Share

Hoekom baklei mans in kroeë?

Kroeggevegte is in die nuus nadat Idols-deelnemer Freddie van'Dango Vrydagaand in 'n onderonsie in 'n kroeg in Greenside, Johannesburg, beseer is.

Die meeste van ons het al meer as een bakleiery in ons gunsteling kroeg gesien. Jy mag selfs betrokke gewees het, of jy nou wou of nie. Hoekom is dit dat so baie mans met 'n paar drankies agter die blad in 'n openbare plek nie met mekaar kan klaarkom nie?

Met genoeg drank, en in die regte situasie, is mans maar net mans en slaan mekaar voos omdat dit is hoe hulle aanmekaargesit is? Of is daar meer by kroeggevegte betrokke as wat 'n mens dink?

Hoekom ons baklei

Meestal begin die aand heel onskuldig, tot een of ander idioot die grense van aanvaarbare kroeggedrag oorskry, en 'n warmbloedige "teenstander" hom vererg. 'n Rassistiese aanmerking, 'n aanmerking oor iemand se meisie se ma, en voor jy weet wat jou getref het, vlieg die vuiste en die kroegstoele word soos krieketkolwe rondgeswaai.

Die dinge waaroor mans die meeste in kroeë baklei, sluit in:

  • vroue,
  • alkohol,
  • geld,
  • ander mense se opinies,
  • sportwedstryde en spanne, en
  • snoeker.

Baie ouens sê dat ons baklei omdat dit vir ons lekker is en dat die natuur ons aandryf om dit te doen. Ons word deur testosteroon en adrenalien aangedryf en ons kan nie anders nie, want ons het oor miljoene jare ontwikkel om met ander mans oor grondgebied, kos, vroue en die reg om 'n alfa-man te wees, te baklei.

Wat 'n spul twak! Ek dink al hierdie sosiale Darwinistiese onsin is net 'n gerieflike verskoning. Kom nou, manne. Ons het ook 'n sterk sin van moraliteit, verantwoordelikheid, etiek en 'n gevoel vir wat reg of verkeerd is, ontwikkel – wat ons in staat stel om bewus van ons aksies te wees, om te gee vir ander mense en misverstande op 'n beskaafde manier op te los. Ons lewe in die 21ste eeu. Daar is geen nodigheid om enigiemand oor enigiets te lyf te gaan nie.

Meer as net die drank wat praat

Natuurlik is alkohol 'n groot rede vir kroeg-onderonsies. Verskeie studies het reeds 'n verband tussen alkoholgebruik en aggressie bevestig, veral in kroeë en by sosiale geleenthede, maar drankmisbruik kan nie die enigste rede wees vir mans se neiging om mekaar se skedels pap te slaan nie. Per slot van rekening is daar net 'n klein persentasie sosiale funksies waarby geweld enigsins betrokke is.

Nuwe navorsing wat in die April 2011 uitgawe van Alcoholism: Clinical & Experimental Research verskyn het, beskou die rol van 'n reeks faktore wat tot manlike kroeg-aggressie mag bydra, insluitende alkoholgebruik, algemene houding, gereeldheid van kroegbesoeke en  sekere persoonlikheidseienskappe.

Die studie wat honderde jong manlike drinkers van 19 tot 25 onder die loep geneem het, het gevind dat nie alle mans die stereotipe patroon volg nie, wat aandui dat nie alle mans wat aan kroeggevegte deelneem dit geniet nie. Dit blyk dat die twee persoonlikheidseienskappe, sogenaamde hipermanlikheid en "hoë algemene aggressie" 'n belangrike rol speel.

Alhoewel beide die mans wat kroeggevegte begin en dié wat as redelike onskuldige slagoffers daaraan deelneem, neig om swaar te drink en gereeld in kroeë rond te hang, is dit net die belhamels, en nie die slagoffers nie, wat hoë algemene aggressie en hipermanlikheid toon. 

Hoë algemene aggressie verwys na 'n neiging om deur middel van aggressiewe aksies op sekere situasies te reageer. Hipermanlikheid is 'n sielkundige term vir oordrewe, presies gedefinieerde, stereotipe manlike gedrag wat dinge soos fisiese krag, liggaamshare, manlikheid en fisiese en seksuele aggressie beklemtoon. Ons praat basies oor die manlike stereotipes wat verewig word deur die media, die rolprentbedryf en op TV deur ekstra-manlike karakters soos taai polisiemanne, brandweermanne, professionele sportmanne, "gangster rappers" en professionele kriminele, wat alles wat as swak, vroulik of saggeaard beskou word, verag. Hipermanlikheid bring boonop gereeld sulke ongesonde elemente soos homofobie, rasisme en misogenie na vore.

So, alhoewel alkohol en gereelde kroegbesoeke gedeeltelik die brandstof vir kroeggevegte voorsien, is dit oordrewe manlikheid wat neig om die sielkundige sneller te wees. Die oplossing? Vermy die oordrewe macho manne in kroeë en besef dat hulle hipermanlikheid waarskynlik 'n reaksie op 'n diep gevoel van onsekerheid en magteloosheid is. Omdat hulle min beheer oor die belangrike aspekte van hul lewens het, ervaar hulle die behoefte om hulle ego's op te bou deur 'n bakleiery oor niks op tou te sit.  

(Andrew Luyt, Health24, hersien Augustus 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE