Share

Daar is hulp vir depressie

Al meer mense ly aan depressive. Die Wêreldgesondheidsorganisasie raam dat dit teen 2020 die voorste rede vir werkongeskiktheid en 'n gebrek aan produktiwiteit sal wees.

Deur DIE HUISGENOOT-POLS SPAN

Dit tas twee keer soveel vroue as mans aan, maar tref geen onderskeid op grond van ras of ouderdom nie. Dit tap jou kragte, maar laat jou ook slapeloos rondrol. Dit maak jou desperaat vir hulp, maar vernietig juis daardie verhoudings wat jy nodig het. Dit kan trouens jou lewe verwoes.

Depressie is nie net 'n kwaai aanval van die blues nie. Dis 'n algemene en diagnoseerbare mediese toestand en die simptome is liggaamlik (waaronder seksuele probleme en 'n gebrek aan energie), verstandelik (waaronder besluiteloosheid en aandaggebrek) en emosioneel (waaronder diepe ellende of prikkelbaarheid).

Sowat 6-10 persent van die wêreldbevolking beleef gedurende enige gegewe jaar 'n depressiewe episode en dié syfer styg steeds. Om die waarheid te sê, voorspel die Wêreldgesondheidsorganisasie dat depressie teen 2020 wêreldwyd een van die grootste oorsake van verlies aan produktiwiteit sal wees omdat mense weens die toestand nie werk toe sal kan gaan nie.

Depressie moet egter nie verwar word met blote terneergedruktheid of die treurproses wat op 'n ernstige verlies volg nie.

"Dis heeltemal normaal om soms ietwat neerslagtig te voel,” sê Health24 se kuberkopdokter, prof. Michael Simpson. "Maar dit moenie so erg wees dat dit met jou werk of jou persoonlike lewe inmeng nie en moet ook nie vir lang tye voortduur nie."

Rou kan beslis soos depressie lyk en voel, maar dit begin gewoonlik ná sowat ses maande opklaar. Medikasie help nie vir mense wat treur nie.

"Aan die ander kant kan langdurige fisieke simptome soos slaapversteurings en eetlusveranderings op depressie dui," verduidelik Michael.

Hoekom ek?

Wat presies depressie veroorsaak, is nie bekend nie. Navorsers het egter 'n rits moontlike biologiese, fisieke, sosiale en sielkundige faktore gevind wat die toestand kan laat ontwikkel.

Een biologiese faktor het te doen met breinoordragstowwe – chemikalieë in die brein wat die oordrag van boodskappe tussen senuselle beheer. As die werking van dié chemikalieë versteur word – byvoorbeeld as gevolg van sekere medisynes of dwelms soos Ecstasy –  kan depressie posvat. Gene speel ook 'n rol: As jy 'n nabye familielid met die probleem het, loop jy 'n groter gevaar om dit self te kry.

Toestande soos beroerte, Parkinson of Cushing se siekte en skildklier-afwykings kan ook depressie veroorsaak of dit vererger.

Op sosiale vlak kan spesifieke gesinsomstandighede en -dinamika party mense se vatbaarheid verhoog. Egskeiding kan 'n mens byvoorbeeld spyt, berouvol en soos 'n mislukking laat voel omdat jy dit nie kon regkry om die verhouding te laat werk nie.

Nog 'n moontlike sondaar is 'n ongelukkige verhouding wat bly voortsleep, sê Charl Hattingh, 'n kliniese sielkundige van Kaapstad. "En as daar 'n kombinasie van eksterne faktore betrokke is, kan mense ook depressief raak."

'n Mens se eie persoonlikheid kan jou meer vatbaar vir depressie maak, soos pessimism en 'n onvermoë om stres te beheer.

Net so kan iets verskrikliks wat met jou gebeur het toe jy jonger was jou in later jare meer kwesbaar vir depressie maak.

Miskien is dít hoekom ’n mens nooit veilig is nie? Tot twee persent van 12-jariges en 8-14 persent van 15- tot 18-jariges ly aan depressie, sê dr. Graham Emslie van die Universiteit van Texas in Amerika. Jong lyers word egter dikwels verkeerd gediagnoseer omdat hul depressie onverwagte vorms aanneem.

Kleintjies is miskien buitengewoon klouerig of traag om skool toe te gaan. Tieners kan swak vaar op skool, dwelms gebruik, begin rondslaap of van die huis af wegloop.

Partykeer is daar 'n spesifieke sneller wat die depressie veroorsaak, ander kere slaan dit sonder rede toe – gewoonlik by iemand wat in die verlede al depressief was.

"Die eerste aanval van depressie word algemeen deur 'n stresvolle gebeurtenis uitgelok soos die dood van 'n geliefde of 'n ernstige siekte," sê prof. Piet Oosthuizen van die Universiteit van Stellenbosch se departement psigiatrie. "Elke aanval van depressie verlaag egter die drumpel vir die volgende aanval, wat beteken dat dit ál minder stres verg om daaropvolgende aanvalle te veroorsaak. Kortom, depressive veroorsaak depressie."

Jou pad uit die bloute

Met die regte behandeling sal 80 persent van depressielyers verbeter en 60 persent sal ten volle herstel. Ideaal gesproke is die behandeling 'n kombinasie van medikasie en terapie, en in ernstige gevalle moet lyers in die hospitaal behandel word.

Daar's 'n verband tussen 'n tekort aan breinoordragstowwe en depressie, en hiervoor kan antidepressante help. Dié middles sorg dat die beskikbare breinoordragstowwe langer hou of doeltreffender werk.

Moderne antidepressante dek 'n wye veld en die meeste het minder newe-effekte as die ouer weergawes. Die algemeenste newe-effekte is naarheid en hoofpyn in die eerste week en seksuele newe-effekte soos vertraagde orgasme en 'n lae seksdrang.

Gelukkig verbeter of verdwyn die meeste van hierdie simptome mettertyd.

Die baie algemene selektiewe serotonienheropname-inhibeerders (SSHI's) soos Prozac, Cipramil, Zoloft en hul generiese weergawes werk op die oordragstof serotonien.

Dié produkte het 'n goeie naam omdat hulle veiliger as die ou antidepressante is wanneer 'n oordosis geneem word.

Party van hulle is ook baie goed vir die behandeling van angstigheid, wat dikwels met depressie gepaardgaan.

Maar nuwe middels soos serotonien-en-noradrenalien-heropname-inhibeerders (SNHI’s) word ál gewilder. Hulle het min of meer dieselfde newe-effekte as SSHI’s, maar is beter wanneer depressiesimptome hoof- en spierpyn insluit. SNHI's kan dalk ook verdere depressie-aanvalle beter help voorkom.

Die vraag is egter nie net watter medikasie jy moet gebruik nie, maar ook vir hoe lank: As dit die eerste aanval is en die antidepressant werk, moet jy dit 'n jaar lank neem, sê Piet. "Vir 'n tweede aanval moet dit twee jaar lank geneem word en ná 'n derde voorval vir die res van jou lewe."

Mense maak dikwels die fout om behandeling te vroeg of skielik te staak. Toe die internasionaal bekende SSHI-kenner dr. André Joubert onlangs in Suid-Afrika was, het hy gesê 'n mens kan die uitwerking van die middels ná omtrent sewe dae begin voel, en dat dit ses tot twaalf weke duur voor die beste resultate behaal word.

As jy die middels voor die voorgeskrewe tyd staak, is daar 'n groter gevaar dat die depressie terugkeer en selfs chronies raak.

Dis ook belangrik om jou geleidelik van die middels te speen. As jy te skielik ophou, kan jy onaangename simptome soos angstigheid of duiseligheid kry.

Vra jou dokter dus voor jy ophou en stel vas hoe om die dosis geleidelik te verlaag.

Daar word soms gesê dat antidepressante te maklik voorgeskryf word, maar dis 'n wolhaarstorie, sê Piet. “Die waarheid is dat medikasie nie gereeld genoeg voorgeskryf word nie – navorsing toon minder as 50 persent van mense met depressie word korrek gediagnoseer. En minder as die helfte van hulle word doeltreffend behandel met psigoterapie, medikasie of albei."

Michael stem saam, maar sê antidepressante is nie vir alle pasiënte noodwendig die beste plan nie. Baie deskundiges bevel dit nie voor die voet aan nie, veral nie uit die staanspoor nie. Daar is navorsing wat wys kognitiewe gedragsterapie (waar 'n mens geleer word om jou gedrag doelbewus te verander) kan net so goed werk soos antidepressante en ook permanente voordele inhou.

Charl sê ook medikasie is dikwels niks meer as 'n pleister nie, 'n tydelike bedecking vir 'n chronies besmette wond.

"Selfs al laat 'n antidepressant iemand beter voel, kan sy emosionele problem terugkeer as sake soos 'n ongelukkige verhouding nie aangespreek word nie," verduidelik hy. "Een van die moontlike nadele van medikasie is dat die pasiënt sy probleme vermy."

Daarenteen help terapie 'n mens om die waarheid in die oë te kyk en die emosionele oorsake van jou depressie uit te lig.

"Jy leer verstaan hoekom jy op slegte situasies reageer deur depressief te word," sê Charl. "Dan kan jy in 'n veilige omgewing saam met die terapeut nuwe maniere leer om trauma en verlies te hanteer."

Maar as depressie jou daaglikse funksionering aantas, moet medikasie oorweeg word. Die antidepressante help jou dan om jou simptome te beheer terwyl terapie tot die wortel van die kwaad deurdring.

Skokterapie

As die depressie besonder hewig is, of as medikasie nie wil help nie, oorweeg dokters soms skokterapie, oftewel elektrokonvulsiewe terapie (EKT). Dié behandeling stimuleer die brein met kort, elektriese prikkels wat effense stuipe veroorsaak en help om simptome te verlig. Met EKT toon die brein dieselfde veranderings as ná die gebruik van antidepressante, maar dit werk vinniger.

Moderne skokterapie is nie seer of gevaarlik nie, maar party mense kry geheueverlies as die behandelings baie kort op mekaar volg, of as die terapie aan albei kante van die brein toegepas word.

Die behandeling van depressie is beslis ingewikkeld en wetenskaplikes moet nog baie vrae beantwoord. Maar navorsing wys dat hoe langer jy wag om behandel te word, hoe moeiliker word dit om jou depressie te behandel. Wat ook al jou aksieplan, die sleutel tot sukses is dat jy so gou moontlik hulp moet soek.

 Hier kry jy hulp

Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angssteurnisgroep se opgeleide raadgewers staan elke dag van 08:00-20:00 reg om te help. Jy kan die tolvrye hulplyn bel by 0800-567-567 of 'n SMS na 31393 stuur.

Lees meer:

Die drie mees algemene gemoedsafwykings 

Is jy werklik depressief?

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE