Die telefoon lui net na middernag. “Gaan asseblief dadelik na die lughawe,” kom die noodsentrum-operateur se oorbekende versoek.
“Wat is die pasiënt se toestand?” vra ek amper outomaties.
“Sy is ’n veertigjarige Franse verpleegster in Oos-Afrika, in ’n kritieke toestand na ’n motorongeluk ’n paar uur gelede. Veelvuldige beenbreuke en orgaanbeserings. Sy het baie bloed verloor. Sy word geventileer – is op masjiene vir asemhaling.”
Ek spring in my
vluguniform. Op pad na die lughawe gee die noodsentrumdokter my telefonies meer
besonderhede van die pasiënt se mediese toestand, soos haar bloeddruk, hoeveel eenhede
bloed sy al ontvang het en watter mediese behandeling reeds op haar toegepas
is.
'n Miernes van bedrywigheid
Die noodsentrum skakel my deur na die paramedikus wat saam met my op die
noodvlug gaan, en saam bespreek ons in detail die behandeling, voorrade en
apparaat wat nodig is. (Die gewig van die voorrade is baie belangrik, want dit beïnvloed
dié van die vliegtuig.)
By die lughawe is die grondpersoneel al druk besig om te reël vir klarings, dat die vliegtuig genoeg brandstof het en dat ons deur doeane gaan. ’n Miernes van bedrywigheid! Wat is die weerstoestande? Hoe moet die vlugplan lyk? Reëlings word getref vir opname in ’n trauma-hospitaal in Suid-Afrika.
Die lugambulans is skroefaangedrewe, want die beskikbare straalvliegtuig-lugambulanse se landingspoed sou re vinnig wees vir die landingstrook naaste aan die pasiënt. Die strook het nie landingsligte nie, net olielampe wat ’n vlieënier in ’n straalvliegtuig-lugambulans te laat sou sien.
Die pasiënt se man wag ons by die lughawe in. Hy het reeds van sy eie bloed vir sy vrou geskenk.
Ons pak vinnig die eerstewêreld- mediese toerusting in die wagtende ambulans en jaag deur die klam Afrika-lug na die hospitaaltjie.
Nie eens X-strale nie
Die pasiént is in
’n kritieke toestancl en uitgebloei. Die Russiese dokter het haar lewe gered
deur haar regternier te verwyder toe dit te veel gebloei het – en dit in ’n
hospitaaltjie waar daar nie eens X-strale beskikbaar
is nie. Behalwe vir veelvuldige beenbreuke het sy ’n geskeurde lewer, milt en
pankreas, en twee platgevalde longe.
Ek en die paramedikus werk soos een mens: lugweg, asemhaling, sirkulasie . . . Eenhede bloed en resussitasievog, dreineringspype in die longe, spalking van die beenbreuke en immobilisasie van die pasiënt se liggaam – ons moet haar behandel asof haar nek en rug gebreek is, want sonder X-strale wéét jy net nie. Alles word sorgvuldig gedokumenteer; as jy dit nie gedokumenteer het nie, het jy dit nie gedoen nie.
Ons moet so vinnig as wat ons kan die pasiënt so stabiel moontlik kry. Sy kry behandeling sodat die lugdrukverskille in die vliegtuig haar toestand nie sal laat verswak nie.
Tydens die terugvlug hou ons letterlik elke polsslag en asemteug dop, en dien deurgaans binne-aars medisyne toe. Die lugambulans se binnekant is in ’n hoësorgeenheid omskep. Van bloedgasse tot bloeddruk word kort-kort gemonitor.
Met die aankoms by die trauma-hospitaal in Johannesburg staan ’n span van sewe spesialis-dokters en –verpleegkundiges gereed. ’n Berader neem die pasiënt se man eenkant terwyl ek aan hulle verslag doen.
Adrenaliengevulde lewe
Sommige pasiënte
is eintlik te siek om te vlieg en soms is daar niks wat ’n mens kan doen om ’n
lewe te red nie.
Maar twee maande later bel dié een my en vra dat ons saam met haar en haar man moet gaan koffie drink. En in die koffiewinkel is ons hele groepie verstom oor die genade wat hierdie vrou ontvang het . . .
Na vyfjaar as ’n lugambulans-dokter het ek daardie snelle, adrenaliengevulde lewe verruil vir ’n voorspelbare bestaan met gereelder ure. Ons kollegas het nogal so ewe gesê dit is daarna ’n aanpassing om pasiënte te behandel war self kan loop en asemhaal, maar ek het geleer dat dit vir ’n ma met ’n koorsige kind in my eie omgewing net so ’n verligting is om haar kind weer koorsvry te sien, as vir ’n ma op enige ander plek ter wêreld.
Ek salueer elk van my kollegas in lugambulanse en alle mediese en nie-mediese noodpersoneel regoor die wêreld — mense met ’n moeilike, stresvolle werk, maar met ’n passie vir war hulle doen.
Deur dr. Anske van As