Share

13 verborge tekens van stres

Daar's hierdie ou in sy windmaker sportmotor met Tupperware rondom die kante, net sentimeters van jou buffer wat sy ligte wild flikker. Jy is besig met jou hande-vry eenheid, met 'n klient op die een lyn en 'n ander wat aanhou. Dan verloor jy die selfoon-sein en die foon is dood. Die senings in jou nek trek stywer as Stradivarius-snare.

Tensy jy onbetaamlik ryk is of in 'n tropiese paradys lewe, is daar 'n goeie kans dat jy stres ervaar – dit is eenvoudig deel van die lewe ná die Industriële Rewolusie. Ons ken almal 'n droë mond, klam handpalms (die hande, nie die palmbome in die tropiese paradys nie) en die styfgespande spiere.

Ander simptome

Daar is egter baie ander simptome van stres wat minder bekend is. Hier's 'n paar, asook 'n klompie wenke oor hoe om die simptome te hanteer:

Duh: om vergeetagtig te wees en te sukkel om te konsentreer of besluite te neem, is 'n simptoom van stres. Of miskien kort jy net selfvertroue. Besluit op 'n standpunt en hou daarby. Of nog beter: neem 'n tien minuut-pouse en geniet 'n koppie kruietee.

Die werk laat jou gaap: as jy baie gaap en nie vaak voel nie, kan dit wees dat jy te vlak asem haal, wat jou liggaam laat gaap om meer suurstof te kry. Haal 'n paar keer diep asem.

Bloed, sweet en sonde met die bure: stres het goed gewerk vir jou voorvaders, wat die adrenalien nodig gehad het om weg te hardloop vir tiere, kannibale en ensiklopedie-verkoopsmanne in netjiese beervel-pakke. Ongelukkig stel dit ook hormone vry wat katekolamiene genoem word, wat jou bloed verdik. Hierdie proses is goed as jy jou honger bure wil uitoorlê, maar op die lange duur verhoog dit jou risiko vir 'n hartaanval. Die oplossing? Trek na 'n beter buurt en leer om stres dadelik te herken en te ontlont.

Sweet: nog 'n hormonale gevolg van stres is dat jy kwaai begin sweet, veral onder jou arms waar die sweet slegter ruik as op ander plekke op jou liggaam. Die oplossing? Stort elke dag, gebruik deodorant en leer om stres te hanteer.

Misbruik van stimulante: baie mense gebruik stimulante soos tabak, kafeïne en veral alkohol om stres te hanteer. Die probleem met nikotien is dat dit jou doodmaak. Die probleem met drank en kafeïne is dat dit jou bloedsuikervlakke omkrap, wat op sy beurt jou konsentrasie en buie beïnvloed. Die oplossing? Rantsoeneer jou inname van drankies met kafeïne – onthou dat baie koeldranke heelwat daarvan bevat. As jy hoop om smiddags nog iets uit te rig, vermy alkohol oor middagete. Drink gereeld water dwarsdeur die dag. Is dit nodig om jou aan te moedig om op te hou rook? Natuurlik nie!

Droë mond: die droë mond word veroorsaak deur 'n vermindering in die vloei van speeksel in die mond. Dit kan ook lei tot aasvoël-asem of halitose en tandprobleme. Drink water, en flos en borsel jou tande gereeld.

Seer spiere: wanneer jy gestres is, trek jou spiere saam, wat tot stywe spiere kan lei. Dit gebeur veral met die rugspiere, en die spiere in jou kruis kan begin kramp. Jy kan spierpyn verlig deur 'n paar hurkoefeninge met jou arms op jou knieë te doen. Hou die posissie vir tien sekondes.

Pyn in die nek: as jy krom oor jou sleutelbord, telefoon of stuurwiel sit, neig jou nekspiere om op 'n knop te trek, wat tot styfheid en – uiteindelik – tot hoofpyn kan lei. Tot 80 persent van hoofpyne begin op hierdie manier. Probeer die volgende: plaas jou hand op die teenoorgestelde skouer en vind die gevoelige plekkies met jou vingerpunte en masseer ferm. Neem 'n lang warm bad met olies soos arnica-masseerolie of 'n paar druppels kamille- en laventelolie.

Broekhoes: as jy die hele tyd probleme met winderigheid het, kan dit beteken dat jy minder hoenderpasteitjies en boontjiesop moet eet, maar dit kan ook 'n teken van stres wees. Winde, krampe, sooibrand en diarree is simptome van prikkelbare derm sindroom, wat deur angstigheid ontlont kan word. Drink minder kafeïne en gaskoeldrank. Vermy borrel- en kougom en moenie enigiets deur 'n strooitjie drink nie.

Skilfers: aanhoudende stres verswak die immuunstelsel, wat jou kopvel meer vatbaar maak vir die nare swamme wat skilfers veroorsaak (wetenskaplikes het dit onder sterk mikroskope ondersoek en gevind dat elkeen soos 'n klein sneeumasjientjie werk). Maak dit minder opsigtelik deur altyd wit klere te dra of party van die volgende maatreëls te volg: maak jou hare met 'n handdoek droog eerder as om ’n haardroër te gebruik, wat die vel uitdroog; moenie te veel skilferwerende sjampoe gebruik nie – dit is sterk en kan die kopvel uitdroog, wat tot verdere skilfers kan lei; meng 'n bietjie babasjampoe saam met jou gewone sjampoe 'n paar keer per week; of voeg 'n paar druppels laventel- en tea tree-olie by jou sjampoe, of spoel jou hare af met louwarm water wat hierdie olies bevat.

Onrustige bene: stres kan 'n wanbalans in die chemikalieë in jou liggaam veroorsaak, wat jou beenspiere kan laat "spring". Neem snags 'n paar magnesiumfosfaat weefselsout-tablette.

Dik kop en loperige neus: soos ons gesê het, ly jou immuunstelsel daaronder as jy onder baie stres verkeer (ander simptome sluit uitbrekings van aknee, psiorase, galbulte en selfs vratte in). Dit maak jou meer vatbaar vir verkoues en griep. Die kragtigste wapen teen hierdie siektes is moontlik aerobiese en gewig-oefening van ten minste 'n halfuur, ten minste drie keer per week en wat jou lekker laat sweet. Behalwe dat dit jou immuunstelsel stimuleer, het dit ook 'n hele klomp ander voordele soos makliker asemhaling en dieper slaap. As jy uitgerus voel, ervaar jy minder stres.

Gewigstoename: oefening help om hierdie stres-simptoom teen te werk. Die streshormoon kortisol dra by tot die toename van vet om jou midrif. Terwyl oefening jou ongetwyfeld op die langtermyn slanker maak, het dit ook onmiddellike voordele soos die endorfiene wat dit produseer: dit laat jou goed voel, selfs al is jy nie 'n atleet met 'n borgskap van miljoene Rande nie. Dit werk selfs vir drawwers. – (William Smook, Health24, opgedateer Augustus 2010)

Lees meer:
QUIZ: assess your stress
 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE