Share

Wat 'n skok!

As jy afkom op 'n slagoffer van 'n elektriese skok, moet jy weet hoe om die pasiënt te help én seker maak dat jy nie self beseer word nie.

Deur BETINA LOUW

Dis 'n Saterdagmiddag en tyd vir huistakies, en daardie stukkende staanlamp in die sitkamer is eerste op jou lysie.

Met 'n skroewedraaier in die hand is jy slaggereed om die probleem te takel, maar in jou ywer vergeet jy om die muurprop af te skakel...

In moderne huise is die kans dat jy jou kan skok gelukkig taamlik klein danksy stroombrekers wat die kragtoevoer in geval van nood outomaties onderbreek – laat dit dus gereeld deur 'n gekwalifiseerde elektrisiën hersien. Maar ongelukke gebeur tog steeds.

Hier is wenke oor wat jou te doen staan as jy iemand wil help wat deur elektrisiteit geskok is.

1. Bly weg van drade wat lewend is, veral as dit nog oop is en op die grond spartel. Vonke is 'n teken van 'n lewende stroom.

2. Verbreek die kontak tussen mense wat geskok word en die bron van die elektrisiteit, want as jy aan hulle raak, kan die stroom deur jou lyf vloei. Moenie met jou kaal hande aan hulle vat nie; draai minstens 'n droë handdoek om jou hande. Jy kan 'n houtstok gebruik om die slagoffer te skei van die bron van die elektriese stroom. Staan op 'n nie-geleibare materiaal soos 'n rubbermat, stapel koerante, plastiek of karton ingeval die stroom deur die grond gelei word.

3. Skakel die elektriese stroom af by die hoofskakelaar as jy kan.

4. Kyk dadelik dat die pasiënt se lugweg oop is, dat hy asemhaal en dat daar 'n polsslag is.

5. Pas mond-tot-mond-asemhaling toe as hy nie asemhaal nie en begin met hartmassering as hy geen polsslag het nie.

6. Kry onmiddellik mediese hulp om seker te maak dat daar nie ernstige inwendige beserings is nie. Dit is dikwels nodig dat die slagoffer 'n dag lank op 'n hartmonitor geplaas word omdat daar 'n voortgesette risiko bestaan vir ongereelde hartkloppings, sê dr. Elmin Steyn van die trauma-eenheid by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad.

7. Neem die pasiënt na 'n dokter as jy brandwonde kan sien, die pasiënt bewusteloos was, enige sintuie aangetas is of as dit 'n vrou is wat meer as 20 weke swanger is.

8. Moenie 'n beseerde pasiënt beweeg tensy dit werklik nodig is nie. 'n Sterk elektriese stroom kon hom in die lug gegooi en die rukbewegings van die skok kon rug-, kop- en nekbeserings veroorsaak het. Daarom moet die pasiënt se nek altyd stilgehou word.

9. Bedek gebrande dele met 'n steriele gaasverband of skoon lappie.

 Wenke

1. Sorg altyd dat jou hande droog is as jy met elektriese toestelle werk.

2. Moet nooit 'n sny brood uit die broodrooster krap met 'n metaalvoorwerp nie, want as jy aan die element raak, kan dit jou skok.

3. Elektriese skokke kan die gevolg wees van 'n aardlekkasie by jou warmwatersilinder – dis waarom jy soms 'n ligte skok voel as jy aan die warmkraan raak. Laat die silinder deur 'n elektrisiën nagaan.

4. Wanneer jy herstelwerk doen aan iets soos 'n lig, skakel eers die hoofskakelaar af. Iemand kan dalk onwetend instap en uit gewoonte die lig aanskakel terwyl jy werk.

5. Hou elektriese toestelle weg uit die badkamer, waar nattigheid elektrisiteit kan gelei. Daar is 'n goeie rede waarom huise nie muurproppe in badkamers het nie!

 *Saamgestel met die hulp van Jurgen Kotze van die resussitasieraad, dr. Elmin Steyn van die Christiaan Barnard-Gedenkhospitaal in Kaapstad en die elektrisiën Mario Human.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

First aid for electric shock
How does electricity affect the body?

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE