“Ek is gediagnoseer met hepatitis A infeksie, maar niemand kan my sêhoe ek dit opgedoen het nie, of wat dit veroorsaak nie. Ek het geelsug opgedoen, en 8 kg gewig verloor tydens die siekte. Tydens die behandeling is ek af van al my bloeddruk pille, en cholesterol pille. Ek het geen behandeling ontvang nie, aangesien die lewer self herstel het.
Ek wil graag weet hoe lank dit sal neem om te herstel. Alle toetse wat op my gedoen was, is nou normaal.”
Ria Liebenberg.
Ria, jy het gely aan akute virus hepatitis. Dit is ’n virus infeksie van die lewer deur die hepatitis A virus. Hierdie virus word gewoonlik oorgedra deur gekontamineerde water wat met riool besoedel is. Hepatitis A infeksie is gewoonlik minder ernstig as hepatitis B en C infeksie. Laasgenoemde word dikwels oorgedra deur bloedprodukte.
Akute virus hepatitis veroorsaak soms geen simptome nie, maar gewoonlik kry die mense geelsug omdat die virus die lewer se funksie aantas. Dit is goed dat jou dokter al jou pille gestaak het, aangesien die lewer die pille moet ontgiftig (detoksifiseer), wat ’n ekstra las op die siek lewer plaas.
Gewoonlik herstel mense volkome en spontaan binne 4 tot 8 weke sonder enige spesifieke behandeling, maar dit kan maande duur voordat jy weer 100% voel! Hepatitis A word baie selde chronies, maar dit mag nog lank wees voordat jy weer jou normale gewig terug kry, en jy weer aan strawwe oefening kan deelneem. Wees asseblief geduldig, want jou kanse op volkome herstel is baie goed.
Volg ’n gesonde dieet met baie vars groente en vrugte, en begin stadig om weer fiks te word. Wees versigtig om nie te gou enige alkoholiese drank te drink nie. Die lewer is ’n baie belangrike orgaan, en ons moet hom goed oppas!
(Huisgenootbrokkies)