Share

Word reg wakker

Jou wekker raas jou wakker. Die son is op – en jy moet óók opkom. Maar voor jy die dag blindelings binnestorm, staan eers vyf minute aan jou liggaam en gees af.

Deur HEATHER PARKER

Struikel uit die bed. Vinnig onder die stort in en pluk iets aan. 'n Paar slukke koffie en weg is jy!

Klink dit bekend? Dis hoe dit soggens met die meeste van ons gaan. Maar daar is 'n beter manier – 'n gesonder, gelukkiger manier. So kan jy beheer oorneem van die dag voor dit jóú beheer:

1. Fokus!

Drome gee jou insig in hoe jou brein werk – as jy net kan onthou wát jy gedroom het!

Kundiges sê dat jy jou drome beter sal onthou as jy 'n minuut lank stil lê nadat jy wakker geword het. Skakel dadelik jou wekker af en lê stil sodat jy kan nadink oor wat jy gedroom het.

Hou 'n boekie en pen langs jou bed – as jy jou droom kan onthou, hoef jy net jou hand uit te steek en dit neer te skryf.

Al onthou jy net grepe uit jou drome en al is dit glad nie logies nie, skryf maar alles neer.

Met 'n bietjie oefening sal jy binnekort baie meer onthou.

Selfs as jy nie die droom kan onthou nie, sal dié oggendoefening groot voordele inhou: Dit maak jou denke skerper sodat jy in die loop van die dag baie meer gefokus bly.

2. Strek-k-k

Het jy al ooit gekyk hoe 'n kat of 'n hond wakker word? Hy maak sy rug lank, rek hom behaaglik uit, strek elke poot, en dan – as't ware terug in sy lyf – gaan kyk hy wat die dag oplewer.

Ons kan baie daarby leer. Voor jy die komberse afskop, strek elke spier in jou lyf.

Begin deur jou ruggraat reguit te maak – verbeel jou jy word in albei rigtings getrek – sodat jou lyf ál langer word. Strek dan jou bene en arms en kruis jou arms oor jou lyf tot jy die spiere in jou rug kan voel. Draai jou kop 'n paar keer op die kussing heen en weer. Gee laastens jou ruggraat 'n goeie strek terwyl jy op die rand van die bed sit en draai van een kant na die ander.

3. Kyk voor jy spoel

Die meeste van ons is maar sku vir toiletsake, maar dis 'n goeie idee om soms in die bak te loer voor jy spoel. As jou urine donker is, kan dit 'n teken wees dat jy oornag ontwater het. Dit kan druk op jou niere plaas, wat jou liggaamsfunksies ondermyn. Die oplossing?

Drink 'n groot glas water om jou stelsels aan die gang te kry. Om water te drink is 'n uitstekende begin vir enigiemand se dag. Dis 'n goeie wegspringplek vir die twee liter water wat ons volgens aanbeveling elke dag behoort te drink.

4. Knyp 'n oomblik af

Terwyl jy water drink, staan by die venster – luister na die oggendgeluide en verlustig jou in dié oomblik van stilte. Die wêreld se voorste denkers benut deesdae die krag van wat hulle "mindfulness" noem – 'n toestand van suiwer bewustheid van dinge rondom jou.

Só het die bekende Skotse psigiater R.D. Laing byvoorbeeld gesê: "Die omvang van wat ons dink en doen word beperk deur wat ons nie oplet nie..." Berei jou voor op 'n suksesvoller dag deur alles super-fyn waar te neem.

5. Prikkel jou sintuie

Begin deur die was-en-plas soggens as 'n vroegoggend-minispa te beskou. Geniet die gevoel van warm water op jou vel, kies 'n verfrissende seep en gebruik 'n luffa-spons om 'n gloed uit jou liggaam op te tower.

Jy kan ook dié tyd gebruik vir voorkomende selftoetse – hoe beter jy die landskap van jou borste of testikels ken, hoe gouer sal jy knoppies of bulte opmerk wat gevaarlik kan word.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE