Share

Hoe om 'n leuenaar uit te vang

’n Nuwe studie dui aan dat leuenaars sekere gesigsuitdrukkings kan beheer wanneer hulle dopgehou word, maar dit nie heeltemal of die hele tyd kan onderdruk nie.

Die navorsers het uitgewys dat hierdie bevindings ’n impak in sekuriteitsopsette kan hê.

Tydens die studie het wetenskaplikes na willekeur 60 mense gevra om óf te jok óf die waarheid te praat, gedurende ’n onderhoud oor die vraag of hulle twee fliekkaartjies uit ’n koevert geneem het of nie. Gedurende die onderhoud is die deelnemers aangesê om te probeer om hulle gedrag te wysig of sekere gesigsuitdrukkings, soos om hulle wenkbroue te lig of te glimlag, te onderdruk. "Gedragsteenmaatreëls is die strategieë wat deur leuenaars gebruik word om opsetlik hulle gesigs- of liggaamsgedrag te beheer om leuen-uitvangers te flous,” sê mede-outeur van die studie, Mark Frank, ’n professor van kommunikasie aan die University at Buffalo. 

Om ’n leuenaar uit te ken

Daar is aan die deelnemers gesê dat hulle ’n beloning sou ontvang as hulle die ondervraer kon oortuig dat hulle die waarheid vertel. Daar is ook aan hulle gesê dat enigiemand wat betrap word dat hy of sy jok, gestraf sou word. 

Die onderhoude is opgeneem sodat die navorsers die deelnemers se gesigsuitdrukkings raam-vir-raam kon analiseer. Hulle het gevind dat alhoewel leuenaars hulle gesigsuitdrukkings kon minimaliseer terwyl hulle dopgehou is, hulle nie daarin kon slaag om alles te onderdruk nie.  

"En omdat die onderste deel van die gesig (en veral die glimlag) makliker is om te beheer as die boonste gedeelte van die gesig, het ons voorspel dat ons deelnemers meer daarop sou konsentreer om hulle glimlagte as hulle wenkbrou-bewegings te beheer wanneer hulle gevra is om hierdie aksies te onderdruk,” voeg Frank by, “en dit is presies wat gebeur het. Ons kan gesigsuitdrukkings beperk wanneer ons dit wil onderdruk, maar om dit heeltemal uit te skakel, is onmoontlik.” 

Die studieouteurs het verder gevind dat om die deelnemer aan te sê om een spesifieke gesigsbeweging te onderdruk, daartoe gelei het dat al hulle gesigsbewegings geïnhibeer is. Die navorsers het opgelet dat hierdie reaksie tipies groter is wanneer ’n persoon lieg, omdat oneerlikheid die persoon se kognitiewe lading verhoog, wat hulle vermoë om natuurlik en suksesvol met ander te kommunikeer, inhibeer. 

Ten spyte van hierdie bevindings het die meeste van die deelnemers geglo dat hulle hulle gesigsuitdrukkings gedurende die onderhoud effektief beheer het.

Frank sê ten slotte: "Of ons nou te doen het met hoogs bedrewe en gemotiveerde leuenaars wat geleer het om hulle nie-verbale kommunikasie in situasies waar daar baie op die spel is, op te skerp, of onopgeleide indiwidue wat miskien op ’n televisieprogram gehoor het van ’n spesifieke wenkbrou- of lipbeweging wat bedrog verklap, het die bevindings van hierdie studie belangrike implikasies vir sekuriteitsopsette.”  

Die studie se bevindings is vroeër vanjaar in die Journal of Nonverbal Behavior gepubliseer.

Meer inligting:

The American Psychology Association voorsien meer inligting oor leuenverklikking.


(Kopiereg © 2010 HealthDay. Alle regte voorbehou.) 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE