Feit: Mense word nie met selfvertroue gebore nie. Bou meer
selfvertroue en breek die kettings van
skaamheid met dié selfopbou-strategie in
10 stappe.
Deur HELGO SCHOMER vir Huisgenoot-POLS
Wil jy selfvertroue hê? Maak dan
of jy selfvertroue het en oefen jou
selfversekerdheid in.
In die National Geographic-reeks
Dog Whisperer gebruik die
beroemde hondegedrag-deskundige
Cesar Millan dié taktiek om 'n bangbroekhond in 'n meer
selfversekerde brak te omskep.
Hoe? Deur die punt van 'n leiband
aan die huiwerige hond se stert vas te maak en dit in die
lug op te hou wanneer die dier vir wandelinge en drafstappies
geneem word.
Millan weet dat 'n selfversekerde hond se stert
regop staan. Deur die hond se stert doelbewus
op te lig, wys
hy dus dat jy sy brein kan oplei om meer selfversekerd te
voel. En dit werk!
Dieselfde beginsel geld vir mense. So kan selfs die skaamste
randeier werklike selfvertroue kry deur selfversekerde gedrag te
beoefen. Hier is die gesondheidsielkundige Helgo Schomer se
raad oor hoe om toneelspel in die werklikheid te omskep.
1. Kyk en leer
Hoe vroeër jy aan 'n selfversekerde rolmodel blootgestel word, hoe beter
is dit vir die ontwikkeling van jou eie selfvertroue. Maar daar is een
voorwaarde: jou rolmodel moenie egosentries wees nie. Hy of sy moet
ook in jou belangstel.
Kom ons veronderstel jy word saam met 'n
gladdebek-ouer broer groot; as sy selfvertroue hom selfsugtig of egoïsties
maak, sal jy meer geneig wees om dit as negatief te ervaar en dit te
verwerp. Maar laat daardie broer jou onder sy vlerk neem, en jy sal na
hom opsien en leer uit sy sosiaal bedrewe styl.
Aksieplan: Dit is nooit te laat om 'n mentor te kry nie. Kies 'n vriend,
kollega of familielid wat selfvertroue uitstraal en 'n aanvoeling het vir
sosiale interaksie – maar maak seker dis iemand met nederigheid wat
jou beste belange op die hart dra. Dan moet jy kyk en luister en dié persoon
se optrede ontleed. Gee veral aandag aan hoe hulle praat, loop en
hul fisieke houding. As jy selfvertroue in aksie sien, is dit die eerste stap
om jou eie selfvertroue op te bou.
2. Praat met jou lyf
Jou fisieke houding weerspieël jou bui – as jy depressief voel, is dit waarskynliker
dat jy sal slenter, jou arms sal vou of sal frons. Maar dit werk
ook andersom, want wanneer jy jou liggaam toevou en jouself "vashou"
(deur byvoorbeeld jou arms te vou), vloei daar minder "gelukkige hormone"
deur jou brein.
Dit is dus duidelik dat jou bui jou liggaamshouding kan na-aap.
Wanneer jou liggaam en gesig selfversekerdheid uitdruk, word dit dikwels
deur werklike selfversekerdheid gevolg.
Aksieplan: Werk daaraan om 'n oop postuur te handhaaf. Hou jou
rug reguit, skouers terug, kop regop en jou arms ongevou. En oefen
om lang, sterk treë met dié oop houding te gee. Hoekom dink jy leer
hulle modelle om so te stap? Omdat dit selfversekerdheid
uitstraal.
Laat jou lyf vir jou werk deur reg aan te trek. As jy
soos 'n boemelaar lyk, sal jy soos een voel, maar as jy
in 'n rooi nommertjie of 'n snyerspak verskyn, sal jy
outomaties meer selfversekerd lyk en optree.
3. Praat harder
Skaam mense praat saggies, asof hulle nie gehoor wil word nie. Jy hoef
nie te gil of te skree om selfvertroue op te wek nie, projekteer net jou
stem – ’n bietjie harder as wat vir jou gemaklik is. Dit sal nie vir ander
mense so hard klink nie en jy sal jou persoonlikheid beter laat geld.
Aksieplan: As jy in 'n sosiaal uitdagende situasie is, wag 'n oomblik
voor jy begin praat en herinner jou daaraan dat jy iets positiefs het om
by te dra. Sê dit dan. Mooi hard.
4. Spieëltjie aan die wand...
Dit help om jouself vol selfvertroue te sien – veral as skaamheid jou aan
jou sosiale vaardighede laat twyfel. Wanneer jy 'n prentjie van jouself in
jou kop het as iemand vol selfvertroue, sal jy dit makliker vind om sjarmant
te wees en die verskillende selfvertroue-wenke wat jy geleer het,
op die proef te stel.
Aksieplan: Sit elke week 'n bietjie eie-tyd opsy en eksperimenteer
met gesigsuitdrukkings en die houding wat hier bo beskryf is. Kyk
hoe ontspanne jy lyk wanneer jy oogkontak maak, glimlag, en regop
staan. Sien dan daardie beeld voor jou geestesoog wanneer jy voel jy
wil toeslaan.
5. Bou dit stadig op
Moenie aan die sosiale diep kant inspring voor jy reg is nie. Dit dien
geen doel om by 'n partytjie ogies te maak as jy nie die selfvertroue het
om verwerping te hanteer nie. As jy jou te gou onder te veel druk plaas,
kan dit jou selfvertroue 'n knou gee eerder as om dit te versterk.
Aksieplan: Oefen jou selfvertroue in situasies wat stadigaan ál
uitdagender raak. Begin met 'n omgewing wat nie juis uitdagend is nie
(alleen, voor 'n spieël) en vorder dan na 'n situasie wat 'n effense uitdaging
bied, soos 'n koffiewinkel. Bou stadig op na 'n hoogs bedreigende
situasie soos 'n toespraak, of om iemand uit te vra. Die belangrikste is
om jou nie te verknies oor die foute wat jy gemaak het nie. Beloon jou
liewer vir klein prestasies en persoonlike oorwinnings.
6. Speel maar toneel
Partykeer moet selfs die mense met die meeste selfvertroue toneelspeel.
Hulle gesels ewe vrolik terwyl hulle eintlik onder die tafel wil inkruip.
Ons kan almal voorgee. En ’n dapper front lok ’n positiewe reaksie uit,
wat regte selfvertroue skep sodat jy nie meer nodig het om voor te gee nie.
Aksieplan: Oogkontak kan selfvertroue projekteer, maar as jy erg
skaam is, is dit dikwels moeilik net om iemand in die oë te kyk. As jy
sukkel, moenie direk in die persoon se oë kyk nie, maar fokus liewer op
sy of haar voorkop. Dit skep die illusie van oogkontak sonder die angs
van die ware Jakob.
7. Oefen verwerping
Ek het 'n vriend wat genoeg selfvertroue het om enige vrou sonder
vrees te benader. Sy geheim? Hy aanvaar dat hy nege uit die tien
kere verwerp sál word. Maar hy weet ook dat hy een uit die tien
kere 'n positiewe reaksie sal kry. Die les: aanvaar dat die meeste verhoudings
nie uitwerk nie en moenie sleg voel as jy afgejak word nie.
Aksieplan: Onthou altyd die een-uit-tien-reël. Herinner jou aan
daardie werklikheid selfs vóór jy enigiets
probeer. Dit sal jou help om
verwerping met grasie te aanvaar en weer in die saal te klim.
8. Begin met koeitjies en kalfies
Party mense praat gemaklik met 'n ieder en elk, ander soek na
woorde en sê dikwels die verkeerde ding. Maar die waarheid is dat
dit nie so moeilik is om 'n gesprek aan die gang te kry nie.
Aksieplan: Die geheim is om met iets te begin wat vir almal
van belang is – soos buitengewoon goeie of slegte weer, of die mooi
dekor in 'n vertrek. Daarna, as jy nog selfvertroue oor het, probeer 'n
grappie of gebruik die ou towertaktiek: gee 'n kompliment.
9. Vergeet die kommentaar
As jy grootgeword het met 'n ouer of 'n gesagsfiguur wat kritiek gelewer
het op alles wat jy doen, sal jy vanself kritiek hê op alles wat jy
doen. Maar selfs sonder afkeuring van buite leef baie van ons met 'n
onophoudelike foutvind-stemmetjie wat in ons kop gons.
Wat het
my besiel? Hoe kon ek so iets sê? Ek is so dom. Ek is 'n mislukking.
Laat snags en in stil oomblikke kan dié kritiese gedagtes met jou
kop smokkel. En in sosiale situasies kan hulle jou laat verlep en
maak dat jy jou aan ander mense wil onttrek. Om die kommentaar
wat jou selfvertroue vernietig, stop te sit, moet jy sulke gedagtes in
die kiem smoor. Hoe? Deur hulle uit te skop.
Aksieplan: Gaan sit en skryf al jou selfkritiese gedagtes neer –
elke enkele een, maak nie saak hoe lank of hoe herhalend die lys is
nie. Dit neem die gedagtes uit jou kop en plaas hulle in die werklike
lewe. Kyk dan objektief na die gedagtes – is jy werklik dom, of
net iemand wat ook maar foute maak?
Kry andersins 'n buitestander
se blik op die werklikheid en wys jou lys aan 'n vertroueling.
Stem hulle saam met jou interne kritikus, of is jy net te krities oor
jouself? Die kans is groot dat jy dié proses bevrydend en lewensbevestigend
sal vind.
10. Kies die regte gehoor
Dié punt is baie belangrik: moenie jou aan mense blootstel wat
hiperkrities is of wat jou die hele tyd op jou plek sit nie. Jy sal by 'n
familie-ete tog nie kies om langs die oom of tante te sit wat gedurig
lol met vrae soos "Hoekom is jy nog nie getroud nie?" of "Wanneer
kry jy tog vir jou 'n ordentlike werk?" nie.
Aksieplan: Probeer om jou te omring met mense wat vir jou
lewensenergie in die vorm van lof gee. Kies die mense wat aan jou
kant is en wat jou strewe na selfvertroue onderskraag pleks daarvan
om dit af te breek.
Helgo Schomer is 'n gesondheidsielkundige, motiveringspreker
en radiosielkundige op Talk Radio 702 en 567 Cape Talk.
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)
Read more: How to build self-confidence