advertisement
Updated 17 March 2014

“Deur vuur vir my kind”

Die hartverskeurende verhaal van ’n ma wat alles in die stryd gewerp het om haar kind uit sy dwelmhel te verlos

0

Toe Francois Pienaar tydens sy brugjaar in Nederland reddeloos aan dwelms verslaaf geraak het, was sy ma bereid om berge te versit om haar kind te red. Maar selfs dit was nie genoeg nie . . .
Deur Rita van den Heever

In Maart verlede jaar het die negentienjarige Francois Pienaar met al die drome van ’n jong mens wat vir ’n jaar oorsee gaan, sy familie op Johannesburg se O.R. Tambo-lughawe gegroet. Sy bestemming: ‘n klein dorpie in Nederland, waar hy as au pair sou gaan werk.

Vyf maande later was hy terug op dieselfde lughawe, verdwaas en verlore in sy eie dwelmhel, besig om te veg om sy lewe.

Maar saam met hom op die vliegtuig, met haar arm om sy skouers, was sy ma, wat vir niks sou terugdeins om haar seun te red nie.

17 November 2008: Die toekoms lyk Hoopvol
Francois en sy ma, die skilder Lize Kruger, sit in hul pragtige huis in Parktown-Noord, omring deur die groot koeltebome wat Johannesburg se ou voorstede kenmerk. Kunswerke, dié van Lize asook van ander kunstenaars, hang teen die mure.

Pragtige voorwerpe is oral in die vertrek uitgestal en ’n gevoel van rustigheid en geborgenheid lê oor alles.

Die band tussen ma en seun is opvallend. Lize het nog altyd ’n hegte verhouding met haar drie kinders gehad en ná dit wat Francois deurleef het, is hulle nou nog nader aan mekaar.

Maar tog, sê hulle, is dié gesprek met Huisgenoot-Pols die eerste keer dat hulle dit regkry om saam te sit en praat oor alles wat met hulle gebeur het.

Die laaste keer dat hulle só saam was en hul gedagtes en vrese met mekaar kon deel, was toe Lize in Julie verlede jaar in Nederland by hom gaan kuier het. Die gesin by wie Francois as au pair gewerk het, was met vakansie en hy en Lize het Nederland saam ontdek, kuns bekyk, gelag, gesels. Hulle het oor sy planne gepraat, oor die sin van die lewe, net soos hulle sy lewe lank gewoond was om te doen.

Dit het ook opgemaak vir Lize se hartseer dat Francois nie kon by wees toe sy en haar metgesel van sewe jaar, Fanie, kort tevore getroud is nie.

Maar voor Lize se vertrek Neder- land toe was sy reeds onrustig oor Francois. Haar slim en baie beredeneerde kind het een keer onsamehangend oor die foon geklink en daar was ook ander voorvalle wat haar op haar hoede gestel het.

“My bekommernis het gemaak dat ek gereeld vir hom inligting oor daggamisbruik gestuur het; ek het geweet hy was vas oortuig daarvan dat dagga ’n mens geen skade kan aandoen nie.”

Lize was bewus van al die gevare, want hulle het reeds die pad van dwelmverslawing met haar oudste dogter, Ronelle (27), gestap. Ronelle, wat ’n briljante, kreatiewe kind is, het aan kokaïen en alkohol verslaaf geraak.

“Sy is by ’n rehabilitasiesentrum in Pretoria behandel, maar het slimmer oor dwelms daar uitgekom as wat sy voor die tyd was, in ’n negatiewe sin!” Haar uiteindelike rehabilitasie het plaasgevind by The Gap in Ferndale, Randburg.

Die hele gesin is diep geraak deur Ronelle se stryd, en dit het vir Lize vals gemoedsrus oor Francois gegee. Francois het sy suster immers deurentyd ondersteun en hy was baie goed ingelig oor wat dwelms aan ’n mens doen. Waarom sou hy hom daaraan blootstel?

Van dagga tot drogbeelde
Die tekens was daar dat Francois dagga gerook het, maar sy ver- duidelikings het sin gemaak. Die papiertjies was om sy eie sigarette te rol, want gekooptes was te duur. Sy oë was rooi omdat hy laat gaan slaap het. Daar was altyd ’n geldige verskoning – maar haar kommer het nie gewyk nie.

Met hierdie vae onrus in haar hart is Lize op 21 Julie weg Nederland toe. Teen hierdie tyd het sy geweet dat hy af en toe marijuana (dagga) gebruik, maar het aanvaar dat dit onder beheer is.

Marijuana is in Holland by spesifieke “koffiewinkels” beskikbaar en binne die aanvaarbaarheid van dié kultuur het Francois volgehou dat Lize sekere webblaaie moes lees wat die “goeie” eienskappe van dagga uitlig.

“Vroeg in my besoek is ons ’n slag Amsterdam toe. Kom, het ek vir hom gesê, ek wil saam met jou ’n daggasigaret rook. Ek wil weet wat jy ervaar.” Hulle is by ’n koffiewinkel in en Lize het vir die eerste keer dagga gerook.

“Dit was ’n uiters onaangename ondervinding. Ek het gevoel soos iemand met Alzheimer se siekte moet voel. Ek kon nie aan my gedagtes vashou nie.

“Ek was geweldig onder die indruk van hoe sterk die dagga was. Maar ek kon minstens nou ’n ingeligte oordeel daaroor fel en Francois het plegtig beloof om op te hou daarmee – hy was ‘in beheer’.”

(Lize is reg wanneer sy sê dat die dagga haar breinwerking aangetas het. ’n Kenmerk van dagga is dat die skadelike werking daarvan op die brein ses maande tot ’n jaar nodig het om uit te werk. En hoe meer en groter die gebruik, hoe groter die skade wat veroorsaak word.)

“Ondanks my ongerustheid het ek en Francois twee baie spesiale weke saam deurgebring en planne gemaak vir wanneer hy sou terugkom Suid-Afrika toe. Francois wou graag bemarking aan die Noordwes-universiteit op Potchefstroom studeer en ek het onder meer vir hom ’n skootrekenaar gekoop wat hy later ook op universiteit sou kon gebruik. “

Op 3 Augustus is Lize redelik gerus terug huis toe. Maar haar wêreld was op die punt om in duie te stort. Die oomblik toe sy weg is uit Nederland het Francois hom heeltemal vergryp aan dagga, gekombineer met magic mushrooms, ’n middel wat soos LSD hallusinasies veroorsaak.

Toe kry sy pa ’n teksboodskap van hom: Ek is ’n drug addict en ek is jammer. “Ek het my kind gebel, maar oor die telefoon het Francois geen sin gemaak nie. My kind, ’n helder denker, het vertel van drome, van visioene, en stellings gemaak wat baie naïef was.”

Dit het Lize soos ’n vuishou in die maag getref en sy het besef dat sy dringend na hom moes teruggaan. Twee dae nadat sy uit Nederland vertrek het, is sy met net haar tandeborsel en skoon onderklere in ’n rugsak terug op die vliegtuig na Francois toe. rasend van die dwelms.

’n Sameloop van omstandighede het meegewerk om Francois te laat ontspoor. Nie net was die dagga in Nederland baie sterker as dit waaraan hy in Suid-Afrika gewoond was nie, maar hy het ook magic mushrooms begin gebruik – vrylik daar beskikbaar, hoewel nie meer wettig nie.

Waar gereelde gebruikers miskien vier keer per jaar dié dwelmsampioen inneem, het Francois dit blykbaar ses keer binne vyf weke gebruik!

Weer eens het hy gedink dis ’n “natuurlike, onskuldige” middel. Iets wat hy nie geweet het nie, is dat hy een van die mense is wat buitengewoon sensitief vir dwelms is. Die kombinasie van dagga en shrooms het hom heeltemal psigoties gemaak. Hy was geestesiek en sy lewe was inderdaad in groot gevaar.

Vir Lize was dit asof sy in ’n lugleegte beweeg het. By haar seun se woonstel aangekom, was dit verlate. Lize het op die trap gaan sit en wag en sopnat gereën. Ná ’n lang ruk het sy besluit: Nou klim ek deur ’n venster.

Binne was alles in ’n chaos. Die woonstel wat sy ’n paar dae tevore netjies en met ’n yskas vol kos agtergelaat het, was ’n gemors.

Toe Francois uiteindelik opdaag, was hy dadelik aggressief en kwaad. Lize was skielik sy grootste vyand. Francois was nie homself nie; alles omtrent hom het radikaal verskil van die kind wat sy drie dae tevore daar gelos het. En soos sy reeds met die eerste deurkyk agtergekom het, was sy skootrekenaar weg. Sy het onmiddellik gedink dat hy dit dalk vir dagga verruil het.

“Jy kom saam met my terug Suid-Afrika toe! En geen teëpratery nie,” het sy besluit. Maar eers moes hy sy skootrekenaar gaan kry. Hy het dit vir ’n vriend gegee, het Francois gesê. Dan gaan haal jy dit, was Lize se opdrag.

Francois is saam met sy vriende weg en Lize het intussen begin regmaak vir hul vertrek Suid-Afrika toe. “Ek het elke draad klere gewas, elke skoensool deursoek. Ons moes deur die doeane gaan en ek wou seker wees dat daar nie iewers versteekte dwelms was nie. Ek het die woonstel skoongemaak en in die proses op ’n klomp dagga en daggatoerusting afgekom. Dié het ek in die tuin begrawe. Intussen het sy vriende teruggekom – sonder die rekenaar of Francois. Hy was weg!”

Sy selfoon was af en sy kon hom glad nie bereik nie. Sy het ook die polisie gebel en praat met die grootste lof van die Nederlandse polisie. “Hulle is so ondersteunend en het ons wonderlik hanteer. Vroeg die oggend van 8 Augustus het hulle uit Kampen gebel om te sê dat hulle Francois gekry het.”

Toe Lize uiteindelik in Kampen aankom, was dit ’n maniese mens wat sy daar aangetref het.

Francois was heeltemal histeries – hy het gehuil en gelag, was deurmekaar en aggressief en het van selfmoord gepraat – in so ’n mate dat ek sy belt afgevat en in my handsak gesit het. Hy het by ’n winkel ingestorm en ’n bier gegryp, toe vervaard die pad oorgesteek en by ’n oop treinwa ingespring.

”Ek het besef dat ek in beheer moes bly, al het ek dae tevore laas geslaap of geëet.” Sy het alles vir hul terugkoms gereël.

“Die nag voor ons vertrek was ’n nagmerrie. Alles wat ek ingepak het, het hy weer uitgepak (natuurlik op soek na dagga). Met die geld wat ek met my vorige besoek vir hom vir reis en kos gelos het, het hy ’n paar skoene van R5 000 gekoop. Elke vyf minute wou hy hierdie skoene in die straat gaan sit vir iemand wat dit ‘nodig’ het.”

Laaste dans
Terwyl Lize praat, luister Francois aandagtig. Hy is ’n mooi jong man wat maklik glimlag; selfversekerd, sy persoonlikheid innemend.

Dan begin hy self, sonder om iets terug te hou, van hierdie fase vertel: “Ek het nie net dagga gebruik nie, maar ook op geestelike vlak deel geword van die daggakultuur; absoluut geglo aan die liefde wat ek uitstraal en hoe ek die wêreld gaan help red.”

Boeke soos dié van die geestelike ghoeroe Eckhart Tolle (A New Earth) en ander inspirerende filosofieë was sy riglyne. In sy filosofie vertel Tolle hoe mense die wêreld tot geestelike evolusie kan lei deur hul eiegeregtigheid, selfsugtige eise en vrese af te lê.

“Godsdienstige en geestelike leesstof word ongelukkig heeltemal verkeerd geïnterpreteer deur iemand in hierdie toestand,” sê Lize.

Francois vertel verder: “Ek het soms gedink ek is Jesus wat herbore is en het op ‘n ander keer weer my laptop vir iemand gegee wat vir my soos Jesus gelyk het. Ook my horlosie, beursie en donkerbril het ek weggegee.

“Toe ek weg is om my rekenaar te gaan haal, het ek ’n bietjie in ’n coffee shop gaan rus, en daar ’n daggajoint verniet gekry. Ek het ‘geweet’ ek gaan die wêreld red, en dat al die mense besig was om in te stroom om my te sien. Daar was nog treinritte, ’n busrit waarin ek my selfoon aan die bestuurder gegee het, openbarings . . .

“Ná ure se loop het ek uiteindelik op ’n seiljag in Kampen aan die slaap geraak. – al was ek ‘oortuig’ dat die Nederlandse koningin daarop uit was om my dood te maak. Daar was geheime kodes vir haar handlangers op TV, in die advertensies op vragmotors, op alles. Alles het betekenis gehad.

“Robbie Robertson se liedjie Shine Your Light het my gelei:
The cry of the city like a siren’s Song
Wailing over the rooftops the whole night long
But now it’s like living on` borrowed time
Out on the rim, over the line
Always tempting fate like a game of chance
Never wanna stick around to the very last dance . . .

Francois was baie na aan sy laaste dans.

Reis uit die hel
Die tog terug na Suid-Afrika was ’n angswekkende ervaring wat hulle albei liewer sou wou vergeet. Lize se groot vrees was dat die lugrederye nie vir Francois in sy psigotiese toestand op die vliegtuig sou toelaat nie.

Hy het ingestorm by lughawewinkels en getier omdat sy nie vir hom dinge wou koop nie. Hy het al hul handbagasie op die roltrap uitgepak op soek na dagga.

Hy het gedreig om die vliegtuig en die lughawe op te blaas – nie ’n dreigement wat lughawepersoneel ooit ligtelik opneem nie. Op Schiphol in Amsterdam het veiligheidsbeamptes gehelp om hom by die mediese sentrum te kry waar hy ’n kalmeermiddel toegedien is.

Teen die tyd dat hulle op Heathrow in Londen aangekom het, was die verdowing uitgewerk. Francois was volkome onredelik. Lize kon net met hom deur ander mense kommunikeer.

Sy het van die personeel oorreed om hom in hul kantoortjie te laat sit; klein ruimtes het hom effens kalmer gemaak. Lize moes skelm vir hom kos koop wat hulle dan aan Francois gegee het. Hy het aan vervolgingswaan gely en geglo dat sy ma hom wou vergiftig!

Op die vlug van Londen na Johannesburg was Francois soos ’n brullende leeu. “My lewe in daardie stadium was ’n dans tussen lig en donker,” vertel Lize.

“Die lig is deur hulpvaardige, simpatieke mense ingelaat. Daar was die wonderlikste lugwaardin wat net oorgeneem het. Sy het ons agter laat sit en die hele ry vir ons oopgelaat. En sy het Francois help hanteer. Ek het nog nooit so baie en aanmekaar gebid soos in dié tyd nie.

“Op O.R. Tambo het hulle ons drie keer deursoek. Die honde het om ons gedraai. Francois het die hele tyd gedreig om handuit te ruk. “Ek was beangs dat ek dalk iewers dwelms misgekyk het, maar uiteindelik is ons deur en kon ek weer asemhaal.”

Plan van aksie
Terug by die huis is Francois na sy pa toe, waar hy rustig en in beheer voorgekom het. Hy het almal ’n rat voor die oë gedraai.

“Ek het hom by The Gap ingekry, waar hulle hom na die Sandton Medi- Clinic verwys het sodat die geestesversteurings wat deur die dwelms veroorsaak is, behandel kon word.”

Ná ’n week daar is hy terug na The Gap, waar hy ongelukkig weens omstandighede buite Lize se beheer net ’n week deurgebring het. Sy geestestoestand was nog baie onstabiel. Sy denkpatrone was geweldig gefragmenteerd en hy het nog steeds aan vervolgingswaan gely.

Nadat hy deur ’n heeltemal ongekwalifiseerde mens behandel is, het Lize hom weer eens by ’n psigiater uitgekry. Sy beskryf die toestand van sy brein as “ ’n haelstorm in ’n wingerd, blare net waar jy kyk”.

Slegs psigiatriese medikasie sou die herstel van die senuoordragstowwe in sy brein kon verseker. Uiteindelik is Francois terug huis toe. Die reëls het ingesluit dat Lize hom een tot

twee keer per week vir dagga sou monitor en dat hy geweet het hy word die hele tyd dopgehou. Hy moes ook klokslag elke dag sy medikasie drink, wat ’n teenpsigosemiddel ingesluit het.

Ná drie weke se behandeling het Francois so goed op die medikasie gereageer dat sy psigiater baie positief was dat daar geen permanente skade sou oorbly ná die voorgestelde behandeling, wat ses maande sou duur nie.

Ongelukkig is Francois met die hulp van ’n apteker (en nie sy eie psigiater nie) op hierdie kritieke tyd van sy herstelproses van die medikasie afgehaal. Sy geestestoestand was nog baie broos.

“Daar was, tragies genoeg, mense wat gedink het hy makeer niks nie en hy het hierdie benadering aangegryp! Ek was rasend van frustrasie omdat Francois nie die langtermynskade kon insien nie.”

Hy en Lize het sy herstel toe maar een dag op ’n slag aangepak. Hulle het geweet dat hy steeds baie swak was, dat niks as vanselfsprekend aanvaar kon word nie. Lize het haar bewapen met elke denkbare dwelmtoetsapparaat waarmee sy Francois daagliks moes monitor.

En Francois het geweet dat hy nooit weer in sy lewe dagga of alkohol sou kon gebruik nie. Maar sy oë was tog helderder, en hy was besig om planne te maak om verder te studeer.

“Ek het nog altyd ’n goeie verhouding met my kinders gehad,” sê Lize. “Maar ek weet ook dat ek Francois se ma is en nie sy beste maat nie. Ek moes doen wat reg is, al was dit vir my hoe swaar. Dit is baie hartseer dat ek nie die ondersteuning gekry het waarop ek gehoop het nie. Ek wou die kind met die laggende oë, filosofiese denke, vurige aard en lus vir nuwe avonture weer terughê. Dit was by my ’n totale obsessie om Francois weer te kry waar hy was.”

Terwyl ek met Lize en Francois gesels, is ek bewus van ’n besondere band tussen ma en seun. Die sagtheid vir mekaar, die geloof dat alles weer goed sál word, maar ook in onbewaakte oomblikke, die vrees vir die toekoms wat in ’n gebaar, ’n stemtoon insluip.

Vir hulle was hierdie gesprek ook deel van die helingsproses. Dit was die eerste keer, sê Lize later, dat hulle so openlik in mekaar se teenwoordigheid oor hul gevoelens van die afgelope paar maande kon praat.

Sonder om van pynlike feite weg te skram het hulle hul ervarings met Huisgenoot-Pols gedeel, met die hoop dat dit minstens een ander persoon sal help. Dat dit jong mense sal laat besef dat dit met hulle kan gebeur, dat hulle nie onaantasbaar of onsterflik is nie. Dat dagga nie onskuldig is nie en dat dit met enigiemand kan gebeur. As dit, het Lize die woorde amper soos ’n gebed herhaal, maar één ander kind se lewe kan red . . .

Francois se stryd is nog lank nie verby nie, maar hy weet dat hy nie alleen is nie, het Lize benadruk. Hulle was saam in dié onverwagte maalstroom, die sterk jong man met die sensitiewe gees en die tenger vrou.

En ja, het hulle tóé hoopvol gesê, hulle glo tog dat Francois volkome sal herstel. Versigtig optimisties, het Lize gesê, dis wat ons is. Hulle het vir mekaar gekyk en geknik, en vir daardie enkele oomblik was daar geen vrees meer nie.

Na hierdie onderhoud en die fotosessie vir die artikel het Lize se ergste vrese bewaarheid geword: Francois het in ’n ál dieper depressie verval en ten spyte van haar smekinge wou hy nie medikasie kry om dit te beveg nie.

“Hy het ál meer in homself gekeer en uit voeling met alles om hom geraak,” vertel sy. Dit is tipies wat gebeur as medikasie voortydig en te vinnig gestaak word. Sy het tevergeefs tot hom probeer deurdring en hy het haar getroos met die woorde: “Soos ’n mens nie die heelal kan verstaan nie en ook nie die konsep van ewigheid nie, so sal Ma nie verstaan hoe ek nou voel nie.”

30 November 2008: Erger as die Dood
Ondanks al Lize se pogings het die ondenkbaar tragiese wel gebeur. Op die aand van 30 November 2008 het Francois sy lewe beëindig.

In sy afskeidsbrief het hy geskryf:
Aan my gesin!
Ek weet dit is die mees selfsugtigste daad wat enigiemand kan doen maar ek is in hel . . . asseblief probeer verstaan. Ek was/is ongelooflik lief vir julle. Ek kan net nie meer so aangaan nie . . . Daar is erger dinge as die dood . . . Ek’s regtig lief vir julle.

Met ons ter perse gaan het Lize ingestem dat Francois se storie, wat klaar geskryf was toe hulle nog hoop vir sy toekoms gehad het, gepubliseer kan word. Dalk, net dalk, red Francois hiermee nog een ander kind se lewe.

Nou wéét ek
Lize se raad aan ander ouers wat saam met hul kinders teen dwelmverslawing veg:

  • Vertrou jou instink.
  • As jy vermoed jou kind gebruik dwelms, moenie toelaat dat jy met mooipraatjies en slim verduidelikings om die bos gelei word nie. Dring deur tot die kern van die probleem.

  • Bly die ouer en bly in beheer.
  • Laat jou kind jou maar verwyt en beskuldig van ’n gebrek aan vertroue in hom. Dis nie ’n gewildheidskompetisie nie. As jy moet ingryp, gryp in en laat jou deur niks en niemand van stryk bring nie. Die verenigde front wat ouers in hierdie stryd vorm, kan dalk jou kind se enigste redding wees.

  • Moenie naïef wees nie.
  • Wees op jou hoede as jou kind jou gereeld vir R300 vra – vir brandstof, ’n ete, wat ook al. Dis wat ’n gram kokaïen kos. Só het Lize byvoorbeeld onwetend vir haar dogter se verslawing betaal.

  • Weet waar die gevaa rsones lê.
  • Jong mense wat ná skool ’n brugjaar neem, kry meteens ondenkbare vryheid en geld, vriende en geleentheid vir gevaarlike speletjies met alkohol en dwelms. Hulle is jonk en oormoedig en tog baie weerloos. Dink goed hieroor na. Is jou kind gereed hiervoor?

  • Moenie illusies hê nie.
  • Dagga is om elke hoek en draai beskikbaar. Almal dink dit is ’n onskuldige dwelm. Maar elke kind is ’n moontlike dwelmslaaf, elke mens in jou omgewing ’n moontlike handelaar, selfs jou tuinier of die kind met wie jou spruit al van kleuterskool af bevriend is.

  • Verwag die ergste.
  • Ouers wat dwelmsteungroepe bywoon, hoor dikwels vir die eerste keer dat tot 90 persent van die kinders in hul doodgewone woonbuurt al met dwelms geëksperimenteer het.

  • Probeer voorkom dat jou kind eksperimenteer.
  • Sommige mense het geen weerstand nie en kan, soos Francois, binne maande soveel neurologiese skade opdoen dat sterk en volgehoue medikasie die enigste hoop op herstel bied. Volgehoue behandeling en antidepressante kon dalk Francois se lewe gered het. Jy sal dit nie weet voor dit dalk te laat is nie.

  • Kry die regte behandeling.
  • As jou kind ’n psigose ontwikkel, is psigiatriese behandeling sowel as sielkundige terapie van die grootste belang. Daar kan nie tyd gemors word met onbekwame en ongekwalifiseerde mense wat hulle as kundiges voordoen nie.

  • Vermy sekere onderwerpe.
  • Die heel laaste ding waaroor jy moet praat met iemand wat ’n psigotiese episode beleef, is godsdienstige of geestelike sake. Hulle glo reeds dat hulle buitengewone magte het en hierdie gesprekke versterk dit.

Kan dwelmskade aan die brein omgekeer word?

Is sommige mense meer vatbaar vir geestesiektes ná dwelmgebruik? Wat laat iemand glo hy is Jesus? Wat is magic mushrooms?
Dr. Lize Weich, dosent in substans-steurings aan die Universiteit van Stellenbosch se departement psigiatrie, verskaf antwoorde
Deur die Health24-span

Breinskade weens dagga
Dagga kan verskillende uitwerkings op die brein hê. Dit kan die breinselle vernietig wat jou korttermyngeheue beheer, jou konsentrasievermoë beduiwel en jou sommer oor die algemeen dommer maak.

Dit kan ook veel erger goed soos vervolgingswaan en hallusinasies tot gevolg hê. Hoe meer gereeld jy rook en hoe sterker die dagga is, hoe erger die uitwerking. Dit is nog nie duidelik presies hoe lank dit duur voor die skade aan die breinfunksies herstel is nie, maar dit kan enigiets tussen weke en selfs jare wees.

Die dagga wat nou alledaags gebruik word, is tien maal sterker as die dagga van die 1960’s. Anders as wat mense tóé geglo het, is dagga beslis fisiek verslawend. Dagga wat in vogtige omstandighede gekweek word is die gekonsentreerdste; daarom is Durban Poison en Malawi Gold baie gewild.

Die magie van magic mushrooms
Dit word vervaardig uit gedroogde Psilocybesampioene en word taamlik algemeen (sommer baie algemeen in Europa) as ’n psigedeliese middel op partytjies gebruik. Van die gebruikers in Europa kweek en droog die Cubensis- of die Thai-spesies van die sampioene sommer self.

Eet dit, en jy weet gou nie wáár jy is nie; dit toor regtig met jou kop en wat jy sien en hoor het niks met die werklikheid uit te waai nie. Gebruikers ontwikkel ook baie vinnig ’n weerstand daarteen en moet dikwels eers drie tot vier dae “skoon” wees voor hulle weer die psigedeliese klanke en kleure kan ervaar.

’n Aaklige newe-effek van magic mushrooms is dat gebruikers lank nadat hulle dit gebruik het, nog nagmerrie-terugflitse van hul hallusinasies kan kry.

Die waanwêreld waarin jy leef
Sommige dwelms (soos dagga), psigedeliese middels (soos magic mushrooms, LSD en tik) en amfetamien-opkikkers (soos speed) kan ’n mens beslis psigoties maak, wat beteken jy verloor kontak met die werklikheid en leef in jou eie waanwêreld. Hoe groter die dosis wat jy gebruik en hoe langer jy dit neem, hoe groter is die gevaar dat jy geestesversteurings kan ontwikkel.

Die dwelms tas moontlik die brein aan deur die dopamien-oordragstowwe te versteur, maar ander brein-oordragstowwe word moontlik ook aangetas.

Geestesversteurings wat deur dwelms veroorsaak word, kan kort van duur wees (byvoorbeeld die stemme wat jy hoor terwyl jy hoog is op tik, en vervolgingswaan terwyl jy hoog is op dagga) en kan gewoonlik binne ure ná die laaste dwelmgebruik opklaar. Maar sommige mense se psigotiese gedrag hou weke lank aan.

Tans reken psigiaters as die geestesversteuring nie binne ’n maand opklaar nadat ’n mens opgehou het om die dwelm te gebruik nie, was daar moontlik ’n onderliggende psigose.

Navorsers is dit nog glad nie eens oor hoe vinnig ’n dwelm-psigose behoort op te klaar, óf dit in alle gevalle heeltemal opklaar en in watter mate dit blywende breinskade veroorsaak nie.

Mense wat uitsonderlik vatbaar vir dwelmpsigose is
Sommige mense het beslis ’n oorgeërfde geneigdheid tot psigoses (waar jy in jou eie waanwêreld leef) as hulle dwelms gebruik.

Mense met die hoogste risiko vir geestesversteurings ná dwelmgebruik is jong mense, mense wat doodeenvoudig te min geslaap het, dié wie se naby familielede tekens van skisofrenie of ander psigoses toon, of wat self tevore psigotiese episodes gehad het. By party mense kan dwelmgebruik langdurige en ernstige versteurings veroorsaak. As iemand eers een keer ’n dwelm-psigose ervaar het, kan ’n baie laer dosis van die dwelm weer tot ’n psigose lei.

Francois se gedrag in nederland en op pad terug na SA
Die gedrag wat beskryf word, is van iemand wat kontak met die werklikheid verloor het. Hy het stemme gehoor en waan vir die werklikheid aangesien. Sulke optrede lyk psigoties.

Dié psigose kan aan die dwelms te wyte wees of aan ’n onderliggende bipolêre steurnis wat na vore gekom het. Die grootse en vinnige gedagtes vol energie en prikkelbaarheid laat ’n mens dink dat sy gedrag dalk manies kon wees. Dit wil ook voorkom asof hy later in ’n post-psigotiese depressie verval het.

Met volgehoue psigiatriese hulp en die regte voorskrifmedisyne wat gereeld gedrink word, sal iemand wat soortgelyke trauma ervaar het, kan herstel.

Drugs: special report

Parents: look out for these drugs

Hoe deadly is pot?

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Watch out! »

Gross fungal infections you can pick up at the gym

You go to gym to exercise. But make sure the only thing you pick up is a dumbbell and not one of these gross fungal infections.

Holiday health »

Your 10-step asthma holiday checklist

Don’t let asthma ruin your summer holiday. Whether you are travelling or embracing the summer at home, make sure you plan ahead.