Share

Vergewe jouself

Ek sit saam met drie vroue op die stoep van ’n ou strandhuis wat my vriendin Cornel se pa met gladde spoelklippe gebou het. Ons kyk uit oor die baai wat glinsterend voor ons uitgestrek lê. Op die strand speel twee honde. Hulle jaag mekaar in die vlak branders dat hul tonge skoon uithang. Dit lyk of hulle lag en volkome sorgvry is.

Uit die huis kom Edith Piaf se stem aangedraal: “Non, je ne regrette rien . . .” Ek dink dit is die lied wat Cornel laat sê: “Ek verlang na my ma. En ek voel skuldig.”

En so begin ’n lang en intense gesprek daar op die stoep.

“Toe ek in die laerskool was, het ek een middag by die huis gekom en my ma in die kombuis gekry waar sy gebukkend voor die stoof staan. Ek onthou dit skielik so helder. Haar oranje kaftan. Haar hare in ’n bolla met ’n mooi houtkam daarin gesteek.”

Ek was woedend

En toe, vertel Cornel, die laatlam, het sy op haar ma, ’n vrou in haar laat middeljare, begin skree.

“Ek het vir haar geskree ’n mens maak nie samoesas so gaar nie. Maar dit het nie oor die samoesas gegaan nie. Ek was woedend omdat ek gedink het sy het weer gedrink. Sy het verbaas, seker eintlik geskok, na my gekyk en orent gekom.

“Sy wou my verras met die samoesas omdat sy geweet het hoe baie ek daarvan hou, het sy gesê en weggedraai. Dit onthou ek goed – dat sy weggedraai het. Want in die middel van haar rug was ’n groot oranje son. Daardie son het haar die kaftan laat koop. Sy het so baie daarvan gehou; wanneer sy die kaftan dra, voel sy stralend, het sy altyd gesê.”

Cornel bly stil en kyk weg van ons drie na die horison. Honderde wit voëls swerm aan die verste ent van die baai bo die see.

Ek het haar ma geken en daarom weet ek hoe baie Cornel soos sy lyk. Veral haar oë, wat nou vol trane is, is haar ma s’n.

Oortrokke rekening

“Skuldgevoelens is soos ’n oortrokke rekening wat al hoe groter raak. Op ’n dag vergewe jy jouself en maak daardie rekening skoon,” sê Cornel en vee oor haar gesig.

Ek knik, maar vra nie of sy dit al reggekry het nie. Een ding is duidelik: Sy kan nie saam met Piaf sing daar is niks waaroor sy jammer is nie.

Janet, die kunstenaar, neem ’n sluk witwyn en sit haar glas stadig neer. Uit die manier waarop sy na Cornel draai, kan ek sien sy gaan ook iets met ons deel. Sy is ’n Engelse vrou wat grootgeword het in ’n lowerryke voorstad van Kaapstad, in die skadu van Duiwelspiek.

Op ’n dag toe sy sewe of agt jaar oud was, vertel sy, het sy ’n muntstuk uit die ronde wit porseleinhouer op haar ma se spieëltafel gevat.

“Ek het na die kafee naby ons huis gegaan en piesanggeur-Sunrise-toffies gekoop met daardie munt wat vir my soos ’n randstuk gelyk het. ’n Dag of wat later het my ma na haar muntstuk begin soek. Toe sou ek agterkom wat ek gedink het was ’n randstuk, was eintlik die een of ander baie waardevolle munt wat sy by haar ouma geërf het.”

“En wat het toe gebeur?” vra ek. “Het jy haar vertel?”

“Nee,” sê Janet, “ek het haar nog tot vandag toe nie vertel ek het haar erfstuk gesteel nie.” Gesteel. Sy gebruik dié woord nou die eerste keer. Netnou was dit “gevat”.

Geweldig verstrooid

Op die strand het die honde vir ’n visserman begin blaf Hulle sal hom nie byt nie, maar Cornel skreeu nietemin: “Venus! Crystal! Kom hier!”

Dit is oor twee dae haar seun, Caspar, se verjaardag, sê Olivia met die vriendelike bruin oë. Verlede jaar toe hy sewe geword het, het hulle sy verjaardag vergeet.

“Ons het die middag by vriende gekuier en toe vra die vrou: ‘Maar is dit nie vandag Caspar se verjaardag nie?’ Ek en my man het geskok na mekaar gekyk. En toe na Caspar. Hy het in trane uitgebars en gesê: ‘julle het my verjaardag vergeet!”

Olivia en haar man het vir Caspar gesê hoe jammer hulle is en dat hulle hom baie liefhet, maar net geweldig verstrooid is.

“Nee, julle is lui!” het hy geskree.

Olivia lag terwyl sy dit vertel. Sy voel nie meer skuldig nie.

Dooie gewig

“Skuldgevoelens dien geen doel nie. Dis ’n dooie gewig wat jy saam met jou ronddra. As jy aanhou skuldig voel oor iets waaraan jy niks kan doen nie, is dit soos om teen jouself arm te druk. Ek doen dit nie meer nie.”

Daardie aand maak ons ’n groot vuur op die strand voor die huis, want dit is Oujaarsaand.

“Kom ons gooi elkeen iets in die vuur,” stel Cornel voor. Dit is nie vir haar nodig om dit te motiveer nie; die gesprek op die stoep is nog vars in elkeen se geheue.

Sy bou met hout ’n figuur wat lyk soos iets tussen ’n stokman en ’n kruis. Sy maak ’n plank in die sand staan en maak ’n tak dwars daaraan vas. Aan die voet van dié figuur pak ons ’n klomp hout.

Die wind waai nie en bo ons is daar ontsettend baie sterre. Omdat ons nie in die stad is nie, kan ons die Suiderkruis sien. En Orion met sy gordel van drie blink sterre. Ons staan met ons rûe na die huis waar ons vroeër sit en gesels het. Agter die brandende figuur, wat mettertyd deur die vlamme omvorm word dat dit lyk soos ’n vrou met uitgestrekte arms, is die see donker maar rustig. Dis laagwater.

Afskeid

Olivia gooi ’n almanak in die vlamme. Sy is al weer besig om te lag terwyl sy kyk hoe die maande een na die ander opkrul en deeltjies van die afgelope jaar in die lug warrel.

Dit is nie dadelik duidelik wat Cornel in haar hand het nie. Dit is klein en donker. Oomblikke nadat sy dit in die vuur gooi, is daar ’n heerlike reuk om ons. Sy het ’n stuk met brandewyn-deurdrenkte vrugtekoek in die vlamme laat opgaan.

Janet het na ons gesprek ’n hele ruk in haar kamer aan die bergkant van die huis deurgebring. Sy het in tekening gemaak wat sy nou vir ons wys: ’n groot blou munt met haar gesig in pro?el daarop. Ek is onthuts toe die afbeelding wat sy van haarself gemaak het binne ’n oogwink verteer word. Sy kan dit sien en raak aan my hand.

Toe ek die ou geel katoenserp van my nek afhaal en na die vlamme toe uithou, neem ek afskeid van iets wat ek nie met hulle gedeel het nie.

Deur Murray La Vita

 

Raak ontslae van skuldgevoelens

Skuldgevoelens is intense, negatiewe emosies wat jou depressief kan laat voel en jou verhoudings met mense benadeel. Jy kan vir altyd daarvan ontslae raak.

 Soms doen 'n mens werklik iets ysliks verkeerd en behoort groot skuldgevoelens aan jou te knaag tot jy die saak regstel. En soms het jy skuldgevoelens oor iets onbeduidends.

Of jy nou met of sonder rede skuldig voel, dis dalk tyd om van dié afbrekende gevoelens ontslae te raak. Hier is enkele riglyne wat jou kan help om skuldgevoelens af te skud.

Sit jou skuldgevoel in woorde om

Verduidelik vir jouself, jou terapeut of iemand wat jy vertrou, presies waaroor jy skuldig voel. Omdat skuld gewoonlik iets is waaroor ons skaam kry, is ons geneig om dit nie met ander te deel nie. So kan dit maklik sneeubal tot ’n oorweldigende ervaring en selfs ’n groot geheim word. Sodra jy die geheim met iemand gedeel het, kan dit makliker hanteer word.

Vra jou af hoekom jy deur die spesifieke ervaring van skuld vasgevang is.

Voel jy werklik skuldig oor dit wat jy gesê of gedoen het, of manipuleer iemand jou? Is die een teenoor wie jy skuldig voel, dalk iemand wat in ’n stadium baie goed was vir jou, teenoor wie jy nie ’n negatiewe standpunt "mag" inneem nie? Hou jou skuldgevoel verband met iets in jou verlede?

Soms is dit nodig om self of saam met ’n professionele persoon te delf in die oorsprong van ons skuldervarings. Dan word patrone duidelik.

Ontleed jou skuldgevoel

Dit is belangrik om te besef dat, hoewel ons emosies waar en eg is, dit nie noodwendig op logiese, rasionele feite gegrond is nie. Juis emosies wat uit irrasionele denke spruit, word intens negatief ervaar. Vra jouself dus ’n paar vrae, soos: Is dit wat ek dink wel die waarheid? Kan ander mense bevestig dat dit rasionale feite is?

Vergelyk byvoorbeeld dié redenasie: "Ek is ’n slegte dogter vir my ma, ek sal haar nooit tevrede stel nie!" met die volgende: "Ek probeer goed wees vir my ma, maar ons verskil baie en sy sal dus soms teleurgesteld wees oor my besluite.”

’n Mens sê soms: “Dit is die verskriklikste ding wat ek kon gedoen het!” Maar is dit regtig so verskriklik, of net ongewens?

Vind vergifnis

Jy kan jou skuld op verskeie maniere konfronteer, maar verkieslik nie deur dit te ignoreer nie. Die konfrontasieproses gaan omtrent altyd daarmee gepaard dat jy jouself vergewe. Dis nodig om aan jouself te erken dat dit menslik is om foute te maak en dat jy nie altyd die slagoffer van 'n fout hoef te bly nie. Die samelewing plaas ’n hoë premie op straf, daarom dink ons dikwels verkeerdelik dat ons onsself op die een of ander wyse moet straf om vergifnis te ervaar.

Soms, as jy wil, kan dit jou help om te praat met die persoon teenoor wie jy skuldig voel sodat julle jul verhouding kan herstel. As die situasie te bedreigend is, kan jy 'n fasiliteerder gebruik om die spanning te ontlont en die gesprek te lei.

Ons mag oor ons skuld huil, praat en dink – en dan mag ons die emosionele bagasie aflaai met die besluit om dit nooit weer op te tel nie!  

 Deur dr. Magdel Alberts, kliniese sielkundige

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE