advertisement
29 December 2009

'n Kop vir musiek

Musieklesse klink dalk na 'n luukse eerder as 'n noodsaak. Maar voor jy die klavieronderwyser die trekpas gee, dink na oor wat dit vir jou kind se ontwikkeling kan beteken.

0

Musieklesse klink dalk na ’n luukse eerder as ’n noodsaak, veral as die geld knyp. Maar voor jy die klavieronderwyser die trekpas gee, dink ’n bietjie na oor wat dit vir jou kind se ontwikkeling kan beteken.

Deur GLYNIS HORNING

Die agtjarige Ingrid Tomalin se voete raak nog nie heeltemal grond as sy op die klavierstoel sit nie. En nou swaai hulle met onverborge plesier heen en weer – soos altyd gebeur in die halfuur dat sy klavierles kry.

"Dis pragtig," por Janet Roselt, wat langs haar sit, haar aan. Janet, 'n musiekonderwyser by die Manor Garden Primary School in Durban, sing die note van die blad af terwyl Ingrid speel met 'n konsentrasie wat haar mond op 'n tuit laat trek.

"Sy wou nog altyd klavier speel," sê Ingrid se ma, Mariana, 'n tegniese insekkurator by die natuurwetenskapmuseum in Durban. "Ons het 'n ou honkietonk by die huis, haar ouer broer en suster speel, en sy't toe daarop aangedring om ook te leer. Ek was maar te bly, want ek het gesien wat dit vir die ander twee beteken."

Mariana se 12-jarige seun speel klavier en het onlangs met die saxofoon begin. Haar 17-jarige dogter is 'n kitaarspeler en leer ook die kontrabas. Dis duidelik in dié gesin se bloed om musiek te maak, maar volgens Mariana is dit nie als pret en plesier nie.

"Musiek het ons kinders ook gehelp om fokus en dissipline te ontwikkel. Jy moet oefen, volhard en leer om jou tyd goed te bestuur. Jy kan nie nuttiger lewensvaardighede as dit hê nie!"

Vestandige keuses

Baie voorstanders van musieklesse sê dit gaan om meer as lewensvaardighede. Hulle reken dat musieklesse die ontwikkeling en werking van 'n kind se brein aanhelp – veral ruimtelike denke, wat ons help om patrone raak te sien en te organiseer. Ruimtelike denke is belangrik vir rigtings soos wiskunde, wetenskap, ingenieurswese en selfs skaak.

Maar hoewel 'n aantal studies 'n verband tussen musiek en breinontwikkeling steun, is geen navorsing daaroor nog in Suid-Afrika gedoen nie.  "Dit lyk of niemand hier al daarop ingegaan het nie," sê prof. John Rodda, neuropediater by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Johannesburg.

"Ek en my kollegas weet maar net musiekterapie werk vir jong pasiënte met neurologiese probleme soos serebrale gestremdheid. Ons kan die voordele sien – hulle word kalmer en kry aktiwiteite beter reg. "Maar ons kan nie sê hoe dit neurologies werk nie, of hoe gesonde kinders by musiek kan baat vind nie."

In 2006 het Kanadese navorsers bevind dat vier- tot sesjarige kinders wat 'n jaar lank musiekopleiding in die Suzuki-metode ontvang het (waar hulle deur nabootsing leer eerder as deur note te lees), se ruimtelike denke verbeter het, asook hul taalvaardighede, geheue, wiskundige vermoë en IK.

Net so het Amerikaanse navorsers in 2008 bevind dat kinders tussen agt en elf jaar oud met instrumentale opleiding van drie jaar of langer beter gevaar het in toetse van redenering, fyn motoriese vaardighede en die vermoë om verskillende klanke van mekaar te onderskei.

Net 'n handjievol kinders is egter vir dié toetse gebruik, sê Jeff Robinson, 'n dosent in musiekopvoeding aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN). "Al klink die uitslag belowend, is dit nog nie duidelik hoe prestasie in ander skoolvakke deur musieklesse aangehelp word nie."

Ander kenners, soos die pianis en UKZN-dosent dr. Liezl-Marét Jacobs, is oortuig van musiek se voordele vir denkvaardighede. "Dis nie net dat kinders selfvertroue, dissipline, geduld en tydsbestuur leer nie," sê sy. "As jy musiek maak, soek jy patrone, jy leer om verskille raak te sien en jy werk in 'ritmiese brokke' wat met wiskundige funksies verbind kan word."

Maak emosionele musiek

Emily Achieng' Akuno, medeprofessor in musiekopvoeding aan die UKZN, glo ook musiek kan wiskundige vermoë verbeter. "Ek dink ons brein verwerk musiek en wiskunde op dieselfde manier," sê sy. "Wiskunde en musiek gebruik ook albei logika, opeenvolging, volgorde en patrone."

Maar die eintlike voordele van musiek is emosioneel, sê Emily. "Dis 'n veilige, kreatiewe uitlaatklep vir energie en emosies. Dis 'n kulturele ervaring, 'n mensereg!" Dis waarom sy glo elke kind moet musikaal ontwikkel word.

Volgens Emily lyk dit asof die skakel tussen musiek en emosie vroeg in die menslike ontwikkeling gesmee word. Babas begin in die baarmoeder op musiek reageer. Ná geboorte word hulle gestreel deur hul ma se hartklop, haar wiegeliedjies, en in die ou dae haar ritmiese bewegings terwyl sy stap of mielies maal met hulle op haar rug vasgebind.

"Elke kind is musikaal – musiek is 'n aangebore deel van ons wat ons moet uitdruk," sê Emily. Ons moet dus nie vir ons kinders musiek laat leer net omdat ons glo dit help in die wiskunde- of taalklas nie, sê Jeff. Kinders moet musiek leer vir pure lekkerte en omdat dit estetiese, kreatiewe, emosionele en sosiale voordele het. "As die wiskundige voordele bewys word, sal dit bloot die kersie op die koek wees."

Die eerste toonleer

"Hoe vroeër kinders musiek begin leer, hoe beter," sê Emily. Sommige musiekprogramme – soos Kindermusik, 'n internasionale program waar musiek aan kinders gespeel word terwyl hulle beweeg, sing en op maat tik – word van geboorte af aangebied.

"Pasgeborenes kan gemasseer word terwyl musiek gespeel word – dit stimuleer hul senuweestelsel," sê Heidi Twilley, direkteur van Kindermusik Suid- Afrika in Johannesburg. "Later kan musiek ingespan word om begrippe soos syfers, kleure, vorms en letters te versterk deur liedjies daaroor te sing en musiekspeletjies te speel."

Emily en Janet sê albei alle ouers kan hul kinders musikaal stimuleer bloot deur hulle aan te moedig om te sing, te dans en eenvoudige instrumente (soos ratels, kastroltromme en tuisgemaakte kitare) by die huis te bespeel.

Wanneer jy met formele lesse moet begin, hang af van jou kind se natuurlike musikale vermoë, belangstelling, emosionele rypheid en akademiese vaardighede. "Dis gewoonlik geldmors om hulle voor sewe of agt jaar oud te laat begin," sê Janet.

Die meeste onderwysers wil hê kinders moet bladlees, wat beteken hulle moet al basiese lees- en skryfvaardighede onder die knie hê. Hulle moet lank genoeg kan konsentreer en genoeg van syfers weet dat hulle begrippe soos die aantal maatslae per minuut kan verstaan.

Daarom sal musieklesse vir piepklein kinders nie noodwendig van hulle piepklein wonderkinders maak nie. Trouens, volgens die nasionale vereniging vir musiekonderwysers van Amerika kan sommige agtjariges binne twee maande baasraak wat vyfjariges in twee jaar leer.

"Teen agt jaar oud weet kinders ook van roetine en tuiswerk en is hulle onafhankliker," sê Liezl-Marét.

Nie vandag se kind nie

Musiek val gelukkig in die "liewer laat as nooit"-kategorie van dinge wat 'n mens kan leer en doen. "As jy laat begin, kan dit 'n bietjie langer duur om instrumente te leer bespeel wat handvaardigheid vereis," sê Liezl-Marét. "Dis miskien dus te laat om 'n konsertpianis te word, maar ouer kinders kan steeds pret hê deur te speel en dit sosiaal gebruik om vriendskappe en selfvertroue te bou."

Dieselfde geld vir jou, die ouer: As jy nog nooit musiek probeer maak het nie, is dit nooit te laat om te begin nie. As volwassenes instrumente leer bespeel en musiek maak, kan dit 'n deel van die brein van vooraf "instem", sê die neurowetenskaplike Norman Weinberger in The Auditory Cortex*. En die voordele kan selfs op jou oudag aansienlik wees – as jy musiek speel, word verbindings in die brein gestimuleer en kan dit die vordering van demensie vertraag.

"Ek self kry net soveel uit die musieklesse soos die kinders wat ek onderrig," sê Janet terwyl klein Inge voortspeel. "Hulle inspirer my regtig!"

Haar inspirasie laat haar voortdurend nuwe stukke vir haar leerders skryf. Sy het ook verlede jaar saam met studente verskyn in 'n BBC- dokumentêre program deur die Britse komponis en musiekambassadeur Howard Goodall oor sangonderrig in Suid-Afrika. Soos Goodall dit stel: "Ek dink musiek is in die bloed van hierdie mense."

Maar miskien is dit meer in die kol om te sê dat musiek in ons almal se bloed is.

Lees meer:

Is jou kind musikaal?

Kies jou kind se instrument

Die Mozart-mite

* The Auditory Cortex, deur Jeffery Winer en Christoph Schreiner. Uitgegee deur Springer.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

The debate continues »

Working out in the concrete jungle 7 top butt exercises for guys 10 things pole dancing can do for you

The running vs. walking debate

There are many different theories when it comes to the running vs. walking for health and weight loss.

Veganism a crime? »

Running the Comrades Marathon on a vegan diet Are vegans unnatural beasts? Can a vegan be really healthy?

Should it be a crime to raise a baby on vegan food?

After a number of cases of malnourishment in Italy, it may become a crime to feed children under 16 a vegan diet.