advertisement
02 February 2010

Depressie - nou veg ek terug

Die 7de Laan-ster praat openlik oor haar jare lange stryd teen depressie.

0

Vuyelwa Booi, 7de Laan se opgewekte Alyce, praat openlik oor haar jare lange stryd teen depressie.

Deur MARIE OPPERMAN

In die sepie 7de Laan het Vuyelwa Booi, wat die rol van Alyce Morapedi vertolk, altyd 'n breë glimlag. Sy is die ewige optimis, geesdriftig, vol grappe. Sy's gewoonlik reg vir 'n lekker kuier – en altyd op soek na iemand wat 'n trouring aan haar vinger kan steek.

Maar wie sou dit ooit kon raai? Weg van die kassie is haar lewe soms 'n donker gat. Want jare al teister die monster van depressie haar.

Vandag praat Vuyelwa vir die eerste keer openlik oor haar onlangse ineenstorting en oor hoe sy met depressie en angs sukkel. Sy weet sy steek dit al te lank weg.

"Ek sit baiekeer in my kantoor en huil. Wanneer ek dan op stel moet gaan, vee ek my trane af, wend grimering aan en gaan doen al daardie verspotte dinge wat Alyce altyd doen en niemand weet hoe ek werklik voel nie," bely die 28-jarige aktrise.

Vandag is 'n goeie dag. "Ek gee dit ses uit tien. Maar gisteraand was ek in die diepste donkerte. Ek het baie gehuil. Gelukkig het ek nou geleer om in sulke tye hulp te vra. Ek het 'n vriend gebel en dié het my gehelp om dinge in perspektief te sien."

Hier in 7de Laan se ateljee in Lonehill, Sandton, lyk Vuyelwa die ene Alyce – asof die lewe vir haar net sy blink kant wys. Haar mooi gesig is perfek gegrimeer, sy dra 'n lang, wit trui bo-oor 'n snoesige swart rolnektrui, en onder haar wyepyp-jeans steek die skerp punte van sexy stewels uit.

Maar sy's bitter ernstig wanneer sy praat oor haar "siekte", soos sy die depressie noem wat haar al van kindsbeen af folter.

"Selfmoordgedagtes is al jare lank ’n konstante vriend, of seker eerder 'n vyand," sê sy. "Ek het nog steeds gedurig sulke gedagtes.

"Depressie laat my voel asof ek ál dieper in 'n swart gat wegsink. Of asof ek in 'n glasboks is, in stikdonkerte. Jy kyk uit en sien hoe mense daar buite met hul normale lewe aangaan. Hulle is gelukkig, hulle lag. Maar jy is heeltemal alleen; jy skreeu om hulp, maar niemand hoor of sien jou nie.

"Dit voel asof jy versmoor, asof die boks ál kleiner word en jou vasdruk sodat jy geen asem meer het nie. Dís wanneer 'n mens selfmoord wil pleeg. Jy wil dit doen om uit daardie hel te ontsnap."

Haar donker metgesel het Vuyelwa net drie maande voor ons geselsie hospitaal toe gedryf.

"Daar, uiteindelik, moes ek erken dat ek siek is en iets daaraan moet doen. Voorheen het ek dit op my eie probeer hanteer, maar dit het nie gewerk nie.

"Dis waarom ek nou daaroor praat. Ek wil hê dat mense weet depressie is 'n siekte waaraan baie ly, maar wat gelukkig beheer kan word. Ons depressielyers moet net besef wat ons makeer en daaroor praat. Ons moet aanvaar ons het hulp nodig. Ons het mense om ons  nodig."

Van kleins af

Haar vroegste herinneringe is van 'n vreeslike ongelukkigheid wat soos 'n versmorende wolk oor haar lê.

"Ek het geweet iets verskrikliks is fout met my. Op laerskool al in Soweto was ek so ongelukkig dat ek net wou selfmoord pleeg.

"Ek het vet en lelik gevoel. Ek het soos 'n uitgeworpene in my gesin gevoel en by die skool nie juis vriende gehad nie. Ek het gehuil en gebid: 'God, wat is fout met my, hoekom kan ek nie soos ander mense wees nie?' "

Sy was omtrent elf jaar oud toe die pyn in haar so ondraaglik word dat sy selfmoord oorweeg het. "Ek het gewonder of ek 'n oordosis pille moet drink of my polse moet sny. Genadiglik het ek nie die moed gehad nie. Daarna het ek myself nog meer gehaat. Ek het gevoel ek is so 'n mislukking dat ek dít nie eens kon doen nie."

Niemand het geweet hoe sy voel nie, ook nie haar ouers nie.

"Ek was van jongs af my eie berader, met die hulp van God. Hy het my die intelligensie gegee om die regte vrae te vra: Wat is my opsies behalwe selfmoord? Ek is hier en ek moet 'n manier vind om die lewe te hanteer."

Musiek het haar gekalmeer en was haar redding. "Ek het besef dinge voel nie heeltemal so sleg wanneer ek sing nie. Musiek is vir my heilig, dis die klank van die lewe. Dit het my aan die lewe gehou."

Sy is hoërskool toe, steeds depressief, en nou het sy ook angsaanvalle gekry. In gr. 10 het depressie haar die eerste keer in die hospital laat beland. "Ek was twee weke onder verdowing en sielkundiges en maatskaplike werkers het met my kom praat. Maar ek het steeds nie presies geweet wat depressie is nie."

Tuis moes Vuyelwa weer haar eie berader wees. "Dinge het gewoonweg aangegaan," vertel

sy.

"My ouers wou nie hê ek moes antidepressante gebruik nie. Ons het nie eens oor my siekte gepraat nie.

"Baie mense, veral in die swart kultuur, beskou depressie nie as 'n siekte nie. Hulle dink dis net buierigheid, iets waaruit jy jouself moet ruk."

Vuyelwa het in 1998 gematrikuleer en toe drama aan die Midrand University (nou die

Midrand Graduate Institute) gaan studeer. Ná 'n gelukkige jaar moes sy opskop omdat daar nie geld was nie. "Dit was ’n terugslag en ek het weer depressief geraak," sê sy.

Help ander, help jouself

Heling het gelukkig gekom toe Vuyelwa daarna 'n jaar lank as vrywilliger in die hospies van die Cotlands-kinderskuiling in Johannesburg gewerk het. "Om vreugde in daardie kinders se lewe te bring het my beter laat voel. Deur vir hulle liefde te gee het ek die afgeskeepte kind binne-in my help gesond maak. Ek wil weer met kinders werk. Dis my passie."

Een van haar Midranddosente het Vuyelwa toe verlof gegee om haar klasse gratis by te woon en dit het die deur oopgemaak na die teater en later ook na 7de Laan. Sy was maar 19 toe sy in 2001 in die Laan begin speel het.

"Ek was gelukkig, tot ek in 2004 'n nuwe uitdaging gesoek en bedank het. 'n Ruk lank het ek by korporatiewe partytjies gesing en ook in 'n toneelstuk gespeel."

Toe in Junie 2005 is sy na Amerika om aan die New York Film Academy te gaan studeer. Drie maande later het haar geld egter opgeraak en moes sy weer tou opgooi. Dit het haar opnuut in 'n hewige depressie gedompel.

"Dit was verskriklik. Ek het 'n emosionele ineenstorting gehad. Dit was asof my liggaam, my brein ook, ophou funksioneer het. Drie weke lank kon ek nie loop, praat of eet nie. Ek het net asemgehaal. My vriendin Tracey Slade, by wie ek gewoon het, het my soos ’n kind gehelp.

"Wanneer 'n mens baie depressief is, is dit asof jou denke in twee verdeel is. Daar is die intellektuele kant wat sê jy moet jou regruk. Dan is daar die ander, donker kant – en dis die kant wat my in daardie tyd oorheers het."

Besef sy moet regkom

Vuyelwa het later, soos dikwels tevore, besef sy moet regkom. "Ek het my gedwing om op te staan en uit te gaan. Ek het ook geweet ek het musiek nodig om te genees."

En toe sy die Suid-Afrikaanse musikante Michael Rennie en Nick Turner in New York raakloop, het die gety eindelik vir haar begin draai.

Die twee mans, in Suid-Afrika lede van Sons of Trout, het intussen die groep Mikanic gestig en vir Vuyelwa gevra om saam met hulle op te tree. "Weer het musiek my gered."

Die geluk was aan haar kant toe sy in Desember 2005 'n hoofrol kry in die Suid-Afrikaanse produksie Drumstruck wat in New York opgevoer is.

Dit het goed gegaan, sy het geld gehad en by haar eie woonstel ingetrek. Maar op 'n dag het

sy wakker geword en geweet sy moet terug huis toe.

En so het sy in Mei 2006 ná elf maande in New York huis toe gekom. Sy is terug 7de Laan toe, weer as Alyce en ook as 'n publisiteitskoördineerder.

"Ek het eers geweet waarom ek moes terugkom toe my niggie, Lehlohonolo Damoyi, twee maande later selfmoord pleeg.

"Sy was my ander helfte; daar was so 'n sterk band tussen ons dat ek in New York van haar gedroom het wanneer sy probleme gehad het.

"My hele lewe het ineengetuimel. Ek het binne-in doodgegaan. Dis vir my bitter moeilik om te weet ek, wat so na aan haar was, het dit nie sien kom nie. Ek wonder of sy nie dalk ook aan depressive gely het nie.

"Ek kon haar dood nie aanvaar nie. Dit was die begin van die afwaartse spiral waarin ek steeds is. Die tyd sedert tóé is vir my net 'n waas. Selfmoordgedagtes het my bly teister.

"Op 23 Desember 2006 wou ek dit eindelik doen. Ek wou my polse sny. Ek was op die vloer, snikkend. Maar ek kon nie.

"Ek het my suster Zanele gebel. Sy het verstaan. 'Ek kom jou haal,' het sy gesê. Ek het by haar gebly. Snags het ek nagmerries gehad. Ek kon nie eet nie. Toe het ek nog geglo ek kan dit self regmaak."

Gelukkig het sy die ondersteuning van haar familie en kollegas by 7de Laan gehad.

"Dat ek nog leef, is danksy hulle. Ek is gou terug werk toe, want 7de Laan is vir my 'n veilige plek. Ek werk altyd, al voel ek hoe depressief."

Professionele hulp

Sy is ook na 'n sielkundige toe. "Ek moes terapie kry om my uit die depressie te help trek. Ek het meer as 28 jaar se terapie gehad om in te haal. Ek wou steeds nie antidepressante drink nie en het die homeopatiese middels Rescue Remedy en Biral gebruik."

Sy het haar depressie die eerste keer openbaar gemaak toe sy verlede jaar 'n bydrae geskryf het vir Ligdans*, ’n boek waarin bekendes van hul depressie vertel. Dit is geskryf

deur Jeanne Els, wat self 'n depressielyer is.

"Dit was vreesaanjaend, maar dit het die siekte vir my 'n werklikheid gemaak. Ek het dit nou op die naam genoem. Voorheen was dit 'hierdie ding waarmee ek sukkel'. "

Toe kom einde Maart 2009 en sy stort nogmaals ineen. Ná dae van trane het sy vir haar kollegas gesê sy het hulp dringend nodig. Sy is reguit na haar huisdokter toe.

" 'Help my,' het ek gesê. 'Dit voel asof iets binne-in my gaan breek.' "

Sy is dadelik hospitaal toe waar sy die een paniekaanval ná die ander gekry het. "Ek het daar antidepressante begin gebruik. Miskien het ek te veel druk op myself geplaas om my depressie sonder medisyne te probeer hanteer."

 

Sy beskryf haarself deesdae as "a work in progress". Sy het goeie dae en slegte dae.

"Ek weet nie hoe lank dit my gaan kos nie, maar ek hoop om heeltemal gesond te word.

"Ek vat elke dag soos dit kom. Wie weet, dalk beland ek weer in die hospitaal. Maar ek sal aanhou veg teen my depressie, ek sal nie toelaat dat dit my oorwin nie. Dis 'n monster wat gedurig dreig om sy kloue in my te slaan. Ek veg om aan die lewe te bly. Ek veg vir geluk."

Sy het met haar siekte vrede gemaak, sê sy. Die volgende stap was om te besluit hoe om dit te hanteer. "Ek weet nog nie wat ek alles moet doen nie, maar ek vermy nou situasies en plekke wat my ontstel, asook mense wat my emosioneel dreineer. Ek is goed vir myself."

 

  

Hier kry jy hulp

Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angssteurnisgroep se opgeleide raadgewers staan elke dag van 08:00-20:00 reg om te help. Jy kan die tolvrye hulplyn bel by 0800-567-567 of 'n SMS na 31393 stuur.

 

Daar is hulp vir depressie

 

Die drie mees algemene gemoedsafwykings

 

Is jy werklik depressief?

 

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

The debate continues »

Working out in the concrete jungle 7 top butt exercises for guys 10 things pole dancing can do for you

The running vs. walking debate

There are many different theories when it comes to the running vs. walking for health and weight loss.

Veganism a crime? »

Running the Comrades Marathon on a vegan diet Are vegans unnatural beasts? Can a vegan be really healthy?

Should it be a crime to raise a baby on vegan food?

After a number of cases of malnourishment in Italy, it may become a crime to feed children under 16 a vegan diet.