Share

10 maniere om jou brein fiks te hou

Alzheimer se siekte maak ons baie bang. Maar daar is nuwe navorsing oor maniere hoe ons letterlik ons breinselle kan laat groei en hierdie gevreesde siekte af te weer.

Vir baie mense is die stadige, maar onafwendbare verlies van jou verstandelike vermoëns die ergste lot denkbaar – meer skrikwekkend as kanker of 'n hartaanval, of selfs die dood. 100 simple things you can do to prevent Alzheimer's and age-related memory-loss deur Jean Carper, 'n gesondheidsjoernalis wat ontdek het dat sy 'n hoë genetiese risiko het om die siekte te ontwikkel, help tot 'n mate om hierdie vrees hok te slaan.

Daar is geen genesing en geen definitiewe voorkomingsmaatreëls nie (die boek se titel behoort eintlik wees: 100 simple things you can do to help prevent Alzheimer's), maar die koorsagtige navorsing oor die siekte gedurend die afgelope paar dekades het ons wat Carper 'n "warboel" wenke noem, gegee, om dit so lank as moontlik af te weer. Hier is 'n paar voorbeelde: 

  1. Doen iets nuut. 'n Nuwe gedagte of ondervinding stimuleer senusel-groei en laat letterlik "ons brein groei", wat dit teen die aanslag van Alzheimers beskerm. Ons moet dus nie net verstandelik en fisies aktief bly nie, ons moet nuwe aktiwiteite probeer – veral dié wat ons uitdaag. Leer 'n nuwe woord of selfs 'n hele nuwe taal. As jy nog altyd gesukkel het om 'n kaart te lees of deelsomme te doen, gee dit 'n kans. Reis na nuwe plekke, ontmoet nuwe mense, doen dinge anders. Verwelkom alle nuwe dinge. Aanvaar nuwe uitdagings.
     
  2. Laat jou skildklier toets. Hipotiroïdisme en hipertiroïdisme is al aan 'n verhoogde risiko vir Alzheimers gekoppel. Lae tiroïed is veral algemeen by middeljarige vroue, so laat jou skildklier op 40 toets. Beide mans en vroue van alle ouderdomme moet getoets word as hulle simptome van abnormale skildklierfunksie ondervind.
     
  3. Verhoog jou opvoedingsvlak. Hoe meer formele opvoeding mense het, hoe weerstandiger is hulle breine teen Alzheimers. Het jy nooit die geleentheid gehad om universiteit toe te gaan nie? Dit maak nie saak nie. Doen 'n kursus vir volwassenes en gryp elke geleentheid aan om indiensopleiding te kry. Londense taxi-bestuurders, wat oor die algemeen nie grade het nie, toon gesonde neuron-groei – waarskynlik omdat hulle die hele netwerk van Londen se strate moet memoriseer en onthou. Hulle praat ook met baie nuwe mense.
  4. Leer hierdie woord: homosisteïen. Dit is 'n aminosuur wat dikwels hoog is in mense met hartsiekte, en al gekoppel is aan 'n verhoogde risiko vir verstandelike agteruitgang. Wetenskaplikes meen homosisteïenmag die opbou van toksiese neerslae wat in die breinselle van Alzheimer-pasiënte aangetref word, aanmoedig. Gelukkig beveg B-vitamiene homosisteïen. Verhoog dus jou inname van B12B9 (foliensuur), en B6, en oorweeg dit om 'n vitamien B-kompleks-aanvulling te neem. Dit is veral belangrik vir veganiste en vegetariërs, aangesien plantvoedsel geen B12 bevat nie, en oor die algemeen vlakke van ander B-vitamiene verlaag. Jy kan ook jou dokter vra om jou homosisteïen-vlakke te toets met 'n goedkoop bloedtoets.Vitamien B3 (niasien) help ook om Alzheimers te beveg. Lees meer oor watter voedselsoorte B-vitamiene bevat.
     
  5. Behou jou balans. Slegte balans, selfs meer as geheueverlies, is een van die eerste en sterkste tekens van naderende dementia. Mense van 30 tot 70 behoort vir 30 sekondes op een been met hulle arms oor hulle bors gekruis te kan staan; vir 28 sekondes as jy oor 70 is en vir 21 sekondes as jy ouer as 80 is. Jy kan jou balans verbeter deur te oefen om op een been te staan en om oefeninge soos joga en tai chi te doen. Die behou van ons balans soos ons ouer word, verlaag ook die risiko vir val en kopbeserings, wat ook tot Alzheimers kan bydra.
     
  6. Drink appelsap (of eet appels en appelsous). Appelsap het blykbaar 'n soortgelyke uitwerking as die Alzheimer-middel Aricept (donepezil): dit verhoog die produksie van asetielkolien in die brein, 'n neuroboodskapper wat belangrik is vir geheue en die leerproses. Alle soorte suiwer appelsap is goed vir die bevegting van Alzheimers – moet net nie te veel drink as jy probeer om gewig te verloor nie omdat vrugtesap baie kalorieë kan bevat.
     
  7. Beveg depressie. Erge depressie is op sigself 'n vernietigende siekte, maar dit mag letterlik 'n vorm van breinskade veroorsaak wat jou meer vatbaar vir die ontwikkeling van Alzheimers maak. Die goeie nuus is dat depressie suksesvol behandel (en selfs oorwin) kan word met medikasie, psigoterapie en gereelde oefening. Moet dus nie huiwer om hulp te kry vir 'n langdurige swart bui nie – selfs ligte depressie kan uitmergelend wees en ernstiger vorms daarvan uitlok. 
     
  8. Google iets. Breinskanderings van middeljarige en ouer mense toon verhoogde breinaktiwiteit wanneer hulle iets oop die internet soek – en hierdie intensiteit raak groter namate jy meer ervare raak. Web-aktiwiteit mag die brein stimuleer omdat dit veelvuldige besluite behels terwyl jy kliek om die inligting te soek wat jy wil hê. Die internet bied ook maniere om sosiale kontak te maak en te versterk. As jy hierdie artikel lees, is jy waarskynlik alreeds bedrewe op die web en miskien kan jy jou aktiwiteit verskerp deur 'n paar kopkrapper-webwerwe soos Braingle te besoek.
     
  9. Minder rooivleis. 'n Dieet wat baie rooivleis bevat, veral as dit geprosesseer of gepekel is (soos kouevleis en Weense worsies), versnel die proses van breinskade wat tot dementia kan lei. Skakel dit uit, of vervang dit met hoender en vis – pluimvee help moontlik om Alzheimers af te weer, en vis is selfs beter.
     
  10. Hou jou tandvleis gesond. Daar is erger dinge as om jou tande weens tandvleissiekte te verloor – jou verstandelike vermoëns byvoorbeeld. Mense met gingivitis (die voorloper van peridontale siekte) vaar slegter as dit by kennis- en geheuetoetse kom, moontlik omdat chroniese tandvleisontsteking giftige byprodukte vrystel wat na die brein beweeg. Vlos, borsel en besoek dus jou tandarts gereeld.          

Baie van die raad oor die versterking van die verstand se beskermingsmeganismes is egter nie nuut nie. Die nuutste navorsing vind eenvoudig meer en meer oortuigende bewyse dat om gehoor te gee aan goeie ou mediese raad, jou risiko vir arteriosklerose, tipe 2 diabetes en baie soorte kanker verlaag:

Moenie rook nie (rook verdubbel amper jou kanse om Alzheimers te kry); bly aktief en kry gereelde oefening (onaktiewe mense se bloedvloei na die brein is laer en veroorsaak dat dit vinniger krimp namate hulle ouer word); eet baie vrugte en groente; vermy hewige drink-episodes; beheer jou stresvlakke en die heel belangrikste, moenie ophou dink nie.

- Olivia Rose-Innes, Health24, Mei 2011

Verwysings
Carper, Jean. 2011. 100 simple things you can do to prevent Alzheimer's and age-related memory loss. Vermilion, Ebury Publishing, Random House Group.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE