Share

Liefde met gevoel

Ons het aanraking net so nodig soos kos en water – en kenners glo dis ewe noodsaaklik vir ons ontwikkeling.
Deur ILSE SALZWEDEL vir Huisgenoot-POLS

Prinses Diana het mense oraloor geraak juis omdat sy hulle aangeraak het.

Ons kan almal die foto’s onthou: die prinses met haar arm om die skouers van ’n verminkte landmynslagoffer, of langs die bed van ’n vigslyer, sy benerige hand in haar sagte hande toegevou.

Wat Diana instinktief geweet het, is al wyd deur navorsers bewys:

  • Babas wat nie aanraking ervaar nie – hulle kan “velhonger” babas genoem word – verloor vinnig gewig, word siek en kan selfs doodgaan. Maar as vroeggebore babas genoeg gestreel word, sit hulle vinniger gewig aan, huil minder, verbeter hul polsslag en asemhalingstempo en is hul spiere minder gespanne.
  • Aanraking is vir ons net so noodsaaklik soos asemhaling. As jy dit nie kry nie, word jy terneergedruk en verswak jou immuunstelsel.
  • By pasiënte met ernstig pynlike toestande soos fibromialgie en osteoartritis verlig aanraking die pyn. Dit help ook vir ander siekes – by asmapasiënte verbeter die longe se funksie, diabete se bloedsuikervlak stabiliseer en kanker- en MIV-lyers se immuniteit neem toe.
  • Verbasend genoeg is aanraking nie net goed vir jou lyf nie, maar ook vir jou verstand. Navorsers glo dat ’n mens ná ’n massering helderder dink. Jy kan ook makliker wiskundige probleme kafdraf! Daar is iets nóg interessanters: aanraking beteken net soveel vir die een wat aanraak. Bejaarde vrywilligers wat verwaarloosde babas begin masseer het, het gou minder terneergedruk gevoel en nie meer so baie dokter toe gegaan nie

Wat leer 'n baba deur aanraking?
Aanraking is die eerste kommunikasie tussen jou en jou kind, eintlik die manier waarop julle vir mekaar lief raak. Omdat jy hom veilig laat voel, leer hy om jou te vertrou. En omdat hy jou vertrou, raak jy ál meer liefdevol en beskermend teenoor hom.

Liefdevolle aanraking kalmeer ’n baba. In Indië is dit ’n tradisie dat ma’s hul babas lank masseer en daarna toewikkel vir ’n slapie. Boonop baat ma’s ook hierby: Amerikaanse studies onder ma’s wat aan depressie ly, het getoon dat dié wat hul babas masseer, agterna beter voel en makliker met hulle speel.

Babas en kinders leer ook deur aanraking meer van hul omgewing, soos dat ’n warm stoofplaat kan brand of ’n mes kan sny. Aanraking is noodsaaklik vir groei, ontwikkeling, kommunikasie en leervermoë, en lê die fondament vir selfvertroue en die latere ontwikkeling van emosies en verstand.

Al dié bevindings verbaas hom nie, sê dr. Don Roos, ’n afgetrede kenner van opvoedkunde en sielkunde van Pretoria. Hy dring al sedert die 1980’s daarop aan dat ouers tog net gereeld liefdevol aan hul kinders moet raak.

So kan hulle seker maak hul kinders word gesond groot – liggaamlik en emosioneel. Volgens Don is daar g’n beter manier om kinders te laat weet jy hou van hulle en alles is reg nie. As ons aan ander mense raak, kan ons emosies “lees” wat nie vir die blote oog sigbaar is nie.

Volgens navorsers kan jy jou kind se potensiaal ontsluit deur drukkies te gee. Kinders wat gereeld liefdevolle aanraking kry, vaar beter op skool as kinders wat nie aangeraak word nie.

“Dit maak ook sin uit die oogpunt van menslike ontwikkeling: die mens het deur die millennia meer as vier vyfdes van die tyd met lyftaal gekommunikeer – net die laaste rukkie gebruik hy woorde.”

Don sê aanraking hou baie sterk verband met ’n mens se fisieke en emosionele ontwikkeling.

“As ’n ma byvoorbeeld op haar bed lê met haar baba rustig op haar bors, dink sy dat sy net besig is met emosionele koestering. Maar dié aanraking het ook gesondheidsvoordele vir die baba.

Hy haal byvoorbeeld baie dieper asem, dus gaan daar baie meer suurstof na sy brein toe, en dit stimuleer weer ander ontwikkeling.” Diep asemhaling hou ook die longe skoon en aanraking is goed vir ’n baba se spysverteringsfunksies.

Wat gebeur met velhonger mense?
Jy moet bekommerd wees as ’n kind nie vanself drukkies soek of styf by jou kom sit nie. Dit kan dui op neurologiese skade of daar kan ’n dieper emosionele oorsaak soos mishandeling wees.

Volwassenes wat wegskram van aanraking, het hul eie probleme. Marli Beukes, ’n kliniese sielkundige van Somerset-Wes, werk elke dag met volwassenes wie se emosionele probleme sterk verband hou met ’n gebrek aan aanraking in hul kinderjare.

“Vir kinders beteken aanraking liefde en aanvaarding. Wanneer mense as kind nie aangeraak is nie, ontwikkel hulle as volwassenes ’n onbewustelike honger daarna.

"Maar terselfdertyd voel hulle ongemaklik as mense te na aan hulle kom – en weet hulle nie hoe om na ander uit te reik nie.”

Marli verduidelik dat sulke volwassenes ’n groot gebrek aan selfliefde en selfaanvaarding het. “Hulle voel onbewustelik dat daar nie aan hulle geraak is nie omdat hulle nie goed genoeg was nie.”

Dis dié gevoel van verwerping wat huweliksprobleme en selfs verslawing kan veroorsaak. “Sulke mense voel dikwels ongemaklik met hul lyf en het baie min respek daarvoor. Dit kan lei tot seksuele promiskuïteit – die soeke na liefde en aanvaarding word dikwels met seks verwar.”

Don noem die voorbeeld van Marilyn Monroe. Sy was een van die 20ste eeu se grootste sekssimbole, maar ook bekend vir haar soeke na liefde en aanvaarding. Sy het dit in verhoudings, drank en pille probeer vind en uiteindelik selfmoord gepleeg.

“Sy het op ’n slag vertel hoe sy as kind gekyk het hoe haar pleegma haar grimeer. Die pleegma het speels met haar poeierkwas aan Marilyn se neus geraak, en Marilyn skryf die hartverskeurende woorde: ‘Op daardie oomblik het ek gevoel iemand is lief vir my.’

“In my werk as opvoedkundige het ek dit ook al gesien. ’n Onderwyseres het eenkeer vir my vertel hoe sy die skelet met haar laerskoolklassie behandel het. Die kinders was so tien jaar of ’n bietjie ouer. Sy het voorgestel dat dié wat vrae het ná skool agterbly.

Die moeilikheidmaker van die klas het gebly en wou doodernstig weet waar die bene in ’n vrou se borste dan is. Die juffrou het toe besef hy weet nie ’n ma se bors is ’n sagte plek nie, want sy ma het hom nooit vasgehou en gedruk nie. Skielik het almal verstaan hoekom hy so ’n moeilike kind is en kon hulle hom begin help.”

In die VSA is ’n interessante studie in ’n universiteit se biblioteek uitgevoer. Die personeel moes ongemerk en subtiel aan party studente se hande raak toe hulle die biblioteekkaartjies teruggee.

Daarna is die studente daaroor uitgevra. Dié wat aangeraak is – al kon hulle dit nie eens onthou nie – was baie meer positief oor hulself, die biblioteek en die personeel as dié wat nie aangeraak is nie.

’n Soortgelyke eksperiment is op ’n vliegtuig gedoen. Die vlugpersoneel het net mense aan die één kant van die paadjie subtiel aangeraak toe hulle kos en drankies uitgedeel het. Weer het daardie groep baie meer positiewe terugvoering oor die personeel asook die vlug gegee. Hulle het selfs gedink die vliegtuig was veiliger!

Daar is baie kulture waarin aanraking dikwels voorkom. In Indië word kopmasserings byvoorbeeld van geslag tot geslag oorgedra. In die Afrikakultuur word babas tradisioneel styf teen die lyf gedra.

Franse en Italiaanse mans soen mekaar op die wang wanneer hulle groet, en in die Arabiese kultuur sit mans graag met hul arms om mekaar se skouers as ’n teken van respek en toegeneentheid.

Hoekom raak so baie mense nie meer aan mekaar nie? Wêreldwyd word daar baie klem gelê op seksuele molestering en teistering, en veral in die VSA is daar ’n groot vrees vir hofsake as gevolg van onwelkome aanraking.

Amerikaanse onderwysers mag byvoorbeeld glad nie meer aan leerders raak nie. In die macho Suid-Afrikaanse kultuur moet mans ook manlik wees en is drukkies en aanraking, selfs van ons pa’s, baie skaars.

Dis ’n jammerte. Deur ons hande te gebruik, kan ons weer in voeling kom met ons gesondheid...

‘Maar ek is nie ’n drukkerige mens nie...’
Ongelukkig, waarsku die sielkundige Marli Beukes, is daar geen plaasvervanger vir aanraking nie. Gelukkig hoef jy nie heeltyd stywe drukke en soene uit te deel om te wys jy gee om nie.

“Sit jou kind saans in die bed met ’n soen en maak seker hy is knus. Dit sal hom klaar gekoester laat voel. Of kam jou dogtertjie se hare en smeer room aan ná badtyd, al is dit net aan haar gesiggie.”

Dr. Roos sê aanraking kan begin by iets so eenvoudigs soos om jou kind sommer in die verbystap te kielie of aan sy skouer te raak.

“Vir hom beteken so ’n klein aanraking dat jy van hom hou en dink hy is oukei.”

Dr. Debra Moore, ’n Amerikaanse sielkundige, beveel weer aan dat jy jou dwing om terloops aan iemand te raak wanneer jy praat – “al is dit net liggies op die hand, skouer of voorarm”. Of laat doen ’n voet- of handmassering sodat jy aan die idee van aanraking gewoond kan raak.

Vryf ook gereeld ’n paar minute lank jou eie voete of slape en vóél hoe jy ontspan.

Bied dan aan om ’n geliefde of vriend se nek te masseer as jy sien hy of sy is moeg.

Hoe werk dit?
Jou liggaam skei die hormoon oksitosien af wanneer jy aangeraak word. Dit werk saam met dopamien, ’n goedvoel-stof, en help om jou bloeddruk en kortisol (’n streshormoon) te verlaag. Dit alles laat jou stresvlak daal.

Oksitosien beïnvloed baie dinge in ons liggaam: van hoe baie jy ander mense vertrou tot hoe vinnig jou wonde genees.

Daar is die eerste keer oor genesing deur die oplê van hande geskryf op ’n stuk papirus wat uit 1553 v.C. dateer. Ook in Hippokrates se Griekeland (ongeveer 400 v.C.) word verwys na kheirourgous, of handegenesers. (Die woord chirurg kom hiervandaan.) Galen, ’n Romeinse handegeneser, het in die jaar 130 n.C. al massering vir dié doel gebruik.

Ons begin nou weer die waarde van aanraking ontdek. Moderne vorms van terapie soos fisioterapie, akupunktuur, refleksologie, massering, osteopatie, kinesiologie en reiki word ál gewilder.

Dit laat jou goed voel, want dis nie net woorde wat baie kan sê nie. Hande ook.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Lees meer: Massering

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE