Share

'n Gesonde werkplek

Die meeste mense droom daarvan – ’n paar miljoen in die bank en die afskeidspartytjie. Jy hoef nooit weer in te teken nie, nooit weer jou baas se persoonlikheidsversteuring te trotseer nie, of werk toe te gaan, selfs al is jy so siek soos ’n hond nie. 

Daar is 'n paar slegte redes om jou werk te bedank, maar dan is daar ook die goeies.

Groter en beter. As jy 'n aanbod gekry het wat jy nie kan weerstaan nie, met meer geld en beter werksomstandighede, skryf daardie bedankingsbrief. Maar nie voordat jy die geloofwaardigheid van jou nuwe maatskappy ondersoek het nie. Die laaste ding wat jy wil hê, is dat die werk in die niet verdwyn nadat jy jou bestaande werk bedank het.

Jou huweliksmaat verhuis. Jou metgesel het 'n wonderlike werksaanbod in 'n ander stad gekry. En jy sien nie kans om te bly waar jy is en 'n enkelouer te word nie. Om die familie te ontwortel, is traumaties, so die werk moet beslis die moeite werd wees.

Oorwerk en swak betaal. Jy skaam jou oor wat jy verdien en sou liewer sterf as om vir enigiemand te vertel hoe min dit is. Maar die maatskappy waar jy werk, dink dit is heel redelik, wat die groot personeelomset verklaar. Jy werk hard om 'n goeie bestaan te maak. As die maatskappy jou nie betaal wat jy werd is nie, is dit hoog tyd om 'n werkgewer te vind wat dit wél sal doen.

Jy wil die wêreld sien. As jy 'n jaar of twee het om te gaan reis, doen dit voor jy ander verantwoordelikhede het wat jou aan die huis vasketting. Wanneer jy jonk is, is dit nog pret om in Milaan onder 'n brug te slaap, of op 'n stasie in Barcelona, om druiwe in die suide van Frankryk te pluk of om vir die naweek saam met die interessante Sweedse vreemdeling wat jy op die vliegtuig raakgeloop het Portugal toe te gaan. Doen dit terwyl jy kan – jy kan jou beroep hervat wanneer jy op ouderdom 24 terugkeer. 

Jy het die lotery gewen. Jy het miskien nie meer die geld nodig nie, maar voor jy daardie bedankingsbrief skryf, wees prakties en dink aan wat jy die hele dag met jouself gaan aanvang. Goed, jy wou nog altyd as 'n vrywillige by die hospice of by die Diere Beskermingsvereniging werk. Maar as jy nie belangstellings of stokperdjies het om jou tyd vol te maak nie, moet jy dit miskien oorweeg om aan te bly – selfs al is dit net deeltyds.

Etiese redes. Jy het agtergekom dat jou maatskappy op 'n onetiese manier bestuur word. Jou baas jaag begrotings/kwotasies/rekeninge op en jy wil net nie meer daarmee geassosieer word nie. Maak net seker jy het iets anders in die vooruitsig voor jy die pad vat.

Die klank van klein voetjies. So, jy doen nou al 'n dekade lank die loopbaan-ding en nou wil jy die ouer-ding doen, ten minste vir 'n paar jaar. As jy dit kan bekostig, is dit wonderlik. Geniet dit en moenie toelaat dat enigiemand jou laat voel dit is 'n onwyse keuse nie. Wat dalk onwys mag wees, is om nie op datum te bly met ontwikkelinge op jou gebied terwyl jy tuis by jou kinders is nie. Bly op datum met 'n bietjie vryskutwerk.

Psigotiese baas. Goed, baie base laat veel te wense oor. Kom ons wees eerlik, dit is selde mensevaardighede wat tot bestuursposisies lei. Maar as jou baas kla dat die datum van jou suster se begrafnis hom/haar nie pas nie, of gereeld vir sy witbroodjies op die personeel klein geskenkies soos sjokolades koop, of die personeel tot raserny boelie, is dit tyd om pad te gee. Niks wat jy doen, gaan die situasie verbeter nie – net jare se terapie kan dalk 'n verskil aan 'n persoonlikheidsafwyking maak. Maak 'n plan. Jy verdien iets beter. As dit egter die sewende agtereenvolgende baas is met wie jy nie kan klaarkom nie, is dit dalk tyd om die fout op eie bodem te begin soek.

Sinkende skip. As die maatskappy reeds die afgelope jaar of twee links en regs mense afdank, is dit dalk 'n teken dat dinge nie is soos dit moet wees nie en dat die maatskappy miskien binnekort sy deure permanent gaan sluit. As jou werksbeskrywing, bo en behalwe jou gewone werk, skielik ook kombuisdiens begin insluit, is dit dalk tyd om groener weivelde te soek. Die skip is besig om te sink – verkas terwyl hulle nog in staat is om jou pensioen uit te betaal.

Nuwe loopbaan. As jy nog altyd 'n DJ wou wees, in plaas van rekenaarprogrammeerder, iets wat jy al tien jaar lank doen, en die geleentheid om jou droom te bewaarheid, doen hom voor, gryp dit aan! Daar sal altyd werk vir programmeerders wees, maar DJ-posisies is so skaars soos hoendertande. Jy wil nie vir die res van jou lewe wonder oor hoe dit sou gewees het as jy die kans gewaag het nie.

Oorgesien vir promosie. Jy werk hard en, om die waarheid te sê, doen jy meer as jou deel, maar jy is al verskeie kere oorgesien vir promosie. Wanneer dit gebeur, beweeg jou loopbaan agteruit – dit is nie meer 'n loopbaan nie, net 'n werk. Dit mag dalk nie eers jou skuld wees nie, maar die feit van die saak is dat daar geen toekoms is waar jy nou sit nie. Dit is tyd om jou oë oop te hou vir iets wat vir jou op die lange duur meer gaan bied.

Die maatskappy verhuis. Jy en jou familie is baie gelukkig waar julle reeds vyf jaar lank woon, maar nou wil die maatskappy na dieselfde stad verhuis waar jou skoonfamilie woon en dit is die laaste plek op aarde waar jy wil wees. Bly waar jy is en soek ’n ander werk! 

(Susan Erasmus, Health24.com, hersien Februarie 2011)

Besoek die Healthy Workplace Focus Centre

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE