Share

Werk: 10 slegte tekens

Werk is skaars, en deesdae is dit 'n prestasie as jy selfs net 'n onderhoud vir 'n nuwe betrekking kry. Daar is egter werke wat ten alle koste vermy moet word – tensy jy absoluut desperaat is.

Maar hoe kan jy gedurende die onderhoud agterkom of hierdie werk 'n loutere plesier of 'n afgryslike nagmerrie gaan wees?

10 onrusbarende tekens

O! Dis jy... Die onderhoudvoerder het duidelik vergeet dat hy/sy 'n afspraak met jou het en jy kry die gevoel die onderhoudproses is maar redelik onprofessioneel. Én die persoon het duidelik ook nie juis tyd gehad om enige voorbereiding te doen nie.

CV, watter CV? Dit blyk redelik gou dat die persoon aan die ander kant van die lessenaar nie na jou CV gekyk het nie – die antwoorde op die meeste vrae wat gevra word, staan swart op wit op dié dokument.

Waar daar 'n rokie is... Die onderhoudvoerder steek 'n sigaret aan sonder om te vra of jy omgee. Dit is nie net slegte maniere nie, maar ook teen die wet en toon boonop 'n gebrek aan respek vir voornemende werknemers. So iets sal nie in groot organisasies waar rook in die werkplek verbode is, gebeur nie, maar in klein ondernemings is dit dikwels 'n ander saak.

Waarskuwing. As 'n werknemer of onderhoudvoerder jou teen sekere ander werknemers waarsku, wees versigtig. Hierdie werkplek is heel moontlik 'n leeukuil en kantoorpolitiek en 'n agteraf gekonkel is waarskynlik aan die orde van die dag. Maak ook seker dat jy nooit hierdie persoon in jou vertroue neem nie. Hy of sy kan nie vertrou word nie.

Geheimsinnigheid. Jou vraag oor hoekom hierdie betrekking vakant is, word nie eerlik beantwoord nie. Jy kry die gevoel dat daar iets is wat hulle probeer wegsteek, soos die hoë personeelomset in daardie spesifieke posisie of dat die vorige werknemer in die pad gesteek is.

Volledige opleiding word verskaf. Alhoewel dit nie altyd die geval is nie, beteken hierdie stelling gewoonlik dat hulle nie bereid is om vir ervaring te betaal nie. Dikwels is die opleiding ook baie kort en gebrekkig en bloot 'n verskoning om ’n lae salaris te betaal.

Onvoldoende besonderhede. Vrae oor spesifieke dinge soos mediese hulp en pensioen of salarisstruktuur word ontwykend of met vae stellings beantwoord. Wees versigtig, miskien steek hulle iets weg. Dit is baie moeilik om later te bewys dat daar gedurende die onderhoud mediese dekking aan jou belowe is. As die werk vir jou aangebied word, kry hierdie besonderhede op skrif.

Onvoldoende werksbeskrywing. Wanneer die onderhoud verby is, het jy nog steeds geen idee wat die posisie op 'n daaglikse grondslag van jou vereis nie. Direkte vrae is versigtig ontwyk en jy is nog steeds in die duister. As die onderhoudvoerder nie doekies omdraai nie en sê dat jou pligte 'n groot verskeidenheid take sal insluit, weet jy ten minste wat op jou wag.

Te informeel. 'n Werksonderhoud is 'n formele situasie. 'n Oorvriendelike onderhoudvoerder wat byvoorbeeld sy arm om jou skouer sit, tree nie korrek op nie en maak jou onseker oor die sosiale kodes wat gevolg moet word. Die persoon is nie jou vriend nie en mag later selfs jou baas wees. Wees versigtig as mense te vriendelik is.

Een groot familie. Pas op as die onderhoudvoerder die maatskappy as 'een groot, gelukkige familie' beskryf. Enigiemand wat deel is van 'n familie weet dat daar baie dikwels struwelinge binne die familie is. 'n Onderhoudvoerder wat doelbewus vir jou vertel hoe gelukkig almal is wat daar werk, is waarskynlik nie heeltemal eerlik nie.

(Susan Erasmus, Health24, hersien Julie 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE