Share

Raad met brandwonde

Brandwonde word as lig, matig en diep ingedeel na gelang van die erns en grootte van die wond. Die omvang van die wonde op ’n slagoffer se lyf word uitgedruk as ’n persentasiepunt. As ’n algemene mediese reël is  1 persent gelykstaande aan die grootte van die slagoffer se oop handpalm.

Wanneer ’n kind ’n brandwond groter as  8 persent of ’n volwassene ’n brandwond groter as 12 persent opgedoen het, moet hy of sy in die hospitaal opgeneem word.

Brandwonde is een van die hoofredes vir sterftes by kinders onder vyf jaar, sê Childsafe, die kinderongeluk-voorkoming-stigting van Suid-Afrika. Die oorsaak is meestal warm vloeistowwe.

Jong kinders se vel is veral sensitief en selfs ’n brandwond weens ’n kokende koppie koffie kan dodelik wees. Een van die algemeenste maniere waarop ongelukke gebeur, is wanneer ’n baba of kleuter op sy ma se skoot sit en die tafeldoek onder haar warm drankie uittrek en op hom stort, sê Jenny Clarke, hoof van Childsafe in Gauteng.

Ligte en matige brandwonde

Ligte brandwonde beskadig die buitenste bolaag van die vel, terwyl matige brandwonde die buitenste en binneste vellaag beskadig.

Voorbeeld: Dit gebeur as jy jou hand teen 'n warm pan brand of selfs as jy te lank in die son lê. Baie warm vloeistowwe soos kokende water of 'n warm kool kan matige brandwonde veroorsaak.

Hoe lyk en voel dit?

Daar is swelling, rooiheid en pyn. Wanneer jy op die gebrande area met jou vinger druk sal dit wit word, en weer rooi as jy jou vinger oplig. Op 'n matige brandwond sal 'n blaas  vorm wat vloeistof afskei as jy dit sou prik.

Behandeling:

  • Hou die gebrande plek 10 minute lank onder koel lopende water. As dit op die gesig is, kan jy ditmet koue water spoel asof jy jou gesig was.
  • Maak die brandwond toe met 'n droë gaasverband en smeer antiseptiese salf soos Burnshield aan. Ruil die gaasverband twee keer per dag om as die brandwond teen klere skuur.
  • Verwyder klere en juweliersware so gou moontlik van die gebrande deel om- dat swelling dit moeilik kan maak om dit later af te haal.

Moenie . . .

  • Ys of yswater op die wond gebruik nie omdat dit vriesbrand  kan veroorsaak.
  • Botter, vet, olie, tandepasta, Vaseline, eier of skoenpolitoer aanwend nie, omdat dit die vel net verder kan beskadig.  
  • Klere probeer aftrek wat aan die vel vassit nie.
  • Blase probeer prik nie, want die vloeistof in die blaas het helende eienskappe.

Wanneer moet jy dokter toe gaan?

As die brandwond groter as 'n R5 muntstuk is sodat dit vir infeksie behandel kan word.

Diep brandwonde

Dit verwoes alle lae van die vel en kan spiere, vetselle en selfs been beskadig.

Voorbeeld:  Brandwonde weens oop vlamme, chemikalieë  of ’n elektriese skok.

Hoe lyk en voel dit?

Die brandwonde lyk wit of is swart verkool. Die gebrande deel voel droog, leeragtig en hard.

Behandeling:

  • Spoel die gebrande dele 10 minute lank onder koel lopende water af
  • Plaas ’n skoon droë verband op die brandwond om die verlies van liggaamshitte te verminder. Jy kan ook ’n skoon laken gebruik.
  • As die gesig ver brand het, bedek dit  met steriele materiaal. Sny gate vir die neus, oë en ore. Hou gebrande oë toe.
  • Plaas nat gaas tussen gebrande vingers en tone.

Moenie . . .

  • Enige klere naby of teen die brandwond verwyder nie.

Wanneer moet jy dokter toe gaan?

Dadelik. Bel die nasionale mediese noodnommer 112 vir alle netwerke op jou selfoon of 10177 op ‘n landlyn.

 

 Deur Betina Louw

 

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE