Share

Kolonkanker – die gevaartekens

accreditation
Some colon cancers start spreading at a very early stage.
Some colon cancers start spreading at a very early stage.

Kolonkanker kom meer algemeen voor as wat mense dink. Maar dit hoef nie dodelik te wees nie. Die geheim is jy moet dit betyds opspoor.

Toe Ben Korf (74) in November 2008 skielik begin sukkel met diarree was hy nie bekommerd daaroor nie. Hy is dokter toe vir ’n voorskrif en toe weg met vakansie. Maar sy maag het bly pla en ná die vakansie is hy terug dokter toe.

Gelukkig vir Ben het sy huisdokter onraak vermoed en hom vir verdere toetse verwys. Vyf dae later is 20 cm van Ben se kolon verwyder nadat kolonkanker gediagnoseer is.

Die siekte het hom heel onkant betrap omdat hy gesond geleef het en daar buiten borskanker geen kanker in sy familie was nie. “Ek het nooit gerook nie, elke tweede dag 6 km gestap en was nie oorgewig nie. Ek het ook eike jaar vir ’n deeglike ondersoek by ’n internis gegaan.”

Vandag is sy kanker in remissie. Dit het weliswaar 28 bestralings en ses kursusse chemoterapie in pilvorm oor ses maande geverg, maar hy leef en is optimisties oor die toekoms.

Die verskriklikste pyn

“Ek moet van nou af jaarliks vir ’n kolonoskopie gaan,” vertel Ben, “en elke ses maande vir bloedtoetse. Ek was baie gelukkig, want nog voor ek behoorlik besef het ek het kanker, was die operasie verby.”

Natalie Brandt, ’n 33-jarige mediese verteenwoordiger van Kaapstad, was maar 26 toe sy kolonkanker gekry het. “Eers het ek net kwaai maagkrampe gehad, maar later het my buik ook opgeswel gevoel. Daar was geen ander simptome nie,” vertel sy.

Na vier maande van vergeefs pille drink, het sy by ’n konferensie in Johannesburg ineengestort van pyn, en by ’n kliniek in die stad is ’n verdraaide kolon gediagnoseer.

“Ek was twee weke in die hospitaal en skaars terug in Kaapstad toe ek weer by ’n ongevalle-afdeling beland met die verskriklikste pyn,” vertel sy.

Gelukkig het ’n chirurg besluit om te opereer om ondersoek in te stel. Hy het ’n kwaadaardige gewas in haar kolon ontdek en ’n stuk daarvan verwyder, en sy moes ook ses maande lank chemoterapie ontvang.

Sewe jaar later steeds kankervry

“Ek het nog nooit van groente gehou nie,” bieg sy, “maar ek het wel vrugte geëet, en hoofsaaklik vis en hoender. My enigste oortreding was die gereelde kitskos wat ek geëet het. Deesdae sorg ek dat ek baie meer vesel inkry.”

Sewe jaar later is sy steeds kankervry.

Alta le Roux van Alberton was minder gelukkig. Sy is op 35 dood aan kolonkanker.

“Sy het meer as ’n jaar lank by die huisdokter gekla oor hardlywigheid,” vertel haar man, Christiaan. “Toe sy eindelik na ’n spesialis verwys is, het hy ’n groot gewas op haar serviks ontdek en ’n ginekoloog het dit verwyder. Maar haar toestand het bly versleg en ’n week later het die dokters besluit om haar eierstokke en baarmoeder te verwyder.”

Nog voor sy vir chemoterapie kon aanmeld, het sy weer in die ongevalle-eenheid van ’n plaaslike hospitaal beland, waar ’n studentedokter die gewas op haar kolon opgemerk het. Hy het ’n chirurg se mening gevra, ’n kolonoskopie is gedoen en die gewas is gevind.

Dit was vermoedelik al minstens drie jaar daar en die kanker van die serviks het eintlik van haar kolon versprei.

