Share

Moenie deur weerlig getref word nie

Lightning - Google Free Images
Lightning - Google Free Images

Weerlig is seker een van die mees onderskatte natuurlike gevare. Donderstorms kom dikwels oor groot dele van Suid-Afrika voor, veral gedurende die somer, en weerlig kan beserings en selfs sterftes veroorsaak.

Wat kan jy doen om jouself te beskerm?

Bly binne

Dis nie 'n goeie idee om tydens 'n elektriese storm buite te wees nie. Kyk altyd eers wat die weerberig voorspel voordat jy enige buitelug-aktiwiteit beplan.

Indien jy buite is wanneer 'n storm in aantog is, soek so gou as moontlik skuiling in 'n gebou, of ten minste 'n motor.

Moenie aarsel nie! As jy weerlig sien, donderslae hoor of selfs donker stormwolke sien, is dit die tyd om skuiling te soek. Party weerdeskundiges beveel die volgende toets aan: as die tyd tussen 'n weerligstraal en die gepaardgaande donderslag minder as 30 sekondes is, is die storm gevaarlik naby. Maar moenie te veel tyd mors met 'n tellery nie – soek skuiling!

Weerlig van bo af

Die beste plek om tydens 'n donderstorm te wees, is binne 'n formele struktuur met soliede mure en 'n dak – tente bied nie voldoende beskerming nie, en motorafdakke, oop motorhuise, patio's met 'n dak, skure en kweekhuise is ook nie goed genoeg nie.

Dit help ook as die gebou bedrading en watertoevoer het: as die weerlig die gebou direk tref, sal die elektrisiteit tipies die pad van die bedrading of waterpype in die grond in volg. Dit is hoekom jy moet wegbly van enigiets in die gebou wat aan die watertoevoer (bv. wasbakke en baddens) of bedrading (bv. muursokke, lyn-telefone en elektriese toestelle) gekoppel is. Enige metaalgeleier wat aan die buitewêreld blootgestel is, kan 'n weerliggeleier wees en moet nie aangeraak word nie.

Moenie die donderstorm deur oop vensters of deure dophou nie.

Bly binne tot ten minste 30 minute na die laaste donderslag.

Voertuie en weerlig

As daar geen veilige gebou is om in te skuil nie, is die tweede beste opsie 'n toe voertuig met 'n metaal-dak en -kante. (Oop voertuie soos 'n afslaankapmotor, die agterkant van 'n bakkie en motors met glasvesel- of plastiekbakwerk voorsien nie voldoende beskerming nie.)

As jy eers binne die voertuig is, vermy enige kontak met geleiers na buite. Maak die vensters toe, leun weg van die deur en moenie aan die stuurwiel, aansitter, rathefboom of radio raak nie.

As jy bestuur wanneer 'n donderstorm losbreek, stop en hou by die 30-minute-reël.

Wanneer daar geen skuiling is nie

As jy noodgedwonge buite moet bly, verminder jou risiko om deur weerlig getref te word:

  • Weerlig neig om die hoogste voorwerp in die omtrek te tref; bly dus weg van alleenstaande bome en telefoonpale. 'n Groot aantal weerlig-sterftes word veroorsaak deur mense wat onder 'n boom teen storms skuil. As jy in 'n bos is, soek liewer onder 'n paar kleiner bome skuiling. Vermy groot oop areas, heuweltoppe en uitstaande rotse. Soek liewer 'n laerliggende area.
  • Onthou, 'n tent bied geen beskerming teen weerlig nie.
  • Bly weg van water, nat items en metaalvoorwerpe soos draadheinings, omdat dit uitstekende elektrisiteitsgeleiers is.
  • Maak seker jy is die kleinste moontlike teiken. Die beste manier om dit te doen, is om die "weerligposisie" in te neem: jy hurk met jou voete bymekaar, trek jou kop in en bedek jou ore.
  • Moenie te dig opmekaar skuil nie – handhaaf 'n paar liggaamsbreedtes tussen mense. Sodoende, indien enigiemand getref word, is daar 'n kleiner kans dat die lading na ander mense in die groep sal versprei.

 Wanneer iemand deur weerlig getref word

  • Ontbied mediese noodhulp. Weerlig kan 'n vernietigende uitwerking op die liggaam hê, insluitende ernstige brandwonde, senuweeskade, gehoor- en gesigverlies en gebreekte bene.
  • Doen kardiopulmonêre resussitasie (KPR) as die persoon opgehou het om asem te haal. Anders as iemand wat deur 'n aktiewe lading geskok word, is iemand wat deur weerlig getref is nie aktief nie, en kan aangeraak word.

- Olivia Rose-Innes, EnviroHealth Redakteur, Health24, hersien Oktober 2011

Verwysings:
Updated American Metereological Society Recommendations for Lightning Safety, National Oceanic and Atmospheric Administration

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE