hang natuurlik af van die persoonlikheid en vaardighede van die refleksoloog. Die Raad op Verwante Gesondheidsberoepe sal jou kan help om 'n geskikte persoon in jou omgewing te vind.

En dan kan hy of sy met jou siektes en pyne handgemeen raak.

Refleksologie – vir wie?

Mense van enige ouderdom of geslag – bejaardes, mans, vroue, tieners, kinders en babas – kan baat vind by refleksologie.

Dis nie net ’n veilige hulpmiddel om die liggaam se balans te herstel nie, maar is ook uitstekende voorkomende behandeling.

Het jy geweet?

Babas en kinders het dieselfde reflekspunte as volwassenes. Net die intensiteit en duur van die behandeling verskil.

Deur Erika Kruger en Marian de Jager.


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE