advertisement
12 April 2010

Volwasse aandaggebrek

Volwasse aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteurnis is 'n toestand wat verhoudings verwoes en loopbane kelder.

0

Volwasse aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteurnis is 'n toestand wat verhoudings verwoes en loopbane kelder – en tog kry die meeste mense nie behandeling daarvoor nie omdat dokters dit omtrent altyd miskyk. Is jy dalk 'n lyer?
Deur JOAN VAN ZYL en DANéL BLAAUW

 

 Beantwoord gou dié vrae:

  • Sukkel jy dikwels om 'n projek finaal af te rond nadat jy klaar al die lekker uitdagende dele voltooi het?

  • Sukkel jy om jou gedagtes agtermekaar te kry as jy iets moet doen wat organisasie verg?

  • Vergeet jy dikwels afsprake of verpligtinge?

  • Is jy geneig om take wat baie dinkwerk vereis te vermy of uit te stel?

  • Is jy geneig om te vroetel terwyl jy sit?

  • Voel dit dikwels of jy rooimiere het en net wil uitstorm en dinge gaan doen, amper asof 'n enjin jou aandryf?

Dié vraelys is gebaseer op 'n selftoetsie wat die Wêreldgesondheidsorganisasie ses jaar gelede opgestel het. As jy ouer as 18 is en op vier of meer van die vrae ja geantwoord het, is daar 'n kans dat jy aan 'n toestand ly wat volwasse aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteurnis (AGHS) genoem word.

Volwasse AGHS? vra jy. Is AGHS dan nie iets wat net kinders tref nie?

Dis wat navorsers tot taamlik onlangs nog geglo het, maar vandag weet ons AGHS kan jou tot in die gryse ouderdom agtervolg. Tot 60% van kinders met aandaggebrek en/of hiperaktiwiteit sleep die toestand saam in hul grootmensjare in.

Toe 'n sielkundige tien jaar gelede vir Daniël du Toit* (50), 'n Kaapstadse rekenaarprogrammeerder, vertel hy het dalk AGHS, het hy gedink sy het die kat aan die stert beet.

In daardie stadium het Daniël reeds twintig jaar lank van sielkundige na sielkundige geswerf in 'n poging om vas te stel hoekom sy lewe en loopbaan nie op dreef kom nie.

"Ek het al op skool agtergekom iets is nie pluis nie," vertel hy. "In die laerskool het ek altyd goed gevaar, maar later het my punte getuimel sodra ek onder stres was, byvoorbeeld met die skuif na die hoërskool."

Op universiteit het hy éérs vasgebrand. Al was hy baie slim, kon hy glad nie aan die studeer kom nie. "Ek sou opspring en gaan tee maak, terugkom en 'n sin lees, en dan weer iets anders vind om te doen."

Eksamenstres het hom 'n paar keer byna laat opskop.

Hy het raad by die studentevoorligter gaan soek, maar dié kon glad nie vasstel wat skeel nie. Uiteindelik het hierdie begaafde man vier jaar lank studier om sy driejaar-graad te voltooi.

Ná universiteit het hy in personeelbestuur beland, waar hy goed gevaar het – tot hy bevorder is en 'n rits nuwe verantwoordelikhede bygekry het. Dit het hom so gespanne gemaak dat hy die werk nie meer kon verduur nie. Ná 'n paar sessies by 'n beroepsvoorligter en 'n sielkundige het hy besluit om rekenaarprogrammering te beproef.

"Met die programmeringseksamen het die meeste mense lank voor vyf al klaargemaak, maar ek het tot nege-uur die aand daar gesit," vertel hy.

Hy het sy nuwe werk geniet, maar sy toesighouer het gereeld gekla dat hy stadig werk. "My gedagtes het bly dwaal, of ek sou in 'n heeltemal onbelangrike deel van die werk verdiep raak en al my tyd daaraan wy."

Hy het vir die soveelste keer gaan hulp soek en by verskillende sielkundiges aangeklop. Uiteindelik het een van hulle besef sy probleem is AGHS en al wou hy haar nie glo nie, het hy haar raad gevolg en Peter Collis, 'n Kaapstadse kliniese sielkundige wat in AGHS spesialiseer, gaan spreek.

"Peter het my aangesê om alles wat my pla, te gaan neerskryf. Toe ek met die lysie terugkom, het hy hulle een vir een afgemerk: elke enkele een 'n simptoom van volwasse AGHS.

"Twintig jaar nadat ek begin hulp soek het, is ek uiteindelik gediagnoseer. Dit was 'n ongelooflike verligting, 'n aha-oomblik."

Hoewel hy erken dis steeds 'n opdraande stryd, hou hy nou al tien jaar lank sy toestand in toom met medikasie, leefstylaanpassings en sessies af en toe by Peter of 'n psigiater.

Idols-finalis

Die Idols-finalis Graeme Watkins (27) en sy 24-jarige verloofde, Kim Coppen, was gelukkiger.

Hulle is albei jonk-jonk met AGHS gediagnoseer en kon dus van kindsbeen af vaardighede ontwikkel om dit te bowe te kom.

AGHS loop in haar familie, sê Kim. Ma Margie, pa Trevor en haar broers, Neil en Greg, is almal lyers.

Skool was vir Kim en Graeme moeilik. Van die ander kinders het hulle dikwels afgeknou en as "dom" uitgekryt.

Graeme se ouers het geweier dat hy AGHS-medikasie soos Ritalin neem, maar Kim het tot in gr. 12 Ritalin gedrink en kan vandag daarsonder klaarkom.

Sake het verbeter toe Graeme ná skool met teateropleiding begin, want hy het 'n passie vir musiek en drama.

"Mense met AGHS fokus goed op dinge waarop hulle versot is," vertel hy.

Graeme is hiperaktief en terwyl ons gesels, kriewel hy elke nou en dan ongemaklik op sy stoel rond. Sy oë dwaal en sy voet klop liggies op die grond.

Soos baie volwasse AGHS-lyers is hy 'n byna obsessiewe perfeksionis. So maak hy seker sy AGHS knou nie die gehalte van sy werk nie.

Bestuur toestand

Hy drink steeds nie medikasie nie, maar probeer sy toestand beheer deur 'n streng lae-GI-dieet te volg en elke dag in die gimnasium te oefen om van oortollige energie ontslae te raak.

'n Verhouding met 'n AGHS-lyer is op sy beste uitdagend en 'n mens staan verstom om te hoor hoe die twee hul verhouding al sewe jaar lank laat werk.

AGHS-lyers is geneig om emosioneel te oorreageer, vertel Kim. "Ons is dus baie versigtig met wat ons vir mekaar sê. As ons stry, weet ons hoe ver ons kan gaan."

Selfs slaapreëlings is 'n uitdaging. Soos baie mense met AGHS is Kim sensitief vir lig, terwyl Graeme (ook tipies van mense met AGHS) 'n slaapversteuring het en nie aan die slaap kan raak sonder om TV te kyk nie. Dus slaap sy met 'n oogmasker en oorpluisies terwyl hy op sy skootrekenaar na 'n DVD kyk. Elke aand sit hy dieselfde DVD op – Die Hard 4. Want as dit een is wat hy nog nie gesien het nie, sal hy tot die einde kyk en dan maklik deurnag wakker bly.

Uitdagings

Graeme en Kim weet hulle was baie gelukkig om as kinders gediagnoseer te word. Want as AGHS jou stilweg tot in jou grootmensjare agtervolg en dit word nie herken nie, kan dit verwoestend wees.

Mense met volwasse AGHS se lewe is baiekeer soos 'n slagveld waar loopbane en verhoudings op 'n streep sneuwel.

Dis omdat die grootste teken van volwasse AGHS 'n gebrek aan beheer oor jou eie lewe en optrede is, sê Peter. Daar is drie hoofsimptome:

  • Aandaggebrek – jy kan nie konsentreer of fokus nie en vergeet dinge.
  • Impulsiwiteit – jy reageer sonder om te dink en jou emosies regeer jou verstand.
  • Hiperaktiwiteit – jy kan nie stilsit nie en moet beweeg. As jy moet sit, kriewel jy en tik met jou voet.

Lyers het nie noodwendig al drie simptome nie. Baie mense soos Daniël en Kim het aandaggebrek sonder die hiperaktiwiteit, die soort AGHS wat dikwels net aandaggebreksteurnis (AGS) genoem word.

Hoe weet jy dis AGHS?

Volwasse AGHS kan baie doeltreffend behandel word, maar dokters kyk die toestand ongelukkig op 'n massiewe skaal mis, sê dr. David Benn, 'n kinderpsigiater van die ADDNova-kliniek in Johannesburg.

Hulle sien die tipiese komplikasies van AGHS raak soos depressie of angstigheid en nie die onderliggende probleem nie.

Navorsers werk tans aan 'n volledige lys simptome van volwasse AGHS. Hieronder is intussen 'n paar tipiese patrone wat hulself in die lewe van lyers herhaal, maar onthou dat ons almal soms van hierdie simptome toon. Om met AGHS gediagnoseer te word, moet jy dit aanhoudend en oor 'n lang tydperk ervaar. Dit moet jou verhinder om normaal te funksioneer, sê Peter.

'n Mens kan nie AGHS eers as volwassene ontwikkel nie; jy dra dit van kleintyd af met jou saam, voeg David by.

  • Voel jy maklik emosioneel oorweldig?
    AGHS-lyers word "sonder 'n dop" gebore, sê Peter. Die kleinste dingetjie kan 'n enorme emosionele reaksie ontlok. Dis dan asof die emosie jou hele wese oorneem en jy kan dit nie in perspektief sien, opsyskuif en met jou dag aangaan nie.

    Lyers het ook min emosionele en sosiale intelligensie en sukkel om ander se emosionele boodskappe te lees.
  • Sukkel jou verhoudings?
    Omdat 'n lyer so impulsief is, verloor jy maklik jou humeur, luister nie na ander nie, praat voor jy dink en kommunikeer oor die algemeen nie goed nie, sê Peter. Dis alles slegte nuus vir jou menseverhoudinge.
    Mense wat laat met AGHS gediagnoseer word, het dikwels al 'n egskeiding of twee agter die blad. Hulle sal ook dalk halsoorkop 'n verhouding beëindig of 'n affair aanknoop.
  • Ly jy aan depressie of angstigheid?
    Die meeste mense met AGHS ly ook aan een of meer ander toestande, veral angstigheid en depressie.
    Ander toestande wat dikwels met AGHS gepaard gaan, is bipolêre versteuring, slaapversteurings, obsessief-kompulsiewe neurose en dwelmmisbruik.
    Geen wonder dus dat dokters AGHS so maklik miskyk nie. As jy van depressie kom kla, gaan jou dokter jou daarvoor behandel en waarskynlik nie by die onderliggende AGHS uitkom nie.
  • Kom jou loopbaan nie op dreef nie?
    As jy AGHS het, is jy waarskynlik dikwels laat, jy sukkel om te prioritiseer, jy stel belangrike take uit en haak vas op onbelangrike detail en dis vir jou onmoontlik om georganiseerd te werk. Lyers se produktiwiteit is dikwels baie laag omdat hulle so stadig werk en vir hul tekortkominge probeer vergoed deur perfeksionisties te wees.
  • Misbruik jy alkohol of dwelms?
    Baie lyers misbruik dwelms, voorskrifmedisynes of alkohol, sê David. Soms is dit omdat dwelms die stimulasie verskaf waarna hulle so dringend op soek is, en soms is dit omdat dit depressie en angstigheid teenwerk.
    Van die kritiek wat partykeer teen Ritalin gerig word, is dat dit lyers dwelmafhanklik kan maak. Die nuutste navorsing wys egter die teenoorgestelde is waar: Die risiko dat jy van dwelms afhanklik sal raak is veel groter as jou AGHS onbehandel bly as wanneer jy van vroeg af medisyne daarteen gebruik.
  • Raak jy gou verveeld?
    Die meeste mense hou nie van alledaagse, vervelige sleurtakies nie, maar mense met AGHS het 'n volslae afsku daarin, sê Peter. Dis een van die redes waarom iemand met AGHS se huis dikwels baie deurmekaar is!
    Maar gee hom 'n onderwerp wat hom interesseer en hy konsentreer sonder moeite daarop.
    Verveling en AGHS is glad nie maats nie. Dis waarom lyers dikwels met nuwe projekte soos 'n stokperdjie of selfs 'n loopbaan wegspring, maar dit nie klaarmaak nie.
  • Kry jy baie spoedkaartjies of maak jy motorongelukke?
    Mense met hiperaktiwiteit is lief vir spoed en ry dikwels te vinnig. Mense met aandaggebrek sukkel om op die pad te konsentreer.
  • Funksioneer jy sleg as baie dinge gelyk van jou verwag word?
    Soms funksioneer lyers heeltemal goed op kantoor tot hulle die dag bevorder word – dan kan hulle glad nie al die balle in die lug hou nie. Dieselfde kan gebeur met ouers. 'n Ma met AGHS kan dalk haar eerste kind goed hanteer, maar as 'n tweede bykom, dreig sy om 'n ineenstorting te kry.
  • Het jy familielede met AGHS?
    AGHS loop in families. As jy dit het, is die kans baie groot dat van jou medespruite ook daaraan ly. Baie volwassenes besef juis hulle het AGHS nadat hul kinders daarmee gediagnoseer is.

* Skuilnaam

Lees meer:
Oorlewingswenke vir AGHS-lyers
Kry hier hulp

 (Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

ADHD Condition Centre

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.