advertisement
01 June 2009

Obsessies

Doen ons toets en vind uit of obsessies jou lewe oorheers

0

Baie mense se beheptheid daarmee om dinge oor en oor te doen of na te gaan, is nie normale gedrag nie. Meer as ’n miljoen Suid- Afrikaners, net soos TV-speurder Monk en sokkerster David Beckham, ly aan obsessief-kompulsiewe steuring (OKS). Lewe jy ook in dié irrasionele, geheime wêreld?
Deur die Health24-span

Hy bekommer hom byna dood oor kieme. Hy loop nie kaalvoet nie. Hy kry elke kriesel stof van sy baadjie af, vat nie sonder handskoene aan enige ding nie, gril vir enigiets wat vir hom vuil lyk en is totaal behep met simmetrie.

Hy tel en herrangskik voorwerpe herhaaldelik tot alles presies na sy sin is. Sy obsessies is so oordrewe dat dit aan vervolgingswaan grens.

Nee, dis nie Monk van die TV nie. Of Jack Nicholson se karakter in die fliek As Good As It Gets nie. Dis Johan*. Sy gedrag is nog erger as dié van enige karakter in ’n TV-reeks of fliek.

Ja, bevestig dr. Christine Lochner, kliniese sielkundige van die Universiteit van Stellenbosch se MNR-eenheid vir angs- en stressteurings. “Monk se obsessies en kompulsies is nie bloot uit die duim gesuig of aangedik om vir goeie kykstof te sorg nie.”

Volgens Christine is obsessief-kompulsiewe steuring (OKS) een van die stremmendste psigiatriese toestande en die vierde mees algemene psigiatriese toestand ná depressie, middelmisbruik en allerlei fobies.

Om die waarheid te sê ly tussen 2 en 3 persent van mense aan OKS. Dus kan een uit elke dertig mense wat hierdie artikel lees of wat jy ken, simptome van dié angsversteuring toon. Dit word gekenmerk deur obsessies en kompulsies wat ’n sekere hoeveelheid tyd in beslag neem en ’n goeie dosis angs veroorsaak.

Toets jouself

OKS-toets 1

Pas van die beskrywings hieronder en op die volgende bladsy by jou? Jy kan jou selfs in meer as een van dié beskrywings herken, of jou gedrag kan dalk elemente uit elk van die onderstaande beskrywings bevat.

A. Is jy ’n obsessiewe skoonmaker of handewasser?
As jy oormatig hande was of skoonmaak, al kan g’n ander mens die stof sien nie, ly jy dalk aan die mees algemene vorm van OKS: besmettingsvrese. Die gedrag van die 38-jarige Susan* is ’n goeie voorbeeld. As sy die haarsalon besoek, maak sy eers die stoel met chirurgiese alkohol skoon. Dan vee sy die hele toonbank af.
Sy dring aan op nuwe en skoon haarborsels en handdoeke, was haar hande en vra die haarkapper en sy assistente om asseblief hul hande ook weer te was. Die proses kan tot dertig minute duur – en word herhaal by feitlik elke plek waar sy kom: die werk, haar huis, haar motor, ensovoorts. “Ek besef ek is irrasioneel, maar ek verbeel my ek vóél al hoe die kieme oor my lyf kriewel as ek nie so skoon leef nie,” probeer Susan verduidelik.

B. Is jy ’n kontroleerder?
Kontroleerders of checkers is obsessiewe twyfelaars. Hulle is dikwels bang hulle sal ander mense seermaak of self seerkry deur nie versigtig genoeg te wees nie. ’n Lyer sal byvoorbeeld bang wees hy maak iemand seer terwyl hy bestuur, daarom sal hy telkens omdraai om te gaan kyk of hy nie iemand raakgery het nie.
’n Ander voorbeeld is iemand wat kort-kort gaan kyk of die stoof af is omdat hy bang is hy veroorsaak ’n brand. Die kontrolering lei tot nog meer twyfel en dít lei weer tot nog meer kontrolering. Magda* (50) sê: “Ek het al ’n paar oggende halfpad deur die Gautengse verkeer omgedraai huis toe om te gaan seker maak dat ek die yster afgeskakel het. Ek sal nooit op my dag se werk kan konsentreer as ek nie maar gaan kyk nie.”

C. Is jy ’n simmetrie- of netheidbehepte?
Sommige mense met OKS het die behoefte dat dinge simmetries of presies reg en baie netjies moet wees. Hulle het ook dikwels obsessies oor getalle of ’n tellery. Hulle sal ure bestee om dinge wat eintlik reeds baie netjies is, oor te rangskik of weer reg te trek. “Ek het my al betrap dat ek boeke op my koffietafel regskuif net nadat ’n gas dit neergesit het,” sê Magda.

D.Is jy ’n draaikous?
Weens simmetrie- of netheidsbeheptheid, of obsessionele kontrolering, kan die eenvoudigste take soos tande borsel letterlik ure lank aanhou. Hier praat ons van obsessionele stadigheid.

E. Is jy ’n moreel behepte?
Sommige OKS-lyers ly aan morele en godsdiensobsessies en -kompulsies. ’n Voorbeeld is Dawid*. Hy wroeg ál meer oor gebeurtenisse uit die verlede. “Dit maak my geweldig angstig om te voel dat ek in sommige situasies verkeerd opgetree het en iemand dalk skade aangedoen het. Ek voel verskriklik skuldig, bid ál meer en vra oor en oor vir dieselfde dinge vergifnis.”
Hoewel hy aan die een kant besef hy oorreageer, kan hy net nie die gedrag onderdruk nie. Hy is voortdurend op soek na gerusstelling en maak die mense om hom moeg met sy getorring oor vergifnis. Ook hy is al so gedaan dat hy gesprekke met vriende en kollegas begin vermy. Sy werk begin daaronder ly. Dié dinge gaan al maande, eintlik jare lank aan en word soms ’n bietjie beter, soms baie erger.

Antwoord As die beskrywings in A, B, C, D of E jou eie optrede raakvat, of as jy jou herken in gedeeltes van een of meer beskrywings, is die kans goed dat jy aan OKS ly. Die meeste OKS-lyers het ’n kombinasie van simptome, en verskillende simptome is prominent op verskillende tye.
Mense wat aan OKS ly, is dikwels eers vasgenael op ’n enkele obsessie dan brei dit uit. Só kan ’n seun in sy tienerjare obsessief begin raak oor kieme en oormatig begin hande was en skoonmaak, maar in sy twintigs kan hy obsessies ontwikkel met simmetrie en netheid.

* Skuilname

Toets jouself

OKS-toets 2
Antwoord JA of NEE op dié vrae oor jou gedagtes en gedrag die afgelope maand:

  • Het jy baiekeer hande gewas of alles getel wat jy sien? Herhaaldelik seker gemaak dat die stoof of ligte afgeskakel is, of iets anders oor en oor gedoen nadat jy eenvoudig nie die impuls om dit te doen kon onderdruk nie, al het jy probeer?

  • Neem dié herhalende gedagtes en optrede meer as ’n uur van jou dag in beslag? Of meng dit in met jou gewone roetine, beroep, funksionering of sosiale lewe of gedrag?

  • Het herhalende of onwelkome gedagtes jou oormatig angstig gemaak?

  • Het dié obsessiewe gedagtes herhaaldelik opgekom, al het jy probeer om dit te ignoreer of te onderdruk?

  • Dink jy dat hierdie obsessiewe gedagtes of kompulsiewe optrede werklik te veel raak?

  • Dink jy dat dié obsessies uit jou eie gedagtes kom?

Antwoord
As jy Ja op meer as twee van dié vrae geantwoord het en een van die beskrywings in Toets 1 pas boonop by jou, is die kans groot dat jy aan OKS ly. OKS-lyers is ook geneig tot depressie of angstigheid omdat hulle meestal besef hoe irrasioneel hul gedrag en gedagtes is.

Bekendes wat aan OKS ly

David Beckham (33), Britse sokkerster, is pynlik perfeksionisties en skoon. Alles om hom wat nie presies opgelyn en netjies is nie, moet dadelik in sekure rye gepak word. Alles moet in pare wees: Daar mag nie drie boeke op ’n tafel lê nie, een moet altyd bykom of weggeneem word.

Howard Hughes (1905-1976) was ’n vlieënier, ingenieur, nyweraar, rolprentmaker en een van die rykste mense op aarde. Hy het teen die laat 1950’s sulke kwaai obsessiewe gedrag weens ’n vrees vir kieme getoon dat dit saam met sy antisosiale gedrag tot ’n kluisenaarslewe gelei het.

Leonardo DiCaprio (38), die Hollywoodster wat toevallig in een van sy films die rol van Hughes vertolk het, moet hom voortdurend dwing om nie obsessief op elke stukkie kougom op sypaadjies te trap nie. Hy moet hom ook keer om nie oor en oor by ’n deur in te stap nie.

Donald Trump (62), die eiendomsmagnaat bekend vir die TVwerklikheidsreeks The Apprentice, erken dat hy obsessief bang is vir kieme. Hy weier om aan ’n hysbakknoppie te raak en sal nie maklik enigiemand se hand skud nie.

Michael Jackson (50) ly aan OKS en verskeie ander probleme, insluitend ’n obsessie met fisieke voorkoms en plastiese chirurgie. Hy het al meer as dertig operasies ondergaan. Hy verskyn selde sonder sy masker en handskoene wat hom teen kieme moet beskerm.

Cameron Diaz (36), Hollywoodaktrise, was haar hande oormatig baie en het tot in 2007 haar elmboë gebruik om deure oop te maak. Sy het haar OKS nou beter onder beheer.

Wat sê die dokters?
Wat behels OKS? Volgens die kliniese sielkundige Christine Lochner kan OKS opgedeel word in twee komponente: obsessies en kompulsies.
Obsessies is onwelkome gedagtes, beelde of impulse wat herhaaldelik en onwillekeurig opduik en kwaai angs veroorsaak. Jy kan die gedagtes nie keer nie. Jy besef wel dat die gedagtes sinneloos is, maar kan hulle nie onderdruk, beheer of ignoreer nie.
Kompulsies is die herhaalde, ritualistiese gedrag wat uit obsessies spruit. Dis jou poging om die angstigheid wat jou obsessie bring, hok te slaan. Voorbeelde van algemene kompulsies is om herhaaldelik hande te was, aanmekaar te gaan seker maak of deure gesluit is, of om dinge herhaaldelik in netjiese rye te orden.

Wat veroorsaak OKS? OKS het nie net een oorsaak nie, maar is dikwels te wyte aan die sameloop van ’n klomp faktore, gene inkluis. Tog is dit bekend dat mense met OKS se breinaktiwiteit anders is as ander s’n, anders selfs as mense met angssteurnisse. Volgens navorsing is daar by OKS-lyers ’n kommunikasieprobleem tussen die voorste deel van die brein en die dieperliggende dele.
Voorts is daar ál meer bewyse dat sekere werkinge van die brein, insluitend die serotonien- en dopamien-stelsels, OKS aanhelp. Ook dat OKS oorerflik is. Navorsing toon dat 35 persent van mense met OKS ’n familielid het wat ook daaraan ly of obsessief- kompulsiewe simptome het. ’n Paar pasiënte verbind die begin van hul OKS met ’n keelinfeksie, heel moontlik ’n bakteriële infeksie. Hormone kan ook dalk ’n rol speel – sommige mense voel dat die paar dae voor menstruasie, swangerskap en menopouse OKS kan aanhelp of teenwerk. Trauma in jou kinderjare kan ook ’n faktor wees. Meer as die helfte van mense met OKS ly ook aan depressie.

By wie ontwikkel OKS? OKS begin dikwels tydens die kinderjare, veral by seuns. By vroue kan hormone tydens swangerskap, menstruasie of menopouse ’n rol speel.

Die behandeling Om geestesgesondheidsprobleme soos OKS akkuraat te diagnoseer en te behandel is nie oorbodig nie – dis ’n noodsaaklikheid. OKS reageer op ’n bepaalde klas antidepressante wat as remmers vir die heropneem van serotonien werk, byvoorbeeld fluoksitien en sertralien, sê Prof. Soraya Seedat, psigiater en onderdirekteur van die eenheid vir angs- en stressteurings.
“Dié antidepressante werk vir omtrent 60 persent van mense met OKS. Normaalweg word daar vir hulle ’n hoër dosis van hierdie antidepressante gegee as vir pasiënte met depressie of angssteurings omdat die bewyse toon dat die reaksie dan beter is. Tog kos dit OKS-pasiënte ’n bietjie langer as depressielyers om op die medisyne te reageer – soms verg dit agt tot twaalf weke om te verbeter.
“Kliniese psigiaters gebruik gewoonlik eers gedragsterapie, veral vir mense met ligte tot matige OKS. Dit is heel moontlik net so doeltreffend soos die antidepressante. Dis ’n groot hulp as die dokter die pasiënt kan help om die onderliggende sneller te verwerk wat tot die obsessie aanleiding gee.”

Obsessies wat vervolgingswaan word Dit gebeur nie dikwels nie, maar in sommige gevalle kan OKS so erg word dat dit aan vervolgingswaan oftewel paranoia grens. As die OKS-lyer weier om iemand se hand te skud omdat hy hom doodbekommer oor kieme, maar wel besef hy oorreageer, is dit OKS. Maar as hy dink ander soek hom doelbewus uit om sy hand te skud, ly hy aan vervolgingswaan.

Soek jy hulp? Vra jou huisdokter vir ‘n verwysing na ’n sielkundige of psigiater. • Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angs-steungroep kan jou ook enige dag van die week tussen agtuur in die oggend en agt saans help by 011-262-6396 of 0800-20-50-26. Of besoek hul webtuiste: www.sadag.co.za.
Kontak dr. Christine Lochner van die Universiteit van Stellenbosch se MNR-eenheid vir angs- en stressteurings by 021-938-9179 (kantoorure).

Do you suffer from OCD?

Brain scan identifies OCD

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.