Christelike steungroep

Vier maande na die eerste operasie is Alta dood en Christiaan het alleen agtergebly met hul babaseuntjie, Gerhard, destyds 15 maande oud. Hy het intussen die Christelike steungroep Christian Cancer Care gestig en deel van hul missie is om mense aan te moedig om aan te dring op deeglike toetsing en ’n tweede mediese opinie.

Soos hy hartseer sê: “Ek glo Alta kon nog geleef het as sy net betyds gediagnoseer is.”

 Kolonkanker is ’n algemene kanker, ook bekend as kolorektale kanker, omdat dit ook die rektum kan betrek. Dit groei stadig en is simptoomloos in die vroeë stadia wanneer die behandeling nog baie suksesvol kan wees, sê dr. Paul Paradza, ’n kliniese onkoloog by die Unitas-hospitaal in Pretoria.

Daarom is gereelde toetsing so uiters belangrik. In Suid-Afrika sal een uit elke 97 mans en een uit elke 162 vroue kolonkanker kry, volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Kolonkanker is een van die vyf algemeenste kankers onder mans sowel as vroue wêreldwyd, en in Suid-Afrika word minstens 2 500 nuwe gevalle jaarliks aangemeld.

Een uit elke drie mense wat met kolonkanker gediagnoseer word, sterf daaraan. Maar die goeie nuus is dat dit nie net ten volle genees kan word as dit vroeg genoeg opgespoor word nie, dit is ook uiters voorkombaar, volgens Paul.

Nog goeie nuus, sê prof. Paul Ruff, hoof van die onkologie-departement by die Universiteit van die Witwatersrand, is dat kolonkanker een van die navorsingsvelde met die beste vordering is.

Verwestersing en verstedeliking

Dit kom hoofsaaklik voor by mense in die middel- en hoër inkomstegroepe, en verwestering en verstedeliking speel ’n groot rol, sê hy. “Dit het te make met wat ons eet. ’n Vetryke dieet met min vesel is dikwels die oorsaak.”

Studies toon ook ’n verband tussen hoe cholesterol en kolonkanker. “Dit hou verband met oorgewig. Te veel liggaamsvet is om verskeie redes gevaarlik. Baie gifstowwe skuil in die vet, en dit affekteer nie net jou metabolisme nie, maar ook jou immuunstelsel, en dit benadeel jou liggaam se vermoë om kanker suksesvol te beveg.”

Mense met ulseratiewe kolitis of ’n geskiedenis van Crohn se siekte loop ook ’n groter gevaar om kolonkanker op te doen as ander, en in uitsonderlike gevalle is kolonkanker oorerflik. Bo 50 jaar word die risiko vir kolonkanker by alle mense toenemend groter en dit bly vergroot hoe ouer jy word.

Maar soms, soos in Natalie se geval, is daar geen ooglopende oorsaak nie. Paul Paradza meen dis die geval met sowat 30 persent van alle pasiënte. “Ek het al ’n kind van 17 jaar oud gehad wat in geeneen van die risikogroepe geval het nie,” vertel hy.

Daarom benadruk kenners die belangrikheid van deeglike toetsing as jy verdagte simptome ervaar.

Die gevaartekens

-          Veranderinge in jou stoelgang. “As jy altyd hardlywig is en skielik begin sukkel met diarree of andersom, noem dit aan jou huisdokter. Net so as jy soms sukkel met hardlywigheid of baie los stoelgange,” sê Paul Paradza. Gereelde slymerige stoelgang is nog ’n gevaarteken.

-          Bloed in die stoelgang is slegte nuus. As jou stoelgang donkerrooi of swart is, of as jy bloed in die toiletbak of op die toiletpapier sien, gaan dadelik vir ’n deeglike ondersoek. Jou huisdokter sal eers die moontlikheid van aambeie uitskakel. Dring aan op ’n kolonoskopie. As jou stoelgang byna swart is, is dit ’n teken van kwaai inwendige bloeding, Wat kan dui op gevorderde kolonkanker, maar dit kan ook ’n maagseer wees.

-          Kwaai, onverklaarbare moegheid wat gepaardgaan met onverklaarbare gewigsverlies.

-          Aanhoudende kwaai maagkrampe of maagpyn wat nie op gewone behandeling reageer nie.

-          Opgeblasenheid en ’n konstante gevoel van versadig-wees.

Bloedarmoede, veral by mans bo 40, kan dui op bloeding in die kolon Wat nog nie met die blote oog waargeneem kan word nie. Mans bo 40 wat met onverklaarbare moegheid sukkel, moet hul bloed-ystervlakke laat toets, sê Paul Paradza. Jou dokter sal ook ’n monster van jou ontlasting laat toets vir tekens van bloeding.

Hoe toets dokters vir kolonkanker?

Daar is ’n hele klompie toetse wat kolonkanker kan uitwys. Jou huisdokter sal tydens ’n gewone ondersoek op jou maag druk om te voel vir vergrote kliere of ’n vergrote massa in die buikholte.

’n Rektale ondersoek kan moontlik gedoen word, en feses kan gestuur word vir toetse vir bloeding.

Nog toetse soos ’n barium-enema (X-strale waarvoor jy vooraf ’n kontrasmiddel drink), ’n sigmoïe-doskopie, kolonoskopie en/of biopsie van verdagte weefsel sal toon of jy kolonkanker het of nie.

’n Sigmoïedoskopie is ’n prosedure waar ’n verligte buis deur die anus en via die rektum na die laerliggende deel van die kolon gestuur word om kwaadaardige poliepe op te spoor.

Ongeveer 65 persent van kolonkankers kan so opgespoor word. Dit is veral belangrik omdat kanker in die laer dele van die kolon en in die rektum maklik gemis kan word met ’n kolonoskopie, sê Paul Paradza.

’n Kolonoskopie werk net soos ’n sigmoiedoskopie, maar die hele kolon kan hiermee ondersoek word. Albei prosedures sal deur ’n gastroënteroloog gedoen word.

Dis nie pynlik nie, maar ongemaklik, en word onder ligte verdowing gedoen. Jy sal vooraf middels moet drink om jou derm heeltemal skoon te maak.

 Die toetse wat kan keer dat jy kolonkanker kry

Gereelde toetse, of jy nou simptome het of nie, kan die risiko van kolonkanker dramaties verklein.

Die grootste oorsaak van kolonkanker is adenoom-poliepe in die dermwand. Die meeste is nie-kwaadaardig, maar daar is ’n kans van 1 persent dat poliepe kwaadaardig kan word en dat die kanker dan verder in die kolon en elders kan versprei.

’n Dokter sal poliepe wat tydens ’n roetine-ondersoek opgespoor word, verwyder en laat ontleed. As dit nie kwaadaardig is nie, word die moontlikheid van latere kwaadaardigheid so uitgeskakel, en as dit wel kwaadaardig is, word dit hopelik verwyder voor dit na die res van die kolon versprei, wat die kans op volkome herstel tot 90 persent verhoog.

Alle mense behoort hulle van hul 50ste verjaardag op ’n gereelde basis vir kolonkanker te laat toets.

Moontlike toetse is die ontleding van ’n stoelgangmonster om bloeding op te spoor, ’n sigmoïedeskopie en ’n kolonoskopie.

Jou dokter sal aanbevelings doen oor watter toetse jy moet ondergaan en, na gelang van die uitslag, hoe gereeld jy opvolgtoetse moet laat doen.

As jy in ’n hoë risikogroep vir kolonkanker val, behoort jy op 40 al met ’n kolonoskopie te begin en dit elke jaar of tweede jaar te laat herhaal. Spreek jou dokter hieroor.

Die volgende faktore plaas jou in ’n hoërisikogroep, volgens die Amerikaanse kankervereniging:

-          Kanker of poliepe is al by jou gediagnoseer.

-          Jy ly aan Crohn se siekte of ulseratiewe kolitis.

-          Poliepe of kolonkanker is al gediagnoseer by ’n ouer, broer of suster of kind, almal jonger as 60 jaar, of by twee sulke familielede bo 60.

-          Daar is ’n familiegeskiedenis van oorer?ike kolonkanker, soos die soort wat deur poliepe veroorsaak word, ook bekend as PAP, en ’n soort wat nie met poliepe verbind word nie, bekend as HNPCC.

Behandeling

Chirurgie is feitlik altyd deel van die behandelingsplan. Tydens chirurgie word die aangetaste deel van die kolon en nabygeleë limfknoppe verwyder.

Gewoonlik kan die twee gesonde dele van die kolon weer verbind word en jou kolon sal soos van ouds funksioneer. Soms is dit egter nodig om ’n opening in die buikwand te maak, bekend as ’n kolostomie, sodat die ontlasting direk na ’n sakkie buite die liggaam geneem word in plaas van deur die rektum en anus.

’n Totale kolektomie – wanneer die hele kolon verwyder word – kan ook gedoen word, soos in die geval van dr. Elsabe Pepler. Paul het ’n pasiënt wat nou al byna 40 jaar sonder ’n kolon leef.

Ná die operasie sal die chirurg jou na ’n onkoloog verwys wat vir jou ’n unieke behandelingsprogram sal uitwerk en wat bestraling en chemoterapie kan insluit. Elke kankergeval is uniek en wat vir jou vriend gewerk het, sal nie noodwendig vir jou kanker werk nie.

Jou onkoloog moet verskeie faktore in ag neem, soos die graad, soort en ligging van die kanker en of dit na die limfkliere of nabygeleë organe versprei het. Jou algemene gesondheidstoestand en ouderdom sal ook in ag geneem word.

My lewe sonder ’n kolon

 Na 35 jaar van sukkel met haar kolon het Elsabe Pepler, ’n kommunikasie-en-mediakonsultant van Kaapstad, gehoor sy het kolonkanker.

"Hoewel ek dikwels siek was, is ek ’n A-tipe persoonlikheid wat dinge tot elke prys en op die vinnig-ste manier gedoen wil kry. Ek was altyd bang ek gaan verplig word om op te hou hardloop. Ek het geweet ek val in ’n hoërisikogroep vir kolonkanker weens chroniese ulseratiewe kolitis en het daarom jaarliks ’n kolonoskopie ondergaan."

Maar weens haar dermsiekte was die opspoor van die kanker deur 'n kolonoskopie nie so eenvoudig soos gewoonlik nie en dit is eers deur 'n latere toets in die dieper wande van die kolon ontdek.

Elsabé onthou hoe sy die werklikheid vir haarself probeer ontken het. Maar toe kom die skoknuus: Die kolon moes so gou moontlik verwyder word. Feitlik haar hele kolon, met die uitsluiting van die 16 cm lange rektum, is toe in Junie 2007 verwyder.

Ses maande van chemoterapie het gevolg en nog twee maande later is sy terug na die chirurg. Die nuus was nie goed nie: Die rektum moes nou ook verwyder word. In Maart 2008 is haar rektum verwyder en vir die volgende drie maande moes sy met 'n stoma-sakkie loop.

“Dit was waarskynlik een van die slegste ondervindings van my lewe omdat dit so onnatuurlik is dat jou derm hier op jou maag uitmond," vertel sy.

“ ’n Mens is bang om uit die huis te gaan ingeval die sakkie begin lek. Maar ek was eintlik te siek om regtig om te gee. Gelukkig het ’n uiters bekwame stoma-suster minstens twee keer per week na my huis toe gekom om my te help met die vervanging van die sakkie.”

Ná nog drie maande is sy vir die derde keer geopereer. “ 'n Inwendige sakkie is van die dunderm geskep – en ek het weer beheer oor my ingewande gehad! Ek was nogtans dodelik bevrees die eerste keer dat kos deur my spysverteringstelsel moes beweeg.”

Die eerste jaar was baie moeilik. "Ek moes leer watter kos werk en wat nie. Piesang, rys, gekookte appel en malvalekkers werk lekker! Ek drink daagliks tablette teen diarree en neem kalsium- en kalium-aanvullings."

Deesdae gaan dit baie goed met Elsabe. “My lewensgehalte is beter as voor my kolon verwyder is en ek kry net soveel werk gedoen as 15 jaar gelede.

“My raad aan mense wat ’n stryd voer met ’n moeilike kolon is dat daar absoluut lewe is nadat alles verwyder is. As Oscar Pistorius sonder bene kan hardloop, kan enige mens sonder ’n kolon ewe vinnig hardloop! My lewe sonder 'n kolon is beslis beter as wat dit met ’n sieke was.”

 Ander nie-dodelike dermkanaalsiektes

1. Spastiese kolon, of ook bekend as prikkelbare dikdermsindroom

Wat is dit? Dit is ’n siekte waar die dikderm hewig saamtrek en krampe veroorsaak. Die oorsaak is onbekend, maar dis dikwels stresverwant. Die simptome is maagkrampe, opgeblasenheid ná ’n ete, winderigheid en ’n wisseling tussen hardlywigheid en diarree.

“Daar is geen verband tussen in spastiese kolon en kolonkanker nie,” sê Paul Paradza, “en ’n spastiese kolon is nie ’n voorloper tot kolonkanker nie. ’n Diagnose van ’n spastiese kolon kan juis eers gemaak word as alle ander moontlikhede (ook kolonkanker) uitgeskakel is.

“As jy bekommerd is, dring aan op ’n kolonoskopie.”

Die behandeling: Beter streshantering, dieetaanpassings en die gebruik van medisyne om die spierspasmas te verlig.

2. Divertikulose

Wat is dit? Met divertikulose vorm uitstulpings in swak plekke in die dikdermwand. Die simptome kan ligte krampe wees, opgeblasenheid, hardlywigheid en diarree. Enkele mense het rooi of donker bloed in hul stoelgang. In sowat een uit vyf mense kan die uitstulpings ontsteek (divertikulitis) en selfs oopbars sodat die derminhoud deur die dikdermwand lek. Die simptome is dikwels pyn, koors en kouekoors. In baie ernstige gevalle ontwikkel lewensgevaarlike buikontsteking, bekend as peritonitis.

Die behandeling: ’n Dieet met baie vesel en vloeistof help vir die meeste mense, maar sommige het teenspasmamiddeis nodig. Divertikulitis word met antibiotika behandel. Ernstige gevalle benodig ’n antibiotikumdrup in ’n hospitaal. In baie ernstige gevalle word ’n deel van die dikderm uitgesny. Hardlywigheid moet te alle tye voorkom word. Vermy lakseermiddels en pynstillers met kodeïen omdat dit jou dermbewegings stadiger maak.

3. Ulseratiewe kolitis en Crohn se siekte

Wat is dit? Albei is inflammasie-siektes wat deur ’n foutiewe immuunstelsel veroorsaak word en gekenmerk word deur fases van aktiwiteit en remissie.

Die simptome is moegheid, gewigsverlies, swak eetlus, koors, en in die geval van Crohn se siekte absesse in die buikholte wat naarheid, diarree, braking en rektale bloeding kan veroorsaak. Die absesse kan na ander organe lek. Komplikasies soos artritis, lewersiektes, osteoporose, vel-uitslae bloedarmoede en nierstene is algemeen.

Die behandeling: Die siekte word met kortisoon onder beheer gebring. Enkele mense het ’n operasie nodig. Vermy kosse wat jou ongemaklik maak.

Kan braaivleis kolonkanker veroorsaak?

Dis nie soseer die braaivleis wat die sondaar is nie, maar die vet in die vleis en die hoë gaarmaak- hitte. Te veel vet – soos in wors en skaaptjops – is op sigself ’n risikofaktor vir kolonkanker, en die gaarmaak van vleis by te hoë temperature kan die risiko verhoog, of dit nou in 'n pan of oor ’n vuur is. Die onkoloog Paul Paradza sê matigheid is die wagwoord. 'n Stukkie braaivleis af en toe gaan nie kolonkanker veroorsaak nie.

 Ilse Salzwedel

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE