Share

13 verkeerde maniere om iemand af te sê

Jy kan nog die oomblik onthou toe jy geweet het dis verby. Jy het gesien hoe sy met haar baas flirt, en al wat jy gevoel het, was verligting. Om die waarheid te sê, nou dat jy terugdink, was die verhouding al lank gelede reeds verby. Dit pas jou miskien, maar wat van haar?

Uitmaak beteken hartseer. Daarvan kan 'n mens nie wegkom nie, veral nie vir die een wat afgesê word nie. Die manier hoe jy iemand afsê, kan bepaal of hulle aangaan met hulle lewens en of hulle jare later nog fantaseer oor  hoe hulle al die bene in jou liggaam gaan breek.

So, wat is die verkeerde manier om uit te maak?

Die SMS-afsê. Dit is net doodgewoon laag en goor en toon 'n totale gebrek aan meegevoel teenoor jou metgesel. Niemand kan positief op so iets reageer nie en dit laat jou sleg lyk. Om bv. die volgende te stuur: "Jmr, wrk nie mr v m n, als v d b," gevolg deur 'n huilende gesiggie, plaas jou dadelik in die monster-kategorie. (Vertaling: Jammer, dit werk nie meer vir my nie, alles van die beste!)

Die riemtelegram-afsê. Om net niks te sê nie, en die skinderpraatjies oor jou en 'n ander vrou (wat julle hande nie van mekaar kon afhou nie) hulle gang te laat gaan, is net pure lafhartigheid. Selfs al het die verhouding in 'n uitgerekte marteling ontaard, is die minste wat jy kan doen om haar persoonlik in kennis te stel.

Die "ek het spasie nodig"-afsê. Miskien voel jy 'n bietjie benoud, maar laat ons eerlik wees: Hierdie skielike behoefte aan ruimte spruit gewoonlik uit die feit dat daar nie genoeg plek in jou lewe is vir jou huidige meisie en jou toekomstige sleepsel nie – een wat jy toevallig alreeds ontmoet het.

Die slegsê-afsê. Dis waar dat daar nie so iets soos 'n vreedsame afsê bestaan nie. Ego's word gekneus, toekomsplanne verydel en die kloue kom tevoorskyn. Dit dien geen doel om jou gewese maat vir oulaas iets soos die volgende toe te snou nie: "Jy's vet en lelik en jy kan nie eers jou werk ordentlik doen nie." Al wat jy hiermee gaan bereik, behalwe om sy of haar ego verder te vertrap, is dat jy nie jou gunsteling trui en die laaste paar CD's wat jy nie in jou koffer kon inkry nie, gaan terugkry nie.

Die "ek was nooit regtig lief vir jou nie"-afsê. Dit is moontlik die wreedste van almal omdat dit 'n bespotting maak van al die goeie herinneringe aan julle tyd saam. Dit bederf iets wat op 'n stadium baie vir altwee van julle beteken het – hoekom sou julle anders ooit by mekaar betrokke geraak het? Of is jy dalk iemand wat verhoudings aanknoop met mense vir wie jy nie werklik omgee nie?

Die "my-ma-was-reg-gewees"-afsê. Moenie ander mense hierby insleep nie. As jou ma nie van jou metgesel gehou het nie, dien dit geen doel om op hierdie stadium enigiets oor haar opinies te sê nie. Dit vryf net sout in die wonde. Sy weet waarskynlik ook maar te goed dat jou ma nie van haar nou nie – en sy hou moontlik ook nie van jou ma nie.

Die "ontmoet vir Sonja"-afsê. Dit is laag en gemeen. Dit ontneem die persoon wat jy afsê die geleentheid om spontaan te reageer. Wat hulle ook al sê, sal eenvoudig lamsakkig, katterig of pateties klink. Raak eers op 'n mooi manier - privaat - van jou huidige metgesel ontslae vóór jy die volgende een nader hark.

Die leë huis-afsê. Jou meisie kom by die huis en dink eers daar was 'n inbraak, maar sien dan dat dit net jóú goed is wat weg is. Dit is 'n lae hou. Die minste wat jy aan haar verskuldig is, is om haar voor die tyd te waarsku en 'n nommer te laat waar sy jou in die hande kan kry.

Die "kom-ons-bly-vriende"-afsê. Dit is net 'n manier om die pyn meer draagbaar te maak en vals hoop te skep. Dit mag die pyn aanvanklik ietwat verlig, maar as die besef insink dat dit net leë woorde was, begin die marteling weer van voor af. As jy eers saam met iemand geslaap het, is dit bykans onmoontlik om agterna 'n normale vriendskap te handhaaf.

Die "jy het hulp nodig"-afsê. Op 'n sekere vlak het almal hulp nodig. As jy nie daarin kon slaag om jou vriend te oortuig om hulp te soek vir sy drankprobleem terwyl julle saam was nie, wat laat jou dink hy gaan nou jou raad volg?

Die "ek-word-verplaas"-afsê. As jy ernstig is oor iemand, kan julle altyd 'n plan maak om saam êrens anders te gaan nesskop – tensy jy die verskoning wil gebruik om van die persoon ontslae te raak. Daar is ook 'n verskil tussen 'n tydelike verplasing en 'n permanente verhuising na Kamieskroon.

Die "ek's-jammer-maar-Ansie-is-swanger"-afsê. Dit is seker die moeilikste een vir jou meisie om te hanteer. Jy was nie net ontrou nie, maar die ander vrou het nou 'n houvas op jou waarmee sy nie kan meeding  nie. Die feit dat sy nie eers van Ansie se bestaan geweet het nie, is sout in die wonde.

Die "jy's te goed vir my"-afsê. Dit is 'n variasie van die "dis-nie-jy-nie,-dis-ek"-afsê. Die enigste goeie ding in hierdie geval is dat die ander persoon se gevoelens effens in ag geneem word. Maar hoeveel mense praat werklik die waarheid wanneer hulle dit sê? Wat hulle dikwels bedoel, is dat hulle keelvol is en dat dit tyd is om groener weivelde te soek.

(Susan Erasmus, Health24, hersien Junie 2011)

Vra Cybershrink 'n vraag.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE