Share

Opgevreet deur jaloesie?

Jy is saam met jou metgesel by 'n personeelfunksie en jy sien hoe een van sy voulike kollegas met haar vinger sy arm streel. Jy kan voel hoe jou bloeddruk styg, jy draai in die middel van 'n sin jou rug op die persoon met wie jy praat, en jy wil die vrou met alle geweld voor almal te lyf gaan. Op die ou end skink jy maar vir jou 'n stywe dop – maar hy gaan les opsê in die motor op pad huis toe, dis vir seker!

Die foon lui by die huis en 'n onbekende manlike stem vra om met jou meisie te praat – en dit is duidelik dat hulle mekaar ken. Hang jy rond en luister na elke woord en neem haar agterna onder kruisverhoor, of is jy seker genoeg van haar om te aanvaar dis 'n heel onskuldige gesprek en hou aan TV kyk? Per slot van rekening, as daar enigiets was om oor bekommerd te wees, sou hy haar beslis nie by die huis gebel het nie.

Wat is jaloesie en hoekom voel ons so?

Jaloesie, volgens die woordeboek, is 'n verterende afguns, 'n agterdogtige wraaksugtigheid en besitlikheid wat ons ervaar wanneer ons dink ons verhouding, ons status in die lewe, ons vriendskappe of ons besittings word bedreig. Dit is ook wat ons voel wanneer ons dink iemand gaan beter as ons vaar in een of ander wedywering.

"Jaloesie is 'n baie natuurlike emosie," sê Ilse Pauw, 'n sielkundige van Kaapstad. "Mense raak baie geheg aan dinge en mense wat hulle as 'n noodsaaklike aspek van hulle geluk en welsyn beskou. 'n Mens kan dit heeltemal verstaan. Maar wanneer hierdie jaloesie, veral op 'n metgesel, te erg raak, is dit dikwels juis die ding wat die ander persoon wegdryf – net mooi die teenoorgestelde van wat hy of sy eintlik wou hê."

"Partykeer is jaloesie verstaanbaar, byvoorbeeld wanneer iemand deur 'n vorige metgesel verkul is, of indien dié persoon se ouers ontrou aan mekaar was. Hierdie jaloesie spruit dus uit die vrees dat iets uit die verlede weer kan gebeur, en 'n onvermoë om gebeurtenisse uit die verlede van 'n huidige situasie te onderskei."

Wat veroorsaak oormatige jaloesie?

"Vrees, onsekerheid en 'n lae selfbeeld," sê Pauw. "Dit is wanneer iemand voel hulle verdien hulle metgesel nie regtig nie dat hulle begin uitkyk vir tekens van verwerping. Hulle verhouding is hul hele lewe en hulle kan nie sien hoe hulle daarsonder kan klaarkom nie, wat beteken dat hulle jaloerse gedrag deur die vrees vir verlating aangedryf word."

Jaloesie 'n afbrekende emosie

"Jaloesie is eintlik 'n baie afbrekende emosie. Om jaloesie te ervaar, hou geen voordele in nie. Dit isoleer die lyer wat neig om al hoe meer oplettend en agterdogtig te wees oor allerhande denkbeeldige oortredings. Jaloesie verander hierdie gedagtes in 'n self-vernietigende marteling. Dit is moeilik om 'n betekenisvolle verhouding met iemand te hê wat die hele tyd agterdogtig is oor alles wat jy doen, en daarom word metgeselle baie dikwels deur juis hierdie gedrag weggedryf."

"Dit is nie aangenaam wanneer jy konstant op jou hoede moet wees om uitbarstings te vermy nie. Jou vriendelike glimlag vir die 70-jaar-oue slagter op die hoek word met agterdog bejeën en om verdere uitbarstings te vermy, hou jy maar op om te glimlag. Jou vrou ontplof wanneer jy met 'n voormalige kollega in die Poskantoor praat, dus knik jy die volgende keer net jou kop."

Wat om te doen as jy deur jaloesie gemartel word

Wees eerlik met jouself. Het jy 'n geskiedenis van moeilike verhoudings vol drama en verraad? Word jy gemartel deur jaloesie en onsekerheid? As daar 'n herkenbare patroon in jou verhoudings is, mag jy hulp nodig hê om in die toekoms gesonder keuses te maak.

Sukkel jy met 'n lae selfbeeld? As jy die hele tyd voel jy is nie goed genoeg vir jou metgesel nie en dat hy of sy jou vir iemand anders gaan verlaat, moet jy miskien aan jou selfbeeld werk. 'n Lae selfbeeld is nie 'n voordeel in enige verhouding nie. Jou selfbeeld kan nie binne 'n verhouding verbeter word nie – jy moet dit op jou eie, met die hulp van 'n terapeut, doen.

Het jy geen lewe van jou eie nie? As jy voel jou hele lewe berus op hierdie verhouding en die dinge wat julle saam doen, moet jy aandag aan jou eie lewe begin gee. Ontwikkel belangstellings buite die verhouding, herontdek ou vriendskappe en begin nuwe stokperdjies. Aanvaar dat jy ook 'n lewe buite jou verhouding het. As jy te afhanklik van jou metgesel is, sal dit nie lank vat voor jy hom of haar benoud laat voel nie.

Aanvaar dat oormatige jaloesie ongesond is. Jaloesie is bloot 'n simptoom van ander ernstiger onderliggende probleme. Terwyl 'n ligte graad van jaloesie normaal is, is dit problematies wanneer jy obsessief raak of wanneer jy jou metgesel met 'n valkoog begin dophou en hom of haar byvoorbeeld sonder rede begin agtervolg. Dit dui op 'n gebrek aan vertroue en 'n definitiewe dosis paranoia aan jou kant. Jy het moontlik hulp nodig.

Oorweeg 'n nuwe lewe. Jou huidige metgesel is dalk nie die regte een vir jou nie. Miskien het jy tyd alleen nodig om dinge uit te werk. Jy sal nie doodgaan as hierdie persoon nie meer deel van jou lewe is nie, selfs al voel dit op hierdie stadium van jou lewe so.

My metgesel is te jaloers. Dit kan jou lewe in 'n lewende hel omskep. Gaan vir paar-terapie en kyk of julle dinge kan uitsorteer. As jy voel jy raak toenemend geïsoleer terwyl jou paranoïese metgesel jou dophou, is dit miskien 'n goeie idee om 'n ontsnaproete te beplan. Wees egter versigtig, want dit is op hierdie punt dat baie jaloerse metgeselle gewelddadig raak. Moenie die bom laat bars sonder die ondersteuning van familielede of vriende nie, veral nie as daar 'n geskiedenis van geweld in jou verhouding is nie. Gaan skuil by familie en maak seker dat sekuriteit by die werk nie jou eks inlaat nie.

(Susan Erasmus, Health24, hersien November 2011) 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE