Share

Omstredenheid oor Bipolêr in SA

Die nuus dat groot name soos Catherine Zeta-Jones en Demi Lovato aan bipolêre versteuring ly, het die kritiek ontlont dat hierdie toestand oorgediagnoseer word.

"Dit lyk asof almal deesdae met bipolêr gediagnoseer word," meen party mense. "Bipolêr is die nuutste mode" of "net 'n verskoning vir slegte gedrag".

Bipolêre Gemoedsversteuring (BGV) is 'n ernstige geestesversteuring wat gekenmerk word deur uiterste bui-, energie- en funksionering-skommelings. Ongeveer 1% van die bevolking word met  Bipolêr 1, en tot 6% met bipolêre spektrum-versteuring gediagnoseer, waarvan Bipolêr II een is.

Is dit waar dat  BGV oorgediagnoseer word?

Zane Wilson, stigter van SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie en Angstigheid Groep), voel dat hierdie opvatting ongegrond is.

"Ek dink daar is 'n aantal dinge wat bygedra het tot die siening dat bipolêr 'n 'modegier' is," sê Wilson.

"Eerstens het dit die afgelope tyd heelwat meer publisiteit en 'n hoër profiel, sowel plaaslik as ook onder internasionale beroemdes, geniet. Só het die woord bipolêr en selfs die volledige naam van die siekte meer bekend geword."

Die toestand was voorheen bekend as 'maniese depressie'. Wilson sê dat die naamverandering na 'bipolêre afwyking' dit ook vir baie mense makliker maak om te erken dat hulle die toestand het, omdat hulle nie met die term 'manies depressief' geassosieer wou word nie.

Alhoewel die moontlikheid bestaan dat bipolêr in party gevalle verkeerdelik gediagnoseer kan word, sê die psigiater, Dr. Stefanie van Vuuren, dat dit nie korrek is om te beweer dat dit in Suid-Afrika oordiagnoseer word nie.

"Alle gemoedsafwykings (d.w.s. unipolêre depressie en BGV) word om die waarheid te sê onderdiagnoseer. Daar is verskeie redes vir die onderdiagnose. Pasiënt-faktore sluit in die vermyding van behandeling uit vrees vir stigma en onkunde. Wanneer hierdie dienste wél gebruik word, word simptome dikwels nie voldoende beskryf nie (pasiënte verwar 'siektesimptome' met opvattings soos 'ek is maar net so'). Onderdiagnose vind ook plaas omdat dokters en professionele sielkundiges self nie die subtieler nuanses van die diagnose agterkom nie ('jy sien net dít waarvoor jy soek')."

Navorsing het aangedui dat baie mense tot 10 jaar met die simptome van bipolêre afwyking saamleef voor hulle met BGV gediagnoseer word. Diagnose by kinders en adolessente kan selfs moeiliker wees omdat bipolêre simptome maklik met normale tienergedrag of toestande soos ATHV (aandagtekort-hiperaktiwiteit versteuring) verwar kan word.

Medikasie

"Mense se persepsie van die diagnose, en wat sielkundiges met die diagnose bedoel, is nie altyd dieselfde nie. Die konsep is dat daar 'n sekere persentasie van pasiënte met die simptome van depressie is wat beter vaar met gemoedstabiliseerders (dit word gewoonlik vir die behandeling van BGV gebruik) as antidepressante. As ons na die groep kyk, is daar sekere kliniese karaktertrekke wat hulle van die meer klassieke depressie onderskei. Ons as psigiaters probeer om hierdie subtiele tekens vinniger uit te ken en te diagnoseer," sê Dr. Van Vuuren.

Dr. Pieter Cilliers, 'n psigiater van Kaapstad, vind ook dikwels dat party depressiewe pasiënte (veral dié wat behandeling-weerstandig is) meer positief op 'n behandelingsregime mag reageer, wat met medikasie soos litium en sekere antipsigotiese middels aangevul word, selfs al is hulle nie bipolêr nie. Die gebruik van hierdie medikasie in die geval van depressiewe pasiënte mag bydra tot die indruk dat daar 'n toename in bipolêre afwyking is.

Bipolêre afwyking kwalifiseer ook as 'n voorgeskrewe minimum voordeel (VMV), maar normale depressie nie. Dit beteken dat mediese skemas die koste verbonde aan bipolêre afwyking moet dek. Dit is natuurlik verstaanbaar dat party psigiaters depressiewe pasiënte wat gemoedstabiliseerders gebruik, mag help om só hieruit voordeel te trek.

Diagnose

Bipolêre afwyking word tans volgens die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesafwykings (DSM-IV) gediagnoseer. Die vyfde uitgawe verskyn binnekort.

"Die DSM-V sal binnekort beskikbaar wees en dan sal die huidige 'oordiagnose' debat nie meer 'n kwessie wees nie," sê Dr. Cilliers. In die nuwe uitgawe word gemoedversteurings volgens 'n spektrum geëvalueer. Die DSM-V volg 'n meer dimensionele benadering in teenstelling met die kategorie-benadering van die huidige uitgawe."

Staat versus privaat

Wat die debat in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika verder kompliseer, is sisteem-probleme soos beperkte toegang tot dienste, veral in die landelike- en staatsektore.

"Ek dink nie dit word in die staatsektor onderdiagnoseer en in die privaatsektor oordiagnoseer nie. Dit word eenvoudig oral onderdiagnoseer," sê Van Vuuren.

Sy dink dat die moontlike wanverhouding in die verhouding tussen private- en staatsdiagnoses deur die pasiënteprofiel wat bedien word, verduidelik kan word.

Landelike gebiede bied hulle eie uitdagings. As gevolg van die tekort aan professionele geestesgesondheidswerkers in die land het duisende Suid-Afrikaners nie toegang tot geestesgesondheidsorg nie en wanneer dit wél beskikbaar is, verkies mense om hulp by gemeenskapsleiers of tradisionele helers te soek.

"Daar is 'n groot behoefte aan bewustheid oor bipolêre versteuring in landelike gemeenskappe en townships," sê Lefates Makunyane, senior opleier by SADAG, wat so pas sy opleiding in die platteland van Mpumalanga voltooi het waar toegang tot geestesgesondheidspraktisyns minimaal is.

"Baie pasiënte wat vir individuele berading kom, het nog geen mediese praktisyn oor hulle gevoelens of simptome besoek nie. Party van die redes sluit in dat hulle op hulself kan staatmaak om oor die weg te kom, aangesien die probleme wat hulle ondervind as gewone probleme van die lewe beskou word. Party van die oorsake kan gekoppel word aan trauma (bv. dood, misdaad, geweld en ongelukke) en ander aan armoede-kwessies."

Meer kwaad as goed

Baie bipolêre pasiënte sukkel om die diagnose te verwerk as gevolg van die stigma wat daaraan kleef. Deur te glo dat die toestand oordiagnoseer word, mag baie pasiënte skuldig of 'onverantwoordelik' voel en mag selfs behandeling verwerp.

Hedendaagse behandelingsopsies vir BGV het baie verbeter, inligting is beskikbaar en daar bestaan ondersteuningsgroepe.

"Ek glo nog steeds nie dat die pasiënte die diagnose vermoed of dit verwelkom nie. Dit het nog steeds 'n stigma wat daaraan kleef en is nog steeds vreesaanjaend," sê Wilson.

"Ons mees algemene probleem in ons oproepsentrum is met bipolêre mense wat hulle medikasie gestaak het (óf as gevolg van finansiële probleme óf stigma, óf omdat hulle baie beter voel). Hulle ondervind dan natuurlik 'n geweldige terugslag en het weer hulp nodig, en moet gewoonlik teruggaan na hulle psigiater."

"Dan is daar ook mense in sekere industrieë (musiek, advertensiewese en skrywers) wat hulle siekte byna omhels omdat hulle glo hulle doen hul beste werk wanneer hulle op 'n maniese kruin is.

"Die grootste gevaar van onderdiagnose is dat pasiënte nie die nodige hulp kry wat hulle toestand optimaal sal behandel nie. Psigiatriese simptome het 'n impak op alle vlakke van funksionering, d.w.s. sosiaal, interpersoonlik, akademies of beroep. Dit ontneem pasiënte die geleentheid om hul volle potensiaal te bereik," sê Dr. Van Vuuren.

- Ilse Pauw, Mind Editor, Health24, Mei 2011

Waar om hulp te kry

Kontak die Suid-Afrikaanse Depressie en Angstigheid Groep (SADAG) by 0800 21 22 23 of LifeLine: 011 728 1331/1347; 031 312 2323; 057 357 2746; 021 461 1111.

Lees verder

 A-Z van bipolêre versteuring
Om te praat of nie
Die bipolêre wipplank
Sou Ingrid Jonker vandag geleef het?

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE