Share

Asmalyers vertel

accreditation

Daar is niks wat ’n mens die swem-ster Roland Schoeman van asma kan vertel nie. Hy ken van jongs af al die gevoel van versmoring, van uiterste asemnood en spiere wat vergeefs saamtrek om lug deur die opgeswelde en ontsteekte longpypies te probeer pers.

Hy lees die tekens van ’n dreigende asma-aanval net so goed. Die skielike, vlak, harde asemhaling en die fluitbors. Die benoude gehoes.

Maar belangriker nog: Hy onthou veral hoe hy as laerskoolkannetjie wat niks anders wou doen as sokker speel nie, kort-kort tydens ’n wedstryd na sy asem begin snak het – en dan, na ’n paar teue aan sy asmapompie, op die kantlyn moes staan en wag om sy asem terug te kry. Skaam en verleë. En magteloos.

As Roland oor asma-aanvalle praat, praat hy namens al die miljoene mense, baie van hulle aktief en sportief, wat deur asma aan bande gelê word: “Daar op die kantlyn kry ’n mens se selfbeeld ’n knou. Jy voel aanmekaar jy laat jou span in die steek.”

Dat asmalyers nogtans op sportgebied presteer, sê iets van die merkwaardige vordering wat gemaak is en steeds gemaak word om asma reg te behandel.

Angsrit na die hospitaal
Roland was ses jaar oud toe hy gediagnoseer is. Divan Barnard (3) van Brackenfell naby Kaapstad was net ses maande oud toe sy ouers hul eerste angsrit na die hospitaal afgelê het.

Nou sien Dirk en Maritza al ’n aanval van ver af aankom. Die kuggies wat ’n aanhoudende hoes word, Divan se opgetrekte skouertjies en sy angstige rondkyk, sy ribbes wat van mekaar wegtrek soos sy borskas probeer uitdy.

Die kortisoonpompie wat Divan elke dag gebruik, hou die asma in toom, maar hy kry nog van tyd tot tyd akute aanvalle. Hulle weet al presies wanneer om na sy tweede asmapompie te gryp – en as dit nie help nie, die kortisoonpille en nebuliseerder wat hom help asemhaal. Maar partykeer is daar geen ander genade nie, hulle moet hospitaal toe jaag.

Daarvoor staan sy tassie altyd klaar gepak gereed by die voordeur. By die Medi-Clinic in Stellenbosch ken die personeel hom al soos ’n familielid die dapper seuntjie war so vol lewe is, maar tog nog so klein is en nie die trane kan keer as die fisioterapeut met mening op sy rug klop om die taai slym wat sy ontsteekre longpype afskei, los te kry nie.

Soos Roland en Divan, is daar miljoene mense wat aan asma ly. Een uit elke tien kinders en een uit elke twintig volwassenes kry daarmee re kampe. En die aantal asmalyers is aan die toeneem. Volgens internasionale en Suid-Afrikaanse syfers lyk dit of die voorkoms van asma die afgelope twintig jaar verdubbel het. Dis waarskynlik as gevolg van groter besoedeling, maar ook omdat mense minder oefen en ongesonder leef.

Die goeie nuus is dat asma bale goed met medikasie beheer kan word.

Die slegte nuus is dat sterftes toeneem omdat asmalyers nie reg behandel word nie of glad nie eens behandeling kry nie.

Vierde hoogste sterftesyfer
Dit lei daartoe dat Suid-Afrika die vierde hoogste sterftesyfer vir asma ter wêreld her vir mense tussen vyf en 54 jaar.

As asma bloot nie reg behandel word nie, kan die gevolge op die lang duur rampspoedig wees.

Vir Roland Schoeman was dit ’n geweldige skok toe hy kort voor die Olimpiese Spele in Athene moes uitvind hoeveel van sy longfunksie hy reeds verloor het omdat sy asma nie goed genoeg behandel is nie.

Hy moes op aandrang van die swemowerhede sy longfunksie laat toets voor hy toegelaat sou word om sy asmapompie te gebruik. Toe eers blyk die skade aan sy longe duidelik. “Die ergste is dat ek so gewoond geraak het daaraan dat ek nie agtergekom het hoe erg dit regtig was nie,” sê hy.

Roland, wat begin swem her om sy longe te versterk, het maar net gereeld ’n suig of twee aan sy asmapompie geneem as hy kortasem was. “Uit onkunde het ek gedink dis genoeg.”

'n Mens ontgroei dit nie
Dit was eers toe ’n longspesialis hom na die skokontdekking onder hande geneem het dat Roland werklik volledige beheer oor sy asma gekry her. Die kuns, se hy, is om sowel die asma as jou omgewing te probeer beheer.

Met die regte behandeling behoort niks in jou pad te staan nie. Minstens 10 persent van Olimpiese atlete is asmalyers. Roland se suster, Samantha, het selfs nog erger as hy met asma gesukkel, maar sy wou ’n perdspringkampioen word – al het ’n dokter gesê haar allergie vir perde kan haar dood kos voor sy 21 is. Met die regte behandeling jaag sy nou haar drome na. “Asma neig om in sekere families voor te kom, maar dit hoef nie die einde van jou drome te beteken nie,” benadruk Roland.

Asma kan op enige ouderdom toeslaan. Die meeste mense kry dit gewoonlik voor hulle vyf jaar oud is, maar baie vroue ontwikkel die eerste keer asma in hul veertigerjare – moontlik weens hormoonskommelings.

’n Mens ontgroei dit ook nie. “Grootmense hanteer dit bloot beter,” sê dr. Hannes van Rensburg, ’n longspesialis van Centurion. “Kinders se lugweë is nog nie volledig ontwikkel nie en omdat hulle mettertyd ontwikkel, verbeter jou asma. Maar jou asma kan weer toeslaan wanneer jy ouer is en daar is ’n sneller, byvoorbeeld ’n spesifieke allergeen.”

’n Dodelike vergissing by grootmense kan wees om die erns van jou eie asma-aanval te onderskat, soos wat ongelukkig op 2 September 2001 met die Suid-Afrikaanse hartpionier dr. Chris Barnard op Ciprus gebeur het. Hy het met ’n skielike akute asma-aanval langs die swembad ineengestort en gesterf.

Hoewel asma nie genees kan word nie, kan dit baie goed beheer word. Moderne medikasie vir asma werk uitstekend, sê dr. André van Niekerk, ’n kinder-longspesialis met praktyke in Alberton en Durban. Die kans is skraal dat iemand wat die regte medikasie reg gebruik, sal sterf.

Behandeling

Asma is eintlik twee siektes in een – chroniese inflammasie en skielike spasma van die longpype. Daarom moet daar ook twee soorte behandeling wees, die voorkomer-pompie en die verligter-pompie.

Die twee soorte behandeling saam is so goed dat dit deesdae “onaanvaarbaar is dat iemand wat op behandeling is, enige simptome van asma toon”, sê dr. Robin Green van Johannesburg.

Maar pasop! Die spesialiste waarsku dat ’n mens nie net op verligters moet staatmaak nie, maar albei soorte pompies moet gebruik. Verligters maak die lugweg net tydelik oop, maar doen niks aan die onderliggende inflammasie nie.

Asma kan nie genees word nie, en daar moet dalk lewenslank met die voorkomers volgehou word, maar asmalyers kan geheel en al simptoomvry wees en nie meer hoes nie. Fluitbors en kortasemrigheid kan verdwyn. Lyers kan ook voluit aan sport deelneem, snags rustig slaap en nie meer akute asma-aanvalle kry wat hulle in die hospitaal laat beland nie.

Dit is baie belangrik om asma deeglik onder beheer te bring om blywende longskade te voorkom. Asma is een van die algemeenste en potensieel gevaarlikste chroniese siektes; tog besef baie ouers nie hul kind ly daaraan nie, sê dr. Andre van Niekerk. Hy raai ouers aan om op die tekens van asma bedag te wees en dadelik werk te maak van die saak.

Indien asma nie reg behandel word nie, kan die gebrek aan ’n behoorlike nagrus kinders se beengroei en breinontwikkeling strem. Daar kan ook ’n verband wees tussen asma, depressie en selfmoord by tieners.

En dit, benadruk die dokters, is heeltemal onnodig.

Wat is asma?
Asma is ’n siekte waar die pasiënt se bors gereeld toetrek. Die eintlike probleem is dat asmalyers nie hul asem kan uitkry nie, eerder as nie inkry nie. Hulle versmoor dus as’t ware in hul eie asem, wat vol koolsuurgas is. As die lug nie uitkom nie, kan vars lug nie inkom nie.

Hoe weet jy iemand het asma?
Kyk! As jou kind ’n angstige kyk in die oë kry, sy skouers optrek en jy selfs die openinge tussen sy ribbes kan sien, probeer hy hard om asem te haal.

Hou dop!
As jou kind binne ses tot tien minute moeg word wanneer hy speel, of gou wil ophou speel of stadiger speel, wegskram van aksiesport of kla van ’n stywe of benoude gevoel op sy bors, is die kans groot dat hy asma het.

Luister!
Is daar ’n chroniese hoes, ’n fluitbors, kortasemrigheid of vinnige en vlak asemhaling? ’n Chroniese hoes by kinders is asma – tot ’n doktersondersoek anders bewys.

Pasop!
Baie gevalle wat lyk soos griep en verkoue is eintlik asma, waarsku die spesialiste.

Oefening
Oefening lok dikwels asmasimptome uit pas nadat jy begin het, maar een of twee teue aan die verligter-pompie voor oefening kan ’n groot verskil maak. Fiksheid kan die longe versterk en teen asma help. Kinders wat met die hulp van die regte medikasie aanhou oefen, se simptome raak algaande minder.

Geografiese gevaarpunte  

Stede met besoedelingsgasse wat baie swawel bevat, min bome en baie antrasiet- of koolstowe, soos Soweto en Durban. 

Aan die kus, omdat daar meer stofmyte en swamspore is as in byvoorbeeld die Karoo.

Naby nywerhede wat ongesonde gasse vrystel, soos die olieraffinaderye naby Milnerton in die Kaap en Sasolburg, die brandende myne naby Witbank en chemiese aanlegte naby Durban.

Deur Ilse Salzwedel en die Health24-span

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE