Share

'n Jaar van genade

'n Jaar van genade

Soms is 'n beenmurgoorplanting 'n mens se enigste hoop op lewe, maar daar is geen waarborg nie. Vir Dries Venter, 'n Pretoriase leukemielyer, en sy vrou Reinet was die ervaring tegelyk 'n hoopvolle en hartverskeurende reis. Dries het dagboek gehou en sy verhaal met ons gedeel, tot en met die tragiese afloop

2008
29 Julie
Donderdag het ek die nuus gekry: "Mnr. Venter, jy het AML subtipe M6."

Die Valbyl. Die Monster. AML staan vir akute miëloïede leukemie. Die laaste woord behoort julle te herken: bloedkanker. Akuut beteken "vinnig" – as dit nie behandel word nie, het ek sowat ses weke oor om te leef.

Daar is egter hoop: Byna alle bloedkankers is deesdae behandelbaar, afhangende van die stadium waarin die behandeling begin. Maar van dié dag af is jou lewe totaal anders, vir altyd.

Daar het julle dit, liewe vrinne: Ek sit nou hier in Pretoria se Faerie Glen-hospitaal in afsondering (ek kan nie nou bekostig om ander siektes op te doen nie) en kyk hoe die laaste van die eerste reeks chemoterapie by my are indrup – tot dusver nog 'n betreklik pynlose, maar vervelige proses. Die sports kom blykbaar nog.

By die eerste aanhoor van die woord "bloedkanker" daar in die dokter se spreekkamer het ek gedink ek gaan uitmekaarval. Terug by die huis begin ons rondbel om mense in te lig wat aan die gang is. En met dié eenvoudige handeling ontvou 'n proses wat ek nie anders kan as om 'n visioen te noem nie.

Hier staan ek – 'n stukkie besoedelde, gebroke menswees heeltemal alleen op 'n paadjie en op 'n donker plek waarheen niemand my kan volg nie. En ek skel my "hoekom?" op God. Maar God antwoord nie, Hy maak dinge net so 'n bietjie ligter, en ek sien hier staan Reinet langs my, en daar staan my sus Marietjie, en Rob van die werk, Mariente, my ma, Hannes en Riekie...

Soos my oë op- en oopgaan staan daar 'n hele skare om my, bo my, onder my. Met 'n helder lig wat alles deurspoel. Ek sien dat God my gebroke ruwe sandkorreltjie daar in die middel as die saadjie van ’n pêrel

van onskatbare waarde geplaas het en ek verstaan vir die eerste keer die frase "gemeenskap van die heiliges" in ons geloofsbelydenis.

Ek verstaan dat God nie sê hoekom nie, maar dat Hy my wys dat Hy wel my eie lewe vir my onder die loep wil plaas: "Kyk hier, Dries, kyk na jouself. Kyk op hoeveel maniere het jy al dié mense se lewe geraak. Kyk hoe wil hulle vir jou 'n verskil maak, al is dit net om jou te ondersteun. Jy is nie alleen nie!"

Ek verstaan toe ook skielik dat God nie vir my sê wat Hy uiteindelik met my gaan doen nie, of ek gesond hier gaan uitstap nie. Maar dit maak ook eensklaps nie meer soveel saak nie! Hoe kan 'n mens so iets verklaar?

My wêreldjie
Welkom by my klein hoekie van die Faerie Glen-hospitaal. Maar voor jy inkom, trek eers vir jou 'n voorskootjie aan (die mans lyk tog te skattig!) en ook 'n paar rubberhandskoene nadat jy eers jou hande deeglik gewas het. Van volgende week af sal jy 'n masker ook moet opsit. Dit alles sodat ek geïsoleer word van die bose buitewêreld om die kanse op 'n infeksie te verminder.

Reg langs my bed staan Mathilda met al die drupsakkies en pype. Mathilda voorsien my van al die chemikalieë wat nodig is om die kanker te beveg. Haar enigste snaaksigheid is dat sy daarop aandring om oral saam met my te gaan, selfs as ek gaan stort. En ander dinge ook. Nou is dit ek en Waltzing Mathilda.

Rol ek my kop regs, sien ek Nagging Nellie, die monitor. Sy word elke twee uur gekoppel en check my bloeddruk, polsslag en suurstofvlak. Maar Nellie kan nogal kla as sy dink dinge is nie reg nie!

10 Augustus
Ek het die eerste reeks chemoterapie in en nou sit ons en wag. As dinge goed lyk, kry ek nog 'n reeks. Van daar af veg ons heeltyd op dié manier voort om die kanker in remissie te hou tot ek 'n beenmurgskenker kan kry, want uiteindelik is 'n beenmurgoorplanting al wat my heeltemal gesond kan maak.

17 Augustus
Het jy al ooit in 'n spieël gekyk en 'n totale vreemdeling gesien? Ek het. Vanmiddag. En my boeglam geskrik. Sien, ek het al my hare (en baard) afgeskeer. My hare het in klossies begin uitval en ek het ál meer gelyk of ek brandsiek het, toe besluit ek dis nou dit. Noem my sommer ou Poena.

22 Augustus
Woensdag loop die dokter hier in met net so 'n groot smaail op haar gesig. Hulle kon geen kankertekens in my beenmurgmonster kry nie! In my hart het ek 'n vinnige "dankie Here" opgestuur.

17 November

Hulle soek regoor die wêreld beenmurgskenkers en het al sewe moontlikes opgespoor.

2009
5 Februarie
Halleluja! Ons het gister die goeie nuus gekry dat ek 'n Duitse beenmurgskenker het, waarvoor ek maar net vir die Here dankie kan sê. Nou is dit 'n kwessie van mekaar se schedules laat inpas. Dis 'n groot bekommernis van my skouers af.

18 Maart
Op 23 Maart oes ons die skenker se stamselle. My grootste bede tans is dat sy tussen nou en dan niks oorkom nie, want sy was die enigste gepaste skenker wat hulle kon kry uit 'n databasis van om en by 12 miljoen. Sy's die girl for me!

Die feit dat my skenker 'n Duitse vrou is en ons net op een plekkie in die geenstringe verskil, beteken my en haar voorgeslagte kom uit dieselfde omgewing en ons is waarskynlik familie.

Ek sou nogal graag saam met haar wou sit en die geskiedenis uitpluis. Maar dis helaas nie moontlik nie, gegewe die reëls van die Beenmurgregister. Die meeste wat hulle my toelaat is om 'n brief te skryf om dankie te sê vir die skenking.

30 Maart
Maandag 16 Maart trek ek toe in by die Faerie Glen-hotel vir die finale stadium in die oorplantingsproses. Eerste op die agenda is chemo. Hulle moet my beenmurg totaal vernietig. Soos die dokter dit gestel het: This is the point of no return. Hierdie chemo sal my doodmaak as ek nie die oorplanting kry nie.

Intussen het Frau X daar in Duitsland ook al 'n reeks inspuitings gehad om haar stamselproduksie op te stoot. Op 23 Maart was sy gereed vir die oes.

Daarna verloop alles volgens 'n fyn uitgewerkte skedule. Ná twee oessessies word die beenmurg verpak en aan 'n koerier gegee – hy is 'n dokter of mediese tegnikus met ervaring van beenmurgoorplantings.

Die pakkie is nooit uit sy sig nie, mag nie deur X-strale of enige sulke dinge by die lughawens gaan nie – die hoof van sekuriteit moet dit self ondersoek.

Die koerier is ook die laaste op en eerste af van die vliegtuig en kry 'n sitplek heel voor in eerste klas.

Hier te lande kry hy 'n chauffeurkar wat hom van die lughawe tot by die hospitaal bring.

Die dokters weet ek is op hete kole en ek ontvang 'n stroom boodskappe. "Sy's nou klaar geoes", "Die koerier is op die vliegtuig", "Die vliegtuig is betyds".

Kwart oor een op Woensdag 25 Maart ontvang Driesieboy sy pienkerige pakkie nuwe lewe. Is dit nie ongelooflik nie?

26 Mei
Hulle het twee weke gelede weer beenmurg getrek. Dit meet die verhouding tussen my oorspronklike mankolieke witbloedselle en dié wat deur die nuwe beenmurg gemaak word. Op die oomblik is sowat 90 persent van die lot Nuwe! Verbeterde! Duitse! witbloedselle. Die idee is dat die verhouding ál meer swaai na die nuwe selle se kant toe, maar ook dat die ou witbloedselle in absolute getalle moet afneem.

Daar mag niks van my ou beenmurg oor wees wat enigsins selle vervaardig nie. Hulle sal nou volgende week of so weer beenmurg trek om dit te bevestig.

Junie/Julie
Toe, op 19 Junie laat Dries vir HG-Pols weet:

"Ek het laas Vrydag gehoor dat die leukemie terug is – blykbaar is al my eie stamselle nie vernietig deur die laaste chemoterapie nie. Daar is darem nog behandeling daarvoor, hoewel die opsies heelwat verskraal. Ek bly positief en neem elke dag soos die Here hom aan my gee, vas vertrouend dat wat met my gebeur êrens in sy raadsplan inpas..."

Drie weke later moes hy terug hospitaal toe, en op 15 Julie is Dries oorlede.

 

Reinet skryf
"Die ses weke wat hulle hom destyds gegee het, het toe 'n genadejaar geword," sê Dries se weduwee, Reinet, aan HG-Pols. "Dit was 'n jaar waarin ons baie tyd saam kon deurbring en amper meer gesels het as in die 28 jaar dat ons getroud was.

"Sy siekte en sy skrywes daaroor op die internet het ongelooflik baie mense geraak. Mense wat hom nooit geken het nie het laat weet dat hulle ook weer gaan stil staan het om oor die lewe te besin. My vertroosting lê hierin, want Dries het gesê dat as net een persoon tot bekering kom deur sy siekte was dit die moeite werd.

"Die herinneringe aan die positiewe manier waarop hy die kanker verwerk het, sy insig, beredeneerdheid, sy honger na kennis en sy liefde vir sy medemens sal altyd by ons bly," sê Reinet.

*Dries het gereeld dagboekinskrywings na die internet gepos om vriende en familie op die hoogte van sake te hou. Kort voor sy dood het hy self dié inskrywings vir ons verwerk in die artikel hierbo.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE