Eye Health

Updated 13 February 2015

Laser of lense?

Die dae van ’n dikraambril wat jou neusbrug knyp, is lankal verby. Danksy laserbehandeling en moderne kontaklense kan enigiemand nou goed sien sonder ’n bril. Die vraag is, wat is die beste vir jou?

0

Dis net in flieks oulik as die held of heldin op die vloer rondkruip op soek na hul bril, en dan sommer die liefde van hul lewe daar onder ontmoet. In die regte lewe is dit dikwels bloot ’n pyn om bril te dra. Dit raak weg, word vuil, reën nat. Die oor breek af, of daardie piepklein skroefie wat die hele spul aanmekaarhou, val uit en verdwyn tussen neus en . . . wel, oë.

Maar jy hoef nie so te sukkel nie. Die moderne wetenskap het reuse spronge gemaak wat sig betref, en laserbehandeling of kontaklense kan byna enige probleem regstel.

Dit is egter nie altyd maklik om te besluit watter een vir jou sal werk nie – vir party mense is die gedagte aan lense insit en uithaal ’n grillerige gedagte, en dan is daar boonop die kwessie dat die lense saans gespoel moet word.

Vir ander is lense egter al uitweg omdat hul oë nie geskik is vir laserbehandeling nie.

En dan moet jy vooraf besluit watter een van die twee jou leefstyl – en sak – die beste pas.

1. Laser

Laserbehandeling is die mees permanente oplossing vir sigprobleme. Dis ’n vinnige, pynlose proses en die kans op sukses is baie groot.

Dit word meestal uitgevoer op bysiende pasiënte of die met ovaalvormige korneas – ’n toestand bekend as astigmatisme – in die hoop dat lyers daarna hul bril sal kan weggooi.

Dirk Louw (Z7), operasionele bestuurder by SAB in Queenstown in die Oos-Kaap, moes al sedert laerskool bril dra en het op 19-jarige ouderdom laserbehandeling op albei sy oë ondergaan. Sy sig was -10 en hy was besonder bysiende (-8 word as baie swak aanvaar, met 0 gereken as volmaakte sig) en hy moes eers ’n lensinplanting kry voor hy met laser behandel is. Vandag het hy byna volmaakte sig en dra hy net bril wanneer hy saans bestuur.

“Ek is baie tevrede, veral omdat ek ’n buitelug- en sosiale mens is en nie daarvan hou om met ’n bril en kontaklense te sukkel nie,” sê hy.

Hoe werk dit?

’n Oogspesialis neem ’n foto van jou kornea en vergroot dit sodat elke bult en duik daarop sigbaar is.

’n Flappie word dan in die bolaag van die kornea gesny en die onderste lae word met rekenaargeprogrammeerde laser behandel, waarna die flappie teruggeplaas word en self vasgroei, verduidelik dr. Danie Maritz, ’n Johannesburgse oftalmoloog.

Dit is ’n oplossing vir permanente brildraers omdat die kornea van bysiende mense of dié met astigmatisme te bolvormig is en laser daardie kurwe verplat.

Die hele proses duur ongeveer 10 minute per oog en word onder plaaslike verdowing gedoen. Albei oë kan op dieselfde dag behandel word en jy kan selfs die volgende dag weer by die werk wees, sê dr. Aziz Valiallah, ’n Johannesburgse oftalmoloog.

Die behandeling was vir Dirk “glad nie seer nie”, behalwe as ’n mens vir die  dag of wat daarna in skerp lig kyk.

“Vir die eerste maand mag jy ook nie swem of water of stof in jou oë laat kom nie.”

Vir die meeste mense is laser die oplossing. Volgens Aziz is soveel soos 90 persent van alle pasiënte se sig na die behandeling op 0, selfs van dié wie se sig voorheen so swak soos -8 was.

“Die ander 10 persent s’n sal aansienlik beter wees sodat hulle dan net ’n ligte bril of kontaklense nodig sal hê. As die kornea na behandeling nie te dun is nie – in die meeste gevalle kan ’n mens twee laserbehandelings kry voor dit te dun is – kan ’n opvolgbehandeling gedoen word.”

Hoe gelyker jou kornea se oppervlak, hoe suksesvoller is die behandeling. Jou oë behoort na behandeling nie mettertyd weer te verswak nie en die moontlikheid van komplikasies is baie klein. Droë oë is wel dikwels na die tyd ’n probleem en jy kan jou dokter gerus vra om druppels voor te skryf. Omega 3-aanvullings soos salmolie kan ook help vir droogheid omdat dit anti-inflammatories is, sê Cornelia Prins, ’n Johannesburgse optometris.

Wanneer iemand se oë na suksesvolle behandeling weer verswak, is dit dikwels omdat hul oë vooraf nie stabiel was nie. Jy moet ouer as 18 wees en jou sig moet twee jaar stabiel wees om die kans op sukses te verbeter, sê Aziz.

Sal dit vir jou werk?

As jy baie in die buitelug is, as kontaklense nie vir jou geskik is nie of as jy bloot goeie visie sonder moeite wil hê, is laserbehandeling vir jou.

Dirk sê kontaklense het na vyf jaar te veel moeite begin word. “Ek het ook ’n paar keer by vriende oorgebly en vergeet om die lense uit te haal, en dan was my oë die volgende dag seer en krapperig.”

Laser is egter nie vir alle toestande geskik of ewe doeltreffend nie. As jou kornea baie dun is of jy ’n misvormde kornea het, kan jy nie laserbehandeling ontvang nie.

As jy baie bysiende is en boonop ovaalvormige korneas het, sal jy moontlik na die tyd steeds kontaklense nodig hê. Bysiendheid en astigmatisme word afsonderlik beoordeel en ’n minuswaarde daaraan toegeskryf. Hoe groter die minus, hoe ernstiger die toestand. As jy aan albei toestande ly en die minuswaardes te groot is, sal jy steeds na laserbehandeling kontaklense moet dra, maar omdat jou sig dan beter is, sal jy meer opsies hê.

As jy net een van die twee probleme het, nie korneaprobleme het nie en jou oë nie swakker as -8 is nie, kan laserbehandeling jou sig ten volle herstel.

Voor- en nadele

Laserbehandeling lewer die beste resultate met bysiendheid en daarna kan jy vir alle praktiese doeleindes so goed soos iemand sien wat nog nooit sigprobleme gehad het nie.

Versiendheid kan ook reggestel word deur die buitenste rand van die kornea te verplat sodat die middel bolvormiger word, maar dit is nie so suksesvol nie.

Aziz waarsku ook dat ’n mens ná die ouderdom van 45 oor die algemeen ’n leesbril nodig het, of jy al ’n laserbehandeling gehad het of nie, omdat jou vermoë om naby te fokus gewoon verswak.

Nuwe ontwikkelings

Tot onlangs is die PRK-metode gebruik, waar die boonste laag afgeskraap word, en dit word steeds ingespan as die kornea te dun is vir ’n flappie. Skraping is pynliker en duur langer om te herstel – tot 48 uur – en jou sig is daarna vir omtrent twee weke wasig.

Die nuutste tegnologie is ’n ekstra laser wat tydens die Lasik-prosedure gebruik word om die flappie in die kornea te sny. Tot nou toe is dit meganies gedoen. Die laser maak ’n skoner snit, maar las byna R10 000 by jou rekening.

2. Kontaklense

Kontaklense is lankal nie meer die harde, ongemaklike stukkies plastiek van jare gelede nie. Dit kan byna enige sigprobleme regstel en sommige oogtoestande soos misvormde korneas (keratokonus) of kwaai bysiendheid word beter met kontaklense as met ’n bril reggestel omdat brillense nie oral ewe ver van die oog af sit nie en dus nie ’n beeld oral in die regte grootte sal vertoon nie.

“Ek dra al 10 jaar kontaklense en mis glad nie my bril nie,” sê Shadrak Makhari (40), ’n Pretoriase ingenieur. “Die kontaklense wat ek nou het, is beslis ook gemakliker as die eerste stel jare gelede.” Dit is ’n gewilde, bekostigbare alternatiefvir ’n bril. Nagenoeg 34 persent van alle mense wat sigprobleme het, dra kontaklense. Wêreldwyd dra sowat 125 miljoen mense kontaklense.

Hoe werk dit‘?

Kontaklense is dun, deursigtige plastieklense wat reg op die kornea gedra word. Jou optometris sal harde of sagte lense voorskryf, na gelang van jou sigprobleem, sê Eela Makan, ’n optometris van Johannesburg.

Harde lense is oor die algemeen geskikter vir ernstige sigafwykings soos astigmatisme en keratokonus. Dis die duurste lense en dit duur langer om aan die lense in jou oë gewoond te raak, maar die voordeel is dat hulle tot twee jaar kan hou en op die lang duur dus goedkoper uitwerk.

Sagte lense is gemakliker, maar benodig meer instandhouding – jy moet dagboek hou van jou lensgebruik sodat jy onthou om hulle elke twee weke of maandeliks te vervang.

Die derde opsie is sagte eendag-lense wat jy elke aand weggooi. Hulle is op die lang duur die duurste.

Jy kan ook gekleurde lense aanvra – dis nie meer die foefie wat dit jare gelede was nie en kan op voorskrif gekry word.

Sal dit vir jou werk?

Shadrak sê sy vriende wat bril dra, wil gereeld weet of kontaklense regtig gemaklik is en of hy net wil “mooi” lyk.

“Maar dis eerlikwaar vir my beter as ’n bril en dit het ook nie lank geduur om daaraan gewoond te raak nie. Nou het ek nooit ’n bril wat afskuif as ek oefen, wegraak as ek dit regtig nodig het of op foto’s blink nie.”

Vir sommige toestande is ’n bril wel geskikter. As jy geneig is tot ooginfeksie, gereeld in stowwerige toestande is of baie droë oë het, moet jy liefs vrede maak met jou bril, sê Cornelia.

En wat van die rilstories?

Kontaklense sal nooit agter die oog kan wegraak nie, sê sy. “Die wit deel van die oog, bekend as die sklera, word bedek deur ’n membraan, en daar is nie ’n opening waardeur die kontaklens agter die oog kan inglip nie.”

’n Lens skeur ook nie sommer nie, tensy jy hard aan jou oog vryf terwyl die lens daarin is. Wanneer dit skeur, sal dit baie ongemaklik wees, maar dit kan vinnig deur ’n optometris verwyder word as jy dit nie self regkry nie.

Voor- en nadele

Die voordele van kontaklense teenoor ’n bril is ooglopend, en een van die grootste bonusse van kontaklense is die ekstra perifere visie waarmee dit die draer toerus. Waar brilrame die buitegedeelte van jou gesigsveld beperk, kan jy met kontaklense alles sien. Sommige draers kla dat dié skielike ekstra visie hulle hoofpyn gee, maar dit verbeter namate jy daaraan gewoond raak.

Met kontaklense sien jy ook voorwerpe so groot soos hulle regtig is, waar ’n bril dit soms vergroot.

Kontaklense verg wel moeite omdat hulle saans uitgehaal en met lensvloeistof gesteriliseer moet word. En vergeet jy jou lense in jou oë, kan dit swelling van die kornea veroorsaak omdat jou oë lank sonder suurstof moes  klaarkom.

“Dit kan dan voel of die lens aan jou oog vassuig, maar moet dit nie dadelik probeer verwyder sodra jy wakker word nie. Wag eers so 20 minute sodat jou oë hulself kan bevogtig,” sê Eela.

Vir sommige mense is dit ook bloot ongemaklik, al is die lens nommerpas. Irritasie hang nie van jou jare af nie, sê Eela. “Ouer gebruikers moet net bereid wees om eers daaraan gewoond te raak. Wanneer jy vir die eerste keer kontaklense begin dra, moet jy vir ’n week tot 10 dae jou oë eers daaraan gewoond maak deur dit elke dag vir langer tydperke in te hou. As dit dan steeds jou oë irriteer, moet jy teruggaan na jou optometris vir nog ’n passing.”

Een van die grootste sondaars wat ongemak veroorsaak, is lugversorging wat die oë uitdroog. Eela sê die oplossing is eenvoudig om jou oë gereelder te knip of druppels te gebruik. Droogheid neem dikwels met die ouderdom toe en daar is dus ’n wanpersepsie dat ouer mense sukkel om kontaklense te dra. As jy die droogheid egter onder beheer kry met druppels en omega 3-aanvullings behoort kontaklense jou oë nie meer as ’n jonger mens s’n te irriteer nie, sê Cornelia.

Kontaklensgebruikers moet ook meer gereeld hul oë laat toets (elke 6 tot 12 maande) as brildraers (elke 12 tot 18 maande) omdat kontaklensdraers meer geneig is om infeksie te kry.

Die oog se gesondheid moet gemonitor word en die voorskrif moet perfek vir jou visie wees sodat die lens jou nie irriteer nie.

Kontaklensgebruikers het steeds ’n bril nodig sodat die oë soms aan suurstof blootgestel kan word. Cornelia stel voor dat jy saans vir ’n ruk lank bril dra of oor naweke, na gelang van jou lewenstyl en wat vir jou gemaklik is.

Woordelys

Astigmatisme

Die kornea is rugbybalvormig in plaas van sokkerbalvormig.

Keratokonus

’n Siekte wat die vorm van die kornea verander.

Bysiende

Jy sukkel om ver te sien.

Versiende

Jy sukkel om naby te sien.

Optometris

’n Oogkundige wat toets vir refraksieafwykings en dit met lense regstel. Hy behandel minder ernstige siektes soos infeksies, maar sal jou na 'n oftalmoloog verwys in ernstiger gevalle.

Oftalmoloog

’n Dokter wat in oogsiektes spesialiseer en oogoperasies en laserbehandelings doen.

Kornea

Die deursigtige koepel aan die voorkant van die oog.

Lensinplanting

’n Harde kuns-lens word in jou oog voor jou lens ingeplant vir ernstiger afwykings wat nie met net laser reggestel kan word nie.

Het jy geweet?

Die skilder en uitvinder Leonardo da Vinci het in 1508 eerste met die idee van 'n kontaklens vorendag gekom. In 1888 het die fisioloog A.E. Fick 'n tegniek ontwikkel om lense te skuur sodat hulle presies op die oog kon pas. Dit was egter van glas en baie swaar.

 Delia du Toit

 

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Ask the Expert

Optometrist

Megan Goodman qualified as an optometrist from the University of Johannesburg. She has recently completed a Masters degree in Clinical Epidemiology at Stellenbosch University. She has a keen interest in ocular pathology and evidence based medicine as well as contact lenses.

Still have a question?

Get free advice from our panel of experts

The information provided does not constitute a diagnosis of your condition. You should consult a medical practitioner or other appropriate health care professional for a physical exmanication, diagnosis and formal advice. Health24 and the expert accept no responsibility or liability for any damage or personal harm you may suffer resulting from making use of this content.

* You must accept our condition

Forum Rules